Archive for March, 2013

You are currently browsing the archives of Krag vir Vandag .

SATERDAG 6 APRIL – PADKOS

SATERDAG                   PADKOS

Uit die dagboek PADKOS uit die LEWENDE BYBEL.

 

Die Here is ’n veilige skuilplek vir almal…in tye van moei­lik­heid…Here, almal wat vir U ken, vertrou op U, want U sal die wat U aanbid, nooit in die steek laat nie. (Spr.18:10-11). – Dit is werklik God wat ons vrygemaak het. Ons sal op Hom vertrou en nie bang wees nie. Hy is ons krag en ons verdediger en Hy het ons vrygemaak (Jes.12:2). – Ek is vandag ‘n ou man, maar ek het nooit in my lewe gesien dat die Here iemand wat aan Hom gehoorsaam is, in die steek laat of dat so iemand se kinders kos hoef te bedel nie (Ps.37:25). Julle is saam met Christus lewendig ge­maak en het nou ’n nuwe lewe. Lê julle dan toe op die dinge van die hemel, waar Christus nou in die ereplek aan die regterkant van God sit.

Posted by Manie on Mar 29th 2013 | Filed in Padkos | Comments Off

VRYDAG 5 APRIL – DIE HELPER

  VRYDAG                      DIE HELPER

Lees Handelinge 1:1-11

“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees… tot in die uithoeke van die wêreld” (8)

 

’n Sendeling onder die Karrévolk van Frans Ekwatoriaal-Afrika, Estella Myers, wou die be­grip van die Persoon en die werk van die Heilige Gees aan hulle oordra. In Johannes 14:16 word die Hei­lige Gees in die Engelse Bybel the Com­forter ge­noem: “And I will pray the Father, and he shall give you another Comforter, that he may abide with you for ever; even the Spirit of truth…”. In ons Ou Ver­ta­ling word die Heilige Gees, die Trooster genoem en in die nuwe vertaling word Hy die Helper genoem. Die Christian Herald vertel hoe Stella Myers aan daardie mense die werk van die Heilige Gees pro­beer verduidelik het. Hy ondersteun ons, het sy vir hulle gesê, en Hy moedig ons aan, vermaan ons, beskerm ons, troos ons en lei ons. Hulle het ’n woord uitgeroep wat beteken: Hy is die een wat langs ons neerval. Sy het geweet wat hulle met hierdie woord bedoel. As ’n As­ka­ri­draer ’n swaar vrag op sy kop dra, en dit is ’n ver pad, word die draer soms siek van vermoeienis. Hy begin uitsak en die ander draers loop by hom verby. Hy raak ag­ter en later val hy onder sy vrag. As hy alleen bly lê kan hy deur ’n roofdier ver­skeur word. Soms ont­ferm iemand hom oor so ’n draer, kniel langs hom, help hom op en ondersteun hom. Die inboorlinge het vir dáárdie helper ’n woord wat beteken: Hy is die een wat langs ons neerval. Dit het die woord geword, wat die vertalers van die Bybel in daardie mense se taal, vir die Heilige Gees gebruik.

Meeste van ons is te swak, selfs vir ons wêreldse plig­te en laste; ons is almal te swak vir ons gees­te­like lewe vir die Here se koninkryk. Ons het nie ge­loof nie, nie verdraagsaamheid nie, nie motivering om die Here se koninkryk te help uitbrei nie en om te getuig nie, nie lus vir God se dinge, soos sy woord en gebed, nie. Onder al die laste val ons menslike natuur neer en ons word ’n prooi vir die duiwel, “…want die duiwel loop rond soos ’n brul­lende leeu…op soek na iemand om te  verslind” (1 Pet.5:8). Die Heilige Gees, wat in ons hart kom woon, wan­neer ons Christus aanneem as Saligmaker, onder­steun ons om ons vrag te kan dra. “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie” (Rom.8:26).

 

 “Here, vandag vertrou ek in die Heilige Gees wat in my woon.”

Posted by Manie on Mar 29th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

DONDERDAG 4 APRIL – DAARDIE NAGMAAL

DONDERDAG            DAARDIE NAGMAAL

SKRIFDEEL: Lukas 23: 33 – 43

“Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar…gekruisig” (33)

 

Aatami Kuortti, `n Luteraanse pastor in Rusland, is tot 10 jaar hardepad in `n konsentrasiekamp ge­vonnis, omdat hy nie vir die Russe `n spioen wou wees nie. `n Groot aantal van die konsentrasie­kamp se gevangenes was Christene. Hulle enigste mis­daad was hulle Christenskap. Een van die Finsegevangenes, Kajada, het `n pakkie van sy huis af ontvang; `n stukkie brood en `n paar appels. Die eerste ding waaraan hy dink is, of hulle dít nie kan gebruik om die Here se nagmaal te vier nie. Hy gaan vertel dit vir eerw. Kuortti. Die pastor dink da­de­lik dit is onmoontlik. “Die wagte sal inmeng,” sê hy. “Dit is alles al gereël,” antwoord Kajada. “Ek het die appels stukkend gedruk en die sap in `n beker gegooi en daar is genoeg broodstukkies om te ge­bruik. Ons hou dit in die hoek waar ek en my broer slaap. Die wagte sal dink ons drink tee. Later skryf eerw. Kuortti: “I gladly fell in with the proposal of the bretheren. After repetition of Scrip­ture, I blessed the bread and the mug of apple juice, and we ate the Lord’s Holy Communion.” Die nagmaalstafel was `n vuil, growwe plank. “The pastor, as well as his flock, was in rags, yet we realized the presence of Christ.”

Ek wens Sunday School Times het iets meer van hierdie besondere nagmaalviering vertel. Maar ek wil glo die harte van almal wat deel­geneem het, se geloof is versterk. Die omstan­dighede was so op die peil van Jesus se smartlike dood daardie dag op die heuwel van Golgota: die haat en geskreeu van die omstanders, die ruwe kruis,die vloeiende bloed, die vrees in die dissipels se harte.

Nagmaal is een van die tasbare, herhaalbare te­kens van Jesus se groot verlossingsdood. Laat ons daarvan gebruikmaak, so dikwels as wat ons kan. Ons ander tasbare bewys van Jesus se kruisdood, is die Bybel, veral die hoofstukke wat vertel van wat Hy moes deurmaak. Gisteraand het ek die kruisig­ings­­verhaal in die ­Johannes­evan­ge­lie gelees en laasnag het ek net na 1vm. wak­kergeword, opge­staan en die opstandingsverhaal gelees. En hoe `n seën het dit in my hart gebring! Ek het daaraan behoefte gehad. Om so `n geheel­stuk van Jesus se lewe te lees, het `n krag om Hom vir ons, deur die Heilige Gees se werk­ing, `n lewende werklikheid te maak. “…sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde….ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp” (Fil.3:10-12).

 

“Here, vandag wil ek U in u woord raaksien.”

Posted by Manie on Mar 29th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

WOENSDAG 3 APRIL – VRA GENADE

WOENSDAG            VRA GENADE

SKRIFDEEL: Psalm 51

“Wees my genadig, o God, in u troue liefde…”

 

Good Company vertel die storie van `n ma, wat by Napoleon I, om genade vir haar seun gaan pleit het. Dit was die jongman se tweede oor­treding en die keiser het besluit hy is die doodstraf skuldig. Die ma se pleidooi: “Ek vra nie geregtigheid nie. Ek vra genade vir my seun.” Die keiser het geantwoord: “Hy verdien nie genade nie.” “Maar, my heer,” roep die moe­der huilend uit, “as hy dit verdien het, is dit nie genade nie. En wat ek vra is nie wat hy verdien nie, maar ek vra genade.” Die keiser het haar `n oomblik aangekyk en toe geant­woord: “Dan sal ek hom genadig wees. Hy hoef nie te sterf nie.”

Dit is ons posisie voor God. Ons is afhanklik van sy genade, dit wat ons nie verdien nie. Die mis­dadiger wat saam met Jesus gekruisig is, het geen geleentheid vir verdienste gehad nie. Aan die einde van `n skuldige lewe hang hy veroor­deeld aan die kruis. Hy wend hom tot Jesus: “’Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.’ Jesus antwoord hom: ‘Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees’” (Luk.23:42,43). Die ander misdadiger het dieselfde geleentheid gehad, maar hy het dit, weggevoer deur die omstan­ders se boosheid, by hom verby laat gaan.

 

“Here, vandag pleit ek nie my verdienste nie. Ek vra genade om gered te word.”

Posted by Manie on Mar 29th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

DINSDAG 2 APRIL – DADELIK

DINSDAG                       DADELIK

SKRIFDEEL: Psalm 22

“My God, ek roep bedags en U antwoord nie…(3)

 

Die volgende gebeurtenis word vertel deur Dr. H. Clay Trumbull wat vir jare die redakteur van The Sun­day School Times was. `n Vriend van hom moes een­keer vir `n nag van die huis af wees. Hy het sy vrou en kinders en `n invalide vriendin van sy vrou, vir die nag alleen tuis ge­laat. In die middel van die nag word sy vrou wak­ker van `n geluid wat sy herken as die venster­gren­del wat be­weeg word. Sy besef dit is `n in­bre­ker. Wat moet sy doen? Ek haal Arnold’s Com­men­tary aan: “It was about the time that Professor Huxley had been lecturing and writing on the folly of expecting direct answers to pray­er. She thought of this, but it was immediately fol­lowed with the thought, ‘God can help me now, and I will pray to Him.’ She fervently pray­ed: ‘Lord, send me a policeman to our rescue.’” Skielik knal pistoolskote buitekant. Sy hardloop ven­ster toe en sien `n man in die skaduwees verdwyn. Oomblikke later klop `n polisie­man aan die deur en vra toegang. Hy vertel haar hy het net kort te vore by die huis verbygestap, maar al­les het vir hom pluis gelyk. Maar net toe hy verder om die hoek wil stap, is dit of iemand vir hom sê hy moet teruggaan en weer kyk. En so kom hy af op die mis­dadiger wat by die venster probeer inkom.

God kan ons dadelik antwoord as ons in `n nood­­si­tu­asie tot Hom roep. Hy het die krag om te ant­woord, en die liefde om te wil antwoord. “Die Here – sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is…” (2 Kron.16:9). Jesus het ons in sy gelykenisse geleer, tyd kan ook omgaan voor God ons verhoor: “En Hy het ook aan hulle `n gelykenis vertel met die oog daarop dat `n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie….” ‘Sal God dan nie regdoen aan sy uitverkore­nes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?’ (Luk.18:1,7 Ou Vert.).”

“Here, vandag wil ek aanhou bid vir my behoefte.”

Posted by Manie on Mar 29th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

MAANDAG 1 APRIL – `N EMMER WATER

 MAANDAG           `N EMMER WATER

SKRIFDEEL: Markus 9: 33 – 41

“Elkeen wat vir julle `n beker water te drinke sal gee… hy sal beslis die beloning daarvoor kry…(41)

Een hetige Augustusdag, kom `n kapkar, ge­trek deur twee uitgehongerde perde, voor `n hui­sie op die Kansas Prairie, tot stilstand. Die kar­dry­wer is beso­pe, die vrou siek, vier kinders sit hui­lend op hulle sitplek. `n Jong meisie maak die huis­deur oop. “Eni­ge water vir ons?” kreun die besope drywer. Die werf se wa­ter­­put          het in die droog­­te droog geraak, maar sy kry `n emmer vol water vir hulle bymekaar. Haar ouers was juis weg om te gaan water soek. Rachel dra die emmer water na hulle toe. Die dorstige gesin op die kar drink die hele emmer water leeg. Die siek ma sê vir die meisietjie: “Onthou, my kind, vir so ver jy dit aan die minste gedoen het…” Dit is `n aanha­ling van Matteus 10:42: “Wie aan een van hierdie ge­ringstes net `n beker koue water gee…” Die kar ry verder. Jare gaan verby en Rachel word `n waar­dige vrou. Op `n keer reël sy vir `n bekende ma­tig­heid­spreker, om in haar dorp `n lesing te kom gee. Ek haal die spreker se eie woorde uit The Illu­strator aan : “’I love Kansas,’ the tem­pe­rance man began, ‘for on its plains I made my first tempe­rance pledge.” Hy vertel van die jongmeisie wat met moeite vir hulle `n emmer water gebring het, en hoe sy pa die drankbottel weggegooi het as `n dankoffer vir die water. En hoe hyself sy ma be­loof het om by die “cold water army” aan te sluit. Weer Illustrator se eie woorde: “As she listens to the testimony of the outcome of the bucket water she gave to the strangers, Rachel bow­ed her head to hide the glad tears.”

`n Goeie en helpende daad, in `n onbeplande oom­­blik, aan iemand, bekend of vreemd, het soms `n geseënde nadraai en vrug wat ons nooit sou kon voorsien nie. Laat ons gereed wees om in `n oom­blik van iemand se nood of verleëntheid, met die middele tot ons beskikking, hulp te verleen. Ons doen dit gehoorsaam aan die Here Jesus se woor­de. Die Sama­ritaanse vrou, in Johannes 4, het wel onder protes vir Jesus `n beker water gegee om te drink, maar dit het vir haar onbeskryflike seën gebring.

 

 “Here, vandag wil ek opmerksaam wees om  iemand te          kan help.”

Posted by Manie on Mar 29th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

SATERDAG 30 MAART – PADKOS

SATERDAG                      PADKOS

Uit Padkos – die dagboek uit die Lewende Bybel.

 

Jesus Christus …het sy liggaam gegee om geoffer te word, net een maal. En so is ons rein gemaak van ons sonde…Christus het net een offer gebring en dit was genoeg. Toe het Hy in die hemel gaan sit in die ereplek regs van God…Deur een enkele offer het Hy almal wat Hy aan God toe­gewy het vir altyd volmaak gemaak (Heb.10: 10-14). – Hy het ’n streep getrek deur die rekening van ons skuld, die lys van al die wette wat ons oortree het. Dit het alles teen ons getel, maar God het hierdie rekening teen die kruis vasge­spy­ker het (kol.2:14).

Posted by Manie on Mar 23rd 2013 | Filed in Padkos | Comments Off

VRYDAG 29 MAART – DIE GROOT VRUG

VRYDAG                DIE GROOT VRUG

Lees Kolossense 1 1 – 8

“Die evangelie het julle bereik…soos dit in die hele wêreld vrug voortbring en verder versprei (6).”

 

Op ’n dag staan die ryk, geleerde, jong Duitse edel­­­man, Graaf Nicholaus Ludwig von Zinzendorf, wat in 1700 in ‘n vooraanstaande Europese fami­lie ge­bo­re is, in die kuns­museum van Dussel­dorf na die skildery Ecce Ho­mo en kyk. Die woor­de onderaan die gehawende fi­guur van Je­­sus op die skildery, soos Hy ge­lyk het nà Pi­latus se sol­date met Hom klaar was, gryp hom aan: “Dit het Ek vir jou gedoen. Wat doen jy vir my?” Hy was reeds ’n Chris­ten, maar hy was ’n besadigde vol­geling van die Here Jesus. Aan­ge­gryp deur die woorde sê hy vir homself: “Ek het Je­sus al vir ’n lang tyd lief, maar wat het ek al vír Hom gedoen? Van nou af gaan ek alles doen wat Hy van my mag vra.” Daardie dag het hy terug­ge­gaan huis toe en op sy grond, Hernhut, die Morawiese Sending begin.

John Wesley, die trotse jong priester van The Church of Eng­land, wat in Ame­rika sendingwerk gaan doen het, het dáár met Mora­wie­se sen­de­linge in aanraking gekom. Uit húlle toegewyde ge­loofs­lewe het hy agtergekom, hy self is nie regtig ’n be­keerde man nie. Hy het teruggegaan Enge­land toe om sy eie lewe eers te gaan regkry. Die groot oes het begin inkom. John Wesley en sy broer, Char­les, het die Metodiste Kerk gestig en saam met George Whitefield die leiers geword in die groot herle­wing wat van die middel van die 18de tot diep in die 19de eeu geduur het, en selfs na Suid-Afrika toe uitge­brei het, waarvan die jaarlikse pinksterbidure nog ’n navrug is.

’n Geseënde vrug het voortgevloei uit die ne­de­rige, ernstige vraag van die arm sigeunermeisie, wie se hart deur die Heilige Gees ont­waak is, toe sy na die Here Je­sus se lyding gekyk het. Ek wens ek kon weet wat van Papita geword het, maar ek wil glo sy het die Here Jesus, aan wie sy haar hart eintlik reeds gegee het, beter en beter leer ken.

 

“Here, vandag bid ek vir die uitbreiding van u koninkryk.”

Posted by Manie on Mar 23rd 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

DONDERDAG 28 MAART – `N KLEIN SAADJIE

DONDERDAG             ‘N KLEIN SAADJIE

Lees Galasiëers 2:17-21

“…die Seun van God, wat sy liefde vir my bewys het, deur sy lewe vir my af te lê” (20).

 

Hierdie bekende verhaal skryf ek met die oog op ons herdenking, van die Here Jesus se kruis­dood, op Goeie Vrydag, more.

Die beroemde 16de eeuse skilder, Dome­ni­co Fe­­ti, was besig met sy latere wêreldberoemde skil­­­de­ry, Ecce Homo – Dít is die Mens. Die be­na­ming kom uit Johannes 19:5: “Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: ‘Dít is die mens!’”

Eendag, op pad ateljee toe, sien Feti ’n jong si­geu­nerin langs die pad sit en mandjies vleg. Sy was baie mooi, met lang swart hare en fonkelende oë. Toe sy sien hoe die vreemdeling haar bekyk, spring sy op, klap haar vingers bokant haar kop en dans vir hom, hopende op ’n fooitjie. “Staan net so stil,” roep hy en vinnig maak hy ’n skets van die dan­sen­de mei­sie. Hy sê vir haar hy wil haar as ’n Spaanse dan­se­res skilder. Daarna het sy drie keer ’n week na sy ateljee toe gegaan om vir die skilderstuk te po­seer. Haar naam was Papita.

Terwyl Feti haar skil­der, bekyk sy nuuskierig al­les in die ateljee. Haar oë val op die byna vol­tooi­de skilderstuk. “Wie is daardie man in die middel?” vra sy. “Dis Jesus,” antwoord Feti kortaf. “Wat maak hulle met hom?” “Hulle kruisig hom. Maar kyk hier,” sê Feti ergerlik. “ek kan nie met jou praat as ek jou skilder nie. Stil nou.” Vir die res van die ses­sie het sy net gekyk, maar nie weer ’n woord gesê nie. Die volgende keer was sy reg met ’n klomp vrae. “Hoekom kruisig hulle hom. Was hy sleg?” “Nee,” kortaf. “Hoekom doen hulle dit dan as hy nie sleg was nie?” “Kyk hier,” skree Feti op haar. “Ek gaan vir jou die hele storie vertel, maar dan bly jy asseblief stil dat ek met my werk kan aangaan.” Met groot oë luister Papita na die ver­haal van Jesus se kruisiging  -  vir haar ’n aan­gry­pende, nu­we verhaal. Die kunstenaar se hart word lankal nie meer deur die verhaal geraak nie. Sy was bang vir Feti en het nie weer oor Jesus se kruisiging ge­praat nie, maar toe haar skildery klaar was en sy haar geld ontvang en omdraai om te loop, kyk sy ’n laaste keer lank na die toneel van Jesus, soos Hy gelyk het na die soldate Hom “ge­gésel, geklap en met dorings gekroon het (Joh.19:1-5) en Papita sê, met groot gevoel, omdat dit met verlange diep uit haar hart kom: “Meneer, jy het Hom seker baie lief omdat Hy dit alles vir jou ge­doen het.” Die kun­ste­naar het niks geantwoord nie, maar hy kon haar woor­de nie vergeet nie: Hy het dit alles vir jou ge­doen. Die saadjie was gesaai. Hy het kerk toe gegaan en (as Roomse Katoliek) skuld­belydenis gaan doen. Dit het hom be­­ter laat voel. Tog kon hy nie vrede vir sy hart kry nie. Pa­pi­ta se vraag kom aanhoudend na hom toe terug: Jy moet hom seker baie liefhê. Hy kon nie meer rustig met die skildery van die lydende Jesus voortgaan nie. Een aand het hy na ’n prostestantse evangelis se preek gaan luister. De­mo­nico Feti het aandagtig geluis­ter. Daar­die nag in sy kamer het hy gevind waarna hy ge­soek het – vrede met God, deur Jesus Chris­tus se kruisdood, ook vir hóm. Na hy die skildery vol­tooi het, het hy onderaan, dié woorde geskryf: “Dit het Ek vir jou gedoen. Wat doen jy vir my?”

Die geringe saadjie wat Papita gesaai het, het deur die Heilige Gees in Domenico Feti se hart ont­kiem. Jesus het gesê: “Die koninkryk van die hemel is soos ’n mosterdsaadjie wat…die kleinste van die soorte saad (is), maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit ’n boom, sodat…voëls in sy takke…nes maak” (Mat.13:31,32). Die evangeliesaadjie wat ons saai, kan ook maar klein wees. God gee deur sy Gees die groei. Die ontsaglike boom wat uit Papita se saadjie voort­gekom het, bekyk ons in môre se oordenking.

 

“Here, vandag wil ek ook vir U ‘n saadjie plant.”

Posted by Manie on Mar 23rd 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

WOENSDAG 27 MAART – `N BELANGRIKE WAARDASIE

 WOENSDAG           ’N BELANGRIKE WAARDASIE

Lees Handelinge 9: 36 – 43

“Al die weduwees het by Petrus kom staan en  snikkend vir hom die klere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog gelewe het” (39).

Nicholas Halasz word in Robert Raines se boek, Cre­a­­tive Brooding, aangehaal, om ’n storie oor Alfred Nobel te vertel. Een oggend in 1888, lees Al­fred Nobel, die man wat deur sy uitvinding van di­namiet beroemd ge­word het, sy eie doodsberig in ‘n oggendkoerant. Hy het ’n fortuin versamel deur sy ver­vaar­diging en be­mar­king van wa­pens. Die doodsberig was ’n joernalistieke flater. Al­fred se broer is oorlede, maar ’n koerantman het son­der om verder ondersoek in te stel, dit as die dood van Alfred aangekondig. Enige mens sal ontsteld wees om jou eie doodsberig in ‘n koerant te lees. Vir Alfred No­bel was dit ’n oorweldigende skok, want in die berig het hy homself gesien, soos die wêreld hom sien. In Nicholas Halasz woorde: “The dyna­mi­te King (the wea­pon maker), the great industrialist who had made an im­mense fortune from explo­sives. This – as far as the general public was concerned – was the entire purpose of his life.” Nie een van sy werklike mo­tie­we…to break down barriers that separated men and ideas…het in die doodsberig aandag gekry nie. In die oë van die pu­bliek was hy ’n merchant of death! Daar­voor sou hy onthou word. Terwyl hy die berig met ge­skok­te af­gryse lees, neem hy hom voor om die werklike doel van sy lewe aan die mense te vertoon. Dit gaan hy doen, besluit hy, met die bemaking van sy fortuin in sy testament. Nicholas Halasz skryf dit so: “And the result was the most valued of prizes given to this day, to those who have done most for the cause of world peace – the Nobel Peace Prize.”

Hieroor skryf  Charles R. Swindol, uit wie se Ul­ti­mate Book of Illustrations ek die verhaal aanhaal: “At times I wonder how it would read if my obituary suddenly appeared. And I ask you to entertain that frightful thought for a moment: ‘What is your life known for? What will you be remembered for?’”

Ons lewe, is soos ’n man wat by die strand, terug kyk hoe hy oor die sand geloop het. Hy sien sy spore lê pre­sies soos hy geloop het. Terwyl hy kyk, kom ’n brander en spoel oor sy spore. Toe is daar on­ge­repte, gladde sand. Deur God se liefde en die groot verlossingsprys wat die Here Jesus Chris­­tus betaal het, hoef ons verlede ons ook nie meer te verskrik nie. Soos die brander wis God se vergifnis ook ons misdade uit. “Barmhartig en gena­dig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie…” (Ps.103:10). Maar meer: Ons kan met die hulp en krag van God deur die Heilige Gees, dit wat van ons lewe oor is, aanwend tot heil en vreugde van mense in ons omgewing. Dáárvoor sal ons onthou word.

 “Here, vandag bely ek sondes van my verlede wat ek onthou, en ek span my nou in om so te lewe dat dit vir U tot eer en vreugde sal wees.”

Posted by Manie on Mar 23rd 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

Next »