VRYDAG 26 OKTOBER – GELEI DEUR SY KIND

VRYDAG            GELEI DEUR SY KIND

Lees Lukas 18: 15 – 17

“Laat die kindertjies na my toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle” (16).

 

In Die Bode van September 2000, die kwar­taal­blad van die Transnet Christelike Unie, skryf Leon Jones hierdie aandoenlike ervaring oor hom­self:

“Dit word laat,” sê ek vir my sesjaar oue seun­tjie. “Jy moet solank gaan inkruip.” Vandat ek en my vrou drie maande tevore van mekaar ver­vreemd ge­raak het, en ek my eie plek gekry het, bring Greg elke tweede naweek, by my in my woonstel deur. “Gaan ons nie eers bid nie?” vra hy heel onskuldig. Van kleins af het ons hom geleer en gehelp om voor sla­pens­tyd sy gebedjie op te sê, en dit was vir hom belangrik. Maar vanaand was dit reeds laat ek ek het nog baie werk gehad om te doen. Ek skakel my rekenaar aan en hoop hy sal sien ek is besig – miskien kan ons van­aand oor­slaan! “Wanneer kom Pa?” kerm hy egter. Ek dink by myself: laat ons dit agter die rug kry. Hy sal my tog nie ophou pla nie. Ons is na sy kamer toe en ek gaan langs hom op die bed sit, maak die Bybel oop en rammel ’n paar verse af. Toe ek die Bybel toemaak, kniel hy langs die bed. “Wie gaan eerste bid, Pappie?” “Bid jy maar eerste, my kind,” sê ek en hoop dit gaan nie lank neem nie. Ek het nog baie werk gehad. “Liewe Jesus,” begin hy, sy han­de onder sy ken gevou. “Dis Greg hierso.” Hy kyk op na my en glimlag ingenome met homself. Hy maak sy oë weer toe. “Ek het vandag ’n lekker dag gehad. Ek het met die dogterjie hier langsaan gespeel. Haar naam is Susan.” Hy bly weer stil en kyk op na my. “Weet lie­we Jesus dat Pappie en Mammie nie meer saam­ bly nie?” vra hy ernstig. “Hy weet,” antwoord ek stug. “Liewe Jesus, dis weer Greg hier,” bid hy ver­der. “Ek gaan môre weer terug na Mammie toe; so ek wil net vra dat U moet mooi kyk na Pappie en Su­san ook en…” Hy hou op en kyk bekommerd na my. “Susan se Pappie bly ook alleen, en sy van is ook Jones. Sal liewe Jesus nie deurmekaar raak nie?” “Nee, Greg,” kreun ek. Wanneer gaan hy tog klaarkry? “Is Pa seker?” “Ek is baie seker, Greg,” sê ek nou effens onge­dul­dig. “Hy weet wie’s ek en Hy weet wie’s Susan se pa.” “Is Pappie nou kwaad vir my?” “Nee, ek is nie kwaad nie, Seun – maar mens bid nie soos jy nie. As jy bid, praat jy met die Here. Jy kan nie ’n bietjie met Hom praat en dan weer ’n bietjie met my nie. Dis ’n ernstige saak om te bid.” “Soos die grootmense in die kerk?” “Soos in die kerk, ja!” Hy sluit weer sy oë. “Onse Vader, wat in die Hemel is…” Hy loer onderlangs vir my. “Ek bid vir Pappie en vir Mammie…ee…” Hy bly weer stil. “Is dit beter, Pa?” Skielik voel ek skuldig. Weg was sy spontaniteit en ek kon sien hy weet nie wat om verder te bid nie. “Greg, ver­geet wat ek gesê het – bid soos jy altyd gebid het – praat met die Here soos voorheen.” Hy glimlag verlig. “Liewe Jesus, dis weer Greg; Ek wil so graag hê Pappie moet te­rug­kom huistoe…” Ek onthou skielik hoe gelukkig ek en my vrou voorheen was; die liefde wat ons gedeel het en hoe wonderlik dit is om ‘n seun soos Greg te hê. Vir ’n oom­blik probeer ek dink waar dinge dan so ver­keerd ge­loop het. Was dit die stres van my werk? Was dit af­val­lig­heid van die Here? Verwag ons te veel van mekaar? Of was dit iets anders. Greg het gou aan die slaap geraak en ek het na my eie kamer toe gegaan, die deur agter my toegetrek en by my bed gekniel. “Here Jesus, dis Leon hier. Daar is iets waaoor ek met U moet praat.”

Wanneer ons, met watter probleem ookal, by hierdie plek kan uitkom, gaan die lig vir ons op. Ek wens so die vertelling het voortgegaan, om ons in te lig hoe hy saam met Greg na sy vrou toe terug is. Ek glo dit is wat gebeur het. Want die Here het belowe, as ons só nederig en af­hanklik kom bid, steek Hy sy hand uit en doen vir ons die on­moont­like. “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie…Hy het sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën” (Mark.10:14,16).

 “Here, vandag kom ek my saak soos ’n kind vir u vertel.”

Manie Oct 20th 2012 11:59 am Algemeen No Comments yet

Comments are closed.