DONDERDAG 28 NOVEMBER – DIE DOLKSTEKER

 DONDERDAG            DIE DOLKSTEKER

Lees Spreuke 12: 13 – 21

”Praat sonder om te dink kan soos dolksteke wees; wyse mense bring genesing met wat hulle sê” (18).

 

Thomas lig sy kop van die kussing af op. Hy het iemand hoor snik. En nou hoor hy dit duide­lik­er. Iemand kreun. Hy beter gaan kyk. In die ske­merte van die kamer loop hy versigtig deur toe. Die vertrek waar hy nou instap, lyk vreemd. Hy word bang. Dié kamer is ligter en hy sien drie fi­gu­re op die vloer lê: ’n seun van so ses jaar oud, ’n dogter van seker tien, en ‘n vrou. Om hulle is plas­se bloed. Daar is nog iemand in die kamer. Dié een praat skielik, met ’n harde, onverbiddelike stem met Thomas: ”Sien jy nou hoeveel leed jy ver­oor­saak het?” ”Ek?” roep Thomas verbaas uit. ”Dis nie ek nie! Ek sal nie so iets doen nie!” ”Ken jy hierdie mense?” vra die vreemdeling en wys met sy hand na die figure op die vloer. Thomas kyk en trek sy asem hard in. Dis sy ma en boetie Hansie en sussie Edna. “Kyk na die wond aan haar skou­er,” beveel die man. Thomas sien dit is ’n lelike sny in Edna se skouer. Dit kon die spiere in die skouer dalk beseer het. “Mm…maar…” stot­ter Thomas. Dan word hy kwaad. “Wie het dit ge­doen?” ”Kyk na die seun se gesig,” beveel die stem. Thomas sien ’n yslike, bloeiende sny al langs Hansie se wang af. ”Kyk na jou ma,” beveel die stem weer. ”Daardie steek onderkant jou ma se linkerarm het amper haar hart getref.” ”Ons moet hulp kry! Van wanneer af lê hulle al hier?” roep Thomas uit. ”Van vanmiddag af toe jy hulle daar in die tuin so aan­ge­rand het,” sê die stem on­ver­biddelik. ”Ek het dit nie gedoen nie!” skreeu Thomas nou. ”Ek het nie eers ’n mes nie en ek sal mos nie so iets doen nie.” “O, ja. Jy het ’n gevaar­like dolk. Ek was by toe julle vanmiddag in die tuin die blombeddinkies geskoffel het. Onthou jy nie? Ed­na wou jou met die emmer water help, en jy het haar toegesnou: ‘Gee pad hier! Ek het nie ’n ou meisiekind soos jy se hulp nodig nie!’ Met daardie dolksteek het jy haar arm so ’n wond gegee, dat sy jou nie gou weer sal kan of wil help nie. En ont­hou jy toe Hansie…..” ”Hou op!,” skreeu Thomas. “Wie is jy?” ”My naam is Gewete,” sê die stem. ”Ek onthou,” kreun Thomas, “maar ek het tog net met hom geraas. Hy het my so gepla. Ek het nie eers aan hom geraak nie. Ek kon hom tog nie so gesteek het nie. Ek het nie ’n mes nie!” ”Jy het ’n gevaarlike dolk. Jou tong. ’Praat sonder om te dink kan soos gevaarli­ke dolksteke wees (Spr.12:18).’ En: ’Sy tong …sy woorde… is swaarde wat reg is om te steek…’ (Ps.55:21).” Gewete gaan meedoënloos voort: “Toe jy vir jou ma gesê het….” ”Asseblief, asseblief, moet dit nie sê nie!” huil Thomas nou. Voordat Gewete kan antwoord, voel Tho­mas ie­mand trek hom aan sy arm. Hy rek sy oë oop en kyk vas in sy ma se vriendelike, liefdevolle gesig. ”Toe, toe, op­staan ou seun, dis tyd….” Thomas vryf sy oë. Hy het ge­droom. Ag, hy het net gedroom! Hy gooi sy arms om sy ma se nek en gaan hartlik aan die huil. “Ek­skuus, Mamma. Ekskuus, Mamma….” en hy snik sy droom teen haar nek uit.

”Begryp julle nie…? Wat by die mond uitkom, kom uit die hart…” Valse getuienis (leuens), kwaadpratery (vloek, slegsê, verwyt, afjak, skinder en so meer). As ons hart reeds aan die Here be­hoort, moet die Heilige Gees dit beheer. Die beheer wat die Here op ons hart kry en handhaaf, beskryf Paulus so: ”Dit het Hy gedoen deur die we­der­ge­boor­te wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser” (Titus 3:5,6).

 

“Here, vandag vra  ek U om my tong met u krag te beheer.”

Manie Nov 24th 2013 06:31 pm Algemeen No Comments yet

Comments are closed.