DONDERDAG 24 JANUARIE – DIE ENIGSTE REDDING

DONDERDAG        DIE ENIGSTE REDDING

Lees Hand.4:1-22

“Hy bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie” (2).

 

Enkele jare gelede raak twee manne in hul boot, bo­kant die Niagrawaterval, in die moei­lik­heid. Hulle roei wanhopig, maar die stroom voer hulle vinnig na die don­derende val toe. Op die oewer word koorsagtig po­gings aangewend om die twee manne te red. Net betyds word ‘n tou na hulle toe uitgegooi. Dit beland binne-in die boot.  Die een man gryp die tou da­delik gretig vas. Juis op daardie oomblik dryf ’n hout­stomp teen die boot vas. Tot almal se ontsteltenis gryp die ander man paniekerig die drywende stomp en klou kramp­­agtig daaraan vas. Die mense skree vir hom om die stomp te los en ook die tou te gryp, maar hy klou net stywer aan die stomp vas. Die man wat die tou gegryp het, is veilig aan wal ge­bring. Die ander man is met stomp en al by die waterval af.

Die mens bevind hom vir sy sieleheil in net so ‘n groot gevaar. Gelukkig is daar redding, hoe sterk die afwaartse stroom ookal mag vloei en hoe hard die waterval ook al dreun. Die veilige tou van Christus se verlossing word uitgegooi en ’n mens kan dit gryp en gered word.

Een oggend leun ’n predikant, by die aanvang van sy preek, oor die kansel en sé met groot erns: “Ek het ’n vraag om te vra. Ek kan dit nie beantwoord nie. Geen engel in die hemel kan dit beantwoord nie. Geen duiwel uit die hel kan dit beantwoord nie. Kan ú dit beant­woord? Dit is die vraag: Hoe sal ons ontvlug as ons so ’n groot saligheid verontagsaam?” Dit word doodstil in die kerk. Niemand kon dit beantwoord nie. Niemand kon dit teëspreek nie. Dit is ’n vraag wat die Woord van God self in Hebreërs 2:3 vra: “…hoe sal ons dan ontkom as ons so `n groot saligheid verontagsaam het?” Vir ons almal is daar net één betroubare red­dings­wete: weens die son­des wat ek gedoen het, is ek verlore en ek kan my aak­lige lot, die verdoemenis, op geen manier ontkom, as om te vertrou in die Here Jesus Christus, die Seun van God, wat aan die kruis op Golgota die straf vir al my son­des gedra het en my só met God versoen het nie. Ek moet na Hom toe vlug en vir Hom sê: “Ek is sondig. Ek is verlore. Red my, asseblief.” Dít is die red­dingstou wat ons gryp, waarmee ons in die vei­ligheid van die ewige lewe, wat God ons uit genade gee, gebring word. Deur die Evan­gelie Woord, open die Heilige Gees ons oë en hart om hierdie redding aan te neem.

So het Jesus Self Nikodemus se vraag oor die ingang in God se konikryk beantwoord: “Net soos Moses des­tyds die koperslang in die woestyn op ’n paal gehang het, so sal Ek, die Redder, ook op ’n paal gelig word, sodat elkeen wat op My vertrou die ewige lewe kan hê. Want God het die mense so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gestuur het. Iemand wat in Hom glo, sal nie verlore gaan nie, maar hy sal die ewige lewe hê’” (v.10-14).

“Here, vandag gryp ek die reddingstou van Jesus se kruisdood”

Manie Jan 19th 2013 12:51 pm Algemeen No Comments yet

Comments are closed.