Archive for December, 2011

You are currently browsing the archives of Krag vir Vandag .

Saterdag 31 Desember – DIE LEWENDE WOORD

Uit Padkos – uit die dagstukkies van 14 Mei.

 

Mense het Hom verag en wou niks met hom te doen hê nie. Hy is iemand wat bittere lyding ken en goed weet wat pyn is. – In die ongelowige wêreld sal julle swaarkry, maar moenie bang wees nie, want Ek het die wêreld oorwin. – Die jakkalse in die veld het gate om in te bly en die voëls het neste, maar Ek, die Redder, het nie eers ’n plek van my eie waar Ek my kop kan neerlê nie. – Want ons vaste woonplek is nie hier op die aarde nie. Ons sien uit na ‘n permanente tuiste wat kom. – Ons is soos atlete wat op die atletiekbaan hardloop in die wedloop wat God vir ons bepaal het. Hou julle oë altyd op Jesus, want Hy lei ons om op  God te vertrou en Hy sal ons leier bly tot die einde toe. Hy was gewillig om die skandelike dood op die kruis te sterf ter wille van die vreugde wat voorgelê het. Nou sit Hy in die ereplek in die hemel aan die regterkant van God. –  Maar ons broers het (Satan) oorwin deur die bloed van die Lam en deur die boodskap wat hulle aan ander vertel. – God het ons vir Homself uitgekies. Wie sal nog kan aankla? Niemand nie, want dit is God self wat ons skuld weggeneem het. Wie sal ’n vonnis oor ons kan vel? Daar is niemand wat dit kan doen nie, want Christus Jesus het vir ons gesterf. – As iemand aan Jesus Christus verbind is, sal God hom nie veroordeel nie. Dit is Hy wat ons so liefgehad het, dat Hy ons sondes met sy bloed afgewas het…aan Jesus Chris­tus behoort die Goddelike eer en die krag tot in die oneindige ewigheid.

 “Here, vandag lees ek u Woord en ek luister.”

 

SKRIF: Jes.53:3 – Joh.16:33 – Mat.8:20 – Heb.13:14 – Heb.12:1,2 – Op.12:11 – Rom.8:33,34 – Rom.8:1 – Op.7:13 – Op.1:5,6.

Posted by Manie on Dec 26th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Vrydag 30 Desember – DIE OU RUWE KRUIS

Lees 1 Petrus 2: 18 – 25

“Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees” (24).

 

George Bennard het sy werk as evan­gelieprediker by die Heilsleër begin. Agt jaar later is hy in die Metodiste­kerk as leraar georden. Sy toegewyde bedie­ning as evan­gelis in die kerk was vir baie jare hoog aan­ge­skryf. Een keer het Bennard met ’n bedrukte hart, weens persoon­li­ke beproewing, na sy huis in Albion, Michi­gan terugge­keer. Hy het die beteke­nis van die kruis van Christus ernstig oordink en wat Pau­lus in Filippense 3:10 bedoel het, waar hy praat van ge­meenskap met die lyding van Christus: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy ly­ding deur aan Hom gelyk te word…”. Hy het lang ure be­gin deurbring met Bybelstudie, gebed en oordenking. Op ’n dag het die lig vir hom deurgebreek. Hy skryf daarvan: “I saw the Christ of the cross as if I were seeing John 3:16 leave the printed page, take form and act out the mea­ning of redemption. The more I contemplated these truths the more convinced I became that the cross was far more than just a religious symbol but rather the very heart of the gospel.” Tydens hierdie geestelike stryd in sy hart het die tema van “The Old Rugged Cross” in sy ge­dagte begin vorm. Op ’n dag begin die woorde en die melodie van die lied in sy gemoed oopgaan. Die Heilige Gees maak die kruis vir ’n mens ’n groter en gro­ter werk­likheid, as ons deur gebed en Bybelstudie ons har­­te vir Hom open: “Die Gees staan ons ook in ons swak­heid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woor­de gesê word nie. En God, wat die harte deur­grond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God vir die gelowiges” (Rom.8:26). Binne ’n kort tyd het hy die woorde en die melodie geskryf en dit vir Charles Gabriel, ’n leidende liedskrywer, ge­stuur. Gabriel het vir hom, in eie woorde, terug laat weet: “You will centainly hear from this song, Mr. Bennard.” Dit was profetiese woorde, want hierdie lied het een van die be­kendste geestelike liedere geword.

Daar’s ’n dierbare kruis, waar my Heiland bewys

Die liefde wat Hy vir my het;

Dáár is alles voldaan en die vyand verslaan,

Dáár word ek van sonde gered

O, die dierbare kruis, waar die uiterste prys,

Deur kosbare bloed is betaal;

Dáár is smarte gely en versoening verkry

Waar Jesus oorwinning behaal.

By die dierbare kruis sal ons loflied verrys,

Tot eenmaal daarbo om die troon.

Want eens is ons tuis in die Vader se huis,

Dan verwissel ons kruis met ’n kroon.

              Koor:      By die kruis, by die kruis wil ek bly,

Tot die stryd hier benee is volstry;

Tot ek eens in die hemel sal woon,

Dáár verwissel ons kruis met ’n kroon!

“Here, vandag aanskou ek U aan die ruwe kruis.”

Posted by Manie on Dec 26th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Donderdag 29 Desember – BETYDS GEREED

Lees 1 Tessalonisense 4: 13 – 18

“Wanneer… die trom­­­pet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Chris­tus gesterf het, uit die dood opstaan; daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weg­ge­voer word, die lug in, die Here tegemoet” (16,17)

 

James Black was ’n ywerige en aktiewe wer­ker en prediker in die Metodiste kerk, ’n sogenaamde Me­thodist layman, ’n musiekonderwyser en kom­ponis en uitgewer van talle evangeliese liedere, gospel songs. Hy het ook as Sondagskoolonder­wyser en leier van ’n jeuggroep onder kinders en jongmense gewerk. Eendag loop hy ‘n 14-jarige dog­ter raak. Sy was armoedig geklee en die kind van ’n dranksugtige man. Op Black se aandrang het sy Sondagskool begin bywoon en by die jeug­groep aan­ge­sluit. Een aand, by ’n toewydings­ver­ga­­de­ring van die jeuggroep, moes die jongmense met ’n teksvers ant­woord as hulle name uitgelees word, die sogenaamde roll call. Toe die dogter se naam ge­­lees word, is daar net stilte. Sy was nie daar nie! James Black gebruik toe die ge­leent­heid om te praat oor hoe hartseer dit sal wees as iemand se naam die dag met die opening van die Lam se Boek van die Lewe uit­ge­lees word en die persoon is nie daar nie. Black skryf: “When I reached my home, my wife saw that I was deeply troubled. Then the words in the first stanza came to me in full. In fifteen minutes more, I had com­posed the other two verses. Going to the piano, I played the music as it is found today in the hymnbooks:

When the trumpet of the Lord shall sound and time shall be no more

And the morning breaks eternal, bright and fair –

When the saved of earth shall gather over on the other shore,

And the roll is called up yonder, I ‘ll be there.

                Die volgende dag moes Black uitvind, sy was nie daar nie omdat sy siek lê aan longontsteking. Hy skryf: “The subsequent death of the missing girl from pheumonia, after an illness of just ten days, furnished the dramatic finale to this account and gives a poiqnancy to the ‘roll call’ song”. Na hierdie lied in 1894 verskyn het, word mense daar­deur aangegryp. Ons het dit in Afrikaans: “As die boeke oopgemaak word, is ek daar.”

 

“Here, vandag weet ek my naam is in u Boek van die Lewe geskryf, want U is my Saligmaker.”

Posted by Manie on Dec 26th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Woensdag 28 Desember – ’N GERUSSTELLENDE SEKERHEID

Lees Johannes 11: 1 – 16

“Here, hy vir wie u lief is, is siek” (3)

 

Kenneth Osbeck vertel van die pofessor van die Princeton kweekskool wat gewoond was om sy klas af te sluit met die woorde: “Gentlemen, there is still much in this world and in the Bible that I do not understand, but of one thing I am certain – ‘Jesus loves me, this I know for the Bible tells me so’ – and gentlemen, that is sufficient!” Hy het die woor­de aangehaal van die lied wat veral deur kinders gesing word, maar vir ons net so troosvol is: “Jesus min my, salig lot! Dit leer my die woord van God; Al is ek ook swak en blind, Nogtans noem Hy my sy kind.” Vir Marta en Maria was dit ‘n groot troos oor hulle broer wat siek gelê het: Jesus het hom lief ge­had. Die onmiddellike verloop van sake het dit weer­spreek, want Jesus het gewag totdat Lasarus dood en begrawe was voor Hy na hulle toe gegaan het. Die uiteinde van hulle vertroue in Jesus, al het hulle vertroue ook gewankel, was goed en het op ‘n feesmaal uitgeloop. Dwars­­deur ons beproewings moet ons net daaraan vashou: Jesus het ons lief. Hy sal vir die beste op­lossing sorg.

Die lied is in 1860 deur Anna B. Warner, met die sa­­mewerking van haar suster Susan geskryf. Dit was deel van ‘n roman, Say en Seal, wat hulle ge­skryf het en wat in daardie tyd ook ‘n blitsverkoper was. In die boek ontvou ‘n roerende toneel. Een van die karakters in die boek, Mr. Linden, troos ‘n sterwende seuntjie, Johnny Fax, deur vir hom hier­die lied te sing. William Bradbury het die melody in 1861 gekomponeer en die koortjie by Anna Warner se vier verse gevoeg:

Ja, Jesus min my! Ja, Jesus min my!  

Ja, Jesus min my! Ek weet dit uit Gods Woord.

 

“Here, vandag weet ek uit u Woord U het my lief.”

Posted by Manie on Dec 26th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Dinsdag 27 Desember – ‘N RUSPLEK VIR ’N SEER HART

Lees Romeine 8: 31 – 39

”Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?…in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons lief het” (35,37)

 

George Matheson was ’n blinde Skotse predikant. Die Vrydagnag van 6 Junie 1882 was hy, op 40-jarige ouder­dom, alleen in sy pastorie by In­ne­lan. Die volgende dag sou dit sy suster se troudag wees. Die hele familie was weg Glasgow toe waar die huwelik sou plaasvind en waar hulle sou oornag. Weens sy blindheid kon hy nie saamgaan nie. Hy was nog ’n jong teologiese student toe hy deur sy geneesheer ge­waar­­sku is, dat hy besig is om blind te word en dat dit nie ver­­hoed of genees kan word nie. Hy was verloof aan ’n ander kollegestudent. Hy het gevoel dit is sy plig om haar van sy naderende blindheid te vertel. Na sy oor die skok van sy bekentenis aan haar gekom het, het sy vir hom gesê: “Ek wil nie die vrou van ’n blinde prediker wees nie.” Die nag so al­leen in sy wo­ning, terwyl die opwinding van sy suster se troue oor hom en by hom verby gegaan het, het ’n diep neerslagtigheid Matheson oorval. Dit kon die her­in­­nering van sy eie lief­des­teleurstelling gewees het wat met ge­weld na hom toe teruggekom het. Oor sy belewenis die nag skryf hy: “Something happened to me, which was known only to myself, and which caused me the most severe mental suffering. The hymn was the fruit of that suffering. It was the quickest bit of work I ever did in my life. I had the impression of having it dictated to me by some inward voice rather than of working it out myself. I am quite sure that the whole work was completed in five minutes.” Hy het geskryf: “O Love that wilt not let me go, I rest my weary soul in Thee; I give Thee back the life I owe, that in Thine ocean depths its flow may richer, fuller be. Die lied wat ons ken en sing en wat getoonset is deur Albert L. Peace klink so:

O Liefde, diep oor my begaan, neem my met al wat my vermoei!

Sien my tog in genade aan – en laat,  o Bron van my bestaan,

 U krag in my ook vloei.

O Vreugde, selfs in leed en pyn, vir U ontsluit ek nou my hart;

Die reën laat die boog verskyn, gewis daag, na die nag verdwyn.

Die môre sonder smart!

“Here, vandag leun ek met my hartseer teen u bors.”

Posted by Manie on Dec 26th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Maandag 26 Desember – DIE BESTE VRIEND

Lees Johannes 15: 9 – 17

“Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê… So sal die Va­der aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra” (13,16).

 

Joseph Scriven was ‘n ryk en geleerde jong­man in Ierland. Die nag voor sy troue het sy ver­loof­­de in ‘n rivierongeluk verdrink. “In his deep sor­row, Jo­seph realized that he could find the so­lace and sup­port he needed only in his dearest friend, Jesus”, skryf Osbeck. Kort na die tragedie het Scriven in 1845 geëmigreer Kanada toe, waar hy in Port Hope gaan woon het. Sy voorneme was om sy lewe aan Christus toe te wy deur ander te help, soos Jesus sy dis­sipels geleer het: “Gee en vir julle sal gegee word: ‘n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol…met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word” (Luk.6:42). Hy het geld en klere aan mense wat dit nodig ge­had het gegee, vir an­der het hy sonder vergoeding ta­ke verrig, en bekend geword as die Goeie Samari­taan van Port Hope. Sy moe­der in Ierland het siek geword. Hy het vir haar ‘n ver­troostende brief ge­skryf en die woorde van die nuwe gedig wat hy ge­skryf vir haar ingesluit. Hy het haar aangemoe­dig om nie te twy­fel in haar beste vriend, die Here Jesus, nie. Hy het eenkeer self siek geword. ‘n Vriend het hom besoek en die gedig se woorde op ‘n los vel papier, langs die bed, geskryf ge­sien. “Wie het dit geskryf?” wou die verbaasde vriend weet. “Ek en die Here het dit saam geskryf,” het Scriven geantwoord. Hy is op 66-jarige ouderdom dood. Sy graf, met die lied se woorde op die graf­steen, is te sien naby Peterborough, Ontario. Die gedig is later deur Charles C. Converse getoon­set. So sing ons die lied: “Wat ‘n vriend het ons Jesus.”

Die rykste aardse vrug van Joseph Scriven se be­proewing en toewyding daarna, is die waarde wat hier­die lied die afgelope byna ‘n eeu en ‘n half vir gelowi­ges ge­had het. Dit inspireer geloof en bring vrede vir die hart. Die lied vertel van die grootste beskutting wat ons in hier­die lewe het: om Jesus as vriend te ken.

Wat ‘n vriend het ons in Jesus, Hy wat in ons plek wil staan;

Wat ‘n voorreg om gedurig tot Gods troon deur Hom te gaan!

Hoe verbeur ons tog die vrede, ag, hoe dikwels ly ons smart,

Net omdat ons nie ons node uitstort in Gods Vaderhart!

      

“Here, vandag ken ek U as my beste Vriend.”

Posted by Manie on Dec 26th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

SATERDAG 24 DESEMBER – PADKOS

SATERDAG                   PADKOS

 

 

“Ja, Ek het jou liefgehad met ’n ewige liefde; daar­om het Ek jou getrek met goedertierenheid” (Jer. 31:3). “Wie is ‘n God soos U? U vergewe son­de, U straf nie die sonde …nie. U bly nie vir al­tyd kwaad nie, U betoon liefde. Hy sal ons weer ge­na­de betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak, U sal al hulle sondes in die diepsee gooi” (Miga 7:18,19). Maar U is ‘n God wat sonde vergewe… (Neh.9:17). Alles in die Skrif … gee ons moed sodat ons vas oortuig kan wees van die wonderlike toekoms wat daar vir ons wag (Rom.15:4). …skeur liewer julle harte as ’n teken van werk­like berou. Kom terug na die Here, julle God toe, want Hy is goed­hartig en vol meegevoel…. Hy is ge­trou aan sy beloftes en wil graag weer sy straf terugtrek  (Joël 2:13). Die prys wat vir julle betaal is, was die kosbare bloed van Christus. Want Hy is die volmaakte en foutlose Lam van God wat vir ons ge­offer is (1 Pet.1:18-20). Laat ons dan ingaan na God toe met ’n eerlike hart wat op Hom alleen vertrou, want ons harte is rein gemaak deur die bloed van Je­sus Christus wat daarop gesprinkel is… (Heb.10:22).

Posted by Manie on Dec 18th 2011 | Filed in Padkos | Comments Off

VRYDAG 23 DESEMBER – RED WAT VERLORE IS

VRYDAG            RED WAT VERLORE IS

Lees Lukas 19: 1 – 10

“Daarop sê Jesus: ‘Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is” (10).

Die beroemde prediker, George Whitefield, het ’n broer gehad wat in sy geestelike lewe afvallig geraak het. Onder een van George Whitefield se preke is die broer se hart aangegryp en het hy tot besef van sy afvallige toetand gekom. Hy het eg­ter in ’n toestand van diepe bedruktheid verval. Een van sy kennisse, die gravin van Hun­­tington wat self ’n blymoedige Christin was, het pro­beer om hom tot gelowige vertroue in Christus aan te spoor. Maar alles tevergeefs;. “Ek weet wat u sê is waar, die genade van God is ewig,” het hy bedruk geantwoord. “Ek sien dit duidelik. Maar, ag! Daar is geen genade vir my nie. Ek is ’n ellendeling, vir ewig verlore.” “Ek is bly om dit te hoor”, het Lady Huntington geantwoord. “Ek is bly jy is ’n verlore man.” “Bly?” vra hy verbaas. “U is bly ek is verlo­re?”  “Ja, mnr. Whitefield,” het sy bevestig, “regtig bly, want Jesus Christus het in die wêreld gekom om te red wat verlore is. Dit gee my hoop.” “Dank God!” roep hy met verhelderende gesig uit. “Dan­kie vir daardie woorde. Ek voel daar is krag in daardie woorde! Jesus Christus het in die wêreld gekom om te red wat verlore is. Dit gee my hoop.  Baie hoop. Ek glo dit!” Skielik voel hy benoud. Hy gaan uit om lug te skep. Na ’n rukkie kom hy in die vertrek teruggestrompel. “Ek voel skielik baie siek,” kreun hy. Hy sak inmekaar en sterf daar voor Lady Huntington se oë. God se genade het hom gespaar totdat hy sy geloof in Christus gevestig het. Die Here wil nie hê ons moet verlore gaan nie, maar gee vir ons geleentheid op geleentheid om vir ons redding in Hom te vetrou.

 

“Here, vandag glo ek U vir my redding.”

Posted by Manie on Dec 18th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

DONDERDAG 22 DESEMBER – GELOOF IN AKSIE

DONDERDAG           GELOOF IN AKSIE

Lees Lukas 5:18-26

“Toe … laat (hulle) hom met die draagbaar en al … tussen die dakteëls afsak … vlak voor Jesus.Toe Hy hulle geloof sien, sê Hy: ‘Mens jou sondes is jou vergewe” (19,20).

 

Die outydse seilskip waarmee die sendeling, Hud­son Taylor, na Sjina gereis het, het in ’n windstilte be­land. Die seestroom het die skip onverbiddelik na die rotsagtige strand meegevoer. Die gevaar was nie net die rotse nie, maar die inboorlinge was kan­nibale. Die passasiers kon die barbare op die strand om hul vure sien dans. Die kaptein het be­noud vir Taylor gevra om te bid dat die Here wind stuur. “Ek sal bid,” het Taylor geantwoord, “maar dan moet die seile eers gehys word.” Hiervoor het die kaptein nie kans gesien nie. “Dan bid ek nie,” het Taylor beslis gesê. Die seile is gehys en Taylor het in sy kajuit tot God geroep om hulle te help. Skaars het hy begin bid, of die kaptein klop aan die deur. “Hou op bid, mnr. Taylor, “ skreeu hy opge­won­de. “Ons het al meer wind as wat ons kan hanteer!”

Die jongman se vriende se geloof het Jesus groot vreugde verskaf en hulle geloof is beloon. Die dis­sipels se paniek tydens die storm op see weer (Luk.8:22-25), was vir Jesus ’n teleurstelling, tog het Hy die storm stilgemaak. Geloof wat so be­wus kan word van God se almag, dat dit in ons verwagtende gedrag gesien kan word, is geloof wat God behaag, vir onsself ’n groot seën is en ’n goeie getuienis na an­der toe uitdra. Waag om die Almagtige en Ge­troue God se beloftes te glo!

 

“Here, vandag kom ek om van U te vra wat ek nodig het.”

Posted by Manie on Dec 18th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

WOENSDAG 21 DESEMBER – DIE PêREL VERLOOR

WOENSDAG            DIE PÊREL VERLOOR

Lees 2 Timoteus 3:1-9

“…mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het” (5).

 

’n Jong predikant het een oggend ’n een­vou­dige, maar treffende en verstaanbare boodskap ge­bring. Sy teks was Jesus se woorde aan die gemeente Efese in Openbaring 2: 4: “Maar Ek het dit teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie.” Die predikant hou ’n skulp op. “Pê­rels word in skulpe gevind,” sê hy ernstig. “Hierdie is ’n egte skulp.” Hy klop teen die skulp. “Hoor, hy klink soos ‘n skulp. Kyk, hy lyk soos ‘n skulp. Want hy is ‘n skulp.” Hy skud die skulp. Hy draai hom om en krap met sy vinger in die skulp. “Maar hierdie skulp het sy pêrel verloor. Nou is dit net ‘n dop.” Toe gaan hy aan om die toepassing te verduidelik. So was die gemeente van Efese. Hulle het ‘n won­der­like struktuur gehad. Hulle was ywerig. Hulle leer was suiwer. Maar hulle het die Here Jesus verloor. Hulle het Hom nie meer liefgehad nie.

In ons geestelike lewe kan ons die pêrel verloor. Ons doen nog alles wat van ‘n Christen verwag word  -  lees By­bel, bid, gaan kerk toe, gee bydraes  -  maar die om­gang en gemeenskap met Jesus het ver­lore geraak. Die Heilige Gees verheerlik die Here Jesus in die hart. In ‘n hart vervul met die Heilige Gees is daar ‘n sterk liefde vir Je­sus. “God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het” (Rom.5:4).  Hy is die pêrel van die geestelik lewe, want die Heilige Gees maak Jesus ‘n werklikheid in die hart. “Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy…My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig”

Die Christen se stiltetyd, of binnekamer, is baie belangrik. Wanneer ons so by onsself in ons binne­kamer, afgesluit van ander dinge wat ons aandag vra, die Here se Woord lees en oordink, sy aan­ge­sig in gebed soek, dalk ‘n geestelike boek lees, maak die Heilige Gees Hom vir ons ‘n werklikheid en leef die Persoon van die Here Jesus in harte. Iemand het gesê vir al ons daag­likse belange het ons tyd: tyd om te eet, tyd om te werk, winkel toe te gaan, iemand te bel, TV te kyk, maar vir Bybel­lees en bid moet ‘n mens tyd maak. “…maar dié wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie” (Jes.40: 31)

 

“Here, vandag soek ek u aangesig.”

Posted by Manie on Dec 18th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Next »