Archive for December, 2013

You are currently browsing the archives of Krag vir Vandag .

DINSDAG 24 DESEMBER – `N RUSPLEK VIR `N SEER HART

 DINSDAG         ‘N RUSPLEK VIR ’N SEER HART

Lees Romeine 8: 31 – 39

”Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoud­heid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?…in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons lief het” (35,37)

 

George Matheson was ’n blinde Skotse predikant. Die Vrydagnag van 6 Junie 1882, was hy, op 40-jarige ouder­dom, alleen in sy pastorie by In­ne­lan. Die volgende dag sou dit sy suster se troudag wees. Die hele familie was weg Glasgow toe waar die huwelik sou plaasvind en waar hulle sal oornag. Weens sy blindheid kon hy nie saam­gaan nie. Hy was nog ’n jong teologiese student toe hy deur sy geneesheer ge­waar­­sku is, hy is besig is om blind te word en dit kan nie ver­­hoed of genees word nie. Hy was verloof aan ’n ander student. Hy het gevoel dit is sy plig om haar van sy naderende blindheid te vertel. Na sy oor die skok van sy bekentenis aan haar gekom het, het sy vir hom gesê: “Ek wil nie die vrou van ’n blinde pre­diker wees nie.”

Die nag so al­leen in sy wo­ning, terwyl die opwinding van sy suster se troue oor hom en by hom verbygaan, oor­val ’n diep neerslagtigheid Matheson. Dit kon die her­in­­nering van sy eie lief­des­teleurstelling wees wat met ge­weld na hom toe terugkom. Oor sy belewenis die nag skryf hy: “Something happened to me, which was known only to myself, and which caused me the most severe mental suffering. The hymn was the fruit of that suffering. It was the quickest bit of work I ever did in my life. I had the impression of having it dictated to me by some inward voice rather than of working it out myself. I am quite sure that the whole work was completed in five minutes.” Hy het geskryf: “O Love that wilt not let me go, I rest my weary soul in Thee; I give Thee back the life I owe, that in Thine ocean depths its flow may richer, fuller be. Die lied wat ons ken, Hal­lelujalied 263, is getoonset deur Albert L. Peace:

O Liefde, diep oor my begaan, neem my met al wat my vermoei!

Sien my tog in genade aan – en laat,  o Bron van my bestaan,

 U krag in my ook vloei.

O Vreugde, selfs in leed en pyn, vir U ontsluit ek nou my hart;

Die reën laat die boog verskyn, gewis daag, na die nag verdwyn.

Die môre sonder smart!

“Here, vandag leun ek met my hartseer teen u bors.”

Posted by Manie on Dec 21st 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

MAANDAG 23 DESEMBER – DIE BESTE VRIEND

Die Psalms, wat vir ons kosbaar is, is meesal liedere wat Dawid ge­skryf en gesing het uit ‘n bepaalde erva­ring, wat hy gehad het. Baie van ons liedere is ook die vrug uit iemand se ervaring. Kenneth W. Osbeck se boek Amazing Grace, uitge­gee deur Kregel Publi­cations, vertel die verhaal agter som­­mige van ons lie­dere. Hierdie week, be­doel as die laaste week van 2013, se oordenkings kom uit hierdie boek, verkort en aan­gevul met inligting uit ander bronne. Uit die krag, die troos en bemoediging van hierdie kosbare liedere sê ons totsiens aan 2013 en welkom aan 2014.

 

MAANDAG    *   DIE BESTE VRIEND – Hal.lied 444

Lees Johannes 15: 9 – 17

“Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê… (13,16).

 

Joseph Scriven was in 1845 ‘n ryk en geleerde jong­man in Ierland. Die nag voor sy troue verdrink sy bruid in ‘n rivierongeluk. “In his deep sor­­row, Jo­seph realized that he could find the so­lace and sup­port he needed only in his dearest friend, Jesus”, skryf Osbeck. Kort na die tragedie ver­huis hy Kanada toe, waar hy in Port Hope gaan woon.  Sy voorneme was om sy lewe aan Christus toe te wy, deur ander te help, soos Jesus sy dis­sipels geleer het: “Gee en vir julle sal gegee word…” (Luk.6:42). Hy het geld en klere aan mense wat dit nodig het gegee, vir an­der het hy sonder vergoe­ding ta­ke verrig. Hy het bekend geword as die Goeie Samari­taan van Port Hope. Sy moe­der in Ierland word siek. Hy skryf vir haar ‘n ver­troos­tende brief.  Hy sluit ook die woorde van `n nuwe gedig vir haar in. Hy het haar aangemoe­dig om nie te twy­fel in haar beste vriend, die Here Jesus, nie. Hy het eenkeer self siek geword. ‘n Vriend het hom be­soek en die gedig se woorde op ‘n los vel pa­pier, langs die bed, geskryf ge­sien. “Wie het dit geskryf?” wou die verbaasde vriend weet. “Ek en die Here het dit saam geskryf,” het Scriven geant­woord. Hy is op 66-jarige ouderdom dood. Sy graf, met die lied se woorde op die grafsteen, is te sien naby Peterborough, Ontario.

Die gedig is later deur Charles C. Converse getoonset. Die lied: “Wat ‘n vriend het ons Jesus” het `n geloofslied geword. Die ryk aardse vrug van Joseph Scriven se be­proe­wing en toewyding daarna, is die waarde wat hier­die lied die afgelope byna ‘n eeu en ‘n half vir gelowi­ges ge­had het. Dit wek geloof en bring vrede vir die hart. Dit ver­­tel van die groot beskutting wat ons in hier­die lewe het en vir die nuwe jaar sal hê: om Jesus as vriend te hê.

Wat ‘n vriend het ons in Jesus, Hy wat in ons plek wil staan;

Wat ‘n voorreg om gedurig tot Gods troon deur Hom te gaan!

Hoe verbeur ons tog die vrede, ag, hoe dikwels ly ons smart,

Net omdat ons nie ons node uitstort in Gods Vaderhart!

As versoeking en beproewing, of as kwelling ons bedreig,

laat ons nooit mismoedig word nie, laat ons bedes opwaarts styg.

Nêrens is `n vriend getrouer, as Hy wat ons node weet;

Jesus voel met al ons swakheid en wil deel in al ons leed.

“Here, vandag ken ek U as my beste Vriend.”

Posted by Manie on Dec 21st 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

SATERDAG 21 DESEMBER – PADKOS

SATERDAG                   PADKOS

Uit die dagboek PADKOS, uit die Lewende Bybel.

Dit is God wat julle alles sal gee wat julle nodig het. Hy sal dit op sy eie wonderlike manier doen deur Jesus Christus (Fil.4:19). – Waarop julle in die eerste plek moet konsentreer, is dat God se koningskap erken sal word en dat mense sal doen wat Hy wil hê  (Mat.6:33). – Selfs sy eie Seun het Hy nie terug­gehou nie, maar Hy het Hom gegee om in ons almal se plek doodgemaak te word. As Hy ons sy Seun gegee het, sal Hy dan nie vir ons alles gee nie? Ja, Hy sal dit beslis doen (Rom.8:32). –Want die Here God is ons son wat vir ons lig gee en ons skild wat ons beskerm…en Hy sal niks wat goed is… terughou nie (Ps.84:12). – Dit is God wat ons alles gee om te geniet (1 Tim.6:17). – Hy kan iemand wat moeg is, krag gee en iemand wat swak is, weer sterk maak … dié wat hulle verwagting op die Here stel kry nuwe krag (Jes.40:29,30). Kyk my lewe deur, Here en toets my, beoor­deel my hart en my mo­tiewe (Ps.26:2). As ons erken dat ons son­­de gedoen het, sal Hy ons sondes ver­gewe en ons rei­­nig van al die verkeerde dinge wat ons gedoen het (1 Joh.1:9).

Posted by Manie on Dec 15th 2013 | Filed in Padkos | Comments Off

VRYDAG 20 DESEMBER – DIE GOEIE HERDER

VRYDAG                  DIE GOEIE HERDER

Lees Johannes 10:1-16                     - Uit: Stories vir die Lewe

“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.”(11)

 

            Sir George Adam Smith, beroemde Ou-Testament­i­kus, vertel hy was eendag op reis in die Nabye Ooste toe hy op ’n skaapwagter en sy trop skape afkom. Hy begin met die skaapwagter gesels en dié wys hom die skaap­kraal. Vier mure en ’n opening. Sir George vra: “Bly die skape snags hier?” “Ja, en as hulle daar is, is hul­le heeltemal veilig.” “Maar daar is dan nie ’n hek nie,” sê-vra sir George. “Ek is die hek,” sê die skaapwag­ter. Hy was nie `n Christen nie en het nie die beeldspraak van die Nuwe Testament geken nie; hy het uit die oog­punt van ’n Ara­­biese skaapwagter gepraat. Sir George vra hom wat hy bedoel. “Wanneer dit saans donker raak en al die ska­pe is binne, gaan lê ek in die opening. Geen  skaap kan uitgaan sonder om oor my te moet klim nie, en geen wolf kom in sonder om oor my te moet klim nie. Ek is die hek.”

So beskerm die Here Jesus ons ook met sy eie Per­soon. Hy staan Self tussen ons en ons vernietigende vy­and, die duiwel, wat rondgaan en soek wie hy kan ver­slind (1 Petrus 5:8). Hy beskerm ons ook met sy eie Per­soon teen ons eie afdwaling. Ons kan nie wegloop sonder dat Hy weet en ons keer nie. Jesus het aarde toe gekom om so naby en beskermend by ons te wees.

“Here, U is by my en U beskerm my.”

Posted by Manie on Dec 15th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

DONDERDAG 19 DESEMBER – `N ONNODIGE SKULDLAS

DONDERDAG      ’N ONNODIGE SKULDLAS

Lees 1 Johannes 1: 5-10

“Maar as ons ons sondes bely  -  Hy is getrou en regver­dig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid” (9).

 

‘n Seuntjie en sy sussie het hulle vakansie op hul­le ou­pa en ouma se plaas deurgebring. Jannie se oupa het vir hom ‘n rekker gemaak, maar hy kon maar net nie regkry om ‘n voël raak te skiet nie. Een middag het hy weer leë hande huis toe gegaan, toe ‘n eend met haar kleintjies, voor hom oor die pad loop. Op die ingewing van die oom­blik mik hy en skiet. Vir die eerste keer was dit raak. Hy kon sy oë nie glo toe die eendjie pootjies na bo bly lê nie. Verskrik het hy die eendjie gegryp en agter ‘n hoop hout ingegooi. Toe hy omdraai, sien hy hoe Lettie, sy sussie, vir hom staan en kyk.

Die aand na ete sê hulle ouma: “Lettie, kom help met die skottelgoed.” Sonder om op te kyk van haar boek af, antwoord Lettie: “Ouma, Jannie het gesê hy sal vanaand met die skottelgoed help.” Jannie het sonder ‘n woord sy speel­ding neergesit en ewe gewillig die skottelgoed help was. Die volgende oggend het oupa hulle geroep om saam met hom winkel toe te ry. “Nee,” het ouma gekeer, “Let­tie kan nie gaan nie, sy moet my help om die groente vir ete te skil.” Lettie het geglimlag. “Nee, Ouma,” sê sy, “ék ry saam. Jannie het gesê hy wil met die groente help.” Ewe gedwee het Jannie agter die bak groente in­ge­skuif, terwyl Lettie lek­ker saam met haar oupa winkel toe ry. Vir ’n paar dae gaan dit so aan. Jannie werk soos ‘n slaaf vir Lettie. Toe kon hy dit nie langer ver­duur nie. Hy gaan na sy ouma toe en terwyl hy in trane uitbars vertel hy haar die hele storie. Sy slaan haar arms om hom en druk hom teen haar vas. “My arme kind, ek het ook daar naby ge­staan. Ek het gesien hoe jy die eendjie ompiets. Omdat ek jou liefhet, het ek jou dadelik vergewe. Ouma sal mos nie oor die ou eendjie vir jou kwaad wees nie. Ek wou net gehad het jy moet dit self vir my kom vertel. Lettie het jou darem on­nodig laat swaarkry! Ek het gewonder hoe lank gaan jy uithou, dat sy so ‘n slaaf van jou maak.”

Skuldgevoel maak slawe van ons. Ons voel sleg en on­gelukkig. Ons ly onder ons skuldige gewete. En al die tyd wag God, wat alles van ons weet en ons liefhet, vir ons om na Hom toe te kom, ons sonde te bely en die vergifnis wat Jesus vir ons aan die kruis bewerk het aan te neem. “Kom ons gaan dan met vry­moedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartig­heid en genade ont­vang en so op die regte tyd gered kan word” (Heb.4:16).

 

“Here, vandag is ‘n dag van genade en vergifnis om Jesus ontwil. Ek bely aan U die dinge wat skuldig druk op my hart.”

Posted by Manie on Dec 15th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

WOENSDAG 18 DESEMBER – DIE BLYE BOODSKAP

WOENSDAG       DIE BLYE BOODSKAP

Lees Lukas 2:8-20

“Vandag is daar vir julle die … Verlosser gebore, Christus die Here…julle sal ’n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ’n krip lê” (10-12).

 

Een oggend word ’n boemelaar in ’n vreem­­de soort bed wakker. Hoe hy daar ge­kom het, weet hy nie, want hy was die vorige aand weer dronk. Buite is dit koud, ’n Euro­pese koue, maar hy lê lekker, sag en warm. Ook ’n ongewone seën vir hom. Hy probeer vasstel waar hy is. Met die pynklop in sy kop, is hy vanoggend besonder bewus van hom­self. Waar is hy? Hy lê langs lewe, want hy voel die beweging van asemhaling – en die vrien­delike warmte. Hy steek sy hand uit en voel. Hy lê op strooi en – langs ’n koei!  Van al­le plekke is hy in ’n stal.

Hy glimlag wrang. Hy het darem diep ge­val. Nou kom die honger en hy dink aan ontbyt. Waar sal hy iet­sie te ete kry? Gister is hy by ’n paar plek­ke weggejaag omdat hy vuil en half besope was. Sy soort is nêrens welkom nie. Hy is een van die diep­geval­le­nes in die wêreld.

Klok­ke begin beier. Hy hoor ook sang. Sang wat nader kom. Baie kinderstemme. Dit daal oor hom: Dit is Kersfees! Trane brand in sy oë. Kersfees, en hy lê in ’n stal langs ’n koei! Kan enige mens dieper val? Hy luister na die woorde wat die kinders sing. Dis woorde van die liedere en die dinge van die He­re wat hy as kind en jongmens in sy huis en  kerk geleer het. Dit kom terug in sy hart:

Die Heiland is gebore in stille Betlehem….  So lief het God die wêreld gehad dat Hy sy Seun, sy enige, gegee het as Middelaar en Steun….. Kom na die krip so need’rig, daar lê die Kindjie teer….  Word U uit sondaarsliefde ’n Kindjie, swak en klein …. Wou U uit gindse hemel op aard’ by ons kom woon… Dan bied ons nou ons harte U, die liewe Heer, tot troon!

Die sang word sagter, die singende kinders gaan verby, maar die woorde bly agter in die gedagte van die man wat in die strooi langs die herkouende koei lê. Hy, die Seun van God, het ook in ’n stal, in ‘n krip gelê! Hy het ook na hóm toe gekom. Die boemelaar begin snik. Hy kniel langs die koei in die strooi. Hy bedek sy gesig met sy hande en druk, knielende, sy kop teen die grond. “Ek het diep, diep geval, Here, maar U het tot in die stal by my gekom. Kom in my hart, Here Jesus, en maak dit u troon. Red my, Here…” Stilte kom in sy gemoed. Vrede kom in sy hart.  Hy wat uit die hemel afgekom het tot in ’n stal, om te soek en te red dié wat verlore is, het tot by hierdie diep­gevalle man in die stal gekom en hom gered en nuut gemaak. Niemand het ooit te laag gedaal dat Jesus, die Saligmaker, hom nie kan bereik nie. “Hy wat in die gestalte van God was het Homself verneder… ja, tot die dood aan die kruis” (Fil.2:6-8). Dit is die blye, hoopvolle boodskap van Kersfees!

 

“Here, vandag glo ek U kom tot hier waar ek nóú is.”

Posted by Manie on Dec 15th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

DINSDAG 17 DESEMBER – `N SEUN GEGEE

DINSDAG                    ’N SEUN GEGEE

Lees Romeine 5: 1 – 11

“Ja tog, vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe…God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (7,8)

 

Een aand, gedurende die Tweede Wêreld­oor­log, loop ’n man en sy seuntjie stadig af in ’n straat, van ‘n groot Amerikaanse stad. In baie huise se ven­sters hang ’n ster, om te toon ’n seun uit hier­die huis, veg vir sy land. Die seuntjie klap gees­drif­tig hande vir elke ster wat hulle ver­byloop. En as daar meer as een ster in ’n venster ­hang, be­ïn­druk dit hom mateloos. Hulle kom by ’n gaping tus­sen die huise en voor hulle is die donker gewelf van die verdonkerende aand­lug. Hel­der glinster die aandster teen die swart he­mel­gewelf. “Kyk, Pap­pa!” roep die oud­jie opgewonde uit. “Kyk, daar is ’n ster in God se venster. Hy het ook sy Seun gegee!”

Dít is die Kersverhaal: God het uit liefde vir ons sy Seun gegee. Die prediker, D. L. Moody, sê hy het in sy pre­diking die liefde van Christus vir son­daars, baie be­klem­toon. Toe word hy pa van ’n seun­tjie en leer ’n pa se liefde vir sy seun ken. Sy pre­diking het ’n klem­ver­skui­wing ondergaan. Toe be­klemtoon hy God se lief­de vir ons, omdat Hy sy Seun gegee het sodat ons ge­red kan word. “Werk­like liefde is dit:…die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes…En ons het gesien en ons is getuie daar­van dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld ge­stuur het…En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin” (1Joh.4:10,14,16).

“Here, dankie U het u Seun vir óns gegee.”

Posted by Manie on Dec 15th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

MAANDAG 16 DESEMBER – DIE DATUM

MAANDAG                 DIE DATUM

Lees Openbaring 21:1-8

“Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde” (6)

 

Dr. Charles S. Robinson het vir ’n voor­­aan­staan­­de sakeman gevra: “Wat beteken Christus vir u?” Die man antwoord: “Ek dink nooit oor Hom nie.” Toe voeg hy met ’n skewe glimlaggie by: “Christus Jesus maak nie deel uit van my leefwêreld nie.” “As ek mag vra. In watter jaar is u gebore?” vra dr. Robinson vervolgens. Dadelik verstrek die man die jaartal. “Voor Christus of na Christus?” vra dr. Robinson, ook met ’n skewe glimlaggie. Verleë kyk die man na dr. Robinson. Hy verstaan die vraag. Gedurig gebruik hy die jaartal wat begin met Chris­tus se geboorte en hy het gedink Jesus Christus maak nie deel uit van sy leefwêreld nie.

Dit is vir niemand moontlik om van Christus Je­sus, die Here, af weg te kom nie, want Hy omspan die heelal en die ewigheid. Gelukkig elkeen wat betyds by Hom as Verlosser uitkom: “Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is” (Luk.19:10). “Ek sal hom wat na My toe kom nooit verwerp nie” (Joh.6:37). Dit is jammerlik ongelukkig om eers uiteindelik, as dit te laat is, by Hom as Regter uit te kom: “Toe het ek ’n groot wit troon gesien en die Een wat daarop sit…Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak… Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het… As daar bevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi” (Opb.20:11-15). Het die Here Jesus Christus al as Verlosser in u leef­wêreld plek gekry? Moenie uitstel nie. ”Kom! En elkeen…wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Opb.22:17).

Ons herdenk Jesus se koms aarde toe, om ons Verlos­ser te wees, weer hierdie Kersfees. Maak dít die kern van ú Kersfeesviering.

`n Skotse predikant het op die deur van sy kerk `n kennisgewing aangebring:  

CHRISTMAS: Jesus Christ the reason, For this season!

      `n Vrou van hulle dorp bel hom die volgende og­gend. “Ek het jou kennisgewing op die kerkdeur gesien,” begin sy sommer ergerlik. “Dit is wat ek teen julle pre­dikante het. Oral probeer julle Jesus Christus indruk. Nou wil jy ons vrolikste vakansiedag van die jaar weer demp deur Jesus daar in te druk!”

Wat maak óns Kersdag vir ons gelukkig?

“Here, vandag dank ek U, Here Jesus, dat U ook ter wille

van my, aarde toe gekom het.”

Posted by Manie on Dec 15th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

SATERDAG 14 DESEMBER – PADKOS

SATERDAG                   PADKOS

Uit die dagboek PADKOS, uit die Lewende Bybel.

 

Die Here is `n veilige skuilplek vir almal …in tye van moeilikheid…Here, almal wat vir U ken, vertrou op U want U sal die wat U aanbid nooit in die steek laat nie. (Spr.18:10-11). – Dit is werklik God wat ons vrygemaak het. Ons sal op Hom vertrou en nie bang wees nie. Hy is ons krag en ons verdediger en Hy het ons vrygemaak (Jes.12:2). – Ek is vandag `n ou man, maar ek het nooit in my lewe gesien dat die Here iemand wat aan Hom gehoorsaam is in die steek laat of dat so iemand se kinders kos hoef te bedel nie (Ps.37:25). Daar is geen ander God wat met U vergelyk kan word nie, want U vergewe die sonde van u volk wat oorgebly het. U bly nie vir altyd kwaad nie, en U wil graag u getroue liefde aan ons bewys. U sal ons weer jammer kry en ons sondes on­der u voete vertrap en hulle diep in die see gooi (Miga 7:18). – Sonder iets wat ons van ons kant af verdien het, het Hy dit vir ons verniet ge­gee, want sy Seun wat Hy so lief­het, het dit moont­lik gemaak. Dit is deur die bloed van sy Seun dat God ons verlos en ons alles vergewe wat ons teen Hom gedoen het (Ef.1:6).

Posted by Manie on Dec 7th 2013 | Filed in Padkos | Comments Off

VRYDAG 13 DESEMBER – DIT IS `N DUUR LIED

VRYDAG           DIT IS `N DUUR LIED!

Lees: Handelinge 17: 1 – 5

“… het Paulus …uit die Skrifte..uitgelê en aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dode opstaan…” Hand.17:3.

 

Die lied wat die boetie en sussie met soveel oorwin­ning gesing het, is ’n duur lied. Tydens die herlewing in Philadelphia in 1858 het ‘n 29-jarige Episkopaalse pre­di­kant, Dudley Tyng, die evangelie met groot krag verkon­dig. Een Dinsdagaand, 30 Maart 1858, het meer as 5 000 mans in die Y.M.C.A.-saal bymekaar gekom en na sy preek oor Eksodus 10:11 te luister. Hy het uitgeroep: “Net die mans gaan! Gaan dien die Here…!” Meer as ’n duisend van hulle het dié aand hul lewens aan die Here oorgegee. Op een stadium in sy preek het hy uitgeroep: “I must tell my Master’s errand, and I would rather that this right arm were amputated at the trunk than that I should come short of my duty to you in delivering God’s mes­sage.” Die volgende week het hy op ’n plaas gestaan en kyk hoe ’n dorsmasjien koring dors, toe ’n wiel sy mou gryp en sy arm tussen die groot ratte vergruis word. Die skok en bloedverlies, skryf Ken­neth Osbeck, het sy dood veroorsaak. Op sy sterf­bed het ’n groepie bedroefde vriende en ander le­raars ’n laaste woord van hom gevra. Hy het sag gefluister: “Let us stand up for Jesus.” ’n Mede­wer­ker en vriend, eerw. George Duffield, van die Tem­ple Presbyterian Church in Philadelphia, het in sy Son­­dag­oggend­preek hulde gebring aan die ont­­sla­pe prediker en toe ’n gedig gelees wat hy gaan skryf het na hy Dudley Tyng se laaste woorde ge­hoor het: “Stand up, stand up for Jesus, ye soldiers of the cross!” Hoekom het so iets met die getroue jong prediker gebeur? Ons sal nooit weet nie. Nie een van sy preke het bewaar gebly nie, maar die lied wat soos ’n vrug uit sy ongeluk en dood voortgekom het, spreek tot vandag toe aanmoe­dig­ing tot Jesus se volgelinge.

“Here, vandag wil ek vir U opstaan en U bely.”

Posted by Manie on Dec 7th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

« Prev - Next »