Archive for January, 2013

You are currently browsing the archives of Krag vir Vandag .

SATERDAG 2 FEBRUARIE – PADKOS

SATERDAG         DIE LEWENDE WOORD

       Uit Padkos –

 

As ’n mens deur die geloof in die regte verhouding tot God gekom het, dan lewe hy werklik (Rom.1:17). -  Ons het gesê ons glo dat God ons verlos het en ons sien uit na wat Hy nog vir ons gaan doen. Hieraan moet ons vashou en nooit twyfel nie, want dit is God wat dit beloof het, en op Hom kan ons reken (Heb.10:23). – Ons God is in die hemel en Hy maak presies soos Hy besluit het. Daar is niks wat vir God onmoontlik is nie (Ps.115:3). My Vader het aan My gesag gegee om te regeer, en op dieselfde manier gee Ek dit nou vir julle ook. Daarom sal julle in my koninkryk saam met My eet en drink en julle sal op trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regeer (Luk.22:29,30). Daar is geen ander God wat met U vergelyk kan word nie, want U vergewe die sonde van u volk wat oorgebly het. U bly nie vir altyd kwaad nie, en U wil graag u getroue liefde aan ons bewys. U sal ons weer jammer kry en ons sondes on­der u voete vertrap en hulle diep in die see gooi (Miga 7:18,19).

Posted by Manie on Jan 26th 2013 | Filed in Padkos | Comments Off

VRYDAG 1 FEBRUARIE – WRAAK MET `N SOET SMAAK

VRYDAG             WRAAK MET `N SOET SMAAK

 

Lees 2 Timoteus 2:19-21

“As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy ‘n voorwerp vir besondere gebruik wees … bruikbaar vir enige goeie diens” (21).

 

Alice Fisher, ‘n afgetrede onderwy­se­­res, het op ‘n net­jiese kleinhoewe gewoon. Op die grens tussen haar en die bure, maar aan haar kant, het ‘n pragtige, groot in­heem­se boom gestaan. ‘n Nu­we buur­man het aange­bied om die boom af te kap en dan deel hulle die vuur­maak­hout. Alice het geweier. Sy was lief vir die  boom en die boom was ‘n sie­raad vir die om­ge­­wing. Op ‘n keer was sy vir ‘n paar weke  weg van die huis af. In haar af­we­sigheid het die buurman die boom afge­kap. By haar terugkeer was die hout reeds op­ge­kap en vei­lig in die buurman se pak­ka­mer wegge­pak.

Alice was woedend en vir ‘n paar dae lank het sy al­lerlei wraakgedagtes gekoester. Alice was ‘n kind van die Here en die krag van die Heilige Gees in haar, het Chris­tus se liefde, oor haar natuurlike toorn,  laat seëvier. Sy het ‘n koek gebak en die helfte vir die bu­re geneem. Die deur is in haar gesig toe­ge­maak. Weer het daar vir ‘n paar dae ‘n stryd in haar hart gewoed. Weer het Christus se ge­sindheid oorwin. Sy het klein koe­kies ge­bak en vir die bure ‘n bord vol geneem. Hier­die keer is die deur op ‘n skrefie oopgehou en ie­mand het “nee dankie” gemompel. Twee dae later het sy weer gegaan. Hierdie keer met ‘n bos blom­me uit haar eie tuin. Dit is huiwerig aangeneem, maar sy is nie inge­nooi nie. ‘n Week later is die buurman aan ‘n hartaanval dood. Die vrou het haar tot Alice gewend om hulp. Die dae daarop het Alice vir die gesin gesorg en al die reëlings vir die be­grafnis en boedelafhandeling ge­tref.

Hoe dankbaar was Alice nou dat sy die leiding van die Heilige Gees gevolg het en liefde be­toon het, toe haar natuurlike drang na vergelding ge­hunker het. Sy het ‘n wesenlike teenwoordig­heid van die Here ervaar. Jesus se woorde aan die kruis: Vader, vergewe hulle, hulle weet nie wat hulle doen nie”, was vir haar soet woorde, want sy het geweet sy het in sy voetspore gevolg.

Alice was nou nader aan die Here as ooit te­vore. Sondige wraak is soet vir die oomblik, maar laat ‘n bitter leegheid in die hart agter. Om kwaad met liefde te antwoord, kos ‘n prys, maar agterna is die hart vol vrede en vreugde.  “Moenie julle wreek nie, geliefde, maar gee plek vir die toorn…oorwin die kwaad deur die goeie (Rom.12:29). In ons sondige natuur is diepgesetelde kwaad. Die Here gebruik omstandighede om ons geestelike lewe te verdiep en vir ons deur sy Gees ‘n oor­win­nings­­le­we te gee. “Ons bid ook dat julle so sal lewe dat alles wat julle doen vir Hom vreugde sal gee. Dan sal julle lewe nuttig wees. Julle sal baie kan doen wat goed is en julle sal God al beter leer ken” (Kol.1:10).

.”Here, vandag wil ek uit moeilike omstandighede leer om U beter te ken en beter vir U te leef.”

Posted by Manie on Jan 26th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

DONDERDAG 31 JANUARIE – VOORSPRAAK

DONDERDAG              VOORSPRAAK

Lees Hebreërs 7: 18 – 28

“Aan die ander kant het ‘n beter hoop in­getree… Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree” (Heb.7:19,25)

Gedurende die Amerikaanse Burgeroorlog het ’n jong soldaat aan die slaap geraak ter­wyl hy moes wagstaan. Hy is gevonnis om voor ’n vuurpeleton te sterf. ’n Afvaardiging het by pres. Lincoln vir die jongman se lewe gaan pleit. Hy was ’n goeie en ge­wilde lid van sy gemeenskap, die lieflingseun van sy ouers­. Die president het egter besluit dat die dissipline in die leër die vol­trekking van so ’n von­nis vereis. Die groep het droewig van die pre­si­dent afskeid geneem.

Sy seuntjie, Tad Lin­coln, het on­opsigtelik in ’n hoek van die ka­mer gesit en speel. Nou sluip hy nader, gee ’n plukkie aan sy pa se mou. “Asseblief, Pa, moenie dat hulle daardie ar­me man dood­skiet nie.” Lincoln, reeds ont­roer deur die pleidooi van die af­vaar­diging, kon sy seuntjie se smeking nie weier nie. Hy het die vonnis herroep.

’n Mens voel verlig die saak het so goed af­geloop en die jongman se lewe is gespaar. Tog voel ’n mens die president was nie reg­verdig nie. Hy het nie reg gehad om bloot op die pleidooi van sy seuntjie, wat ’n sagte plek in sy hart gehad het, die jongman se skul­dige daad af te skryf nie. Die Seun van God tree ook vir ons in by sy Vader: Jesus se voor­spraak vir ons by sy Vader het regver­di­ge waarde: “Christus Jesus het (vir ons) gesterf… Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons” (Rom.8:33). ’n Groot ge­rus­stel­ling vir ons in ons stryd teen ons sondigheid.

“Here, vandag vertrou ek in u voorspraak vir my.”

Posted by Manie on Jan 26th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

WOENSDAG 30 JANUARIE – `N VRYWILLIGE GEVANGENE

WOENSDAG        `N VRYWILLIGE GEVANGENE

Lees Psalm 91

“Omdat jy die Here as skuilplek geneem het, die Aller­hoog­ste as jou beskermer, sal geen onheil jou tref nie” (9, 10).

 

‘n Jong soldaat het tydens die Tweede Wêreld­oorlog manalleen, ‘n groep Ja­pan­­nese gevange ge­neem en na sy basis ge­­­bring. Hy wou die medalje wat aan hom toe­geken is nie aanvaar nie. Hy het sy rede gegee:

“Ek en vyf van my maats is deur die Ja­pan­nese gevange geneem,” het hy vertel. “Hulle het ons met gevelde bajonette teen ons rug, deur die oerwoud laat marsjeer. Ek moes aanskou hoe my maats een na die ander gedood is. Ek het Psalm 23 opgesê. Ek het die Onse Va­der opgesê. Ek het God geken, deur my geloof in Jesus Christus, maar dit was ‘n moeilike tyd. Sterwe moes ek, maar ek was vasbe­slote om my gevangenemer nie te laat sien hoe bang ek was nie. Bewende van kop tot to­ne, terwyl ek tot oor my enkels in die modder marsjeer, met die punt van ‘n bajonet teen my rug, het ek begin fluit, soos ek as ‘n seuntjie gedoen het, wanneer ek in ‘n donker­straat moes afloop. Ek het gefluit:

‘Ons kom saam en bid om die Here se leiding;

Sy wil en sy weg maak Hy spoedig bekend.

Die bose verdrukking,slaan oor in verrukking!

Loof God wat sy kinders bewaar tot die end.’

 

    “ Ek kom agter iemand anders fluit saam met my – dit was my Japannese gevangene­mer. Hy trek sy geweer terug en kom loop langs my. Ek ruk soos ek skrik toe hy in goeie Engels sê: ‘Ek kan nooit ophou om die Christelike liedere te bewonder nie.’ ‘n Kort gesprek bring aan die lig, hy het Eng­els geleer in ‘n sending­skool waar­voor ek ook al bygedra het. Hy praat van die oorlog en hoe moeilik dit vir die Ja­pannese Christene is. Ons praat oor ons huise en ons families. Hy dwing my stadig­aan weg van die ander af en na ‘n rukkie is ons alleen in die woud. Op sy voorstel kniel ons in die modder en bid saam vir die lydende mensdom en al­mal, wat as gevolg van die wrede oorlog, swaar­kry en ons eie behoef­tes. Ons staan op van ons knieë af en omhels me­kaar vir ‘n oomblik van broederskap. Hy stel voor ek moet hóm nou gevange neem en na die naaste Ame­ri­kaanse basis neem. Hy weet waar ander Ja­pan­nese Christene skuil. Hy neem my na hulle skuilplekke toe. Nooit sal ek die hoop en blydskap vergeet, wat in hulle oë gekom het toe my vriend hulle een vir een vertel, hoe ons mekaar gevind het en waarheen ons hulle nou wou neem nie. Die hele pad het ons oor Chris­tus gesels en hoe ons saam vir Hom moet lewe, al behoort ons aan twee vy­an­dige volke. Toe ons naby die kamp kom, trek almal hulle gesig suur en don­ker en ek, met die Japan­nees se geweer in my han­de, marsjeer hulle die kamp in. Ek verdien dus nie hierdie me­dal­je vir daardie wonderlikste ervaring van my lewe nie.”

As ons in al ons omstandighede naby God bly, Hom bely, Hom vertrou, bring Hy vir ons oorwin­nende uitkoms – bo wat ons verwag het. Dit is vir my wonderlik om te dink dat God gesorg het vir sy kind en wat vir dáárdie Japan­nees, wat ook die Here se kind was, as sy wag laat optree het. Daar is geen einde aan die wonderlike maniere waarop God vir sy kin­ders sorg nie. Ons mag gerus wees.

”Here, vandag skuil ek onder u vleuels.”

Posted by Manie on Jan 26th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

DINSDAG 29 JANUARIE – GOD SOEK NIE UIT NIE

DINSDAG           GOD SOEK NIE UIT NIE

Lees: Lukas 19: 1-10

“Saggeus…het Jesus met blydskap ontvang. Almal…het beswaar gemaak en gesê: ‘Hy gaan by ’n sondige man tuis.’” (7)

 

In die maandblad van die Pacific Garden Mission vertel Carl Henry van die jongman, William James Taylor, alias Bill Hennessy, alias Ed Lynch, alias Tom O’Brien. Hierdie jongman, met die baie skuilname, was ’n per­manente vlugteling vir die gereg. As 3-jarige seuntjie het hy in die agterplaas van sy pa se kroeg sy vingertjies in gebreekte glase en bot­tels gesteek en ’n smaak vir drank ontwikkel. Op 12-jarige ouderdom was hy ’n besope, drankverslaafde straatkind. Na twee jaar in ’n ver­be­ter­ingskool, het hy doelloos rond­geslen­ter, totdat ’n tweede arre­sta­sie hom in ’n ny­wer­heidsinstituut beland het. Die op­heffings­werk daar, het hom nie verbeter nie. Dobbel, verdowingsmiddels en drank was sy lewens­patroon. Hy was gedurig vlug­tend vir die ge­reg en moes daarom altyd on­der ’n skuilnaam rondbeweeg. Die aand toe hy in Chi­cago aan­land, het hy dadelik na die Pa­cific Garden Mis­sion toe gevlug, want ’n po­li­sieman in die straat het hom dopgehou en gevolg. Die vol­gende aand het hy terug­ge­keer Pacific Gar­den Mission toe. Hy het geluister na ge­tuienisse van men­se soos hy, oor wat God in hulle lewens ver­mag het. Hy het by een van die werkers van die sending hulp gevra en die sondaars­gebed gebid: “Here, wees my sondaar ge­na­dig. Jesus, red my ook.”,

Agterna het hy getuig: “Ek kan nie alles vertel wat Jesus Christus vir my gedoen het nie. Maar een ding kan ek doen, en dit is om ander van Hom te vertel. En daar is baie dinge oor God wat ek nie weet nie en nie verstaan nie, maar één ding kan ek sê: ‘God ain’t any picker of persons’!” Elkeen wat, hoe sleg ookal, God se genade vra en by Jesus redding soek, vind `n lewende Redder.

 

“Here, vandag kom ek net soos ek is na U toe.”

Posted by Manie on Jan 26th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

MAANDAG 28 JANUARIE – EEN TREE

MAANDAG               EEN TREE

Lees 2 Korintiërs 6: 1 – 7

“Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding” (2).

 

’n Jong predikant ry een aand, na ’n diens in ’n minder gegoede deel van die dorp, in ’n stamp­­vol bus, huis toe. Met sy Bybel onder sy arm vasge­knyp, staan hy saam met ander in die gang. Van die passasiers, duidelik ’n ru­we jongklomp, begin met hom geskeer. Een roep, bo die ander geraas van die bus, uit na hom toe: “Haai, Domi­nee, hoe ver is dit he­mel toe?” Sy maats lag luid­rugtig. Die ander men­se in die bus is dood­stil. Al­mal wag vir sy ant­woord. Hy draai na sy trot­seer­der toe. Hy ant­woord met ’n vrien­de­li­ke, maar dui­delike stem: “Net een tree, Me­neer. Sal jy my toe­laat om jou die weg te wys?” Daar eindig die geskrewe storie ongelukkig.

Ek wens ons kon weet of die jong boelie be­gerig was om te luister, en hoe die jong pre­dikant van so ’n oom­blik gebruikgemaak het om die evan­gelie te ver­kondig. Want op hier­die aller­be­langrikste vraag is die ant­woord kort en duidelik. Die tronkbewaar­der van Filippi het dit vir Paulus en Silas gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” Hulle ant­woord was: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word…” (Hand.16:30,31). Die een tree hemel toe gaan by ’n oop deur in. Die Here Jesus het daardie deur, wat ’n soliede, ge­slote yster­deur was, weens ons son­de­­skuld, oop­gesluit, toe Hy ons sonde­skuld aan die kruis uitge­delg en vernietig het. Ons kan die tree oor die drumpel van geloof, die ewige lewe in, dadelik neem. Sê vir Jesus: “Jesus, Here, red my nou, asseblief.” Met Jesus aan die kruis in gedagte, gló Hy kan dit doen. Met die lewende Jesus nou by jou, glo Hy hoor en doen dit. Sê vir Hom dankie. Die moordenaar aan die kruis het dit gedoen. Daar waar hy aan sy kruis langs Jesus hang, sê hy vir Jesus: “Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.” Jesus ant­woord hom: “Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.”

 

“Here, vandag gaan ek in u hemelse koninkryk in, deur die oop deur van u dood aan die kruis..”

Posted by Manie on Jan 26th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

WOENSDAG 23 JANUARIE – OORLOPENDE BLYDSKAP

WOENSDAG        OORLOPENDE BLYDSKAP

Lees Lukas 19 : 1 – 10

“Hy het Jesus met blydskap ontvang…Daarop sê Jesus: ‘Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom…die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is” (6,9,10)

 

’n Skeepspassasier val in ’n ontstuimige see oor­­boord. Die kaptein vra vry­wil­li­gers om hom te pro­beer red. Die onderkaptein en twee ma­trose waag om met ‘n bootjie die reuse branders te trot­seer. Na ’n ge­vaarlike en inspannenede stryd bereik hulle die man. Hy was gedaan en op die punt om te sink. Met geweldige inspanning, na ure van roei, bereik hulle weer die skip die dkip met hom. Hulle was self totaal uitgeput en die drenke­ling was te swak om te staan.. Hy om­hels sy redders se bene en soen hulle nat voete. Verleë maak hulle hulle van hom los. Hy kruip agter hulle aan en van dank­baarheid huil en lag hy terwyl hy van die grond af na hulle opkyk. Die onder­kap­tein het later gesê: “So iets het ek nog nooit in my lewe aanskou nie. Hy het ons nat voetspore ge­streel en met liefde gesoen. Hy was een van die passasiers. Vir die res van die vaart het hy ons met die grootste ag­ting behandel en op elke moontlike wyse sy dankbaarheid be­toon. Na landing het hy ons met geskenke oorlaai.

So diep is die dankbaaheid van ‘n man teenoor sy red­ders wat hom, ten koste van hul eie lewe, uit ’n aak­li­ge dood gered het. Hoe groot moet ons dankbaarheid teenoor die Here Je­sus Chrisus dan nie wees. Hy het so ’n groot prys betaal, sy kos­bare bloed laat vloei, om ons van die ewige verdoemenis te red. Die koudheid van ons harte, is daaraan te wyte: ons besef nie heel­te­maal wat die Here Jesus opgeoffer het om ons te red nie; ons besef nie uit watter aaklige lot Hy ons verlos het nie. Een­dag in die hemel, wanneer ons Hom, en die wonde in sy han­de en voete sien, die won­derlike plek waarin Hy ons ge­bring het, beleef en besef van watter aaklige plek Hy ons gered het, sal ons die regte blydskap ervaar. Dit is tot Jesus se verheerliking en sy blydskap, as ons noual, op el­ke moontlike wyse, ons dank aan Hom betoon. As ons met woorde Hom gedurigdeur loof, elke moont­like taak vir Hom op aarde wil verrig, en ons toelê om te leef soos Hy dit graag wil sien. Daarom is daar so ’n groot blydskap in die hemel. “Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te  glo, al sien jul­le Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die eindoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap” (1 Pet. 1:8,9).

 

“Here, vandag dank ek U vir u offer om my te red.”

Posted by Manie on Jan 19th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

SATERDAG 26 JANUARIE – PADKOS

SATERDAG                           PADKOS

Uit die dagboek PADKOS, met verse, uit die Lewende Bybel.

 

Maar Ek het gekom sodat julle die lewe ten volle kan hê (Joh.10:10). Want die sonde het sy loon wat hy uitbetaal, en dit is die dood. Maar God het ‘n geskenk wat Hy ons verniet gee, en dit is die ewige lewe wat Christus Jesus ons Here vir ons moontlik gemaak het (Rom.6:23). Deur een mens en die sonde wat hy gedoen het, het die dood mag gekry oor alle mense (Rom.5:17) . …dit is ook deur ‘n Mens, deur Christus, dat die wat dood is, weer sal lewe…almal wat aan Christus behoort, sal weer lewe (1 Kor.15:21,22). En noudat Jesus Christus, ons Redder, gekom het, het God se plan duidelik geword. Want Jesus het die dood se mag weggeneem en vir ons die lewe gebring waaraan daar nooit ‘n einde sal kom nie (2 Tim.1:10).

Posted by Manie on Jan 19th 2013 | Filed in Padkos | Comments Off

VRYDAG 25 JANUARIE – ONWEERSTAANBARE KRAG

VRYDAG            ONWEERSTAANBARE KRAG

Lees: Jeremia 23: 23 – 29

“My woord is soos vuur, sê die Here, soos ’n hamer waarmee klippe stukkend gebreek word” (29).

 

Ludwig Harms, stigter van die Hermannsburgse Lutherse Sen­dinggenootskap, vertel hier­­die  storie. Sieg Engelbrecht het dit vir ons uit die Duits vertaal.

‘n  Londense hoteleienaar, het deur die oor­ma­tige be­skik­baarheid van alkohol en ander twy­­­fel­ag­tige ple­­siertjies ’n ver­derflike lewe gelei. Met God wou hy niks te doen hê nie. Hy het sy gaste ook in hierdie maalkolk van sonde in­ge­suig. Op ’n dag sterf een van sy naaste familielede en hy moes, teen wil en dank, die begrafnisdiens in die kerk by­woon. Hy besluit hy sal gaan, maar hy gaan sy ore toe­druk. Die woord van God wil hy nie hoor nie. So sit die hotelbaas die dag soos ’n dowe on­der die geklank van die Here se woord. Hy hoor niks. ’n Muskiet kom sit op sy neus en steek hom. Hy pluk sy een hand uit sy oor uit en klap die mu­skiet weg. Juis op daardie oomblik haal die pre­di­ker God se boodskap, wat Hy deur Jesaja aan  His­kia gestuur het, in 2 Konings 20:1 aan: “So sê die Here: Sê vir jou gesin wat jou laaste wense is, want jy gaan sterf, jy sal nie langer leef nie.” On­mid­­­dellik druk die man sy ore weer toe en wag vir die einde van die diens. Maar daardie enkele sin gaan met hom saam huis toe. Hy kan dit nie af­skud nie. Die woorde staan smorens saam met hom op, gaan saans saam met hom bed toe en kom selfs in sy drome terug. Dit dryf hom amper tot raserny. Uit­ein­delik swig hy onder die krag van God se woord. Hy breek voor God, bring sy hart na die Here Jesus toe en kom tot beke­ring. ’n Nuwe lewe kom in hom tot stand. Hy gee sy hele le­wens­­huishouding oor aan God. Sy hotel verander uit ‘n spelonk van sonde, in ’n ware herberg – ’n tuiste van Christelike gastevriendelikheid.

Die Heilige Gees gee aan God se woord ’n indring­ingsvermoë in die hart van die mens: “Die woord van God is lewend en krag­tig. Dit is skerper as enige swaard met twee sny­kan­te en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg Dit beoordeel die be­doelings en gedagtes van die hart” (Hebreërs.4:12).

 

 “Here, vandag luister ek na u woord.”

Posted by Manie on Jan 19th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

DONDERDAG 24 JANUARIE – DIE ENIGSTE REDDING

DONDERDAG        DIE ENIGSTE REDDING

Lees Hand.4:1-22

“Hy bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie” (2).

 

Enkele jare gelede raak twee manne in hul boot, bo­kant die Niagrawaterval, in die moei­lik­heid. Hulle roei wanhopig, maar die stroom voer hulle vinnig na die don­derende val toe. Op die oewer word koorsagtig po­gings aangewend om die twee manne te red. Net betyds word ‘n tou na hulle toe uitgegooi. Dit beland binne-in die boot.  Die een man gryp die tou da­delik gretig vas. Juis op daardie oomblik dryf ’n hout­stomp teen die boot vas. Tot almal se ontsteltenis gryp die ander man paniekerig die drywende stomp en klou kramp­­agtig daaraan vas. Die mense skree vir hom om die stomp te los en ook die tou te gryp, maar hy klou net stywer aan die stomp vas. Die man wat die tou gegryp het, is veilig aan wal ge­bring. Die ander man is met stomp en al by die waterval af.

Die mens bevind hom vir sy sieleheil in net so ‘n groot gevaar. Gelukkig is daar redding, hoe sterk die afwaartse stroom ookal mag vloei en hoe hard die waterval ook al dreun. Die veilige tou van Christus se verlossing word uitgegooi en ’n mens kan dit gryp en gered word.

Een oggend leun ’n predikant, by die aanvang van sy preek, oor die kansel en sé met groot erns: “Ek het ’n vraag om te vra. Ek kan dit nie beantwoord nie. Geen engel in die hemel kan dit beantwoord nie. Geen duiwel uit die hel kan dit beantwoord nie. Kan ú dit beant­woord? Dit is die vraag: Hoe sal ons ontvlug as ons so ’n groot saligheid verontagsaam?” Dit word doodstil in die kerk. Niemand kon dit beantwoord nie. Niemand kon dit teëspreek nie. Dit is ’n vraag wat die Woord van God self in Hebreërs 2:3 vra: “…hoe sal ons dan ontkom as ons so `n groot saligheid verontagsaam het?” Vir ons almal is daar net één betroubare red­dings­wete: weens die son­des wat ek gedoen het, is ek verlore en ek kan my aak­lige lot, die verdoemenis, op geen manier ontkom, as om te vertrou in die Here Jesus Christus, die Seun van God, wat aan die kruis op Golgota die straf vir al my son­des gedra het en my só met God versoen het nie. Ek moet na Hom toe vlug en vir Hom sê: “Ek is sondig. Ek is verlore. Red my, asseblief.” Dít is die red­dingstou wat ons gryp, waarmee ons in die vei­ligheid van die ewige lewe, wat God ons uit genade gee, gebring word. Deur die Evan­gelie Woord, open die Heilige Gees ons oë en hart om hierdie redding aan te neem.

So het Jesus Self Nikodemus se vraag oor die ingang in God se konikryk beantwoord: “Net soos Moses des­tyds die koperslang in die woestyn op ’n paal gehang het, so sal Ek, die Redder, ook op ’n paal gelig word, sodat elkeen wat op My vertrou die ewige lewe kan hê. Want God het die mense so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gestuur het. Iemand wat in Hom glo, sal nie verlore gaan nie, maar hy sal die ewige lewe hê’” (v.10-14).

“Here, vandag gryp ek die reddingstou van Jesus se kruisdood”

Posted by Manie on Jan 19th 2013 | Filed in Algemeen | Comments Off

Next »