Woensdag 29 Desember – Besluit Dadelik

WOENSDAG – BESLUIT DADELIK

Lees 2 Korintiërs 6 : 1 – 7

“Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding” (2)

In Die Spoorwegbode van Oktober 1968, word ’n storie vertel, wat uit lankal se tyd kom. `n Goeie sto­rie, dink ek, vir die oorgang na `n nuwe jaar toe. Die ou jaar se sake moet mens afhandel, die nuwe jaar se belangrike sake, verstandig beplan. As kind het ek dié storie al eendag in ’n preek gehoor.

’n Belangrike sakeman se sake­be­lan­ge, het al sy tyd opgeëis. Godsdiens het nie in sy pro­gram plek gehad nie. Eendag besoek hy sy domi­nee, tot dié se stom­me verbasing, en sê vir hom: “Verlede nag het ek ’n droom gehad wat my ontstel. Ek droom ek is op ’n sakereis en ek kom voor ’n groot huis met ’n yslike ysterhek. Ek weet net ek moet ingaan en ek stap ver­sig­tig in. Toe ek binne is, hoor ek hoe die slot klik en ek weet ek is inge­sluit. In die binneplaas is baie mense wat ek geken het en wat al dood is. Vrees is op almal se ge­sigte. Ek vra iemand om die hek vir my oop te maak. ‘Die hek gaan net oop vir mense wat inkom. Nie­mand gaan ooit weer by die hek uit nie,’ sê hulle vir my. Ek sien ‘n hekwag. Ek val op my knieë en pleit vurig om uit­gelaat te word. Ein­delik gee hy toe. ‘Net vir agt dae,’ sê hy beslis. ‘Na die agtste dag, kom jy weer na hierdie hek toe en dan, word jy permanent toege­sluit.’ Daarmee skrik ek wakker en ek kan nie van die be­dreiging van die droom loskom nie. Wat beteken dit?” Die domi­nee probeer hom gerusstel en sê ’n mens moet gewoon­lik nie te veel waar­de aan ’n droom heg nie. ’n On­rus­tigheid in ’n mens se gees laat jou allerhande dinge droom. “Maar,” voeg hy by, “ek dink tog die droom het as ’n waarsku­wing ge­kom. God waarsku jou dalk langs hierdie weg. Volg die veilige weg. Sorg vir jou siele­heil.”

Daardie eerste dag bly die sa­ke­­man onrustig. Hy het probeer bid en Bybellees, maar ander be­langrike sake vereis gedurig sy aandag. Die tweede dag voel hy nog on­rustig, maar sy er­gste vrees het tot bedaring ge­kom. Na die der­de dag word hy nog rustiger en na die vier­de en vyf­de dag kon hy al begin spot met sy lawwe vrees vir ’n droom wat dalk die gevolg van bietjie slegte spysvertering was. Dit was sy plan om daardie eerste Sondag, ’n week na die droom, kerk toe te gaan, maar soveel dring­ende sake duik op en hy kon dit net nie maak nie.

Die Maandag vertrek hy te perd vir ’n vinnige sa­kebesoek op ’n naburige dorp. Met die inry in die straat, op pad na die afspraakadres toe, kom hy skielik voor ’n groot huis af, met net so ’n ys­terhek as dié waarvan hy ge­droom het. Hy skrik en skop die spore in die perd se sye, om vinnig van die onheils­om­gewing af weg te kom. Hy trek die teuels te styf, die perd steier regop op sy agter­pote en met die afkom, gooi hy die man oor sy kop.

Hy word vinnig na verpleegsorg toe geneem, maar hy herwin nie weer sy bewussyn nie. ’n Ver­bys­terde verpleegster sê later vir die domi­nee: “Hy het net aanmekaar aanhou prewel, van ’n ysterhek wat toe­gaan en nooit weer oopgaan nie.”

Die kosbare genade­­tyd van agt dae het hy on­gebruik tussen sy vingers laat deurglip en dalk ewig lore gegaan. Geen sa­ke-­­afspraak is so belang­rik, as om die saak van ’n mens se sieleheil te beklink nie. “Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie” (Heb.4:7).

“Here, vandag wil ek my sieleheil beklink.”

Manie Dec 28th 2010 02:33 pm Algemeen No Comments yet

Comments are closed.