VRYDAG 3 JANUARIE – GELOOF EN NIE GEVOEL NIE

VRYDAG          GELOOF NIE GEVOEL NIE     

Lees Romeine 10:5-13               

“Met die hart glo ons en ons word vrygespreek…” (10)

 

Maj. Whittle het as prediker opgetree by ’n diens in Glas­gow. Sy teks was: “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan” (Joh.5:24). Sy boodskap het ’n behoeftige vrou se hart geraak. Sy het haar hart vir die Here oopgemaak en Hom as haar Saligmaker aangeneem. Maj. Whittle het die woorde van die teks vir haar op ’n netjiese kaartjie geskryf. Haar seuntjie was by haar. Vol vreugde dat sy ook nou gered is, het sy en haar seuntjie huis toe gegaan. Na ’n nag van twy­fel, stryd en vrees, daag sy die volgende oggend met ’n bedruk­te gesig by die ontbyttafel op. Haar seuntjie sien iets is met sy ma verkeerd. Die vreugde van die vorige aand is weg. Hy wil weet wat aangaan. Sy bars in trane uit: “Dis alles weg. Al die blydskap en vrede. Ek voel net so sleg soos voorheen.” “Het Ma se teks verander?” vra hy en spring op. “Ek gaan gou kyk!” Hy bring haar Bybel met die kaartjie en teks daarin. “Kyk, Ma!” roep hy verlig uit. “Kyk, dit is nog net soos gisteraand!” ’n Blye glimlag verdryf die angs in haar gesig. Die seuntjie se eenvou­dige vertroue in God se belofte laat geloof weer terug­vloei in haar eie hart en verdryf haar bedruktheid.

Geloof en nie gevoel nie, is die winnende krag in ons ge­loofsekerheid. Emosie speel ’n groot rol in ons geestelike en geloofsbelewing. Dit is egter net die agterryer, nie die touleier nie. Wat God vir ons in sy Woord sê is geldig. ”Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan” (Rom.5:2). “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof…dit is ’n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie…” (Ef.2:8,9).

“Here, ek rus my vertroue dat ek gered is, op wat U in u Woord sê.”

Manie Dec 28th 2013 06:41 pm Algemeen No Comments yet

Comments are closed.