Archive for October, 2012

You are currently browsing the archives of Krag vir Vandag .

SATERDAG 3 NOVEMBER – PADKOS

SATERDAG                   PADKOS

 

Here, almal wat vir U ken, vertrou op U want U sal die wat U aanbid nooit in die steek laat nie. (Spr.18:10-11). Daar is geen ander God wat met U vergelyk kan word nie, want U vergewe die sonde van u volk wat oorgebly het. U bly nie vir altyd kwaad nie, en U wil graag u getroue liefde aan ons bewys. U sal ons weer jammer kry en ons sondes on­der u voete vertrap en hulle diep in die see gooi (Miga 7:18– Julle is saam met Christus lewendig gemaak en het nou `n nuwe lewe. Lê julle dan toe op die dinge van die hemel, waar Christus nou in die ereplek aan die regterkant van God sit. Laat julle gedagtes vol wees van dié dinge wat in die hemel is en nie die dinge wat hier op aarde is nie (Kol.3:1,3).

Posted by Manie on Oct 27th 2012 | Filed in Padkos | Comments Off

VRYDAG 2 NOVEMBER – HOE WEET `N MENS

VRYDAG        HOE WEET ’N MENS?

Lees Titus 1: 1 – 4

“…dié waarheid wat lei tot die diens van God en wat hoop gee op die ewige lewe. God wat sy woord hou, het die ewige lewe lank gelede aan ons belowe” (2).

 

Hoe weet ’n mens jou siel is veilig vir die ewig­heid? Daar is ’n manier.        ’n Skip het in ’n hewige storm, naby die kus, ge­strand. Vier matrose het die rotsagtige kus bereik. Hulle het teen die rotse begin uitklouter om buite be­reik van die woeste inko­mende gety te wees. Tot hulle ontsteltenis besef hulle, hulle het tot op die hoogste punt, van die lae reeks rotse geklim, waar die vinnige, inko­men­de ge­ty hulle tog nog kan be­reik. Dit is donker. Hulle sien nie verder as hulle onmid­del­like staan­plekkie nie. Hulle hoor hoe die see hoër op­kruip na hulle toe. Hulle is op die punt om hulle aan die genade van die branders oor te gee, met die hoop dat hulle miskien iewers hoër uitspoel, toe een van hulle, om sy ewewig op die rots te verstewig, met sy hand op `n plant druk en dit vas­gryp. So nat as wat dit is, weet hy dadelik dit is nie see­gras nie, maar ’n plant met ‘n wortel. Vir ’n oom­blik verlig ’n weerligstraal die omgewing en hy her­ken die plant as seevinkel. Dit is ’n plant wat altyd hoër as die hoogwatermerk groei. Met groot blyd­skap lig hy sy mak­kers in. Hulle is veilig, die branders sal nie tot by hulle kom nie. Die eenvoudige plant, en die man se kennis van die plant, het vir hulle in hulle donker nood, veiligheid gewaarborg. Hulle het vei­lig op die rots bly staan, ongerieflik, maar veilig, en gehoor hoe die water later teruggaan. Na dagbreek is hulle gesien en na veiligheid geneem.

In ons lewe raas en dreig die branders van twy­­fel, versoeking, teleurstelling, mislukking in ons gemoed. Hoe kan ons weet ons siel is veilig vir die ewigheid? Ons het ook ’n waarborg, baie sekerder as die seevinkel. God se beloftes! Die Here se woord is ons sekerheid. Ons is ge­­seënd om dit swart op wit te hê. Het u in Jesus Christus vir die redding van u siel vertrou? Indien só, dan, sê God, het u die ewige lewe. “Maar aan almal wat Hom aan­ge­neem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg ge­gee om kinders van God te word” (Joh.1:12). “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Joh.3:16). Die Heilige Gees wek in ons die behoefte na redding, na die ewige le­we; wek in ons die begrip van Jesus se plaas­ver­vang­ende dood aan die kruis; wek in ons die vertroue in Jesus as redder; wek in ons die optrede om Jesus in die gedagte of met woorde, aan te neem as my Verlosser; wek in ons die versekering, nou is ek kind van God, my sonde is vergewe, ek het die ewige lewe. God belowe dit!

 

“Here, vandag glo ek u belofte: ek het die ewige lewe.”

Posted by Manie on Oct 27th 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

DONDERDAG 1 NOVEMBER – DIE EINDE TEL

DONDERDAG            DIE EINDE TEL

Lees Hebreërs 9:23-28

“’n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel” (27).

Hoewel hy die seun was van ‘n toegewyde pre­dikant, het Adoniram Judson tydens sy uni­ver­si­teitsdae ‘n ateïs as vriend gekies. Judson het so onder sy invloed gekom, dat hy kort voor lank net so ‘n lasteraar en bespotter van geloof geword het. Judson het die teater as beroep gekies en by ‘n teatergroep aange­sluit. Een nag het hulle in ‘n plat­telandse hotel oor­gebly. In die kamer langs­aan dié van Judson was ‘n man besig om te sterf. Die dor­pie het nie ‘n hospitaal gehad nie. Judson moes luis­ter na die man se kreune en uitroepe in sy wor­ste­ling met die dood. In die nanag het dit stil geword. Die volgende oggend het Judson ver­neem die man is dood. Tot sy verbystering moes hy uitvind dit is sy eertydse, on­gelowige uni­versiteitsmaat.  Die parmantige spotter se einde het Judson verskrik. Só ‘n einde wil hy nie hê nie. Die geloofswaarhede waarmee hy in die pas­torie groot­geword het, het soos ‘n vloed na hom toe terug­gekeer. Met berou het hy hom tot God gekeer. Hy het die weg goed geken.

Was dit sy gelowige ouers se gebede wat hom in­gehaal het? God is genadig. Dit was God se be­stemming, dat hierdie weg­loop­skaap van die Goeie Herder, só sou inkom. Betyds het die Heilige Gees, daar in ‘n vreemde hotel, sy Verlosser Jesus weer na hom toe gebring.“…hy gaan agter die een aan wat weg is, totdat hy hom kry. En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers” (Luk.15:4,5).

 

“Here, vandag verlang ek dat U na my toe kom.”

Posted by Manie on Oct 27th 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

WOENSDAG 31 OKTOBER – `N DAG LANK

WOENSDAG                `N DAG LANK

Lees Psalm 90

“Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe” (10).

 

Op `n kerkklok, in `n Vrystaatse dorpie, soos ek ver­staan, is dié woorde ingraveer: Na korte dag, die lange nag; na korte tyd, die ewigheid. By ons vinnige vaart einde van die jaar toe, is ons opnuut bewus van hoe kort die tyd is en hoe vinnig dit ver­bygaan. `n Grys­aard het my eens uit sy rystoel so aange­spreek: “My lewe het soos `n droom verby gegaan Ek wou nog leef, toe is dit verby.” `n Hoog­ge­plaas­de man, prokureur en politikus, begaafd, in al sy onderneminge suksesvol, het skielik siek ge­word en onverwags by sy einde gekom. Om hom op te beur, deur hom oor sy prestasies te laat praat, vra `n vriend hom, hoe hy oor sy lewe voel, as hy oor sy briljante loopbaan terugkyk. Sy antwoord, as komen­de van `n denkende man, in die volle aangesig van die ewigheid, was treffend en onvergeet­lik: “My suksesse ten spyt, voel ek nou dat my lewe `n mis­luk­king was. Ek het nie een van die groot doeleindes waarvoor die lewe eintlik gegee is, bereik nie. Nou is dit te laat.” On­ge­lukkig het hy nie gesê oor watter lewens­waar­des hy toe gedink het nie. Maar wat hy gesê het, kom hierop neer: `n Lewe net op die aard­se bestaan gefokus, is `n lewe misge­le­we. Dit is `n droewige einde.

Jesus het gesê: “…wat sal dit `n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly” (Mark.8:36). Elke mens maak sy eie lewenskeuse en die keuse van sy le­wenseinde en ewigheids­be­stemming. Ge­lukkig is dit nooit te laat om `n koersverandering te maak nie. Vir die mis­dadiger aan die kruis was dit `n laat uur, maar geluk­kig het hy met sy vuil, mis­lukte verlede langs Jesus ge­hang. En gelukkig het hy volle gebruik van sy goeie kans ge­maak. “’Jesus, dink aan my wan­neer U in u koninkryk kom.’ Jesus antwoord hom: ‘Ek ver­seker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees’” (Luk.23:42,43). “…Ek sal hom wat na My toe kom nooit verwerp nie” (Joh.6:37).

 

“Here, vandag kies ek die lewe met en by U.”

Posted by Manie on Oct 27th 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

DINSDAG 30 OKTOBER – MAAK TOG SEKER

 DINSDAG         MAAK TOG SEKER

Lees Matteus 25: 1 – 13

“Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof toe, en die deur is gesluit” (10).

In Signs of the Times, vertel G. E. Garne, hoe hy en sy vrou, op die John Ken­nedy-lug­ha­we, moes kyk, hoe hulle vliegtuig sonder hulle vertrek.

Hulle het ses bedrywige we­ke in die V.S.A. ge­had en was nou op pad huis toe, na hulle twee kin­dertjies toe, wat hulle in die sorg van vriende ge­laat het. Hul­le harte het gebrand van verlange na hulle kin­ders en hulle het ook gehoor hoe die kin­ders al na hulle ver­lang. Self­versekerd en opge­wonde, het  hulle die aand die ont­vangs­toonbank gena­der. Die ont­vangs­klerk het sy be­spre­kings­­lys deurgegaan, sy kop geskud.

“Onmoont­lik!” roep  Garne  uit. “Ons het weke ge­le­de die be­spreking ge­doen. Daar móét ’n fout wees.” Sekerlik was daar ’n fout, maar dit was nie die lugdiens se fout nie. Dit was hulle eie fout! Hulle is uit­druk­lik ingelig, hulle moet ’n paar dae na die be­spre­king, be­vestiging vra. Maar, hulle was te besig en het dit na­ge­laat. Bui­tendien was dit slegs ’n for­ma­li­teit en hulle het dit nie ernstig beskou nie. Hul­le het die fout gemaak om te veel as van­selfsprekend te aan­vaar. Hulle was seker al­les sal op die einde vir hulle reg uitwerk. Met trane in die ma se oë en ’n knop in die pa se keel, moes hulle sien hoe die vliegtuig, op sy vaart huis toe, sonder hulle op­styg.

Daar is die baie groter teleurstelling waar­oor Jesus ons gewaarsku het, sluit die ver­tel­ler sy storie af: “Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie…’ Dan sal Ek openlik vir hulle sê: ‘Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af…’” (Mat.7:22,23). Die Bybel waarsku ons, om van ons roeping en verkiesing, seker te maak. Die skry­wer se eie woorde: “Day by day we must make it our busi­ness to confirm our covenant with Jesus Christ. Do it to­day and each day until He comes. We cannot afford to be disappointed in that critical hour.”

 

“Here, vandag wil ek sekermaak van my ewige le­we.”

Posted by Manie on Oct 27th 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

MAANDAG 29 OKTOBER – SY BELANGRIKE HOED

 MAANDAG        SY BELANGRIKE HOED

Lees Deurteronomium 6: 1 – 9

“…die Here is ons God…die enigste Here…jy moet jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag… dit moet in jou gedagtes bly…” ((4 – 6).

 

Deur al die grootste stede en dwarsoor die rys­lan­de van Japan, jaag die koeëltrein. Neil Verwey, sendeling in Japan, stuur vir ons die interes­san­te storie wat in die Yomiuri Nuus­blad in Japan ver­skyn het. Die trein word die koeëltrein genoem om­dat die voorkant van die trein soos ‘n koeël ge­vorm is en dit teen ‘n spoed van 220-300 km. per uur kan ry. Een rede waar­om die trein so vinnig kan ry, is dat sek­sies van die spoorstawe in een gelykstuk aanmekaar ge­sweis is om die trein sta­biel te hou. Daar is geen skerp draaie in die spoor­­lyne nie. Borsels aan die voorkant van die trein vee hindernisse van die spoor af. Binne-in die trein lyk dit nes ‘n vliegtuig.  Jou stoel kan te­rug­leun en die tafel voor jou kan af­slaan.  Koeldrank, kits middagete, vrugte, koekies of room­ys kan uit die peuselkroeg be­stel word.  Goeie kleedkamers – nes dié in vliegtuie.  Drie biljoen mense het in die afge­lope 25 jaar op die koeëltrein gery, son­der een noodlottige on­ge­val.  Een miljoen mense ry daagliks op die trein. Die room van die Ja­pan­ne­se spoorwegpersoneel dien op die koeëlsnel­treine.  Hulle het nog nooit ‘n onge­luk gehad nie. Dit was dus ‘n nuuswaardige ge­beurtenis, toe die drywer, van so ‘n voort­snel­lende trein, sy stuurkontrole ge­los het, na ‘n agterste treinwa geloop het, en sy hoed gaan haal het! Iemand het die owerhede in kennis gestel. Dit het drie dae ge­neem voordat die dry­wer erken het, hy het half aangetrek gevoel son­der sy hoed, en daarom het hy dit gaan haal. Die drywer het nie gedink dit is so ‘n groot oor­tre­ding nie. Onder an­der omstandighede was dit nie ‘n skokkende ge­­beure nie, maar as­ ver­ant­woorderlike drywer van die trein wat met 1 324 passasiers teen 300 km. voortgesnel het, was dit ‘n onver­skil­lige en gevaarlike daad.  Hy het dui­de­lik nie sy prioriteite reg gehad nie.

Vir ons as kin­­ders van God en volgelinge van die Here Jesus Chris­tus is dit nodig om te bepaal, wat geniet voorrang in ons lewe. In wat ons doen of sê kan ons God se eer in oneer bring en Christus se koninkryk skade aandoen.  Is ons prioriteite reg?  “Wees gereed, die heupe omgord en die lampe aan die brand….” (Luk.12:35). Ons vyand, Satan, sal probeer om ons aandag van God en sy belange af na geringer aardse sake weg te lok. “Julle is…. mense van die lig, mense van die dag…laat ons wakker bly en nugter wees…” (1 Tes.5:5,6).

“Here, vandag konsentreer ek op u belange.”

 

NEIL VERWEY, SENDELING IN JAPAN, BESOEK ONS,

SONDAG 4 NOVEMBER

                     Oggenddiens: 10.30vm. in die Kokanjesaal

Navrae: – Manie Colyn – (014) 715-2210

DONASIEKOEVERTE WORD BY DIE DIENS VOORSIEN.

Posted by Manie on Oct 27th 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

SATERDAG 27 OKTOBER – PADKOS

SATERDAG                         PADKOS

Uit die dagboek PADKOS.

 

Ek is die regverdige God wat kan red.. (Jes.45:21 ). – Dit be­te­ken dat God die mense met Homself ver­soen het deur die dood van Christus, want God sê, hulle is nou nie meer skuldig, oor die son­de wat hulle gedoen het nie (2 Kor.5:19). –dit is Jesus Christus, wat ons skuld be­taal het toe sy bloed aan die kruis ge­­vloei het. As iemand dit glo, kom daar vrede tus­sen God en hom…(Rom.3:25,26). – Dit is nog nie duidelik presies hoe ons in die toekoms sal wees nie. Wat ons wel weet, is dat ons soos Christus sal wees as Hy te­rug­kom, want dan sal ons Hom sien soos Hy werk­lik is (1 Jh.3:2).– As die Gees van God in julle woon, sal die­selfde God wat Christus weer lewendig ge­maak het, ook julle….weer lewendig maak. (Rom.8:11).).

Posted by Manie on Oct 20th 2012 | Filed in Padkos | Comments Off

VRYDAG 26 OKTOBER – GELEI DEUR SY KIND

VRYDAG            GELEI DEUR SY KIND

Lees Lukas 18: 15 – 17

“Laat die kindertjies na my toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle” (16).

 

In Die Bode van September 2000, die kwar­taal­blad van die Transnet Christelike Unie, skryf Leon Jones hierdie aandoenlike ervaring oor hom­self:

“Dit word laat,” sê ek vir my sesjaar oue seun­tjie. “Jy moet solank gaan inkruip.” Vandat ek en my vrou drie maande tevore van mekaar ver­vreemd ge­raak het, en ek my eie plek gekry het, bring Greg elke tweede naweek, by my in my woonstel deur. “Gaan ons nie eers bid nie?” vra hy heel onskuldig. Van kleins af het ons hom geleer en gehelp om voor sla­pens­tyd sy gebedjie op te sê, en dit was vir hom belangrik. Maar vanaand was dit reeds laat ek ek het nog baie werk gehad om te doen. Ek skakel my rekenaar aan en hoop hy sal sien ek is besig – miskien kan ons van­aand oor­slaan! “Wanneer kom Pa?” kerm hy egter. Ek dink by myself: laat ons dit agter die rug kry. Hy sal my tog nie ophou pla nie. Ons is na sy kamer toe en ek gaan langs hom op die bed sit, maak die Bybel oop en rammel ’n paar verse af. Toe ek die Bybel toemaak, kniel hy langs die bed. “Wie gaan eerste bid, Pappie?” “Bid jy maar eerste, my kind,” sê ek en hoop dit gaan nie lank neem nie. Ek het nog baie werk gehad. “Liewe Jesus,” begin hy, sy han­de onder sy ken gevou. “Dis Greg hierso.” Hy kyk op na my en glimlag ingenome met homself. Hy maak sy oë weer toe. “Ek het vandag ’n lekker dag gehad. Ek het met die dogterjie hier langsaan gespeel. Haar naam is Susan.” Hy bly weer stil en kyk op na my. “Weet lie­we Jesus dat Pappie en Mammie nie meer saam­ bly nie?” vra hy ernstig. “Hy weet,” antwoord ek stug. “Liewe Jesus, dis weer Greg hier,” bid hy ver­der. “Ek gaan môre weer terug na Mammie toe; so ek wil net vra dat U moet mooi kyk na Pappie en Su­san ook en…” Hy hou op en kyk bekommerd na my. “Susan se Pappie bly ook alleen, en sy van is ook Jones. Sal liewe Jesus nie deurmekaar raak nie?” “Nee, Greg,” kreun ek. Wanneer gaan hy tog klaarkry? “Is Pa seker?” “Ek is baie seker, Greg,” sê ek nou effens onge­dul­dig. “Hy weet wie’s ek en Hy weet wie’s Susan se pa.” “Is Pappie nou kwaad vir my?” “Nee, ek is nie kwaad nie, Seun – maar mens bid nie soos jy nie. As jy bid, praat jy met die Here. Jy kan nie ’n bietjie met Hom praat en dan weer ’n bietjie met my nie. Dis ’n ernstige saak om te bid.” “Soos die grootmense in die kerk?” “Soos in die kerk, ja!” Hy sluit weer sy oë. “Onse Vader, wat in die Hemel is…” Hy loer onderlangs vir my. “Ek bid vir Pappie en vir Mammie…ee…” Hy bly weer stil. “Is dit beter, Pa?” Skielik voel ek skuldig. Weg was sy spontaniteit en ek kon sien hy weet nie wat om verder te bid nie. “Greg, ver­geet wat ek gesê het – bid soos jy altyd gebid het – praat met die Here soos voorheen.” Hy glimlag verlig. “Liewe Jesus, dis weer Greg; Ek wil so graag hê Pappie moet te­rug­kom huistoe…” Ek onthou skielik hoe gelukkig ek en my vrou voorheen was; die liefde wat ons gedeel het en hoe wonderlik dit is om ‘n seun soos Greg te hê. Vir ’n oom­blik probeer ek dink waar dinge dan so ver­keerd ge­loop het. Was dit die stres van my werk? Was dit af­val­lig­heid van die Here? Verwag ons te veel van mekaar? Of was dit iets anders. Greg het gou aan die slaap geraak en ek het na my eie kamer toe gegaan, die deur agter my toegetrek en by my bed gekniel. “Here Jesus, dis Leon hier. Daar is iets waaoor ek met U moet praat.”

Wanneer ons, met watter probleem ookal, by hierdie plek kan uitkom, gaan die lig vir ons op. Ek wens so die vertelling het voortgegaan, om ons in te lig hoe hy saam met Greg na sy vrou toe terug is. Ek glo dit is wat gebeur het. Want die Here het belowe, as ons só nederig en af­hanklik kom bid, steek Hy sy hand uit en doen vir ons die on­moont­like. “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie…Hy het sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën” (Mark.10:14,16).

 “Here, vandag kom ek my saak soos ’n kind vir u vertel.”

Posted by Manie on Oct 20th 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

DONDERDAG 25 OKTOBER – DIE HARTELOSE KOETSIER

DONDERDAG       DIE HARTELOSE KOETSIER

Lees: 2 Korintiërs: 4:16-18

“Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid … wat ewig bly.” (17)

 

Een winterdag was ’n koets onderweg van Deer Lodge na Misoula. Die pad het oor Flint Creek gegaan. Die enigste twee pas­sasiers, ’n vrou en haar baba, wou in die erge koue verkluim. Die koetsier, wat hulle stip dop­ge­hou het, het die eerste tekens van verkluiming, lome­rig­heid, by die vrou opgemerk. Hy het stilgehou en die vrou uit die koets getrek. Terwyl sy wankelende langs die koets staan, Klimhet hy terug op die koets en ry weg. “My kind! My kind!” gil sy en hardloop strui­ke­len­de agter die koets aan. Die koetsier hou aan met ry. Gil­lende hardloop sy al sterker. Die koet­sier ry bietjie vin­niger. Hygend hou die vrou aan met hard­loop. Beur­telings roep sy na haar kind en dan skel sy weer op die koet­sier. Na meer as ’n half kilometer hou hy sy pe­rde in. Uitasem en warm kom sy by die koets aan. Hy laat haar in­klim, plaas die kind teen haar warm liggaam en vou hulle met ’n warm kombers toe. Sy harde optrede het albei se lewens gered.

God bemerk gevare wat ons bedreig. Seën en goed­heid sal nie die gewensde uitwerking op ons le­we hê nie. Hy plaas ons in omstandighede wat hard en pynlik is, maar dit bewerk ons redding en be­houd. Sodra sy doel bereik is met die swaarkry wat Hy aan ons uitmeet, wend Hy Hom ontfer-mend tot ons om ons te troos en te seën.

So het die Here met Israel gehandel: “Ek gaan haar wingerde en haar vyebome verwoes …Ek sal haar na die woestyn toe bring en mooi dinge vir haar sê en … ’n poort na ’n nuwe toekoms maak.” (Hosea 2:11,13,14).

 

”Here, ek wil vandag nadink oor my swaarkry en na U luister, sodat U my weer kan help en seën”

Posted by Manie on Oct 20th 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

WOENSDAG 24 OKTOBER – DEUR `N SLEUTELGAT GESIEN

      WOENSDAG    DEUR ’N SLEUTELGAT GESIEN

Lees Spreuke 18: 1 – 15   – Lewende Bybel

”As ’n mens sommer jou opinie oor ’n saak gee voordat jy mooi geluister het waaroor dit gaan, is jy dom en sal jy in die skande kom” (13)

’n Plaasseun het eenkeer masels gekry en moes in ’n donker kamer in die plaashuis bly, sodat sy oë nie deur die sonlig beskadig word nie, soos sy ouers geglo het. Die tyd het hom gou verveel en hy het by sy buitedeur ge­kniel en deur die sleu­tel­gat gekyk wat buite aangaan. Hy kon nie wyd sien nie. Hy kon net die dinge sien wat in die nou sigveld van die sleutelgat by die deur verbygaan. Een oggend kom sy pa se spog perd by die deur verby, gelei deur ’n stalwerker. Die perd se pens en bene is vol bloed. Dadelik is die seun kwaad. Die slegte werker, dink hy, hy het die perd natuurlik oor ’n doring­draad laat spring en die perd het homself beseer. Hy won­der wat sy pa met hom sal maak. Hy verdien om ter­deë gestraf te word. Net toe ver­skyn sy pa in sy gesigs­veld en hy sien hoe sy pa met die werker praat en oor die perd se pens streel. Hy kan nie hoor wat gepraat word nie, maar hy word eintlik warm net by die gedagte wat sy pa nou vir die werker sê. Bietjie later kom loer sy pa by hom in. Die eerste waarna hy vra, is wat sy pa met die slegte werker wat die perd verniel het, gaan maak. Sy pa gaan sit op die bed. ”Nee, Seun, daar is nie fout nie,” sê hy bedaard. “Die perd was siek en die werker was so oplettend om dit raak te sien en vir my daarvan te vertel. Ek het dadelik die vee­arts laat kom en hy het bloedgelaat. Dit is die bloed wat jy aan die perd moes gesien het. Jy het deur die gaatjie te min gesien en daarom het jy ’n ver­keerde gevolgtrekking gemaak. Leer nou van­môre hierdie goeie les: moet jou nooit uitspreek oor iets wat jy net deur ’n gaatjie gesien het nie.”

Dit is die groot gevaar om uit te praat oor iets wat mens net by iemand anders gehoor het. ’n Ver­standige mens kry eers die feite voor hy sy gevolg­trekking maak. Ons onderlinge verhoudinge, en veral ons verhouding as Christene met mekaar, vra vir versigtigheid in ons beoordeling van mekaar: “Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde” (Ef.4:2).

“Here, vandag wil ek versigtig wees in wat ek van ’n ander hoor en dan van die ander dink.”

Posted by Manie on Oct 20th 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

Next »