Archive for November, 2013

You are currently browsing the archives of Krag vir Vandag .

DINSDAG 26 NOVEMBER – NABY GENOEG

 DINSDAG                       NABY GENOEG

Lees Matteus 14: 22 – 32

“Dadelik het Jesus sy hand uitgsteek, hom gegryp en vir hom gesê: ‘Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”

            In die Prairie Overcomer vertel dr. John G. Paton, van die New Hebrides, hoe die destydse barbaarse in­boor­linge om hom geswerm het, om hom dood te maak. In die sendelinge se vlugtog het hy alleen in die bos ag­ter­gebly. Die ure wat hy so dood alleen moes deurbring, bly hom so helder voor die gees asof dit gister gebeur het, vertel hy. Oorweldig deur  vrees het hy in ’n boom geklim. Kort-kort het hy geweervuur gehoor, te midde van die ge­skreeu en gegil van die inboorlinge. Toe kom daar ’n stil­le wete in sy hart: hy is veilig in Jesus se arms. Hy sê: “Never, in all my sorrows, did my Lord draw nearer to me, and speak more soothingly in my soul, than when the moonlight flickered among those chestnut leaves, and the night air played on my throbbing brow, as I told all my heart to Jesus.”

Die ergste bedreigende omstandighede is soms juis vir ons die toneel, van ons diepste ervaring van die Here se nabyheid. Petrus het dit op die on­stui­mige see ervaar. Hy sink toe hy die branders sien en die stormwind voel. Hy het bang geword. Op sy uitroep om hulp het hy da­delik Jesus se hand­greep om sy hand gevoel en ervaar hoe hy uit die diep­water gehaal word. Het u iets wat u bang maak? Roep na Jesus. Hy is naby genoeg om u  hoor en u dadelik te help

 

“Here, vandag roep ek na U, want ek is bang.”

Posted by Manie on Nov 24th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

MAANDAG 25 NOVEMBER – NET UIT GENADE

 MAANDAG       NET UIT GENADE GERED

Lees Lukas 15: 11 – 24

“Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom” (20)

 

In The Gideon vertel Hal Lindsey, skrywer van die so­ge­naam­de multimillion sellers: “The Late Great Pla­net Earth” en “Satan is Alive and Well on Planet Earth”, hoe hy tot bekering gekom het. Ek vertaal sy vertelling, maar hier en daar laat ek hom sy eie Engels praat:

In 1950 moes ek vir die tweede agtereenvolgende jaar die kol­lege verlaat, weens my oormatige drankgebruik. Ek het by die vloot aangesluit, die U. S. Coast Guard. Elke na­week het ons, vlootmanne, afgesit New York toe. Een naweek het ek Vry­­dagaand al, my geld alles uit gedrink en toe saam met ’n maat, op die plein rondgestaan en kyk of ons nie ’n be­ken­de sien, by wie ons kon geld leen nie. Oor­­kant Times Square sien ek ’n plakkaat met die woorde: “Free Food”, en onder dit “Jesus Saves”. Ek ignoreer die onderste twee woor­de, maar sê vir my maat: “Let’s go over and make those ‘Holy Joes’ feed us. They ought to be good for something.” Dit is wat ek van Christenskap gedink het. By dié Christelike plek gee hulle toe vir ons iets te ete, maar net voor ons loop kom ’n sakeman na my toe en vra of ek ’n Christen is. “Ek hoop so,” antwoord ek en hoop ek is nou van hom ontslae. Maar hy bly met my praat en vir die eerste keer hoor ek die weg van saligheid duidelik uit­gespel. Ek het egter net ge­lag, want ek het nie belanggestel nie en ek het wegge­stap. Na my diens­plig het ek in New Or­leans gaan woon en ’n lisensie be­kom om sleepbootkaptein te word. Ek het oor en weer op die Missis­sippirivier gevaar. Ek was ’n vry, plesierige man, maar hoe meer ek my aan drank, vroue en alle ander dinge oorge­gee het, hoe meer onvergenoegd het ek geraak. I had in my­self a growing emptiness and frustration and just aimlessness about life. Toe onthou ek van ’n Nuwe Testa­ment, wat ek eens by geleentheid ge­kry het en in my see­mans­rug­sak gegooi het, toe ek van die huis af weg is vloot toe. Ek krap in die ou rugsak, en werklik, daar kry ek die Nuwe Tes­tament. Ek lees die Bergpredikasie en voel al skuldiger. Ek lees voort in Johannes en sien in hoofstuk drie, vir die eerste keer, ’n mens moet wedergebore word. Ek lees deur die hoofstuk en die laaste vers slaan my reg in my hart: “Wie in die Seun glo, het die ewige lewe.” In my hart sê ek toe: “God, if You exist, and I think You do, then in the best way I know how, I want to accept this gift, that Jesus Christ says He is offering. I want to believe in Jesus Christ. I don’t have much faith, God, but, with all that I have right now I want to put that in You.” Ek het nie geweet wat om daarna te doen nie.

Vir die volgende 12 maande het ek nie kerk toe gegaan nie; ek het nie geweet waarheen om te gaan nie. Ek het besluit om die Bybel deur te  lees. Dit was vir my ’n nuwe Boek. Ek het gereeld ge­lees, want ek was geboei deur hierdie Persoon, Jesus Christus. Ek het besluit Hy is Iemand wat deur niemand geken word nie, ten min­ste niemand met wie ek in aanraking gekom het nie. Terwyl ek so lees, begin mense na ’n paar maande vir my vra: “Hall, what’s gotten into you? Somehow you’re different.” Ek het vir my vriende van die Woord van God begin vertel en sommige van hul­le by Jesus Christus ge­bring. Ek is terug ouerhuis, Hous­ton, toe. Na ’n rukkie vra my pa vir my wat met my gebeur het. Ek is anders as wat hy my geken het. Ek het hom vertel en hom na Christus toe gelei. Daarna het ek my ma ook na Christus toe gelei. Ek weet nie wie die Bybel in 1942 vir my gegee het nie, maar ek besef hoe `n belangrike daad dit was. Toe het God al na my toe begin kom! Deur dáárdie lewende Woord het die Heilige Gees my na Christus toe gelei. “I have watched that Word work in the hearts of radicals, in the hearts of Communists, in the hearts of hippies, and I’ve seen it have its all powerful effect in the hands of the Spirit. I thank God for Eternal Life!

 

Posted by Manie on Nov 24th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

SATERDAG 23 NOVEMBER – PADKOS

SATERDAG                      PADKOS

Uit Padkos – die dagboek uit die Lewende Bybel.

Die Here is ’n veilige skuilplek vir almal …in tye van moeilikheid…Here, almal wat vir U ken, vertrou op U want U sal die wat U aanbid nooit in die steek laat nie. (Spr.18:10-11). – U sal ons weer jammer kry en ons sondes on­der u voete vertrap en hulle diep in die see gooi (Miga 7:18). – Sonder iets wat ons van ons kant af verdien het, het Hy dit vir ons verniet ge­gee, want sy Seun wat Hy so lief­het, het dit moontlik gemaak. Dit is deur die bloed van sy Seun dat God ons verlos en ons alles vergewe wat ons teen Hom gedoen het (Ef.1:6). – Julle is saam met Christus lewendig gemaak en het nou ’n nuwe lewe. Lê julle dan toe op die dinge van die hemel, waar Christus nou in die ereplek aan die regterkant van God sit. (Kol.3:1,3). – Want wat die menslike geaardheid wil doen, is die teenoorgestelde van wat die Gees wil hê, en die doel van die Gees is heeltemal teenstrydig met die doel van die sondige menslike geaardheid (Gal.5:17).  “Here  vandag plaas ek albei my hande in u hande.”

Posted by Manie on Nov 16th 2013 | Filed in Algemeen,Padkos | Comments Off

VRYDAG 22 NOVEMBER – KRAG IN SY HAND

 VRYDAG          KRAG IN SY HAND

SKRIFDEEL: Matteus 14: 22 – 32

“Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en uitgeroep: ‘Here, red my!’ Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: ‘Kleingelo­wige, waarom het jy begin twyfel?’” (30,31)..

 

‘n Gids het ’n groepie toeriste langs ‘n steil pad na ’n waterval toe gelei. Die laaste endjie moes hulle oor ’n nou, wankelrige hangbrug oor ‘n diep af­grond loop. Een vrou het net halfpad ge­kom. Toe sy afkyk en die diep afgrond sien en die beweging van die brug onder haar voete voel, kon sy nie ‘n tree ver­der gaan nie. Die gids het gesien sy word pa­niekerig. Sy het met albei hande die bruggie se re­ling vasgegryp en vir lewe en dood daaraan ge­klou. Met ’n rustige glimlag steek hy sy hand na haar toe uit. “Jou hand in die gids se hand,” sê hy vriendelik. Met een hand los sy die reling en sit dit bewerig in die gids se hand. Met die ander hand bly sy steeds styf aan die reling vasklou. Die gids sien hulle sal nie vorder nie. Steeds glimlaggend, rus­tig, maar ferm sê hy vir haar: “Al­bei jou hande in die gids se hand.” Stadig laat sy met die ander hand die reling los en sit dit ook in die gids se sterk hand. Tree vir tree lei hy haar veilig oor die wiegende bruggie na die an­derkant toe.

            Hoe dikwels wieg die bruggie nie onder ons voete nie? Die bruggie van ons gesondheid, van ons finansies, van ons algemene omstandighede, van ons geestelike lewe. Die dissipels het in tye van nood hierdie les geleer. In hulle bootjie op die stormagtige see, het Jesus meer as een keer die storm laat bedaar. Toe hulle die duisende moes voed, het Hy die brood en vissies vermeerder. Die geheim is `n doelbewuste vertroue in God. “Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U…ek is nie bang nie” (Ps.56:4,5).

Posted by Manie on Nov 16th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

DONDERDAG 21 NOVEMBER – NIE HOOP NIE – BESLUIT

DONDERDAG    NIE HOOP NIE – BESLUIT!

SKRIFDEEL: Lees Lukas 23: 38 – 43

“En Jesus antwoord hom: ‘Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees’” (42).

 

‘n Man wag op die lughawe van Portland, Ore­gon, vir ‘n vriend wat pas van ‘n vliegtuig af­ge­stap het, vertel eerw. David A. Sar­gent. Sy aan­dag word getrek deur ‘n ander man wat met twee ligte tasse in sy hande, tussen die an­der pas­­sasiers deur, aankom. ‘n Seuntjie, dalk ses jaar oud, hardloop hom tegemoet. Die man buig af, gee die seuntjie ‘n innige druk, hou hom ‘n rukkie vas, sê: “Ek het jou so gemis, my kind.” Die seun ant­woord skamerig, “Ek ook, Pappa.” Die man kom reg­op en groet ‘n ander seun, mis­kien tien jaar oud. Hy hou die groter seun se gesig in sy hande, kyk in sy oë: “Ai, seun, ek het na jou verlang.” ‘n Dogtertjie van omtrent ‘n jaar oud sit in die ma se arms en wurm gretig om by haar pa te kom. “My Babatjie,” sê die man teer en neem die kleintjie in sy arms, soen haar en wieg haar heen-en-weer. Dadelik lê die kleintjie haar kop­pie vol bevrediging teen sy skouer. Hy gee die dog­tertjie vir sy oudste seun. “Die beste het ek vir laaste gebêre,” en met dié woorde neem hy sy vrou in sy arms en gee haar ‘n innige, lang soen. Hulle kyk mekaar in die oë. Hy sê gevoel­vol, “Ek het jou so lief!” Die man wat sy vriend kom haal het, besef skielik hoe hy die gesinnetjie aanstaar. Ver­leë sê hy “Wow! Hoe­lank is julle al getroud?” “Twaalf jaar,” antwoord die ander man sonder om sy oë van sy pragtige, bloesende vrou af te neem. “Hoe lank was jy weg van hulle af?” vra die starende man. “Twee volle dae.” TWEE DAE??? Die man is verstom. Hy sou sê hy was maande lank weg van sy geliefdes af.

Verleë prewel die starende man, “Ek hoop my huwelik sal na twaalf jaar ook nog so hartlik en warm wees.” Sonder om sy vrou se hand te los, kyk daardie ander man hom di­rek in sy oë en met ‘n erns wat die toe­skou­er tot in sy hart tref sê hy: “Moenie hoop nie, Vriend. Besluit!

Dit geld nie net vir die getroude lewe nie, maar vir al die ernstige sake in ons lewens. As daar ‘n oop weg is, moet dan nie net hoop nie. Dít bring mens nêrens nie. Besluit! Dit geld ook vir ons geeste­li­ke lewe. Iemand kan sê: Ek hoop my saak met God is reg. Ek hoop ek sal hemel toe gaan. Dis nie genoeg nie. Jesus Christus het die weg vir ons so wyd oopgemaak, dat ons kan besluit. “Daarom as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skep­sel… dit het alles nuut geword…Ons bid julle om Chris­tus wil: Laat julle met God versoen” (2 Kor.5:17,20). Sélf beloof Jesus ons: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou en hy met My” (Opb.3:20).

 

 “Here, vandag maak ek die deur van my hart vir U oop. Red my asseblief.”

Posted by Manie on Nov 16th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

WOENSDAG 20 NOVEMBER – NOOIT ALLEEN NIE

 WOENSDAG               NOOIT ALLEEN NIE

SKRIFDEEL: Psalm 121

“Die Here beskerm jou” (5)

 

Dr. Tony Campolo skryf in sy boek, A Dreamer for the Kingdom, hy het opgegroei het in ’n dig­be­volk­te, besige stad. Sy ma het ’n tienderjarige dog­ter, wat naby hulle gewoon het en ook skool toe moes loop, gevra om teen ’n nickle a day haar oog oor hom te hou as hy skool toe en terug loop. Die skool was agt blokke ver en hulle moes verskil­lende be­sige strate kruis om by die skool te kom. In sy twee­de skooljaar, het Tony opstandig geraak om  elke dag saam met die buurdogter skool toe te stap. Hy wou alleen loop. “Ek kan alleen loop. Ek belowe, ek sal baie versig­tig wees,” het hy gesoe­bat. Uitein­de­lik het sy ma toegegee. Vir die volgen­de paar jaar het Tony self skool toe en terug ge­stap. Hy was baie versigtig. Hy het nie met vreem­delinge ge­praat of nuuskierig agter ander dinge aange­gaan nie. Jare later, by ’n fa­mi­lie­sa­me­koms, het hy grootgepraat oor sy on­af­hank­lik­heid en sy familie her­inner, aan sy self­stan­dig­heid, toe hy as klein seuntjie die moeilike pad skool toe al­leen geloop het. Sy ma het gelag. “Dink jy regtig jy was al­leen?” vra sy. “Elke oggend as jy skool toe loop, het ek jou gevolg tot jy veilig by die skool aange­kom het. Elke middag as die skool moet uit­kom, het ek vir jou buite gewag, maar so dat jy my nie sou sien nie. Dan het ek weer agter jou aangeloop tot ons by die huis gekom het. Ek wou naby jou wees, as jy in daar­die strate my dalk sou nodig kry.”

Glo ons die Here was elke dag naby ons, toe ons, sover as wat ons deur die strate van die lewe het gekom het. Kom ons glo dit vir ons volgende jare. Je­sus het sy dissipels belowe: “En ont­hou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wê­reld” (Mt.28:20). In die Here se Woord is God se nabyheid by ons ’n voortdurende belofte: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou” (9).

 

­ “Here, vandag glo ek U is naby my.”

Posted by Manie on Nov 16th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

DINSDAG 19 NOVEMBER – DIE DIEPER DORS

DINSDAG                    DIE DIEPER DORS

SKRIFDEEL: Johannes 4:1 – 26

“Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee” (13,14)

      ’n Jong filmster het gewild geword en vinnig op­gang gemaak. Sy het vir haar ’n huis gekoop en die huis Satis genoem, afgelei van satisfied, om uit­druk­king te gee aan haar tevredenheid met haar lewe. Op ’n dag het hulle haar gevind, dood, opgehang aan een van die balke van Satis! ‘n Ander jong filmster het ‘n ander weg gevolg. Sy het ook be­langrik en gewild geword en sy het dieselfde in­ner­like leegheid ondervind. Iewers het sy met die bood­skap van Christus se verlossing te doen gekry – dalk ‘n oupa of ouma wat vir haar gebid het! Sy het uiteindelik na haar kamer toe gegaan, by haar bed gaan kniel en so gebid: “Here Jesus, gee vir my wat ek nie wil hê nie. Doen vir my wat ek nie vra nie. Maak my wat ek nie wil wees nie. Maar, asseblief, Here Jesus, red my!” Die Here het haar opregte gebed verhoor en vir haar die redding en Chris­ten­skap gegee wat haar lewe met ‘n vreug­devolle toekoms vervul het.

Die kerkvader, Augustinus, het gesê: “God het die mens vir Homself gemaak, daarom kan die menslike hart met niks minder as God self tevrede wees nie.”   Totdat die hart rus vind in Christus se red­ding, bly dit soos ons van Noag se duif lees: “Noag het toe ‘n duif losgelaat om te probeer vas­stel of die water al van die aarde af verdwyn het. Maar oral op die aarde was daar nog water, en die duif kon nie ‘n rusplekkie kry vir die holte van sy voet nie en het na Noag toe in die ark teruggekom. Hy het dit toe met sy hand gevang en in die ark teruggesit” (Gen.8:8). Dit was ook die Here Jesus se ant­woord aan die duiwel toe dié Hóm probeer versoek het: “’n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom” (Mat.4:4).

 

“Here, vandag soek ek die rykdom van u koninkryk in my hart.”

Posted by Manie on Nov 16th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

MAANDAG 18 NOVEMBER – DIE LIGTE WAT SKYN

MAANDAG        DIE LIGTE WAT SKYN

SKRIFDEEL: Matteus 5: 13 – 16

“Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en jule Vader wat in die hemel is, verheerlik” (16).

 

‘n Jongman en `n meisie stap met die paadjie, wat aan die voet van Catskill Mountains, ri­vier­langs kron­kel, vertel Secret Place. Hulle praat oor `n ander jong­mei­sie wat albei as `n toegewyde Christin ken. Die jongman sê: “Sy het, wat ek sou noem, `n stra­lende persoonlikheid.” “Dis waar,” stem die jongmeisie saam. “Hoe sou jy dit ver­klaar?” Hulle stap `n endjie in stilte, dan wys die jongman na die oorkant van die rivier. “Sien jy daardie ou kasteel? Toe ek `n seuntjie was, was ek en my maats lief om op die rivierwal te sit en na die kasteel te kyk. Ons kon sê wat in die kas­teel aangaan, volgens die ligte wat in die kasteel brand. As net die familie byme­kaar was, het net `n paar ligte gebrand. As hulle gaste onthaal, brand `n klomp ligte. Een keer het `n lid van die konink­like familie daar besoek afgelê. En jy moes daar­die aand se ligte kon sien! Ek het selde so `n glans en skittering in my lewe gesien.” Die ge­sprek keer terug na hulle vriendin toe. In haar eie woorde, volgens Secret Place, sê die jongmeisie: “I think the only way her radiant per­sonality can be explained is that she is costantly  enter­tain­ing a Royal Guest.” Koning Jesus woon in haar hart.

`n Predikant was op `n skip wat The Bay of Biscay oorgesteek het. Hy kyk met angs na, wat hy dink, `n naderende orkaan is. Bewende wend hy hom tot een van die matrose. “Dink julle die skip sal deurkom?” vra hy. “Deur wat kom?” vra die matroos. “Daardie vreeslike orkaan wat aan­­kom.” antwoord hy. Die ou matroos glimlag. “Daardie storm sal nooit weer hierlangs kom nie,””ant­woord hy rustig. “Dit wás reeds hier en is verby.”

Die indruk wat dié insident op die dominee ge­maak het, weergee Kings Business met hierdie woor­de. “So, in regard to the believer, judgment as to the penalty of our sins is past. We were tried, condemned and executed in the person of our Surety, our Lord Jesus Christ, on Calvary.” Daar is plek vir blyskap in die hart van die volgeling van Jesus, in plaas van die vrees, soos in die hart van die een wat die Here Jesus nog nie as Verlosser ken nie.

Vir die persoon wat in Jesus Christus vertrou vir die vergifnis van sy sonde en die redding van sy siel, het die onbeskryflike orkaan van God se toorn oor sonde, verby­gegaan. So iemand het erfgenaam ge­word van vrede, vergifnis en die ewige lewe. Vir die beangsde misdadiger aan die kruis, wat hom op die laaste tippie tot Jesus, langs hom, gewend het, het Jesus gesê: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (Luk.23:23:40-43). “Daar is dus nou geen veroor­deling vir dié wat in Christus Jesus is nie” (Rom.8:1). In so `n hart ontplooi die Heilige Gees vreugde, vrede, vriendelik­heid.

 

“Here, vandag glo ek U vergifnis.”

Posted by Manie on Nov 16th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

VRYDAG 15 NOVEMBER – TE GROOT

VRYDAG                             TE GROOT

Lees 1 Timoteus 3:14-16

“En dit staan bo alle teenspraak dat die geopenbaarde waarheid van ons godsdiens groot is…”(14)

 

Die kerkvader, Augustinus, het eendag langs die see geloop. Diep besorgd loop hy en peins oor die leerstelling van die Drie-eenheid van God. Hy kan dit nie verstaan nie en hy is ongelukkig daaroor. `n Endjie vorentoe skep ‘n seuntjie met ’n groot skulp  water uit die see, hardloop dan na ’n gat toe wat hy in die sand gegrawe het en gooi die water in die gat. Augustinus hou hom ’n rukkie lank dop. “Wat is jy besig om te doen, Grootman?” vra hy die oudjie. “Oom ek is besig om die see in die gat wat ek gegrou te gooi,” roep hy uitasem en hol alweer see toe om nog ’n skep water te gaan haal. Met ’n verligte hart draai Augustinus om. “Dit is wat ek besig is om te doen,” sê hy vir homself. “Ek staan op die kus van die tyd en ek probeer in hierdie nietige verstand van my dinge van die ewigheid in kry.”

Ons verstaan nie eers God se natuurskepping heelte­maal nie, hoe wil ons sy ewigheidskepping verstaan? Som­­mige dinge, die meeste van God se dinge, verstaan ons nie. In die Skrif en in die Persoon van sy Seun wat mens geword het, het God Homself aan ons bekend ge­maak en die Hei­lige Gees verklaar dit aan ons in ons hart in die mate wat Hy wil hê ons God moet verstaan. “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie, en wat in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet. Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak…”(1 Kor.2”9,10). Hoe meer ons die Bybel lees en bepeins, hoe meer sien ons God se dinge raak. Die orde word in ’n paar mooi Engelse woorde vir ons gegee: “Eerste: information (kennis deur die lees van die Bybel); dan:  meditation (oordenking van wat ons lees); dan: revelation (die openbaring wat die Heilige Gees in ons gee); dan: dedication (die toewyding wat in ons hart kom).

 

“Here, vandag lees en oordink ek u Woord.”

Posted by Manie on Nov 13th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

SATERDAG 16 NOVEMBER – PADKOS

SATERDAG                     PADKOS

Uit die dagboek PADKOS, met verse uit die Lewende Bybel, wat dieselfde tema het, bymekaar gerangskik.

 

Hy sal vir sy volk sorg soos ‘n herder vir sy ska­pe. Die klein lammertjies dra Hy in sy arms en hou hulle teen sy bors. (Jes.40:11). Ons Hoof­priester kan ons swakhede ver­staan want Hy het presies dieselfde versoe­kings as ons ge­had, maar Hy het nie daaraan toegegee en sonde gedoen nie” (Heb.4:15). Eenkeer het daar mense met hul­le kin­der­tjies na Je­sus toe gekom…toe het Hy die kindertjies in sy arms geneem en sy hande op hulle kop gesit en hulle geseën (Mark.10:13,16). Daarom moet julle nie bang wees nie… julle Vader het Hom reeds voor­geneem om julle in sy nuwe ryk in te neem (Luk.19:10). Laat elkeen wat moede­loos in die don­ker rond­soek op die Here ver­trou en op Hom reken (Ps.37:24). As jy op die regte manier na dinge kyk, sal jou lewe helder verlig wees (Mat.6:23). Here, ek wil gedurig sing van u wonderlike liefde en vertel hoe getrou U deur al die geslagte gebly het. Ek wil bevestig dat u liefde vir ewig bly en dat u getrouheid so vas staan soos die hemel self (Ps.89:2-3). Hoe groot is u liefde nie vir my nie, want U het my lewe gespaar en my van die graf weggehou…U is ’n God vol genade en mee­gevoel; U is geduldig met oneindige liefde en getrouheid.. Gee tog aandag aan my en kry my jammer. Gee my krag en red my… (Ps.86:13-16).

Posted by Manie on Nov 13th 2013 | Filed in Padkos | Comments Off

« Prev - Next »