Woensdag 9 Maart – Uitstel is Gevaarlik

WOENSDAG UITSTEL IS GEVAARLIK

Lees 2 Korintiërs 6: 1 – 7

“Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding” (2)

Nog ‘n storie wat Pastor Bill vertel, is van die do­minee wat by die vulstasie saam met ‘n ry motors wag om brandstof in te gooi, voor hy vir die langnaweek na sy kinders toe ry. Die petrol­jog­gie werk so vinnig as wat hy kan, maar ‘n klomp motors wag om gevul te word. Hy wink die dominee na ‘n oop pomp toe. “Jam­mer oor die oponthoud, Dominee,” sê hy, “maar lyk my almal wag tot die laas­te oomblik om vol te gooi.” Die dominee lag. “Ek weet wat jy bedoel. In my werk het ek dieselfde probleem. Mense stel uit.”

Met sommige take kan ‘n mens waag om uit te stel, maar in die saak van ‘n mens se voorberei­ding vir die ewigheid is daar net één verstandige tyd: nou! ‘n Mens wat onderweg is ewigheid toe en nie van sy redding seker maak nie, word in die Bybel ‘n dwaas genoem: “Die ryk man het by hom­self ge­dink: ‘Mens, jy het baie goed wat weg­ge­sit is vir baie ja­re leef lekker.’ Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word,’ …so gaan dit met hom wat nie ryk is by God nie” (Luk12:20). Die moordenaar aan die kruis was gelukkig dat hy geweet het, sy leeftyd is op ‘n einde en hy het voor hom ‘n won­derlike geleentheid om reg te maak. Die Verlosserko­ning hang langs hom aan sy kruis. Hy sê vir Jesus “’Je­sus, dink aan my wan­neer U in u koninkryk kom.’ Jesus antwoord hom: ‘Ek verseker jou, vandag sal jy saam met My in die pa­ra­dys wees’” (Luk23:43). Die tronkbe­waar­der van Filippi was ook so ‘n verstandige man. Toe sy hart van God se koninkryk en van Jesus se evangelie bewus gemaak word, gryp hy dit dadelik aan: “…die be­waarder…het voor Paulus neergeval en gevra: ‘Menere, wat moet ek doen om gered te word?’ Hulle antwoord hom: ‘Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin….’ Hy en al sy mense is daar en dan gedoop” (Hand.16:29-34). Niemand kan bekostig om met hierdie afspraak laat te wees nie. As u die weg ken, neem nou die stap om Jesus aan te neem as Verlosser: “Here Jesus, red my, asseblief.” So maak ‘n mens die deur van jou hart vir die kloppende Heiland oop. As u nie seker is nie, vra iemand se hulp. Maar moenie die saak van u redding vir ‘n dag uitstel nie.

“Here, vandag maak ek seker dat ek gered is.”

Manie Mar 8th 2011 04:17 pm Algemeen No Comments yet

Comments are closed.