DINSDAG 26 FEBRUARIE – SY GELOOF IN GOD VERLOOR

DINSDAG      SY GELOOF IN GOD VERLOOR

Lees Hebreërs 10: 19 – 25

“Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het” (23)

 

’n Seuntjie het pas begin Sondagskool toe gaan . Hy was baie trots op die prentkaart, met die woorde: “Julle moet Geloof in God hê”, wat hy by die Sondagskool gekry het. Op pad huis toe glip dié kosbare kaart uit sy hand uit en waai by die bus se oop venster uit.

Ontsteld gil hy: “Ek het my Geloof in God verloor!” Die goeie busbe­stuurder stop dadelik die bus. Een van die gro­ter seuns spring uit en gaan haal die kaart. Met ’n groot glim­lag neem die seuntjie weer sy Geloof in God en hou dit styf vas.

Hieroor het ’n persoon ’n waar­devolle opmer­king gemaak: “Ie­mand het dadelik geskreeu toe hy sy Geloof in God verloor het, ’n ander een het dadelik die bus gestop, en ’n derde een het dade­lik opge­tree om vir die eerste een sy Geloof in God te­rug te laat kry.”

So moedig Paulus ons ook aan om mekaar te on­der­steun: “…as iemand in die een of ander son­de val, moet julle…so iemand in ’n gees van sag­moedigheid reghelp…Dra me­kaar se laste…” (Gal.1:1,2). Die vinnig bewegende lewe, met allerlei dwarswinde, wat by allerlei oop vensters in waai, bedreig ons geloof in God. Het 2013 dalk al vir iemand se verhouding met God, skade gebring?  Vra hulp, gee aan­dag, en help mekaar. Jesus het sy dissipels gewaarsku: “Wees op julle hoede dat julle gees nie…deur die sorge van die lewe afgestomp word nie…” (Luk.21:34).

 

“Here, vandag wil ek styf aan U vashou, maar ook uit­kyk vir iemand wat geloofshulp nodig het.”

Manie Feb 23rd 2013 10:40 am Algemeen No Comments yet

Comments are closed.