Vrydag 1 Oktober – Die Palmboom

VRYDAG – DIE PALMBOOM

Lees Psalm 92: 13

“Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome…” (13)

Marius en Adri Wickens, wat ons blaadjie vir ons druk, het ’n paar palmbome in hulle tuin. Waar sy tus­sen die palmbome staan, kom die Here se woord tot haar hart. Sy dra dit aan ons oor.

’n Palmboom groei altyd regop en reguit. Die takke groei nie laag op die grond na die kante toe uit nie, maar hoog uit op boontoe. “…beywer julle allereers vir koninkryk van God en vir die wil van God…” (Mat.6:33).

’n Palmboom bly staan teen wind en storms. As woestynwinde sandduine verskuif en verander bly die palmboom staande, regop en reguit. “Dit is…’n bende wat…my wil doodmaak…gee U my tog krag en red my…(hulle) sal moet toesien dat U, Here my help en vir my uitkoms gee” (Ps.86:14-17).

’n Palmboom is nie afhanklik van weersom­stan­dighede nie. Die palmboom se wortels loop diep af in die grond, waar dit vogtigheid vind. Hy anker hom in ’n lewegewende bron. Al skroei die woestynson, al waai die woestynwind, die palmboom se krag en behoud kom van dieper as die grond se oppervlakte. As ons geloofswortels diep in die Here se woord afgaan, put ons geestelike krag uit sy teenwoor­digheid. Dan is ons nie afhanklik van ons omstandighede nie.

’n Palmboom wat seerkry. In ons tuin is ’n palm­boom wat met uitplanting aan die wortels seerge­kry het. Hy het begin kwyn. Die takke het hard geword, amper soos hout wat opgevryf is. Ons het die grond om die boom losgewoel, be­mes­ting in­ge­werk, ’n bedding om hom gemaak sodat hy meer water kon hou – ons het hom getroetel en gevoed. Na maande het die boom reggekom en is nou pragtig en gesond. Ons geestelike wortels kan ook beskadig word, as ons ons uit God se teen­­woordigheid, uit verplant word deur sonde of wêreldsgesindheid. Dan is ons kwesbaar vir storms. Gelukkig as ons dan ‘n “bedding” van kin­ders van die Here om kan hê. As die die graaf van die Here se woord ons hart omdolwe en ons ons agteruitgang raaksien en dit bely. As ons hart weer deur die Heilige Gees se werking vrugbaar gemaak word en ons weer regop en sterk word in die Here se diens.

“Here, vandag soek ek my voeding en my sterkte uit U alleen.”

Manie Sep 30th 2010 06:19 pm Algemeen No Comments yet

Comments are closed.