Archive for September, 2013

You are currently browsing the archives of Krag vir Vandag .

DINSDAG 24 SEPTEMBER – `N LIG IN DIE DONKER

DINSDAG              ’N LIG IN DIE DONKER

Lees Filippense 2:12-18 Lewende Bybel

“Julle moet tussen hulle lewe soos ’n lig wat in die donker skyn want julle dra die boodskap wat aan ’n mens die lewe kan gee”(15,16).

 

Dit was vir ’n jong meisie moeilik om in haar werks­om­gewing vir Christus ’n getuie te wees. Sy het gevoel sy faal as Christen. Sy het oorweeg om van werk te ver­ander. Sy het haar leraar se raad gaan vra. “Waar plaas ’n mens ’n lig?” vra hy haar. Sy verstaan sy vraag da­de­lik: “Waar dit donker is.” “Dis reg. Daarom het die Here jou daar geplaas. Moenie iets besonders probeer doen nie. Hou jou verhouding met die Here reg en sy lig in jou sal in jou gewone doen en late uitskyn na ander toe.” Hoe donkerder ’n plek is, hoe makliker word ’n lig, selfs ’n dowwe liggie, gesien.

Net so min as wat ’n gloeilamp kan brand as dit nie met krag verbind is nie, of ’n lamppit kan brand as dit nie in olie lê nie, net so min kan ons vir die Here soos ’n lig skyn as Hy nie deur die Heilige Gees self in ons is nie. “…’n lamppit    wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie” (Jes.42:3). Hierdie innerlike krag om vir die Here soos ligte te skyn, word in Filippense se 2de hoofstuk aan ons beloof: “…dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae…sodat julle onberispelik en opreg kan wees …te midde van ’n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld…” (13,15 Ou Vertaling).

 

“Here, vandag soek ek u krag in my, sodat ek vir U soos ’n lig kan skyn.”

Posted by Manie on Sep 20th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

MAANDAG 23 SEPTEMBER – DIEPER WATER

MAANDAG                 DIEPER WATER

Lees 2 Korintiërs 12:1-10

“My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis in volle werking wanneer jy swak is” (9)

 

Die Sjinese Christenleier, Ni To-sheng, beter be­kend as Watchman Nee, het net meer as 20 jaar in die kommunistiese tronk in Sjina deur­ge­bring. Dit is nie bekend wat presies sy dood op 1 Ju­nie 1972 op 69-jarige ouderdom veroorsaak het nie.  Die bekende R. Wurmbrand haal Harold Ma­tinson aan, wat in ‘n 1972 uitgawes van Jesus to the Communist World, geskryf  het dat Nee se tong uitgesny is, omdat hy nie wou ophou getuig vir die Here nie, en sy hande afgekap is toe hy nie wou ophou skryf oor die Here nie. Uit ’n boek deur A. I. Kinnear, self ’n sendeling in Indië en per­soonlike vriend van Nee, Against the Tide, kom dit egter voor of hy twee maande voor sy dood aan sy skoonsuster, in sy handskrif, ’n brief geskryf het. Die wreedheid waarvan Wurmbrand praat is dus nie ’n uitgemaakte saak nie. Dat hy in die tronk gely het, is egter seker.. Self het hy net een boek geskryf en laat publiseer. Sy preke, lesings en korrespondensie het egter bewaar ge­bly en daaruit het Kinnear verskillende boeke, som­mige ook aan ons bekend, saamgestel: The Normal Christian Life, Changed into His Likeness, Love not the World, Table in the Wilderness en nog ander. Table in the Wilderness is ’n dagboek. In 4 Junie se dagstukkie skryf Watchman Nee hoe hy die Here gevra het om ’n moeilike be­proe­wing weg te neem. Soos Paulus het hy in sy hart ook God se antwoord: “Nee”, ontvang. Saam met die wete dat die Here nie sy probleem gaan weg­neem nie, kom in sy hart die beeld van ’n rivier­boot, wat nie met ’n nou stroom tussen twee hoë walle kan deurvaar nie. In die middel van die nou stroom rys ’n meter hoë rots van die bodem op. As die rots nie verwyder word nie, watter ander op­lossing bly oor? Die antwoord het in sy hart gekom: dieper water sodat die boot oor die rots kan vaar. Christenskap, skryf  hy, is nie ’n saak van rotse wat verwyder moet word nie, maar van diep­er vaarwater. Van so ’n man kan ons so ’n boodskap aanneem, want ten spyte van al sy swaar be­proe­winge het hy oorwinnend gesterf. Oor die brief wat hy so kort voor sy dood aan sy suster geskryf het, skryf  Kin­near: “He concludes on a note of joy, and those who knew him will feel this is wholly in cha­rac­ter. There is no self-pity, for his concern is for the letter’s recipient, that the inward joy he is experiencing may be her experience also.”

Hoe kry ons dieper vaarwater, sodat ons ook oor­win­nend bo-oor die versperrende rotse kan vaar? Die Here Jesus het self so ’n weg gevolg: “Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied”  (Lukas.22:42). Die Here Jesus moes bo-oor sy versperring vaar. Hy het dit oorwinnend gedoen:“Dit is volbring!…Vader, in u hande gee Ek my gees oor”(Joh.19:30  & Luk.23:46). Uit die Skrif leer ons God se beloftes en die openbaring van sy hart ken, soos Christus ons dit kom leer het, en soos die Heilige Gees dit in ons hart vertolk, En dan as ons tyd neem om deur gebed die Here se aangesig te soek, met Hom om te gaan met die lees van ons Bybel en in die hart na Hom te luister, neem die Heilige Gees van ons hart besit en vervul ons met Christus se opstandingsoorwinning.

 

“Here, vandag soek ek uit u Woord en deur gebed dieper vaarwater.

Posted by Manie on Sep 20th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

MAANDAG 16 SEPTEMBER – DIE REGTE VERBINDING

MAANDAG        DIE REGTE VERBINDING

Lees: Handelinge 16: 22 – 34

“Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin  (31)

 

In ’n Spoorwegbode word vertel van twee mans, wat op ’n spoorwegstasie in ’n rytuig klim, ter­wyl die rangeerdery, om die trein spoorgereed te maak, nog aan die gang is. ’n Spoorwegman kom vra hulle om in die volgende rytuig te klim. Er­gerlik wil die een man weet wat dan verkeerd is met die rytuig waarin hulle reeds sit. Die spoor­weg­man glimlag en antwoord: “Daar is niks met die rytuig verkeerd nie. Dis net, dit is aan niks ge­koppel nie.”

Min van ons het nie ’n geloofsposisie of gods­diensorde nie. Die belangrike vraag is egter: “Sal dit my in die ewige saligheid bring?” Dit is nie `n spe­si­­fieke geloofsbin­ding, bv. aan watter kerk mens behoort of leerstellinge `n mens glo, wat ’n mens in die he­mel bring nie, maar dit is `n mens se persoonlike ver­houding met Je­sus Chris­tus, wat `n mens red. Sonder die per­soonlike ver­binding met die Here Jesus Christus – ek het Hom as my persoonlike Verlosser aangeneem – kan ’n mens godsdienstig wees en baie Bybelkennis hê en goeie dinge doen, maar ’n mens is nie vir die ewigheid gereed nie. Dit is dan wel ’n rytuig wat op die spoor staan, maar dit is nie aan die lo­ko­mo­tief ge­kop­pel nie.

Die red­dende verbinding met Christus Je­sus is die glo en weet: Hy het my sondes aan die kruis ge­dra, my aangeneem en aan my die ewige lewe gegee, want ek het sy roeping geantwoord en Hom as my Ver­losser aangeneem. “Maar aan almal wat Hom aan­ge­neem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.”

 

“Here, vandag neem ek U aan as my Verlosser.”

Posted by Manie on Sep 14th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

SATERDAG 21 SEPTEMBER – PADKOS

SATERDAG                   PADKOS

 

As ’n mens deur die geloof in die regte verhouding tot God gekom het, dan lewe hy werklik (Rom.1:17). -  Ons het gesê ons glo dat God ons verlos het en ons sien uit na wat Hy nog vir ons gaan doen. Hieraan moet ons vashou en nooit twyfel nie, want dit is God wat dit beloof het, en op Hom kan ons reken (Heb.10:23). – Ons God is in die hemel en Hy maak presies soos Hy besluit het. Daar is niks wat vir God onmoontlik is nie (Ps.115:3).  My Vader het aan My gesag gegee om te regeer, en op dieselfde manier gee Ek dit nou vir julle ook. Daarom sal julle in my koninkryk saam met My eet en drink en julle sal op trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regeer (Luk.22:29,30). Daar is geen ander God wat met U vergelyk kan word nie, want U vergewe die sonde van u volk wat oorgebly het. U bly nie vir altyd kwaad nie, en U wil graag u getroue liefde aan ons bewys. U sal ons weer jammer kry (Miga 7:18,19).

Posted by Manie on Sep 14th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

VRYDAG 20 SEPTEMBER – BETYDS

VRYDAG                         BETYDS

Lees Matteus 15: 21 – 28 – OU VERTALING

“…Jesus…sê vir haar: ‘o Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê’” (28).

Prins Edward van Wallis, die Swart Prins genoem, om­­dat sy ridderharnas swart was, was in 1346 by die slag van Crecy die aanvoerder van die voorhoede van die Engelse leër. Sy vader, Koning Edward III van Enge­land, het met die res van die leër, van ’n heuwel af, die geveg dopgehou. Prins Edward was skaars 16 jaar oud. In die midde van die hewige geveg, stuur die jong prins `n boodskapper na sy vader toe, om vir versterking te vra. Die koning talm om die versterking te stuur. Die prins stuur haastig ’n tweede boodskapper, om aan te dring op hulp. Saam met hierdie boodskapper, stuur die koning vir sy seun ’n boodskap terug. “Gaan sê vir my seun, ek is nie so ’n onervare aanvoerder, om nie te weet wanneer onder­steuning vir hom nodig is nie. Ek is ook nie so ’n onverskil­lige vader om dit dan nie te stuur nie.” Prins Edward het uit die ge­veg gekom, ’n sterker man en ’n beter aanvoer­der, omdat die koning hom geleentheid gegee het om in die gevegsposisie te groei.

Die groot Engelse prediker, C. H. Spurgeon, het twaalf preke, oor die verhaal van die Kananése vrou in Matteus 15, gehad. Dit was ’n leersame en bemoedi­gen­de ge­beur­tenis, waarby Jesus met groot aandag betrok­ke was. Wat Koning Edward III met sy seun, Prins Edward, ge­doen het, het Jesus met die vrou gedoen. Vir die eer­ste keer besoek Hy die streke van Tirus en Sidon. Voor­heen het Hy net onder die Jode in Galillea en Judea ge­werk. Die vrou hoor Jesus het in die Kananitiese streek aan­gekom. Vinnig kom sy na Hom toe en roep: “Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid! My dogter is erg van die duiwel besete” (22). Jesus weet haar  ge­loof het groter wysheid en gro­ter krag nodig. Hy sê vir sy dissipels, sodat sy dit kan hoor: ”Ek is net ge­stuur na die verlore skape van die huis van Israel” (24). Sy val voor Hom neer: “Here, help my” (25). Drie kos­ba­re woorde om vir Jesus te sê. Weer kry sy ’n ontmoedig­ende antwoord: “Dit is nie mooi om die kinders se brood vir die hondjies te gooi nie” (26). Haar antwoord straal toe die geloof en nederigheid uit wat Jesus in die hart soek: “Ja, Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval” (27). Jesus se antwoord in vers 28 spreek van sy tevredeheid met die houding waar­toe sy nou gekom het. “o Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê.” Haar geloof en houding het die wasdom bereik wat Jesus bedoel het. En na Hy haar gehelp het, het Hy direk terug gegaan na die land van die Jode toe. Jesus het dus net vir háár ontwil na daardie streek toe gekom.

As ons gebed nie dadelik verhoor en ons nood nie da­de­lik opgelos word nie, laat ons aanhou bid, aan­hou luister. Die Heilige Gees bewerk in die wagtende, volhardende hart, wat God in ons hart wil bereik.

 

“Here, vandag bid ek volhardend.”

Posted by Manie on Sep 14th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

DONDERDAG 19 SEPTEMBER – GOD WERK IN ONS HARTE

DONDERDAG       GOD WERK IN ONS HARTE

Lees 2 Petrus 1: 1 – 11

“Immers , sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien… (3).

 

In `n interrnetstorie vertel Pastor Bill van `n jong dominee wat saam met ’n ouer kollega in die blomtuin stap. Hy ge­bruik die geleentheid om vir die ouer man te vertel hoe onseker hy voel oor sy roeping en sy eie geestelike lewe. Die ouer man gaan na ’n roos­boom toe wat besig is om te blom. Hy neem ’n pragtige roosknop, gee dit vir die jong­er man en sê, “Vou die blaartjies oop soos dit een­dag moet wees.” Die jonger man verstaan nie wat dit te doen het met sy vraag oor sy verhouding met God nie, maar hy doen wat die ou dominee van hom vra. Die eerste lagie vou hy redelik mooi oop, maar toe begin die roosblaartjies onder sy vingers skeur. Die ou dominee sien die jonger een se verleentheid. Hy begin die woorde van ’n ge­diggie opsê (ek kan dit net in Engels gee):

It is only a tiny rosebud, a flower of God’s design
But I cannot unfold the petals, with these clumsy hands of mine.

The secret of unfolding flowers, is not known to such as I,
GOD opens this flower so easily, but in my hands they die.

If I cannot unfold a rosebud, this flower of God’s design,
Then how can I have the wisdom, to unfold this life of mine?

So I’ll trust in God for leading, each moment of my day,
I will look to God for guidance, in each step along the way.

The path that lies before me, only my Lord and Saviour knows,
I’ll trust God to unfold the moments, just as He unfolds the rose

 

Die jong dominee het die les geleer wat elke kind van God moet leer: Vertrou God om sy plan en sy werke te laat oopvou in jou lewe. Uit eie vermoë kry mens nie reg om se wil te vermag nie.

As ons iets van rose weet, weet ons ook, die roosknop kan net daar wees en volgens God se natuurkrag reageer, as dit die regte voeding, snoeiïng en be­sproeiïng kry. Sonder die lees van God se Woord en sonder ons gebeds­omgang met God, ly ons te korte, wat die oopvou van ons roosknop van toewyding, vertraag of ver­hinder.

 

“Here, vandag laat ek my lewe in u hande rus.”

Posted by Manie on Sep 14th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

SATERDAG 14 SEPTEMBER – PADKOS

SATERDAG       PADKOS     (Uit die dagboek PADKOS.)

 

Hy het groot krag. Sy naam is die Here, die Al­mag­tige (Jer.50:34). – Ek weet van al julle sonde en die verskriklike verkeerde dinge wat julle doen (Amos 5:12). –– ’n Mens wat op Hom vertrou, word nie veroordeel nie, maar ’n mens wat nie hierdie vertroue het nie, is reeds veroordeel omdat dit die enigste Seun van God is in wie hy nie wou glo nie (Joh.3:18). As iemand deur Christus na God toe na­der kom, kan Christus hom geheel en al red want Hy leef vir altyd om ons saak by God te stel (Heb.7:25). Het ek dan miskien my krag verloor, so­dat Ek julle nie meer kan verlos nie?” (Jes.50:2). Waar iemand se lewe gebroke is soos ’n riet wat geknak is, sal Hy dit nie verbreek nie, en waar dit swak is soos ’n lamppit wat rook, sal Hy dit nie beskadig nie (Mat.12:20). O God, U sal nooit ’n mens verwerp wat opreg berou het en nederig is nie (Ps.51:19). My naam is Die Heilige God. Ek woon in ’n hoë, heilige plek, maar Ek woon ook by mense wat hulle sonde erken en nederig is, want Ek gee sulke mense weer nuwe krag (Jes.57:15,16).

Posted by Manie on Sep 7th 2013 | Filed in Padkos | Comments Off

VRYDAG 13 SEPTEMBER – DORS NA DIE WOORD

VRYDAG                DORS NA DIE WOORD

Lees Psalm 1

“Dit gaan goed met die mens …wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink” (2)

 

`n Man van Kansas City het albei sy hande in `n myn­ont­ploffing verloor. Sy gesig is geskend en hy kon nie meer sy oë gebruik nie. Hy was `n jong Christen toe die ongeluk gebeur het. Die beproewing het sy ge­loofslewe verdiep. Sy groot­ste hartseer was, hy kon die woord van God nie meer lees nie. Hy het nie oë ge­had wat die Bybel kon lees nie, hy het nie hande ge­had waarmee hy Brailleskrif kon lees nie. En in sy groot beproewing het hy groot behoefte gehad, aan die ver­troosting van die Here se woord. Die nuwe lewe in sy be­keerde hart het gedors na die woord van God. Toe hoor hy van `n vrou in Enge­land wat ook haar hande en oë verloor het, maar geleer het om met haar lippe Brail­le­skrif te lees. Sy vrien­de het dadelik op sy aandrang vir hom `n Brailleskrifbybel ge­kry. Iemand het gekom om hom die skrif te leer lees. Tot sy bittere te­leur­stelling moes hy egter vind,  die ontplof­fing het sy gesigsenuwees so be­ska­dig, hy het nie ge­noeg gevoel in sy lippe om die Brailletekens te onderskei nie. Terwyl hy so met sy mond wanhopig teen die bladsy gedruk lê, raak sy tong aan die bladsy. Hy kon een van die opgehewe letterte­kens duidelik voel. Opge­wonde het hy met sy Braillelesse begin en die skrif vinnig met sy tong leer lees. In sy ver­mink­ing was die Bybel vir hom so tot troos en so gretig was hy, om in die eensaam­heid van sy blindheid en gebreklike lewe God se woord te ken, hy het die Bybel vier keer met sy tong deurgelees.

Weens ons sondige aard, wat so maklik wegdraai van God af, moet ons die Bybel met dissipline lees. Deur die lees van die Woord werk die Heilige Gees in ons hart ons behoefte aan God. Hoe meer ons die Here se woord lees, hoe sterker word ons dors na die Woord.

Bybellees is `n opheffende ervaring. Dit reinig en verfris die gees. Lees, is `n samesmelting van die leser se gedagtegang met dié van die skrywer. Wan­neer ons Bybellees, word ons gedagtes met God se gedagtes verenig. Ons leer God se hart uit sy Woord ken. Die lees van die Woord hef ons op, maak ons verstandig, gee ons moed. Uit die Bybel raak die ewigheid ons aan, beïnvloed liefde ons, word ons van goddelike krag bewus. “…die sluier word deur Christus weggeneem vir iemand wat in Hom glo …en waar die Gees van die Here is, is daar vry­heid …want die sluier is van ons gesig weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word …dit doen die Here wat die Gees is” (2 Kor.3:14-19).

 

“Here, vandag dank ek U vir my vermoë om te kan lees.”

Posted by Manie on Sep 7th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

DONDERDAG 12 SEPTEMBER – WAAR KYK ONS

DONDERDAG           WAAR KYK ONS?

Lees Hebreërs 12: 1 – 4

“…laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus…” (1,2)

 

Roger Banister was die eerste man wat die myl in vier minute gehardloop het. Drie maande later verbeter John Landy sy rekord met 1,4 sekondes. ’n Wedloop tussen hierdie twee groot atlete is ge­reël. Toe hulle die pylvak binnegaan is Landy voor. Banister is kort op sy hake. Naby die wen­streep,  kyk Landy om, om te sien hoever Banister nog agter hom is. Banister het gewen. Aan ’n ver­slag­gewer van The Times sê Landy: “As ek nie ag­ter­toe gekyk het nie sou ek gewen het.”

Die Bybel noem die geestelike lewe ’n wedloop. Die oë se fokus is belangrik. Agtertoe kyk, wegkyk van Jesus af, is gevaarlike momente. In die eerste martelaar, Ste­fa­nus, se laaste wedloop het hy reg gekyk – vorentoe – na Jesus toe – “…Stefanus, vol van die Heilige Gees, het op­gekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan” (Hand.7:55).

 

”Here, vandag hou ek my oë op U.”

Posted by Manie on Sep 7th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

WOENSDAG 11 SEPTEMBER – `N SKOON HAND

WOENSDAG              ‘N SKOON HAND

Lees Jesaja 1:12-18

“’Kom nou en laat ons die saak uitmaak,’ sê die Here: ‘al was julle sondes soos skarlaken, dit sal word soos sneeu…’” (18).

 

’n Fabel word vertel van ’n Indiese koning wat ’n dief die doodstraf opgelê het. Die dief het die tronk­bewaarder geroep en vir hom gesê, hy het ’n groot geheim wat hy aan die koning wil oordra. Die koning is ingelig en hy het die oortreder na hom toe laat bring. Die man het onder groot geheimhouding vir die koning vertel, hy het ‘n saadjie wat bome laat groei wat goue vrugte dra. Deur gierigheid ge­dring, besluit die koning om ‘n maklike eksperiment te doen. Hy laat sy eerste minister, die burgemees­ter en sy priester kom. Hul­­le neem die man na ’n be­skut­te stuk grond toe en sê hy moet sy saadjie plant. Die dief roep ’n paar towerspreuke uit, haal ’n krummel­tjie goud uit sy sak en sê: “Plant hierdie saadjie en ’n boom wat goue vrugte dra sal groei.” “Nou maar, plant dit dan,” sê die koning ongeduldig.  “Net ’n hand on­be­vlek van enige oneerlikheid mag dit plant, anders word die to­wer­krag ge­breek,” sê die man. “Diefstal het my hand vuil gemaak. Plant u Ma­jesteit dit.” Hy gee die stukkie goud vir die ko­ning aan. Die koning hou die kor­rel­tjie goud on­se­ker vas, toe sê hy: “As seun het ek uit my pa se laai geld geneem. Ek kan nie sê my hande is skoon nie. Ek dra dit oor aan my Eerste Minis­ter.” Die Eer­ste Mi­nister staan verleë met die stukkie goud in sy hand. “Ek vorder belas­tings in. Miskien het ek al ietsie vir myself geneem. Ek gee dit liewer vir die burge­mees­ter.” “Nee!” skreeu die burgemees­ter en hou sy hande agter sy rug. “Ont­hou ek moet pen­sioene en salarisse uitbetaal en daar is baie ver­soekings. Gee dit liewer vir die pries­ter.” Die pries­ter hou sy hande toe en draai weg. “Ont­hou ek ontvang offer­gawes en bely­de­nis­gelde. Moont­lik het ek al ietsie on­we­tend vir myself ge­neem.” Na ’n rukkie van stilte sê die veroordeel­de dief: “U Majesteit, ek dink dit sal vir die ge­meen­skap beter wees as ons alvyf gehang word, want lyk my nie een van ons is regtig eerlik nie.” Verleë oor die ont­mas­kering van sy koninklike hof, maar tog in­ge­nome met die dief se slim streek, gee die koning hom sy kwytskelding.

Dit is hoe die Here Jesus die Fariseërs se ge­veinsd­heid ontmasker het toe hulle die vrou, wat op ’n daad van owerspel betrap is, na Hom toe gebring het om haar te veroordeel. “Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het (‘sonder son­de is’ – Ou Vertaling), eerste ’n klip op haar gooi” (Joh.8:7). Net Jesus was sonder sonde. Só ’n ver­losser het ons no­dig! “Christus was sonder son­­de, maar God het Hom in ons plek as sondaar be­handel sodat ons deur ons eenheid met Christus, deur God vry­ge­spreek kan wees”(2 Kor.5:21). Ons het sonde ge­doen en die eis vir ingang in die he­mel is son­de­loosheid: “Niks onreins en…vals…sal ooit daar­in kom nie,” (Openb.21:27). Hierdie hoë eis is nie ’n sondeloosheid, van iemand wat nooit sonde ge­doen het nie, maar van iemand wie se sonde ver­gewe is. “…hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig…”(Heb.9:14 Ou Vertaling.).

“Here, vandag vlug ek met my sondeskuld na U toe.”

Posted by Manie on Sep 7th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

« Prev - Next »