Archive for February, 2012

You are currently browsing the archives of Krag vir Vandag .

DONDERDAG 1 MAART – DIE BERG IN DIE SEE

DONDERDAG          DIE BERG IN DIE SEE

LEES: Matteus 21: 18 – 22

“As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra” (22).

            Frances Johnson doen op ’n dag met ’n stuk of twintig In­­diërmeisies van die Sendingweeshuis van Poona, uit Matteus 21 Bybelstudie. Hulle lees vers 21: “Julle sal vir hierdie berg kan sê: ‘Lig jou op en val in die see!’ en dit sal gebeur.” Een van die meisies vra: “Kan dit regtig gebeur?” Frances weet dadelik hoekom sy dit vra. Rondom Poona is dit baie berg­agtig. Die weeshuis staan reg agter ’n hoë kop. In die winter verdwyn die son gou agter die kop en die weeshuis lê van vroeg middag af in die koue skaduwee. As dié kop kon verdwyn, sou dit vir almal ’n groot bate wees. “Kan dit regtig ge­beur?” vra die meisie weer. Frances se geloof het vir so ’n dramatiese gebeurtenis kortgeskiet. “Kom ons bid almal daaroor,” probeer sy uit die hoek kom. Hulle bid saam en almal vra die Here om die kop weg te neem.

Juis op daardie tydstip moet Frances vir ’n paar weke weggaan. Toe sy die meisies groet moes sy beloof om saam met hulle aan te hou bid dat die Here die kop sal wegneem. Dit was ’n half­hartige belofte. ‘n Paar dae na haar vertrek, daag ’n staatsamptenaar by die weeshuis op. Sy de­par­te­­ment wil ’n grondherwinningsprojek langs die baai aanpak. Hulle het grond nodig om ’n stuk van die baai op te vul. Hulle wil die hele kop by die wees­huis koop. Die transaksie word gou beklink. Binne ’n paar dae da­wer en dreun dit om die weeshuis soos die stoot­skra­pers en vragmotors die kop se grond wegry see toe!

Frances kan haar oë nie glo toe sy na ’n paar we­ke by die weeshuis tuiskom nie. Die kop het  verdwyn. Dit lê in die see! Die laat middagson skyn warm oor die weeshuis. Die meisies se geloof is beloon. Jesus se belofte is bewaarheid.

God se wonderwerke bestaan nie altyd in bo-aardse, dra­matiese gebeurtenisse nie. Hy orden omstandighede en bestuur menseplanne op ’n wyse wat sy wil ’n werk­lik­heid maak. En waar om­stan­dig­hede en menseplanne te kort skiet vir wat moet gebeur, gebruik God sy wonder­werkende krag, want Hy is almag­tig. As ons verhouding met God reg is, en deur Jesus Christus sy kinders is, kan ons Jesus se be­lof­te ernstig opneem en met die Heilige Gees se onder­steunende krag, van ons hemelse Vader die dinge vra wat ons nodig het. “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versug­tinge wat nie in woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat volgens sy besluit geroep is” (Rom.8:26-28).

 

“Here, vandag bid ek vir dit wat ek nodig het.”

Posted by Manie on Feb 25th 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

SATERDAG 3 MAART – PADKOS

SATERDAG          PADKOS VIR VANDAG

Uit Padkos – die dagbboek uit die Die Lewende Bybel.

 

… ek sal sing van u krag en U elke môre met vreug­de prys oor u liefde…U is my krag…U is my vesting, U is my getroue God., want U was my ves­ting en my veilige skuilplek in gevaar (Ps.59:17). – Solank dit met my goed gegaan het, het ek gedink dit kan met my nooit skeef loop nie…maar toe U ophou om aandag aan my te gee, was dit vir my `n groot skok. Here dit was na U wat ek toe om hulp geroep het en by U het ek om genade gesmeek …. Luister na my, Here, en kry my tog jammer, help U my, asseblief! (Ps.30:7-11) – Al sou `n mens trane stort in die nag, gee die Here die volgende môre weer blydskap (Ps.30:6).

Posted by Manie on Feb 25th 2012 | Filed in Padkos | Comments Off

VRYDAG 2 MAART – PRAKTIESE VOORBIDDING

VRYDAG        PRAKTIESE VOORBIDDING

 

LEES: Efesiërs 6: 10 – 20

“…bid gedurig vir al die gelowiges. Bid ook vir my dat wanneer ek preek, God my die woorde gee dat ek die geheimenis van die evangelie met vry­moe­dig­heid kan bekend maak” (18,19)

 

‘n Predikant was besorgd oor die geestelike le­we van ‘n meisie, wat lang ure in ‘n fabriek moes werk. Hy het ge­weet sy is ‘n kind van die Here, maar hy doen by haar na­vraag of sy, te midde van haar besondere gebonde lewe, deur haar werk by dié bepaalde fabriek, ooit nog tyd kry om vir die Here ook iets te doen. Sy het geantwoord soos hy gevrees het. Haar werksprogram laat haar net nie toe om ook nog betrokke te raak by kerklike werk nie. “Maar,” voeg sy by, “elke aand koop ek ‘n koe­rant en neem dit na my kamer toe.” Geskok sê die dominee: “Dis goed om die koerant te lees, maar ek kan nie sien hoe dit met ons ge­sprek iets te doen het nie.” Sy verduidelik geduldig: “Ek blaai eerste na die persoonlike advertensies se af­de­ling toe. Ek lees die geboortekennisgewings. Dan bid ek vir elke baba by naam – dalk bid nie­mand anders ooit vir hulle nie. Dan lees ek die hu­we­liksaankondig­inge en bid vir elke paartjie afson­der­lik dat die Here hulle moet lei en help. Dan lees ek die doodsberig­te en bid vir die bedroefdes wat agtergebly het vir krag en geloof.” Die dominee is diep aangedaan toe hy van haar af wegloop. In haar swakheid en eenvoud is sy met ‘n gebeds­bediening besig wat hom beskaam. Sy was ‘n krag in die hand van die Here en niemand sal weet watter seën haar manier van voorbidding vir mense en vir die Here se koninkryk gebring het nie.

Voorbidding is ‘n groot en magtige bediening. As ons die koerant lees en vir die mense wat by die nuusberigte betrokke is sou bid, hoeveel seën kan daar nie vir die wêreld daaruit voortvloei nie? Ons moet vir die Here getuies wees, ook wer­kers, maar ons grootste krag kan wees, as ons op ons knieë is en vir die Here se koninkryk voorbidding doen.

In Die Spoorwegbode, Junie 1981, staan hier­die woorde: Deur die eeue is heersers onttroon, leërs ver­slaan, geweldenaars tot vernedering gebring, herlewings be­gin, omdat ‘n vasberade enkeling, of ‘n handjievol desperate gelowiges, op God vertrou en Hom aangeroep het.

 

“Here, vandag bid ek vir die uitbreiding van u koninkryk.”

Posted by Manie on Feb 25th 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

WOENSDAG 29 FEBRUARIE – DIE EERSTE BELANG DIE BEST

 WOENSDAG   DIE EERSTE BELANG DIE BESTE

LEES: Kolossense 3:23 – 25

“En wat julle ookal doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang, want julle dien die Here Christus”. (23,24).

 

`n Jong jodin het tot diep en oortuigende beke­ring gekom. Met `n hart vol liefde vir die Here Je­sus, begin sy dadelik by haar werk in `n groot firma getuig en met mense oor Christus praat. Van die firma se personeel kla by die firmapresident oor haar gesprekke met hulle. Die president het haar inroep en belet om verder met die werkers oor godsdiens te praat. A Naismith skryf oor haar reaskie: “All right,” she replied, “then I shall  have to leave, for I cannot work, where I cannot take my Saviour and witness for Him.” Die president het geantwoord: “As dit is hoe jy daaroor voel, moet jy maar jou posisie prysgee.” Sy het `n bejaarde moe­der gehad wat sy onderhou het, en sy kon nie dink waar sy weer dadelik werk sal kry nie. Maar sy antwoord die president: “Soos u sê, goed, ek gee my posisie in hierdie firma prys, want ek kan nie ontrou teenoor Jesus Christus wees nie.”

Terwyl sy die Saterdag van daardie selfde week haar kantoor opruim, word `n koevert van die pre­si­dent af na haar toe gebring. Sy verwag dit is haar skriftelike afdanking en skeur die koevert oop. Sy lees: “Ons het `n posisie in ons firma met groter ver­antwoordelikheid, as die een wat jy nou gevul het. Ook groter salaris. Ons beskou jou as die regte persoon om daardie pos te vul. Ons bied jou dit aan.”

Naismith skryf oor die oortuiging, waartoe die president moes gekom het, oor hierdie volgeling van Jesus; “One who is loyal to her Lord is one who will be loyal to her boss, if he does not ask her to do anything of which her Saviour would not approve.”

Nog nooit het iemand, in `n uitdagende krisis, aan die Here Jesus getrou gebly nie, of Hy kom na daardie volgeling van Hom terug met `n seën. In Johannes 15:9 sê Jesus: “Soos die Vader My liefgehad het, het ek julle ook liefgehad. Bly in hierie liefde van My.” Dit is vir ons almal `n geseënde plek.

 

“Here, vandag wil ek met u krag  in u liefde bly.”

Posted by Manie on Feb 25th 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

DINSDAG 28 FEBRUARIE – EK SOU OOPMAAK

 DINSDAG                  ÉK SOU OOPMAAK!

LEES: Openbaring 3: 14 – 22

“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom maaltyd hou…” (20)

 

`n Wyksbesoeker het by `n huis `n muur­ka­len­der af­ge­­gee. Die kalenderprent was `n reproduksie van Holman Hunt se skildery, wat die kloppende Heiland toon, vertel Moo­dy Monthly. Die ma van die huis, en haar seuntjie, het die kalender klaar opge­hang, toe die pa van sy werk af, vir sy mid­dag­ete op­daag. Dadelik soek die seuntjie sy aandag: “Kyk, Pap­pa! Wie is dit?” Die pa kyk na die prent, maar antwoord nie. Weer vra die seuntjie: “Pap­pa, sê vir my wíe is dit?” Uiteindelik sê die pa: “Dis `n man.” “Watter man, Pappa? Wat is sy naam?” Onwillig, maar gedwing deur die gre­tig­heid van die seuntjie, antwoord hy: “Jesus.” “Maar wat doen Jesus daar?” vra hy. “Hy klop aan `n deur.” “Hoekom klop Hy?” “Hy wil na­tuur­lik ingaan.” “Hoe­kom maak hulle nie vir Jesus oop nie?” Die pa eet stil­wyend voort. Die seuntjie bly oor Jesus en die toe deur uit­vra. Ernstig sê hy: “Ek sou vir Hom oopgemaak het. En Pappa?” Die pa begin baie on­ge­maklik voel, eet vinnig klaar en vertrek gou-gou terug werk toe. Die seuntjie se aanhoudende vrae oor Jesus en daardie toe deur het `n stroom van on­rus­tige gedagtes in hom ont­roer.

Hy kom eers weer van sy werk af na die seuntjie al gaan slaap het. Sy vrou vertel hom hoe die seuntjie die hele middag, tot na aandete en hy bed toe moes gaan, oor Jesus en die toe deur bly vra het. Die man en vrou gaan sit by mekaar. Albei erken die seuntjie se vrae het in húlle vrae ontketen, wat hulle lankal stilgemaak en on­der­druk het. Hulle erken aan mekaar hoe hulle die deur in hulle lewens vir Christus toegehou het. Hul­le kniel saam, bely hulle sonde en maak hulle harte oop en neem Jesus aan as hulle Verlosser.

Die klop aan die deur van die hart kom op baie ver­skillende maniere. Onder die luister na `n preek, `n skrifdeel met Bybellees, iets wat iemand sê, `n gebeurtenis, `n treffende nuus­be­rig in `n koertant, baie maniere. Die klop kan sag wees, eers amper onhoorbaar, maar dit hou aan en `n mens word be­wus van die Heilige Gees se werking in die hart en denke. Die klop kan ook hard en dringend wees, wat hewige aandoening in die gemoed teweeg­bring. Jesus se klop aan die deur van ons hart is egter `n innerlike bewussyn, die Here praat met my, Hy soek toegang in my lewe. Moenie die deur laat toe bly nie. Maak vir Jesus oop.

 

“Here, vandag maak ek die deur van my hart vir U oop.”

Posted by Manie on Feb 25th 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

MAANDAG 27 FEBRUARIE – BRING VIR MY `N ESEL

MAANDAG      BRING VIR MY `N ESEL

LEES: Lukas 19: 29 – 35

“…as julle (in die dorp) inkom, sal julle `n esels­vul vind…maak hom los en bring hom…die Here het hom nodig”. (30,31)

 

Dit lyk soms aan `n persoon se gedrag en ver­moëns of hy/sy onbevoeg is om deur die Here ge­bruik te word. En soms voel `n mens oor jouself ook so. So `n seun was klein Isaac Watts. Hy was `n regte klein rymelaar. Hy kon feitlik niks sê nie, of hy het `n rympie daarvan gemaak. Een oggend tydens die gesin se oggendgodsdiens terwyl sy pa nog bid – sy pa was `n predikant – lag hy skielik. A.Naismith skryf: “This brought down the godly minister’s wrath on his frivolous son.” Hoekom het hy gelag, wou sy pa en die ander gesinslede weet.  Hy antwoord: “There was a rat for want of stairs; he climbed up the rope to say its prayers.” Sy pa staan op en maak gereed om die onmoont­like mannetjie soos nodig te tugtig. Maar klein Isaac skree terug: Oh father, do some pity take; and I shall no more verses make.” Ongelukkig ver­tel Naismith nie verdere insidente van die seun nie, tot een oggend toe hy saam met sy pa by hul­le kerk is, vir die Sondag diens. In daardie dae is slegs Psalms in die kerkdienste gesing, en dit is waar­dig, maar nie hart­lik gesing nie. Vyftienjarige Isaac sê vir sy pa, die predikant: “The singing of God’s praise is the part of worship nighest to heaven, but its performance among us, is the worst on earth.” Sy pa antwoord: “Gee ons iets beter!”  Nou skryf Naismith: “And he did so in over 600 hymns. One of the finest and best known has as its theme ‘The Cross of Christ’:

When I survey the wondrous cross

on which the Prince of glory died…

 En óns ken dit goed:

As ek die kruishout gadeslaan,

waaraan die Hemelkoning hang,

is al my pogings enkel waan,

verfoei ek trots en selfbelang.

Kyk hoe sy hand, sy hoof, sy voet

sy smart en liefde saam vetoon;

hoe liefde^en smart mekaar ontmoet

hoe doringvlegsels Hom daar kroon!

            Ek weet nie hoeveel van ons Afrikaanse geestelike lie­dere van Isaac Watts af kom nie, maar oor die ge­noem­de lied het ek in die groot Hallelujaboek gaan kyk, en onder,  in die hoek van die lied, staan sy naam. Vir hoevele was hierdie lied nie al `n boodskap en troos nie.

Die Here kán iemand wat onbevoeg lyk, gebruik. Op die esel wat die dissipels gebring het, het Jesus oorwinnend Je­ru­salem binnegery. “En die wat voor geloop en die wat gevolg het, het uitgeroep: ‘Geseënd is die koninkryk wat kom in die Naam van die Here… (Mark.11:7-10)’”

 

“Here, vandag wil ek, al voel ek onbevoeg, vir U bruikbaar wees.”

Posted by Manie on Feb 25th 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

SATERDAG 25 FEBRUARIE – PADKOS

SATERDAG                          PADKOS

Uit die dagboek PADKOS, met verse uit die Lewende Bybel.

 

Wees bly oor die wonderlike toekoms wat voor julle lê… (Rom.12:2). As ons vertroue op Christus ons net hoop gee tot by die graf en niks verder nie, dan moet ons, Christene, meer bejammer word as eni­ge ander mense (Kol.1:5). Julle moet bly wees omdat jul­le aan die Here verbind is. Ek wil dit nog ’n keer sê: julle moet bly wees (Fil.4:4). Die Heilige Gees (sal) met soveel krag in julle werk dat julle nooit sal twyfel aan die wonderlike vooruitsig wat vir julle wag nie (Rom.15:13). Laat ons God, die Vader van ons Here Jesus Christus, prys omdat Hy so won­­­der­lik goed was vir ons. Hy het ons die nuwe ge­boor­te gegee, sodat ons nou ook met sekerheid kan uitsien na die dinge wat vir ons voorlê. God het al die dinge vir ons moontlik gemaak toe Hy vir Je­sus Christus uit die dood lewendig gemaak het. Julle kan Hom nou nog nie sien nie, maar tog ver­trou julle op Hom en is julle vol van die onbe­skryflike hemelse vreugde (1 Pet.1:3,8).

Posted by Manie on Feb 19th 2012 | Filed in Padkos | Comments Off

VRYDAG 24 FEBRUARIE – SY BELANGRIKSTE BESLUIT

VRYDAG      SY BELANGRIKSTE BESLUIT

LEES: Lukas 18: 18 – 27

“Maar hy antwoord: ‘Al hierdie dinge het ek van my kinderdae af onderhou.’ Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hom: ‘Een ding kom jy nog kort …’” (21,22)

 

   Abraham Lincoln, seker Amerika se merkwaar­dig­ste president, het sy moeder op negejarige ou­der­dom verl­oor. Sy het sy Bybelse opvoeding so stewig gelê, dat dit sy lewenskoers gerig het. Hy het self gesê, in tye van versoeking kon hy haar stem hoor, soos sy hom die Here se wet geleer het: “Ek is die Here jou God jy mag nie … steel nie …” en so meer. Eerlikheid was so ’n uitstaande kenmerk van Lincoln, dat hy die by­naam Honest Abe  gekry het. Toe hy die politieke arena betree, het hy met hewige en vernederende op­po­sisie te make gekry. Hy is beskryf as onaantreklik, on­ge­letterd, verwaand en onop­ge­voed. Onderweg na Wash­ing­ton het iemand vir hom ’n vlaggie, met hierdie woorde daarop, gegee: “Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan” (Josua 1:9). Hierdie woorde het vir hom ’n bron van inspirasie geword. Lincoln het hom tot die woord van God gewend vir krag en leiding. Dit het sy karakter gevorm. Saam met sy eer­lik­heid het beleefdheid, nederigheid en insig ontwikkel.  Tog het iets by hom ontbreek. Een van sy lyfwagte het dit so beskryf: “The misery that dripped from Lincoln as he walked, was caused by his lack of personal religious faith.”

Hoe kon gesê word die godsdienstige, eerbare Abra­ham Lincoln ontbreek aan persoonlike geloof? Hy het aan God gedink as ‘n Almagtige, veraf Wese, wat die heelal en die geskiedenis van die mensdom beheer. God was nie vir hom ‘n persoonlike en liefdevolle Vader, wat in die offer van sy eie geliefde Seun, vir hom, Abraham Lin­coln, met volle vergifnis van al sy sondes as sy kind aangeneem het nie.

Lincoln wou die slawe bevry. Dit het tot die Ame­ri­kaanse Burgeroorlog gelei; vir Lincoln ‘n tyd van groot smart en geestelike foltering.  Toe word sy seun siek. Dag en nag het hy by sy seun se bed gewaak. Die verpleegster wat hom daardie dae moes oppas, was ‘n ywerige, belydende Christin. Sy het in die donker waak­ure dikwels met Lincoln oor Christus en sy ver­los­sings­werk gepraat. Sommige dink dit is veral sy wat ‘n instru­ment was tot Lincoln se geloofsoorgawe aan Christus.

Kort na die dood van sy seun het hy Gettysburg be­soek. Die groot slag van die Burgeroorlog het dáár plaas­gevind. Duisende op duisende houtkruise het die grafte van die gesneuweldes aangedui. Daar het hy van aan­gesig tot aangesig met Jesus Christus ge­kom en ‘n ge­loofs­oorgawe aan Christus gemaak. Hy het vir ‘n vriend geskryf: “Toe ek Gettysburg toe gegaan het, was ek nie ‘n Christen nie, maar daar by Gettysburg het ek my hart vir Christus gegee.” In die argief van die New York Pres­bi­triaanse Kerk van Washington is ‘n brief, deur Lincoln onderteken, waarin hy getuig dat hy nou gereed is om sy geloof in Jesus Christus as sy Verosser openlik te bely. Die brief is gedateer, Dinsdag, 13 April 1865. Maar 24 uur later, Woensdagaand, 14 April, het die sluip­moordenaar, John Wilkes Booth, president Abra­ham Lincoln in die Ford Teater doodgeskiet. Die belangrike man, het net betyds sy belangrikste besluit, reg geneem.

“Die mens, sy lewensduur is soos dié van gras, soos dié van ‘n veldblom wat oopgaan: as die woestynwind daaroor waai, is dit weg en sy plek vir altyd leeg. Maar onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien …” (Ps.103:15-17)

 

“Here, vandag dank ek U vir die lankmoedige en volgehoue werking van u Heilige Gees in my hart om my betyds by redding te bring.”

Posted by Manie on Feb 19th 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

DONDERDAG 23 FEBRUARIE – GENADE GENOEG

DONDERDAG          GENADE GENOEG

LEES: 2 Korintiërs 12: 7 -10

”My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.”

Biskop Handley Moule het in eie lewe die waar­heid ervaar van `n verhaal wat vertel word en wat hyself ook al in preke gebruik het. As `n geagte dienskneg van God, so lui die verhaal, het hy `n tyd van diep beproewing moes deurgaan. Hy het ge­bid. Voor die Here selfs gehuil so moeilik was die belewenis vir hom. Eenkeer maak hy vir `n paar oomblikke sy traangevulde oë oop. Ek haal nou Biskop Handley self aan en hy sê: “a Newly hung wall plaque met my gaze, which bore the words, ‘My grace is sufficient for thee’”. The text came home to his heart with such freshness and blessing that he rose to a new life of peace and power in Christ. Dit was reeds `n wonderlike genade, dat hy daar, die teks op die muur op daardie tydstip raakgesien het.

            Die Here laat ons nie alleen as ons groot be­proe­wing ervaar nie. In sy genade bring Hy `n teks  na ons gemoed toe, wat vir ons ook weer nuwe krag gee. En oor en oor het Christene ervaar, hoe die Here se genade hulle tot `n nuwe lewe saam met Hom kan ophef, want die Here se genade is vir ons beboefte genoeg.

 

Here, vandag vra ek ook u genade.”

Posted by Manie on Feb 19th 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

WOENSDAG 22 FEBRUARIE – DIE LEGKAART

WOENSDAG             DIE LEGKAART

LEES: Kolossense 1: 13 – 20

“Hy is die Beeld van die onsielike God…in Hom is alle dinge geskape wat…op die aarde is…alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape….in Hom hou alle dinge stand.” (V.15-17).

A. Hughes skryf in New Life van `n pa wat graag ongesteurd sy Sondagkoerant wil lees. Sy klein dogtertjie is `n oorlas om sy aandag af te trek. Om haar besig te hou knip hy uit die koerant `n kaart van die wêreld en knip dit in allerlei stukke soos `n legkaart (Jig-saw puzzle). Hy gee dit vir haar en sê sy moet die kaart weer mooi aanmekaar sit. Hy ver­wag om `n hele ruk rustig te kan sit en lees. Net `n rukkie en sy is terug met die wêreldkaart, pragtig en korrek aanmekaar gesit, elk stukkie op sy plek.  Verbaas sê die pa: “Hoe het jy dit reggekry. Jy weet niks van geogafie af nie, jy weet nie hoe die wêreld lyk nie.” Die dogtertjie antwoord: “Daar is `n prent van Jesus agter op die kaart. Ek het geweet as ek Jesus in die regte plek gesit het, sal die wêreld ook reg wees.”

Dit is `n groot geheim van die lewe ook vir ons vandag: Jesus in sy regte posisie en die wêreld is vir ons reg. Hy moet eerste wees in ons liefde, selfs voor ons gesin en ons vriende. A.Hughes skryf: “Jesus first and supreme in our thoughts, motives, purposes and above all before self: then everything else will be in place.”

Om Jesus daardie plek in ons lewe te kan gee, moet ons hart aan Hom behoort. Deur ons Bybel­studie en ons gebedslewe bring die Heilige Gees ons aan Jesus se voete en ons het Hom lief en ons eer Hom. Die duiwel probeer immer Hom van sy eerste posisie in ons hart beroof, want dan is ons weer­stand teen Satan ook gering. Fokus op Jesus en leef vir Hom.

 

“Here, vandag wil ek U, Here Jesus, eerste plek in my lewe gee.”

Posted by Manie on Feb 18th 2012 | Filed in Algemeen | Comments Off

Next »