Donderdag 17 Februarie – Die Ander Een

DONDERDAG DIE ANDER EEN

Lees Lukas 6: 37 – 42

“Gee, en vir julle sal gegee word: ’n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee” (38).

‘n Welgeklede vrou spreek Kosie na die og­­gend­diens direk aan. “Jy is Kosie Marais, nê. Jy is op ons kerklys om Vrydagaand se Kersboom by te woon.” Vol blydskap draai Kosie na haar toe. “En my sussie, Hanna? Sy is siek in die bed, maar sy sal Vrydagaand gesond genoeg wees.” “Ons neem net een kind per huis,” antwoord die vrou kort­af en stap weg. Kosie gaan terug huis toe en loop diep ingedagte met die nou, vuil trap op na die woon­stel­letjie toe waar hy saam met sy ma en sy sussie, Hanna, woon.

Die Vrydagaand woon hy die Kerspartytjie by. Dik geëet en lekker saam met die maats ge­speel, word dit uiteindelik tyd vir geskenke uit­deel. Aan die voet van die versierde boom lê ’n hoop ge­­sken­ke. Lank voor sy beurt kom, weet Kosie reeds wat alles daar lê. Soveel mooi goed! Wat sal ’n seun­tjie, wat niks het nie, tog nie alles kan kies nie! En elkeen kry net een geskenk. Dieselfde tan­nie wat hom na die partytjie toe genooi het, roep hom nader en vra wat hy wil hê. Kosie antwoord. “Graag­ste, Tannie, wil ek die rooi brandweerwa hê, maar as Tannie nie omgee nie, vat ek as­se­blief liewer die pop.” Dit lyk of sy verstaan en sonder ’n woord gee sy vir hom die pop. ’n Gekoggel en gespot breek uit van die ander kinders se kant af. “Kosie, speel pop! Kosie is ’n meisietjie!” Rooi in die gesig neem hy sy pet. Onder gelag gee hy pad huis toe.

’n Rukkie later is Kosie in die donker ka­mertjie waar Hanna lê. “Ek is so bly jy het gekom,” groet Hanna met verlepte ogies. “Was dit lekker? Wat het jy toe gekry.?” Sonder ’n woord sit Kosie die groot pop langs haar neer. Sy gaan penregop op die bed sit en staar met blink oë na die pop. “Is dit vir my?” roep sy. “O Kosie, is dit myne?” skreeu sy behoorlik. Ou Kosie begin glimlag. Hy het so swaar die brand­weerwa prysgegee en moes toe nog on­der ’n gespot deurloop. Dinge het vir hom regtig swaar geword, maar noudat hy Hanna se blydskap sien, is dit lekker. Dit word sommer so warm in sy hart.

Aan die deur word geklop. Dis weer die tannie van die kerk. “Kosie,” sê sy, “ek kom net sê hoe jammer ek is die kinders het jou so geterg. Toe jy weg is, het ek hulle vertel hoekom jy die pop geneem het. Almal is toe jammer en skaam en hulle het gevra ek moet dit vir jou bring.” Sy sit ’n pakkie op die rakkie langs die deur neer. Voor sy met die trap afgaan sien Kosie hoe sy met haar hand oor haar oë vee. Versigtig maak Kosie die pakkie oop. Hy gee een lang fluit. In sy hande hou hy die rooi brandweerwa.

Kosie het ’n dubbele geskenk ontvang. Die brand­weer­wa en die blydskap dat hy eerste aan die ander een, sy sussie, gedink het. “…God het die blymoe­dige gewer lief. En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk…(2 Kor.9:7,8).

“Here, vandag dink ek eerste aan ’n ander.”

Manie Feb 16th 2011 06:56 pm Algemeen No Comments yet

Comments are closed.