Archive for December, 2012

You are currently browsing the archives of Krag vir Vandag .

SATERDAG 5 JANUARIE – PADKOS

SATERDAG                   PADKOS

Uit die dagboek PADKOS, uit die Lewende Bybel.

 

Dit is God wat julle alles sal gee wat julle nodig het. Hy sal dit op sy eie wonderlike manier doen deur Jesus Christus (Fil.4:19). – Waarop julle in die eerste plek moet konsentreer, is dat God se koningskap erken sal word en dat mense sal doen wat Hy wil hê  (Mat.6:33). – Selfs sy eie Seun het Hy nie terug­gehou nie, maar Hy het Hom gegee om in ons almal se plek doodgemaak te word. As Hy ons sy Seun gegee het, sal Hy dan nie vir ons alles gee nie? Ja, Hy sal dit beslis doen (Rom.8:32). –Want die Here God is ons son wat vir ons lig gee en ons skild wat ons beskerm…en Hy sal niks wat goed is… terughou nie (Ps.84:12). – Dit is God wat ons alles gee om te geniet (1 Tim.6:17). – Hy kan iemand wat moeg is, krag gee en iemand wat swak is, weer sterk maak … dié wat hulle verwagting op die Here stel kry nuwe krag (Jes.40:29,30). Kyk my lewe deur, Here en toets my, beoor­deel my hart en my mo­tiewe (Ps.26:2). As ons erken dat ons son­­de gedoen het, sal Hy ons sondes ver­gewe en ons rei­­nig van al die verkeerde dinge wat ons gedoen het (1 Joh.1:9).

Posted by Manie on Dec 29th 2012 | Filed in Padkos | Comments Off

VRYDAG 4 JANUARIE – `N PLAN WAT WERK

VRYDAG                    ’N PLAN WAT WERK

Lees 1 Petrus 5: 8 – 11

“Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die dui­wel loop rond soos ‘n brullende leeu op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en staan hom teë”

 

In die internetrubriek, Pastor Bill Team Prayer, word die storie vertel van die jong de­moon, wat sy vakleer­ling­­skap by Satan loop. Hy moet sy eerste opdrag uitvoer. Die Chris­­tene se bruik­baarheid op ‘n bepaalde plek moet ge­stuit word en sy meester wil weet hoe hy te werk sal gaan. “Ek sal hulle oortuig daar is nie so iets soos sonde is nie.” Satan antwoord: “Dit sal nie werk nie, want die groot­ste deel van ons vyand se mense ken die werklik­heid van sonde te goed.” “Wel, dan” antwood die jong duiwel, “sal ek hulle oortuig dat daar nie so ‘n plek soos die hel is nie.” “’n Goeie plan,” sê Satan, “maar die werklikheid van ‘n eindoordeel is so in hul­le inge­dril, hulle sal nie val vir jou be­drog nie. Ons het ‘n strategie no­dig wat die bruik­baar­heid en die ywer van die Chris­tene kan neutraliseer. Die jong vak­leer­ling dink ‘n rukkie. ‘n Grynslag verskyn op sy bakkies. “Ek weet. Ek sal die Chris­te­ne klein en groot oor­tuig daar is geen haas nie. Ek sal in hul ore fluis­ter: ‘Jy is vandag ontsettend be­sig. Dit is nodig om vir die Here te ge­tuig en jy gaan dit natuurlik doen, maar dit kán nie vandág nie. Stel dit ‘n paar dae af tot dinge bietjie tot be­daring kom. Volgende week, miskien. Vir die mees­te sal ‘n makliker volgende week nie aan­breek nie.” “Pragtig!” antwoord sy meester met ‘n aaklige grinnik. “Ons sorg net dat hulle aan­mekaar besig bly en nie tyd kry om hulle goeie voorneme uit te voer nie.”

 

“Here, vandag stel ek my vir U beskikbaar.”

Posted by Manie on Dec 29th 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

DONDERDAG 3 JANUARIE – MISGISSING

DONDERDAG                 MISGISSING

Lees Amos 3: 1 – 8 OU VERTALING

“Sal twee met mekaar wandel tensy hulle eers afgespreek het?” (3)

 

John Ross vertel van die vrou wat van ’n vlieg­­tuig af­stap nadat dit geland het. Met haar dra­­sak oor haar arm gehaak, koop sy by die toonbank van die ka­feteria, ’n pakkie lekker koe­kies en ’n koerant. Sy gaan by ’n eenkant tafel sit. Sy wil ontspan voor sy die stadsge­woel aan­durf. Da­de­lik boei die hoof­be­rig in die koerant haar en sy steur haar nie aan die man wat oor­kant haar by haar tafel kom sit nie. ’n Geritsel van papier oor­kant haar trek haar aandag. Sy loer oor die koe­rant, en so­waar, dit is die man wat haar pakkie koekies oopmaak en dood­lui­ters vir hom een neem en dit begin eet. Sy ver­erg haar on­middellik. Sonder om na die man te kyk strek sy haar hand uit en neem vir haar ook ’n koekie. Na so omtrent twee minute ritsel die pa­pier weer en dit is hy wat vir hom nog ’n koekie neem. Dadelik neem sy vir haar ook weer ’n koe­kie. Sy kyk nog stip in die koe­rant, maar sy lees nie meer nie. Sy is te kwaad. So sit sy en die man die pak­kie koekies en opeet. Sy sien oor die koe­rant dat hy die laaste koe­kie neem, dit in die helfte breek, ’n hel­fte in sy mond steek en die ander helfte met ’n ef­fen­se glimlag na haar toe oorstoot. Sy gryp be­hoorlik die hal­we koe­kie en stop dit in haar mond. Hy from­mel die pak­­kie se omhulsel op, staan op, knik vir haar, stap by ’n rom­mel­houer verby, gooi die papier daar in en ver­dwyn tus­sen die mense. Sy is mag­te­loos kwaad. Sy tuur hom net a­gterna. Sy staan op, stamp haar stoel ag­­ter­uit, rits haar drasak met ’n pluk oop om haar koe­rant weg te sit – en haar oë peul behoorlik uit. Háár pak­kie koekies lê nog onoopge­maak in haar dra­sak! Sy storm tussen die mense in om die man te soek, om ver­skoning te vra vir háár onbeskofd­heid, maar hy het tussen die mense ver­dwyn.

Sy het haar misgis. Baie van ons het al beproef hoe ’n rusie ont­ke­ten word deur toevallige insi­den­te wat verkeerd vertolk word. Die geheim is die atmosfeer in ’n mens se eie hart: is daar vrede in my hart? Wíl ek graag ’n goeie verhouding met ander hê? Is ek gewil­lig om maar bietjie te na gekom te word? ’n Ongeduldige, selfsugtige, sus­pi­sieu­se ge­sind­heid in die hart skep ’n teelaarde vir ’n misgis­sing. En, dalk is ék, soos die vrouself, die eintlike oorsaak van ’n geskil!

As ons met God vrede het; as Jesus koning in die hart is; as die Heilige Gees beheer het oor ons gesind­he­de, kan ons met geduld ander se dade en woorde ten goede en reg beoordeel. “Sorg dat daar nie ver­bit­te­ring soos ’n wortel uit­spruit (en) moeilikheid ver­oor­saak nie… (Heb.12:15). Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het …die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee” (Kol.3:12-15).

 

“Here, vandag let ek op hoe ek ander beoordeel.”

Posted by Manie on Dec 29th 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

WOENSDAG 2 JANUARIE – `N VISSERMAN

WOENSDAG             ‘N VISSERMAN

Lees     Markus 1: 16 – 20

“”Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak’ (17).

 

Paul Johnson skryf, hy het twee jong broers leer ken. Hul­le was uitermate lief vir vis­vang. Hy het ‘n naweek langs ‘n rivier saam met hulle deurgebring en baie van vis­vang geleer. Meesal vang hulle van die wal af met ‘n erdwurm aan die hoek en ‘n dobbertjie aan die lyn. Die oudste van die twee broers lees elke moont­like tydskrif oor visvang. Hy praat graag met ander hengelaars. Vir elkeen het hy een vraag: “Byt die vis? Het jy iets gevang.” As die ant­woord “ja” is, wil hy dadelik pre­sies weet watter aas hy ge­bruik het. Hy het geleer ‘n vis­ser­man moet die regte ge­reedskap hê, weet waar vis is, geduld hê, weet wat­ter tye die beste vir visvang is, weet hoe om die vis, ver­al as dit ‘n grote is, in te katrol. Hy het self egter een tegniek ge­sien, skryf Johnson,  wat absoluut noodsaak­lik is om ‘n vis te vang en waarsonder ‘n mens maar kan ver­géét om ooit ‘n vis te vang. En dit is: Die visserman moet sy lyn, met hoek en aas aan, in die water gooi!

Christene, die dissipels van die Here Jesus Chris­­­tus, is vissermanne vir Hom. Hulle roeping is om ander vir Hom te wen. Op geen ander wy­se kom die evangelie by iemand se hart uit, as dat iémand wat reeds aan die Here behoort, dit nie by die per­soon bring nie. Ons kan nie iemand vir die Here wen as ons nie eers probeer nie: miskien deur ‘n traktaatjie uit te gee, vir iemand te bid, vir iemand te vertel hoe die He­re onsself gered het, geld te gee dat ander die evan­gelie kan versprei. Daar is groot loon in die ewig­heid vir elkeen wat ‘n ander vir die Here wen, of gehelp het dat iemand gered word. “…en dié wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre (Dan.12:3).Jesus self het gesê: “…kyk na die lande; hul­le is ryp vir die oes. Nou al ontvang die man wat oes, sy loon en samel hy die oes in vir die ewige lewe” (Joh.4:35,36). “…ek (het) ‘n groot me­nigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie…en het voor die troon en voor die Lam gestaan. ”  (Op.7:9).

Sal dit leë hande wees

en ‘n siel oor skuld bevrees

As ek voor Hom

 by die groot witroon moet staan?

Moet my hart vol skaamte wees,

met my naam daar uigelees

En my werk geen eer vir sy geliefde Naam?

As geen siel van my kan sê:

“Ek wil jou as vriend hier hê,

Want deur jou het ek die Heiland leer bemin.”

 

“Here, vandag bring ek u evangelie by iemand.”

Posted by Manie on Dec 29th 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

DINSDAG 1 JANUARIE – MOENIE HOOP NIE – BESLUIT

DINSDAG         MOENIE HOOP NIE – BESLUIT!

Lees Lukas 23: 38 – 43

“En Jesus antwoord hom: ‘Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees’” (42,43).

 

‘n Man wag op die lughawe van Portland, Ore­gon, vir ‘n vriend wat pas van ‘n vliegtuig af­ge­stap het, vertel Rev. David A. Sar­gent. Sy aan­dag word getrek deur ‘n ander man wat met twee ligte tasse in sy hande, tussen die an­der pas­­sasiers deur, aankom. ‘n Seuntjie, dalk ses jaar oud, hardloop hom tegemoet. Die man buig af, gee die seuntjie ‘n innige druk, hou hom ‘n rukkie vas, sê: “Ek het jou so gemis, my kind.” Die seun ant­woord skamerig, “Ek ook, Pappa.” Die man kom reg­op en groet ‘n ander seun, mis­kien tien jaar oud. Hy hou die groter seun se gesig in sy hande, kyk in sy oë: “Ai, seun, ek het na jou verlang.” ‘n Dogtertjie van omtrent ‘n jaar oud sit in die ma se arms en wurm gretig om by haar pa te kom. “My Babatjie,” sê die man teer en neem die kleintjie in sy arms, soen haar en wieg haar heen-en-weer. Dadelik lê die kleintjie haar kop­pie vol bevrediging teen sy skouer. Hy gee die dog­tertjie vir sy oudste seun. “Die beste het ek vir laaste gebêre,” en met dié woorde neem hy sy vrou in sy arms en gee haar ‘n innige, lang soen. Hulle kyk mekaar in die oë. Hy sê gevoel­vol, “Ek het jou so lief!” Die man wat sy vriend kom haal het, besef skielik hoe hy die gesinnetjie aanstaar. Ver­leë sê hy “Wow! Hoe­lank is julle al getroud?” “Twaalf jaar,” antwoord die ander man sonder om sy oë van sy pragtige, bloesende vrou af te neem. “Hoe lank was jy weg van hulle af?” vra die starende man. “Twee volle dae.” TWEE DAE??? Die man is verstom. Hy sou sê hy was maande weg van sy geliefdes af. Verleë prewel die sta­rende man, “Ek hoop my huwelik sal na twaalf jaar ook nog so hartlik en warm wees.” Sonder om sy vrou se hand te los, kyk daardie ander man hom di­rek in sy oë en met ‘n erns wat die toe­skou­er tot in sy hart tref, sê hy: “Moenie hoop nie, Vriend. Besluit!

Dit geld nie net vir die getroude lewe nie, maar vir al die ernstige sake in ons lewens. As daar ‘n oop weg is, moet dan nie net hoop nie. Dít bring mens nêrens nie. Besluit! Dit geld ook ons geeste­li­ke lewe. Iemand kan sê: Ek hoop my saak met God is reg. Ek hoop ek sal hemel toe gaan. Dis nie genoeg nie. Jesus Christus het die weg vir ons so wyd oopgemaak, dat ons kan besluit. “Daarom as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel… dit het alles nuut geword…Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen” (2 Kor.5:17,20). Sélf beloof Jesus ons: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou en hy met My” (Opb.3:20). Laat die nuwe jaar `n jaar van verstan­dige, deur God geleide, besluite wees.

 

 “Here, vandag maak ek die deur van my hart vir U oop. Red my asseblief.”

Posted by Manie on Dec 29th 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

MAANDAG 31 DESEMBER – DIT IS REGTIG LATER AS OOIT

MAANDAG   DIS REGTIG LATER  AS OOIT

Lees Psalm 90

“Leer ons om ons dae so te tel dat ons ‘n wyse hart mag bekom! (12)”Ou Vertaling.

 

‘n Seuntjie sit een Sondag, na ‘n vroeë mid­dag­maal, in die sitkamer en speel, terwyl sy ouers bietjie gaan dwarslê. Die staanhor­lo­sie begin twaalf-uur slaan. Uit gewoonte tel hy die slae. Soos dit maar van tyd tot tyd met ‘n slaanklok ge­beur, het iets met die slaanmeganisme verkeerd gegaan. Na die 12de slag, tot die seuntjie se stomme verbasing, hou die klok aan met slaan … 13 … 14 … 15. Hy storm slaapkamer toe en skreeu al in die gang af: “Pa! Pa! Kom kyk dit is later as ooit in ons lewe!”

Hierdie storie tref my besonderlik, want ek herhaal dit uit die dagstukkie van Desember  2003. Ons is nou tien jaar later as toe ek dit daardie aand in 2003 geskryf het. Wat het in die tien jaar, nie in ons almal se lewens, gebeur nie! Riekie, my liefste vrou, het toe nog gelewe en by my gesit. My seun Philippus was `n bedrywige sake­man. En nóú, in die geskiedenis, en in elkeen van ons se persoonlike lewens, is dit nie ook regtig later as ooit te vore nie? Natuurlik is dit met elke uur, elke minuut, elke sekonde wat verby gaan, later as ooit te vore. Die wisseling van die ou jaar en die aanvang van die nuwe jaar demonstreer dit net meer dramaties. Die gevaar van uitstel, soos in die volgende dagstukkies benadruk, is baie groot.

Die onverganklike woorde van Moses se gebed in Psalm 90:14,16, is ook op hierdie tydstip van die jaar vir ons ‘n goeie gebed: “Ver­sa­dig ons in die môre met u goedertierenheid,  sodat ons kan jubel en bly wees in al ons dae … en laat die lieflikheid van die Here oor ons wees …”

 

“Here, ek wil U vandag, aan die einde van nog ‘n jaar, dank vir u versorgende hand wat dwarsdeur die jaar oor my was. Lei my in die nuwe jaar.

Posted by Manie on Dec 29th 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

SATERDAG 29 DESEMBER – PADKOS

SATERDAG                      PADKOS

Toe U my laat swaarkry het, het dit my goed gedoen want daardeur kon ek leer wat u vereistes is (Ps.119:71). – Al is Jesus die Seun van God het Hy ook gely en daardeur het Hy geleer wat dit beteken (of kos) om God in alles te gehoorsaam (Heb.5:8). –Maar Hy weet presies hoe my lewe is, en al stel Hy my op die proef, sal ek soos suiwer goud anderkant uitkom. Ek het sy voe­tspoor noukeurig gevolg sonder om uit te draai (Job 23:10,11). – Onthou die trekpad waarlangs die Here julle veertig jaar lank deur ’n woestyn ge­­lei het. Hy het julle in moeilikhede laat beland om julle te toets en te kyk hoe julle gesindheid sou wees, of julle sy wette sou ge­hoorsaam of nie. Julle moet dan besef dat die Here julle opvoed soos wat ’n mens sy kind leer. Daarom moet julle die Here julle God se wette onderhou en leef soos Hy julle geleer het en vir Hom ontsag hê (Deut.8:2,5,6). – Dit is nie ‘n sterk leer wat ‘n  koning veilig maak nie en ‘n soldaat word ook nie deur sy krag gered nie. Maar dit is die Here wat waghou oor dié wat Hom aanbid en hulle verwagting stel in sy getroue liefde (1 Sam.2:9).

Posted by Manie on Dec 22nd 2012 | Filed in Padkos | Comments Off

VRYDAG 28 DESEMBER – AS EK NET GEWEET HET

VRYDAG               AS EK NET GEWEET HET

Lees Lukas 10: 30 – 35

“…en toe hy hom sien het hy hom innig jammer gekry. Hy het na hom toe gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind” (33,34).

Stephen Covey, skrywer van die gewilde Seven Habits of Highly Effective People, skryf hy haal een Sondagoggend in New York die bus. Die passasiers sit tydens die rit rustig en stil. Alles ver­ander toe ’n man, met kinders by hom, opklim. Die kinders is luidrugtig en is die he­le bus vol. Die man lyk onbewus van wat om hom aangaan. Hy het langs Co­vey kom sit. Die kinders skree op mekaar, gooi goed rond, gryp selfs sommige mense se koe­ran­te. Nog doen die man niks. Eers pro­beer Co­vey sy toenemende ergerlikheid beheer, maar toe die man steeds die kin­ders se oproerigheid ignoreer, raak dinge vir Co­vey te erg. Hy draai na die man toe: “Me­neer, jou kinders is regtig steurend vir die mense. Kan jy hulle nie asseblief beheer nie.” Dit lyk of die man uit ’n beswyming bykom. “Ag, ek­skuus tog, jy is reg. Ons kom nou net van die hos­pitaal af. Hulle ma, my vrou, is ’n uur ge­lede dood. Ek weet nog nie mooi wat om te maak nie. Ek dink hulle weet ook nie hoe om dit te hanteer nie.” Covey het later ge­skryf: Can you imagine what I felt at that mo­ment? Suddenly I saw things dif­ferently, and because I saw diffe­rently, I thought dif­fe­rently, I felt differently, I behaved different­ly. My irri­ta­tion vanished...my heart was fil­led with the man’s pain. Feelings of sympa­thy and compassion flowed freely…every­thing changed in an instant.  I said: “Oh, I’m so sorry! What can I do to help?”

As ek net kon weet wat in iemand se le­we aangaan, wat hom laat optree soos hy op­tree, hoe an­ders sou ék dalk gevoel en teenoor hom gehandel het?

Ons betree die Kerstyd. Kom ons maak ons kers­ge­voel en lewensgedrag gelyk aan die meegevoel van Hom wat aarde toe gekom het vir ons. “Jesus het innig jammer gevoel vir hom … “ (Mark.1:41). “En…Jesus…sien `n groot menigte, en Hy het innig jammer geoel, omdat hulle soos skape sonder herder was…(Mark.6:34)

“Here, vandag wil ek stadig wees om te veroordeel.”

Posted by Manie on Dec 22nd 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

DONDERDAG 27 DESEMBER – HULLE WIL GRAAG DANKIE Sê

DONDERDAG     HULLE  WIL GRAAG DANKIE SÊ

Lees Romine 8: 31 – 39  “Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red” (32)

 

Die Gospel Herald skryf dat ’n Skotse vissers­boot in die Noordsee deur ’n Nazibomwerper ge­kel­der is. Die beman­ning van tien kon in hul red­dingsbootjie wegkom. Veertig uur lank het hul­le om die beurt geroei met die hoop dat hulle deur iemand opgemerk sou word. Een vir een het hulle uitgeput geraak en opgehou roei. In die loop van die oggend van die derde dag sien hulle ’n vlieg­tuig. Gou identi­fiseer hulle die vliegtuig as ’n geal­li­eerde vliegtuig. Gaan die vliegtuig hulle op­merk? Die loods van die verkenningsvliegtuig se skerp oë merk hulle gelukkig in die onstuimige see op. Teen hierdie tyd was agt van die manne so uitge­put dat hulle op die bodem van die bootjie teen mekaar gelê het. Die ander twee het swakkies vir die loods gewaai. Die vlieg­tuig kom laag in en vlieg oor hulle. Wikkel sy vlerke. Hulle juig. Hulle is raakgesien! Die vliegtuig verdwyn in die deinse­rige lug. Die loods weet van twee mynveërs, vyftien myl weg van die toneel af. Met sy lig­te sein die vlieënier vir die skepe om hom te volg. Die vissermanne hoor weer die vliegtuig en sien toe die skepe wat nader kom. Die myn­veërs gee vir die vliegtuig die sein – GERED! Die vliegtuig wik­kel weer sy vlerke en vlieg weg. Die vliegtuig was skaars twee myl weg of een van die mynveërs gee ’n sein om hom terug te roep. Die vliegtuig keer in lae vlug terug. “Iets ver­keerd?” sein die vliegtuig. Die mynveër se ligte flikker die bood­­skap uit: “Hierdie manne wat ons opgelaai het, wil net graag sê: DANKIE!” Die Gospel Herald sluit sy storie af met die vraag: “Has this story found its answer with you? Have you ever thanked the Lord Jesus for what He has done? That He came at such great cost for you?”

                Ons het Kersfees gevier. Ons het Jesus se geboorte herdenk. Hoe? God geloof? Enigie­mand wat nog nooit Jesus aange­spreek het met ’n hart­like “Dankie Sê” nie, het nog nooit besef, dat Jesus gekom het om hom/haar te red nie. Die groot, groot prys wat Jesus moes betaal om tot by ons dob­berende boot­jie te kom, het nog nooit in die hart op­ge­kom nie.

“Here, vandag dank ek U innig vir u liefde en offer vir my.”

Posted by Manie on Dec 22nd 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

WOENSDAG 26 DESEMBER – ELKEEEN SE GOEIE BEURT

 WOENSDAG   ELKEEN SE GOEIE  BEURT

Lees Lukas 2 : 1 – 7

“Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ’n krip neerglê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie” (7).

 

Eerw. Curtis Bradford van Charlestown, in die V.S.A. vertel in ’n artikel in Expe­riencing God Magazine van Desember 1955, hoe hy, as kind, op Oukers­aand in die bed gekruip het, en ge­maak het of hy slaap. Opgewonde het hy om 2 vm., toe hy seker  was sy ouers slaap, saggies opge­staan en  afge­gaan sitkamer toe waar die Kers­boom, met die ge­skenke, was. Op Kersoggend sou almal hulle ge­skenke kry en oopmaak. Daar was vir hom ’n prag­ti­ge drom, maar hy wou nie waag om selfs ’n ligte tik­kie op die drom te gee nie. Hy het ander goed gekry waarmee hy wel kon speel son­der om aan­dag te trek. Daar was ’n Cowboy-pak met ’n prag­tige rewolwer in ’n rewolwersak met gor­del en ’n groot pop, met bewegende lig­gaams­dele, wat soos ’n misdadiger, ‘n crook, aangetrek was. Opgewon­de het hy sy Kerskous leeg gemaak en die lekkers en vrugte geëet. Hy hoor ’n geluid – en daar staan sy pa wat met ’n streng gesig op hom afkyk. Vir die oomblik is Curtis verskrik, maar dan glimlag sy pa, tel hom op sy skoot en wys hom hoe alles werk. Nie lank nie of die slaap oorval hom. Hy voel hoe sy pa hom optel en terugdra kamer toe en hom sag in die bed inwoel. Die volgende oggend het die ge­sin ‘n heerlik Kersoggend, maar, sê Curtis: “I will never forget that Christmas Eve.”

Die jare het verby gegaan en een Kersaand is Curtis weer by sy pa. Maar dié aand lê die ou man in die bed, verlam na ’n motorongeluk en swak weens kanker. Hy het minder as 50kg. geweeg en hy het hewig pyn gely. Maar die ou man het daar­op aangedring om af te gaan sitka­mer toe om by te wees as die gesin hulle geskenke oopmaak. Vir ruim vyftien minute het die ou man deel gehad in die pret en toe word die pyn vir hom te erg. Hy vra Curtis om hom terug te neem kamer toe. Die, nou sterk en volwasse Curtis, tel die tengerige ou man tederlik op en dra hom kamer toe. Hieroor skryf Curtis: “As I made my way to his bedroom, I recalled the night many years before when he had carried me to my bedroom after our private Christmas Eve. Now it was my turn to carry him.” Trane het oor Curtis se wange geloop. Die ou man sien sy seun se trane en wys na ’n bandopnemer langs sy bed. Saam luister hulle twee eers na Stille Nag, Heilige Nag en toe na ’n Bybelvoorlesing: “In die huis van my Vader is daar baie woninge…(Joh.14). In sy hart dank Curtis God dat Hy hom gered het en sy vader gered het, en aan hulle daardie kosbare minute saam gegee het, en vir die baie kere toe God hulle altwee gedra het. Twee dae later is sy vader oorlede. Die herinneringe is vir Curtis eerder kosbaar as pyn­lik, en hy skryf: “Be­cause of Jesus, whose birth we celebrate on Christma and who died to save those who believe in Him, I know I will see my father again. And what a family reunion that will be.”

                By baie van ons se Kersfeesviering gaan daar dalk ook iemand ontbreek. En by baie Kersfeesvieringe gaan die rol van ouers en kinders ook omgeruil wees, omdat hulle groot geword het en die ouers oud geword het. Maar ons het almal rede tot die groot blydskap oor wat Christus vir ons gedoen het.

 

“Here, vanaand dank ek U vir u liefde aan ons.”

Posted by Manie on Dec 22nd 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

Next »