VRYDAG 4 APRIL – SLAAN MY IN SY PLEK

VRYDAG SLAAN MY IN SY PLEK
Jesaja 53: 4 – 10 (Ou Vertaling)
“Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel….”
In Virginia se bergwêreld was ‘n skool, vertel dr. L. G. Broughton, waar geen onderwyser dit kon uithou nie. Die bergseuns van Virginia was ruwe manne. Op ‘n dag het Walter, ‘n jongman met deurdringende grys oë, vir die onderwyspos aansoek gedoen. Die onderwysdirekteur het hom deurgekyk. “Jongman, weet jy wat jy vra? ‘n Aaklige pak slae, dis wat jy vra. Elke vorige onderwyser moes die afgelope jare onder die seuns se vuiste deurloop.” “Ek sal dit waag,” antwoord die jongman.
Die eerste oggend fluister een van die grootste seuns in die klas, Tom, vir sy maat: “Hóm vat ek sommer alleen.” Walter spreek die seuns aan: “Goeie môre seuns, ek het vir julle kom skoolhou.” Almal skree so hard as wat hulle kan: “M-ô-r-e M-e-n-e-e-r!” “Kyk, ek wil ‘n goeie skool hê,” sê Walter, “maar ek weet nie hoe om te werk te gaan nie. Julle moet help. Wat van ‘n paar reëls? Julle sê vir my wat dit moet wees.” Hy gaan staan reg om op die swartbord te skryf. “Nie steel nie!” roep een. “Betyds!” roep ‘n ander een. So word tien reëls op die bord geskryf. “Reëls het nie waarde as daar nie straf vir oortreding is nie. Wat moet dit wees.” Weer staan Walter by die bord om dit neer te skryf. “Tien houe oor die rug sonder baadjie aan!” skree een. “Dis bietjie erg,” protesteer Walter. “Sal julle daarby bly?” “Ja!” gil hulle weer. “Bedaar,” roep Walter, maar hy skryf dit onder die tien reëls neer.
Enkele dae later kla Tom sy kosblik is ge¬steel is. Die volgende oggend sê Walter: “Ons weet nou wie die dief is. Hy moet volgens julle reëls tien houe oor sy kaal rug kry.” Luidrugtig stem almal saam en begin rondkyk wie dit kan wees. “Kom vorentoe, Jimmy,” beveel Walter. ‘n Klein, maer seuntjie, met ‘n te groot baadjie aan, wat tot by die boonste knoop, teen sy sluk, vasgeknoop is, kom bewende vorentoe. “Asseblief, Meneer,” smeek hy, “Meneer, kan my slaan so hard Meneer wil, maar moenie my baadjie uittrek nie.” “Trek uit jou baadjie,” beveel Walter, “jy het gehelp om die reëls te maak.” Jimmy begin snikkend sy baadjie losknoop. Die baadjie val op die vloer. Die seuntjie het nie ‘n hemp aan nie. Sy broek word met lyntjies oor sy maer skouertjies vasgehou. “Hoe kan ek dié kind slaan?” dink Walter met ‘n knop in sy keel.
Dit is doodstil in die klas. Almal staar. “Hoekom het jy nie ‘n hemp aan nie?” vra Walter. “My pa is dood en my ma is baie arm. Ek het net een hemp. Sy was dit vandag. Ek het my broer se baadjie geleen om my vandag warm te hou.” Walter neem die lat, maar hy weifel. Hy het nie die hart om die maer lyfie met die wrede lat te slaan nie. Net toe spring Tom op. “Meneer!” roep Tom. “As Meneer nie omgee nie, laat ek Jim se houe vat.” Walter dink ‘n oomblik. “Goed,” sê hy. “Daar bestaan ‘n wet wat iemand toelaat om vir ‘n ander een in te staan en sy plek te vat. Kom.” Tom trek sy baadjie uit. Na die vyfde hou breek die lat. Walter laat sy kop in sy hande sak. Hoe kan hy hierdie taak voltooi? Hy hoor die hele klas het begin snik. Hy kyk op. Jimmy het albei sy arms om Tom se nek. “Tom, ek is jammer, jammer, maar ek was so honger! Tot ek dood is, sal ek jou liefhê. Ja, ek sal jou vir altyd liefhê, omdat jy my houe vir my gevat het.” Dr. Broughton se eie woorde: “Friend, you have broken every rule and deserve eternal punishment! But Jesus Christ took your scourging for you, died in your stead, and now offers salvation.” “…die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, ons Here.” (Rom.6:23).’”

“Here, vandag het ek U lief omdat U in my plek gely het.”

Manie Mar 30th 2014 03:45 pm Algemeen No Comments yet

Comments are closed.