Archive for September, 2012

You are currently browsing the archives of Krag vir Vandag .

SATERDAG 6 OKTOBER – PADKOS

SATERDAG                   PADKOS

 

Hoe kan ‘n mens wat uit ‘n ander mens gebore is dan ooit voor God sonder skuld wees? (Pred.7:20). – Was my skoon van die skuld wat aan my kleef en reinig my van my sonde. Want ek besef hoe ver­keerd ek gedoen het en ek bly gedurig bewus van my foute (Heb.4:1). – Die Heilige Gees wat ook Here is, verander ons om al meer soos Christus te word en…sy heerlikheid te kan weerspieël (2 Kor.3:18). Abraham het aangehou om op God te vertrou en nie toegelaat dat daar twyfel in sy hart kom oor die belofte van God nie.….Want dit was om vir ons sondes te betaal dat (Jesus) dood­ge­maak is en dit was om ons saak by God reg te maak dat Hy weer lewendig gemaak is (Rom.4:20-24). –-  Ons sê ons glo dat God ons verlos het en ons sien uit na wat Hy nog vir ons  gaan doen. Hieraan moet ons vas­hou en nooit twyfel nie, want dit is God wat dit be­loof het, en op Hom kan ons reken (Heb.10:23). – Ons God is in die hemel en Hy maak presies soos Hy besluit het (Ps.115:3).  - Daar is niks wat vir God onmoontlik is nie (Luk.1:37).  – ….ons wat Christene is, kry ook swaar. Ons het reeds die Heilige Gees … maar ons verlang ook in ons harte na die oom­blik wanneer God openlik sal verklaar dat ons sy kinders is en ons heeltemaal sal vrymaak, ook van die gebreke van ons liggaam (Rom.8:23-24).

Posted by Manie on Sep 28th 2012 | Filed in Padkos | Comments Off

VRYDAG 5 OKTOBER – `N SWAK WERKTUIG SE KRAG

VRYDAG        ‘N SWAK WERKTUIG SE KRAG

Lees Johannes 6:1-15

“Hier is ‘n seuntjie met vyf garsbode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense (8,10).

 

Die uitgesproke ongelowige, William Hone, sien op ’n dag ’n seun­tjie met groot aandag sy Bybel lees. “Hoe­kom mors jy jou tyd met dáárdie boek?” vra Hone. Die kind ant­woord beleefd: “Dit is al wat my siek moeder kan troos, Meneer. Ek soek iets wat ek van­aand vir haar kan lees as sy nie kan slaap nie.” Diep geraak besluit William Hone om self die Bybel te lees. Dit het tot sy bekering gelei.  Voor in sy Bybel het hy ge­skryf:

 

The proudest heart that ever beat, hath been subdued in me;

The wildest will that ever rose, To scorn thy cause or aid thy foes,

Is quelled, my God, by Thee.

 

    Watter krag het ’n kind teenoor ’n wêreldwyse en ge­leerde man? Dit is nie ’n mens se eie krag of invloed wat ’n ander mens tot bekering kan bring nie. Dan sou net bui­tengewone mense vir die Here bruikbaar  wees. Dit is Christus se eie krag, wat deur sy Heilige Gees, deur die persoon wat Hy as sy instrument gebruik, werk, om iemand se hart te bereik. “Bewus van my swak­heid, en met groot angs en huiwering, het ek na julle toe ge­kom. Die boodskap wat ek verkondig, het julle oor­tuig, nie deur geleerdheid of welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees” (1Kor.2:3,4)

 

“Here, vandag vra ek dat U, met u krag, deur my werk.”

Posted by Manie on Sep 28th 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

DONDERDAG 4 OKTOBER – VIR MY

DONDERDAG                   VIR MY

Lees Romeine 3:21-26

“Almal het gesondig en is ver van God af, maar hulle word…vrygespreek vanweë die verlossing deur Christus Jesus”  (23,24).

 

Hangkop, hande diep in sy sakke, sleep­voetend en kreupel, strompel John Scott wa­terfront toe. Dis aand. Die don­ker, roe­rende seewater is sy bestemming. ’n Skielike, har­­de uitroep laat hom in sy spore vassteek: “Ge­krui­sig! Hulle het Hom ge­kruisig!” Hy kyk ver­skrik rond. Wie het geskree? Nou sien hy die half­ver­steek­te dokkesaaltjie. ’n Man op die ver­hoog is besig om te preek. Natuur­lik. Dit is Son­dagaand. Godsdiens en kerk het nog nooit in John Scott se le­we plek gehad nie. Vanáánd tref dáárdie woord hom in die kern van sy lewe. Hy het dit sién ge­beur. Dáárdie wrede ervaring dryf hom waterfront toe.

’n Jaar tevore is hy oorlog toe. Hy is ernstig gewond. Daarna bly hy siek. Ontslaan uit die weermag, onbevoeg vir oorlog of werk, dwaal hy in Bristol se strate rond. “Niemand gee om vir my nie!” skreeu sy gedagtes. Dít en sy skokervaring, dryf hom waterfront toe.

Hy gaan die saal versigtig binne en gaan sit. Die pre­diker se woorde begin hom boei. Hy raak by die ver­telling betrokke. “’n Paar maande gelede,” vertel die prediker, “was die Britse en Duitse magte in ’n deel van Frank­ryk slaags. ’n Britse sol­daat het ernstig ge­wond in ’n bomkrater tussen die gevegs­li­nies geval en bly lê. Sy vriend skreeu vir hulle of­fi­sier: ‘My maat lê daar! Ek gaan hom haal!’ Hy het plat­geval en na sy maat toe begin kruip. In die krater sien die gewonde man hoe sy maat nader en nader kruip. Amper daar,” ver­tel die prediker verder, ”sien ’n vy­­andelike pa­trollie die maat. Slaan hom plat en sleep hom weg. Teen ’n hout­af­dak spalk hulle hom oop; kruisig hom en laat hom in die versengende hitte hang om te sterf.” Toe die pre­­diker die woord “gekruisig” uit­spreek, verdon­ker John Scott se ge­sig. Die pre­diker gaan voort: “Hul­le het gedink die man in die bomkrater is dood en hulle het hóm met rus ge­laat. In die bomkrater het die ge­won­de man mag­teloos, doodstil, alles sien gebeur: die brutale wreedheid, die gekruisigde man se ly­ding en sta­dige dood. Hy sal nooit kan vergeet hoe sy vriend sy lewe só gegee het om hom te probeer red nie.” Na ’n oom­blik van stilte sluit die prediker sy preek af: “Onthou ú nog die Man wat ook só vir u gely en ge­sterf het? Wat het u al gedoen om u dank­baarheid en u liefde vir Hóm te bewys?”

Die diens eindig en John Scott sluip vinnig deur toe. Die prediker is ook daar en by die deur lê hy sy hand op John se skouer. “My seun, het jy al die He­re Jesus, wat vir jóú gekruisig is, aangeneem as jóú redder?” “Nee,” antwoord John, “maar ek wil. Ek het nooit geweet die evangelie is oor so iets nie. Van­aand verstaan ek dit. Ek verstaan dit baie goed. U sien. Ek was die gewon­de soldaat in die bomkrater. Ek het gesien hoe sterwe Bill vir my.”

Hy en die prediker kniel saam. Die prediker maak sy By­­bel by Romeine 5:6 oop en lees die woorde: “Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe … God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars  was.” John het geglo en Christus met ’n eenvoudige gebed as sy Verlosser aangeneem.

 

“Here, vandag weet ek U het vir my gesterf. Ek glo en dank U.”

Posted by Manie on Sep 28th 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

WOENSDAG 3 OKTOBER – DIE GEVAAR VAN GERIEF

 WOENSDAG        DIE GEVAAR VAN GERIEF

Lees Deuteronomium 32:13-18

“Jesurun het alles in oorvloed gehad; hy het in opstand gekom … hy het dom geword” (15)

 

Baie jare gelede, vertel T. deWitt Talmage, is ’n groot getal bykorwe na die eiland van Barbados in Wes-Indië geneem. Die bye begin dadelik, volgens ge­woonte, ywerig rondvlieg om heuning by­mekaar te maak vir die winter. Op die Barbados­eiland is daar nie ’n winter nie – net ’n voort­du­ren­de somerklimaat. Die bye ­kom dit agter, staak hulle ywerige werkery en vlieg net rond en steek die inboorlinge. Die doel waarvoor hulle na die Barba­doseiland geneem is, om vir die inboor­linge heu­ning te voorsien en ’n seën te wees, het hulle verbeur en ‘n plaag ge­word, wat vir die in­boorlinge pyn en ongerief gebring het.

Dit is by ons ook ’n natuurlike neiging om in om­standighede van oorvloed en gerief, ons inspan­ning en ywer te verslap, ons aan ledigheid oor te gee en, ongelukkig, soms ook stekerig teenoor an­der te raak. Ons spreekwoord is ongelukkig waar: Ledigheid is die duiwel se oorkussing. Rev. Jay het eenkeer in Bristol gepreek. Briefies met gebeds­ver­soeke is na hom toe deurgegee. Een briefie het gelui: “Bid vir my. My besigheid floreer”. Rev. Jay het vir homself gesê: “Hier is ’n man wat die Bybel baie lees en iets van die bedorwenheid van sy eie hart ken.” Dit was ook Dawid se ondervinding: “Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan u woord” (Ps.119:67).

In tye van oorvloed en gerief word ons gebeds­­lewe korter, ons Bybellees word minder, want ons het nie bemoedigende beloftes nodig nie, en baie keer word ons stekerig teenoor ander mense. Die vroeëre Christene het ook in tye van vervolging na-by aan die Here gelewe, maar sodra hulle omstan­dig­hede maklik geword het, het afvalligheid inge­kruip. Paulus skryf aan die gemeente in Galate: “Julle het mooi aangegaan. Wie het julle van koers laat verander…God het julle geroep om vry te wees. Maar dit beteken nie dat ons sonde kan doen en dan die vryheid gebruik as ’ n verskoning nie. Ons moet eerder mekaar liefhê en mekaar dien… (Gal.5:7,13,15,16,17).

“Here, vandag wil ek versigtig wees in my omstandighede.”

Posted by Manie on Sep 28th 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

DINSDAG 2 OKTOBER – `N GETUIE

DINSDAG                  ’N GETUIE

Lees 2 Timoteus 1:3-11

“Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie…” (8)

 

Dr. Harry Rimmer vertel in Miracles at Morning Cheer, van die jongman wat sy eerste nag in die militêrekamp beleef, toe hy sy diensplig in die leër be­gin. Hy kry sy slaapplek tussen ’n groot aantal ander jong soldate. As ’n toegewyde Christen was dit tuis sy die gewoonte, om elke aand sy Bybel op sy bed neer te sit, te kniel, sy hoofstuk uit die Bybel te lees en dan knielende, te bid. Nou, omring met ruwe manne, wat luid gesels, grappe maak, vloek, op mekaar skree, oorweeg hy om in sy bed te klim en sy Bybel ongemerk, on­der die bedekking van die lakens te lees. Hy praat met homself: “Ek is ’n Christen en dissipel van ’n Meester wat ter wille van my bespot en verwerp is. Ek moet ’n getuie vir Hom wees, ook voor hierdie manne. Ek gaan doen wat ek tuis gedoen het.” Hy trek sy slaap­klere aan. Haal sy  Bybel uit sy tas en sit dit op die bed neer. Hy kniel en begin lees. Daarna bid hy. Binne twee minute raak dit in die barakke doodstil. Hy voel soos ’n klein goue vissie in ’n glasbak. Die mid­del­punt van ’n stil­swyende aandag. Na hy van sy knieë af opgestaan het, begin die pratery weer, maar niemand sê ’n woord oor sy vreemde gedrag nie. Die volgende aand, toe hy sy Bybel uithaal en gereedmaak om te lees en te bid, haal agt ander manne ook hulle Bybels uit en volg sy voor­beeld. Binne ’n maand word hy ’n geliefde kameraad vir al­mal. Manne kom met probleme en vrae na hom toe.

Uit eie krag kan mens nie ’n getuie vir Jesus wees nie. Hy word in hierdie wêreld te veel gehaat en verag. Dit is hoe Paulus, Timoteus bemoedig het: “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing….Jy dan my seun wees sterk deur die genade wat ons in Christus Jesus het… Dra jou deel van die ontberinge soos ‘n goeie soldaat van Christus Jesus” (2 Tim.1:7 & 2:1,3).

“Here, vandag vra ek u krag om vir U ’n getuie te wees.”

Posted by Manie on Sep 28th 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

MAANDAG 1 OKTOBER – SOETE WRAAK

MAANDAG                   SOETE WRAAK

Lees Matteus 5: 3 – 13

“Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”

 

’n Vrou het op haar klein plotjie, op die grens van ‘n plattelandse dorp, in Enge­land, gewoon.  Sy was afhanklik van haar groen­tetuin se opbrengs. In haar tuin het ’n perskeboom ge­staan. Van die dorpseuns het lus gekry vir die boom se prag­ti­ge ryp pers­kes. Een nag kom hulle toe ook stil­letjies vrugtesteel. Die vrou het juis dáárdie mid­dag die boom se drag afgepluk. Sy wou dit die volgende dae verkoop. Uit wraak, omdat die vrugte afgepluk was, maak hulle die hei­ning tussen haar en die buurman, wat met varke boer, oop en laat die var­ke na hartelus, met groot skade, in haar groen­te­beddings baljaar. Die volgende oggend kyk sy na die verwoesting in haar tuin. Sy sien ’n mes lê. Op die hef van die mes was die naam van een van die seuns uitgekerf. Sy het die seun ge­ken. So het sy geweet wie vir haar skade verant­woordelik was. Niks het verder van die saak geword nie.

Gedurende die vol­gende maande kom die seën van ’n geestelike herlewing in die dorp se kerke. Mense kom tot bekering. Een van die persone wat tot bekering kom, was daardie seun, die vrug­te­steler. Onder die dade waaroor hy onder sonde­oortuiging kom, was die lelike mis­daad in die arm vrou se tuin. In sy bekeerde hart weet hy hy moet sy wandaad aan die weduwee gaan bely. Die nu­we vryheid wat die Heilige Gees, deur sy geloof in sy Ver­losser, Jesus Christus, gebring het, gee hom moed om na haar toe te gaan en alles te vertel. Sy gaan haal sy mes en sê met ’n glimlag: “Ek het geweet dit was jy en jou maats wat dit ge­doen het.” “Hoekom het Tannie ons nie gaan aan­gee en ons vir die skade laat betaal nie?” vra hy uit die veld geslaan. Sy glimlag dieper. “Daar was ‘n beter manier.” “Wat was dit?” vra hy steeds verbaas. “Ek het vir jou en jou maats se redding begin bid. Die Here het  my ver­hoor.”

Die vrou het soete wraak geneem! In haar hart was die wete sy het God se weg van liefde gevolg. Sy beleef die vrug van haar gehoorsaamheid: ‘n ander se bekering.

“Here, vandag wil ek aan ’n ander goeddoen.”

Posted by Manie on Sep 28th 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

SATERDAG 29 SEPTEMBER – PADKOS

SATERDAG                             PADKOS

Uit die dagboek PADKOS, met verse uit die Lewende Bybel,

 

Moenie bang wees nie, want Ek het jou verlos. Ek het jou op jou naam geroep, jy behoort aan My. As jy deur diep water moet gaan, sal Ek by jou wees. As jy deur riviere moet gaan, sal hulle jou nie weg­spoel nie (Jes.43:1). Jou sonde en jou mis­da­de het Ek soos ‘n miswolk weggevee. Kom te­rug na My toe, want Ek het jou verlos (Jes.44:22). Die prys wat vir julle betaal is, was die kosbare bloed van Christus. Want Hy is die volmaakte en fout­­lose Lam van God wat vir ons geof­fer is (1 Pet.1:19). Maar daar is Een wat hulle vrymaak, en Hy het groot krag…Hy sal hulle saak verdedig en Hy sal vre­de in hulle land bewerk (Jer.50:34). Die ska­pe wat my Va­der vir My gegee het, is die be­lang­­rikste van almal. Niemand kan hulle uit die han­de van die Vader uitruk nie (Joh.10:29). Dit is hier­die Here Je­sus wat sy lewe gegee het om die prys van ons son­des te betaal en ons te red uit hier­die sondige wê­reld waarin ons nou is. (Gal.1:3-5). Ek sal ver­tel van die Here se getroue liefde en Hom prys vir wat Hy alles gedoen het, en vir alles wat Hy ons ge­gee het (Jes.63:7). Maar God se ge­na­de en liefde is baie groot. Selfs toe ons nog gees­telik dood was in die sonde het Hy ons saam met Christus lewendig ge­maak…Hy het ons met Christus Jesus verbind sodat ons ook saam met Christus uit die dood lewendig gemaak is en saam met Hom ‘n ereplek in die hemel gegee is (Ef.2:4-6).

Posted by Manie on Sep 22nd 2012 | Filed in Padkos | Comments Off

VRYDAG 28 SEPTEMBER – NEE DANKIE – VIR REDDING

VRYDAG           NEE DANKIE – vir REDDING

Lees Markus 10: 17 – 27

“Jesus het na hom gekyk, en hom liefgekry en vir hom gesê: ‘Gaan verkoop  alles wat jy het…Kom dan terug en volg My.’ Hy het egter geskrik toe hy dit hoor…en weggegaan, want hy het baie besittings gehad” (21,22).

 

In An Evangelic Mission Press Tract word vertel, ’n magtige Opperhoof stuur sy man­ne uit om oor­log te maak. In een van die dor­pies woon ’n man en sy vrou en hulle seun. Hulle ont­kom  self aan die vyandelike magte, maar hulle seun is as ’n slaaf weggevoer. Die man troos sy treurende vrou met die woor­de: “Ons wéét waar hy is. Ons sal hard werk en spaar en as ons genoeg ivoor, goud en diamante het, sal ons ons kind gaan te­rug­­koop.” Intussen het die Opper­hoof dáárdie seun as sy per­soon­like slaaf aan­gestel. Hy hou sommer baie van die seun.

Na drie jaar se harde werk , sê die pa van die seun vir die ma: “Maak kos reg vir die lang pad. Ons gaan ons seun soek.” Na ‘n maand bereik hulle het die dorp van die vyan­dige Op­per­hoof. Hulle praat met die Opperhoof oor hul­le seun. Hy is baie tegemoetkomend. “Die seun wat jul­le beskryf,” sê hy, “is nou my per­soonlike slaaf en ek hou van hom. Hy werk baie mooi. Ek kan hom net vir julle teruggee as julle ’n groot prys vir hom sal betaal,” en hy noem die prys wat hy seker was hulle nie sou kan bekostig nie. Die ou­ers haal die skat uit wat hulle byme­kaar gemaak het en sit dit voor die Opperhoof neer. Die Op­per­hoof, sy raadgewers en die hele dorp is ver­stom oor alles wat hulle vir hulle seun se losprys gebring het. Die Opperhoof laat die seun haal. “Ken jy hulle?” vra hy vir die seun. “Ja, hulle is my ouers,” antwoord hy verstom. “Hulle het jou kom loskoop. Kyk wat het hulle alles ge­bring. Ek sal jou vrystel.” Die seun raak baie ontsteld. “Hoe­kom het julle gekom?” skreeu hy. “Dis lekker hier. Ek het baie te eet, baie klere, baie geld, baie vriende. Meer as in julle dorp. Ek wil nie gaan nie! Ek wil hier bly!” Die ouers probeer pleit, maar hy wil van niks hoor nie. Die ouers is met groot droefheid terug na hulle dorp toe.

Na ’n lang ruk word die Opper­hoof siek en sterf. Sy mense sê: “Ons sal hom nie alleen op hierdie lang reis laat gaan nie. Iemand moet saamgaan.” Een van die raad­ge­wers sê: “Hy was baie lief vir sy per­soonlik jong slaaf. Hy moet saamgaan.” Hiermee laat die man­ne die seun haal en vertel hom wat nou vir hom wag. Verskrik skreeu hy: “Nee, roep my pa ….!” Maar hulle gryp hom, bind hom vas en be­grawe hom saam met die Opperhoof.

Dit is ‘n eenvoudige verhaal. Dalk nie eers  waar nie. Soos ’n gelykenis beklem­toon dit ’n geloofs­waarheid, waarvan ons goed be­wus is en dalk só helderder kan begryp. Die lekker van hier­die wê­reldse lewe, wat ons laat nee sê vir die groot los­prys wat die Here Jesus aan die kruis vir ons be­taal het, is ’n kort lekker, ’n lekker met ’n einde. En dit is ’n smartlike einde. “Die uit­einde van dié dinge is die dood…die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here” (Rom. 6: 21).

 

“Here, vandag soek ek die ewige lewe wat U gee.”

Posted by Manie on Sep 22nd 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

DONDERDAG 27 SEPTEMBER – VERTROU EN SING

DONDERDAG     VERTROU EN SING

Lees Handeling 16: 16 – 35

“Teen middernag was Pau­lus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing…(24,25)

 

Jare gelede strand die Engelse stoomskip Stel­­­­la, in ’n hewige storm teen ‘n rotsagtige kus, vertel Roy Zuck. Twaalf vroue wat aan­boord was, is in ’n reddingsboot ge­plaas. Die onstui­mige see het die boot da­de­lik weg­gevoer. Hulle het ’n verskrikkende nag in die siedende storm deurgebring. Dalk sou hul­­le alle hoop opgegee het, as dit nie vir die Chris­ten­sange­res, Margaret Wil­liams, was nie. Sy het die verskrikte en skreeuende vroue tot be­da­ring gebring en kalm God gebid om hulle te red. Om almal se geloof te ver­sterk het sy ge­loofs­lie­dere begin sing. Deur die donker ure het haar helder stem oor die deinende bran­ders gegalm. Vroeg die vol­­­gende og­gend gaan soek ’n reddingsboot na hul­le. Die digte mis maak dit vir die le­wens­redders on­moont­lik om verder as ’n paar tree voor hulle te sien. Hulle hoor die singende stem van Mar­garet Wil­liams, wat uit die aria Elijah sing: “Oh, rest in the Lord, wait patiently for Him.” Hulle stuur op die klank van die stem af en die vroue is gered. Versterk ú geloof.

Bly by my,  Heer, terwyl die skadu’s daal;

Laat tans u lig my donker pad bestraal!

Daar is geen ander hulp of troos vir my –

Hulp van die hulpelose, staan my by!

U het my, Heer, van jongs af steeds behou,

Al was ek soms opstandig en ontrou;

Soos ek van U, was U nooit ver van my;

Wil tot die einde dan nog by my bly!

Vertoon u kruis, Heer, aan my sterwende~oog;

Skyn deur die skeemring, wys my na omhoog;

Reeds daag die lig, van aardse skadu’s vry –

O bly deur dood en lewe, Heer, by my!

 ”Here, vandag wil ek singende by U skuil”

Posted by Manie on Sep 22nd 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

WOENSDAG 26 SEPTEMBER – DIE TOETS

WOENSDAG                DIE TOETS

Lees Efesiërs 5: 6 – 20

“Leef dan as mense van die lig…Wees baie ver­sig­tig hoe julle lewe…” (8-16).

 

’n Christen barones, in die hoogland van Nai­­ro­bi, Kenia, het `n inboorling van die omgewing in diens geneem, vertel Leslie Flynn. Hy was beson­der skerp­sinnig en goed­ge­aard. Hy het sy werk vin­­nig ge­leer en die vrou was baie te­vre­de met sy diens. Na drie maande, vra hy by haar ’n aanbe­ve­lings­brief om by ’n vrien­delike Sheik, wat enige ki­lo­meters verder gewoon het, werk te kry. Sy wou die knap jongman nie verloor nie en bied hom ’n loon­verhoging aan. Hy ver­duidelik, hy gaan nie weg oor sy loon nie, maar hy weet hy moet oor sy gods­diens be­sluit. Hy wil nie sonder godsdiens­ge­loof deur die lewe gaan nie. Dit is hoekom hy vir haar kom werk het. Hy het geweet sy be­hoort aan die Chris­telike ge­loof en hy wou self sien hoe leef so iemand in die huis. Nou gaan hy na die Mos­lem­man toe om te sien hoe leef ’n Moslem. Dan sal hy besluit of hy ’n Christen of ’n Moslem gaan word. Leslie Flynn skryf: “The ba­ro­ness was stun­ned as she recalled her many ble­mishes in her dea­lings with the housboy. She could only ex­claim, ‘Why didn’t you tell me at the beginning!’”

Dit is ’n betroubare toets, van die egte innerli­ke lewe: hoe gedra mens jou in jou eie huis teenoor jou eie mense?  En veral teenoor jou minderes? ’n Mens het nie van nature so ’n goedheid in ’n  jou innerlike lewe, dat Christelike gedrag daar­uit voort­vloei nie. Slegs as Christus se eie geaardheid, deur die Heilige Gees in ’n mens se hart ingeplant word, kan ’n mens dit ook as spontane, priva­te le­wens­wyse uitleef. “Die…Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien (en)… het hulle as volgelinge van Jesus herken” (Hand.4:13).

 

 “Here, vandag wil ek u lig laat skyn uit my lewe.”

Posted by Manie on Sep 22nd 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

Next »