Archive for November, 2011

You are currently browsing the archives of Krag vir Vandag .

VRYDAG 2 DESEMBER – WORD GEDRA

VRYDAG                     WORD GEDRA

Lees Jesaja 63: 7-10

“Hy het hulle verlos deur sy liefde en ontferming; Hy het julle opgetel en hulle altyd gedra” (9)

 

Dr. Philip Brookes het ’n dogtertjie in Boston, wat sy Sondagskool bywoon, besoek toe sy siek was. Terwyl hy by haar bed staan, merk hy op hoe ongemaklik sy lê. Die kussing was geduik en die lakens was deur­mekaar. “Kindjie, laat ek jou optel, dan kan jou mammie die kussings en lakens vir jou lekker maak.” Met daar­die woorde neem hy haar in sy arms en tel haar op. Haar ma maak gou die bed netjies en gemaklik. Hy lê haar daarna tederlik neer en nie lank nie of sy raak aan die slaap. Toe sy wakker word sê sy vol verwondering vir haar ma: “Om te dink dr. Brookes het my opgetel! Dit was lekker om te voel iemand wat so sterk is, tel my op.” Daardie aand het ’n nagverpleegster by haar kom waak en uit die Bybel vir haar gelees: “Die ewige God is ‘n skuilplek., sy arms is altyd onder jou” (Deut.33:27). ’n Rukkie lê die meisietjie die woorde en oordink, toe sê sy: “Ek weet wat dit beteken. Dis soos vanmiddag toe dr. Brookes my opgetel het. Hy het gemaak soos hierdie teks in die Bybel sê.” Sy glimlag tevrede en voeg by: “Dis lekker as God mens in sy arms vashou. Dan kom die wêreld onder jou reg.”

In ons onrus, wanneer omstandighede ons on­ge­­mak­­lik en vreesagtig maak, kan ons opsien na God toe om ons in sy arms vas te hou en ons te dra. Dit word oorvloedig in die Skrif beloof aan almal wat in God ver­trou. “Moenie bang wees nie, Ek is by jou,  moenie bekommerd wees nie, ek is jou God…Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou (Jes.41:10). Ook in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra… en Ek sal julle vashou” (Jes.46:4).

 

“Here, ek wil vandag terugleun in u ewige arms wat my vashou.”

Posted by Manie on Nov 28th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

DONDERDAG 1 DESEMBER – DRIE WOORDE IN VERGIFNIS

DONDERDAG    DRIE WOORDE IN VERGIFNIS

Lees Efesiërs 11-14

“In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade, wat Hy oor­vloedig aan ons bewys het…” (7,8)

 

’n Vrou is deur iemand verontreg. Sy het ge­wei­er om vrede te maak. Uiteindelik het die dominee met haar gaan praat. “Vergewe haar,” het die do­mi­nee gepleit. “Goed,” gee sy in. “Ek sal haar vergewe, maar ek sal nie vergeet nie.” Met groot meegevoel antwoord die dominee haar: “Is dit hoe jy wil hê God jou jóú sondes moet vergewe? Moet Hy dit áltyd nog onthou na Hy jou vergewe het?”

Gelukkig vergewe God in sy groot liefde en met sy groot genade ons ons sondes hééltemaal.  Adri, wat ons blaad­jie druk, vertel my hoe die betekenis van vergifnis vir haar dui­de­lik geword het toe sy een oggend, met haar stiltetyd, op­merk dat drie woorde in die woord vergifnis gesien kan word. Dit is nie die taalkundige samestelling nie, want eintlik is dit drie onsamehangende woorde, maar dit bring vergifnis se be­te­kenis helderder vir ons na vore: ver-gif-nis.

Wanneer God ons vergewe, neem hy ons son­de­skuld ver van ons af weg. “So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oor­tredinge van ons af” (Ps.103:12). Dus: ver-gif-nis.

Gif verwoes lewe, so verwoes sonde ’n mens se gees­­te­like lewe. ’n Skuldige gewete vergif ’n mens se ge­loof en vre­de en liefde vir God. As ’n mens ’n son­dige gevoel jeëns ’n ander mens koester, wraak of nyd of afguns, vergif dit ’n mens se geestelike gestel. Vergifnis neem hierdie gif uit ’n mens se lewe uit en ’n mens word gees­telik gesond. “Dit gaan goed met die mens…wie se sonde vergewe word. Toe ek oor my sonde geswyg het, het my liggaam uitgeteer…my krag het opgedroog…Toe het ek my sonde bely, my oortreding nie weggesteek nie…en U het my skuld vergewe…”” (Ps.32:1-5). Dus: ver-gif-nis.

God dink nooit weer aan ons sondes nie. “Oor hulle on­ge­regtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie” (Heb.8:12). As Hy ons sondes vergewe handel Hy dit finaal af. “U het al my sondes agter u rug gewerp” (Jes.38:17 Ou Vert.). ”Hy sal ons sonde tot niet maak. U sal al hulle son­des in die diepsee gooi” (Miga 7:18). Maar óns onthou ons sondes. Dit ver­skrik ons nie meer nie, inteendeel, met dankbaar­heid ont­hou ons waarvan God ons gered het. So onthou Paulus sy sonde en hy het dit vir ons in die Bybel geskryf: “Hy het my krag gegee…al het ek Hom voorheen belaster, vervolg en beledig…God was genadig teenoor my…Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste” (1Tim.1:12-15). ’n Nis (ver-gif-nis), sê HAT-woordeboek, is ’n uitholling in ’n muur om iets in te plaas. In ’n gedenkmuur word iemand se as in ’n nis geplaas. So onthou ons ook ons dwaasheid en skan­des en oortredings, soos ’n dooie liggaam se as wat in ’n nis geplaas is. Dit is daar, maar bedreig ons nie meer nie, solank ons ons vergifnis glo.

 

“Here, vandag  oordink ek die wonder van u vergifnis opnuut.”

Posted by Manie on Nov 28th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

WOENSDAG 30 NOVEMBER – VERANDER STEEDS

WOENSDAG          VERANDER STEEDS

Lees 2 Korintiërs 3: 12 – 18 – Ou Vertaling

“En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ’n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is” (18).

 

In ’n Italiaanse stad is ‘n standbeeld van ’n Griek­­se meisie, met pragtige gesig, bekoorlike fi­guur en eervolle gesigsuitdrukking, vertel George Sweeting. Eendag kom ’n arm boermeisie voor die beeld tot stilstand. Sy staar na die meisie wat deur die beeld getoon word. Sy gaan huis toe, was haar gesig en kam haar hare. Die volgende dag kom sy weer voor die beeld staan, staar lank daarna en gaan weer huis toe. Hierdie keer maak sy haar slordige klere heel en netjies. Elke dag kom staan sy voor die beeldmeisie, gaan dan te­rug en verbeter nog iets aan haarself. George Sweeting skryf: “Day by day she changed, her form grew more graceful and her face more re­fined, until she greatly reflected the famous sta­tue. She was transformed in appearance. Just so, the spiritual man must each day seek to conform to the per­fect image of our Lord and Saviour Jesus Christ.”

Waar kan ons die Here Jesus te siene kry om Hom te aanskou en te bewonder en deur die Heilige Gees na sy beeld ver­­an­der te word? Ons het nie die voorreg om direk na Hom te kyk, soos die dissipels dit gehad het nie. Ons sien Hom soos in ’n spieël. Die enigste spieël wat ons van die Here Jesus het, is die Bybel. In die vier evangelies kan ons Hom tree vir tree en woord vir woord volg en Hom aanskou en bewonder. Die Heilige Gees werk in ons hart die invloed van die beeld van die Persoon wat ons aanskou en ons word verander. Elke dag meer. Ons dink wat sou Jesus in hierdie situasie gedoen het? Wat sou Hy gesê het? Wat sou sy ge­sind­heid gewees het? En die Heilige Gees doen die vernuwings- en groeiwerk in ons harte.

“Here, vandag aanskou ek U in u Woord.”

Posted by Manie on Nov 28th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

DINSDAG 29 NOVEMBER – DIE GROOT BEVRYDING

DINSDAG             DIE GROOT BEVRYDING

Lees 2 Korintiërs 5:16 – 19

“Iemand wat aan Christus behoort is ‘n nuwe mens. Die oue is verby die nuwe het gekom” (17).

 

‘n Engelse edelman – hy was ook ‘n ongelowige, ‘n so­genaamde ateïs – het die Fiji-eilande besoek, vertel Roy B. Zuck. Hy sê vir ‘n bejaarde hoofman, by wie hy ook tuis­gaan: ”Jy is ‘n groot leier van jou mense. Net jam­mer jy het jou ‘n gat in die kop laat praat deur hierdie sen­delinge. Hulle wil net ryk word uit julle. Niemand glo tog meer die Bybel nie. Mense is moeg vir die kamtige Jesus Christus wat so vreeslik swaar aan die kruis ge­sterf het vir hulle sonde en dat hulle kan hemel toe gaan.” Die ou hoofman se oë vlam toe hy antwoord: “Sien jy daardie groot rots daar oorkant? Dáár het ons ons slagoffers se koppe afgekap. En sien jy daardie oond langs die rots? Daar het ons die mense wat ons ge­vang het gebraai. As dit nie was dat die boodskap wat die sendelinge vir ons oor Jesus gebring het, ons le­wens verander het van kanibale na Christene toe nie, dan het jy teen hierdie tyd al in daardie oond gebraai. Dank God vir die sendelinge en die Bybel, anders het ons jou vanaand vir ons aandete geëet.”

Ons het die sondige verbreking van ‘n mens tot ka­ni­baalvlak nog nie direk aanskou nie. Ons het egter al in mense gesien tot watter peil sonde ‘n mens kan laat daal. Iets daarvan ken ons in ons eie lewe. Mens sal nooit iemand letterlik opeet nie, maar hom vloek, of kul, vir hom lieg, hom slaan, dalk selfs vermoor,. Paulus skryf aan die Kolosense: “…julle (moet) die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte be­geer­tes, gie­righeid… woede, haat, nyd, gevloek … moenie vir mekaar lieg nie…” en dan onthul Paulus die geheim van so ‘n lewensverandering: “Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes ge­breek en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God….” en dan beskryf hy die gedrag van die nuwe mense wat die Heilige Gees in ons te­weeg­bring en gro­ter laat groei… “Daarom moet julle meelewend, goed­gesind, nederig, sagmoedig en verdraag­saam wees. Wees geduldig met mekaar en ver­gewe mekaar…bo dit alles moet julle mekaar lief­hê…Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly…” (Kol.3:5-17)

 

 “Here, vandag dank ek U dat die lig van u nuwe lewe ook in my hart kom brand het.”

Posted by Manie on Nov 28th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

MAANDAG 28 NOVEMBER – `N KOSBARE SLEUTEL

  MAANDAG          ’N KOSBARE SLEUTEL

Lees 2 Petrus 1: 2 – 12 (Ou Vertaling)

“…Hy (het) ons die grootste en kosbare beloftes geskenk, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur…Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (4,11)

 

In John Bunyan se boek Pilgrim’s Progress, in Afrikaans as Pelgrim se Reis na die Ewigheid be­kend, vertel hy op storiegewys hoe ’n Christen se ge­loofslewe verloop. Die verskillende belewenisse van ontmoediging en bemoediging in die geeste­li­ke lewe, word in die boek as karakters en plekke ge­skilder. So is daar eerste Evangelis wat vir hom die weg na die hemel ver­duidelik, en dan manne wat hom probeer ont­moe­dig: Koppig, Plooibaar, Wê­­reldwys en ander. Dan kom manne weer op die to­neel  wat hom vorentoe help: Welbe­hae, Godsvrug, Wysheid, Liefde en ander. Hy beland bv. in die Poel van Wanhoop en later in Twy­felkasteel.  Op ’n dag word die pad vir Pelgrim te steil. Hy klim oor die heining langs die Nouweg en beland op ’n lekker, sagte pad wat alte lekker gelyk loop. Hierdie nuwe paad­jie word egter al klammer en later modderig (’n gelowige ervaar dit so as hy begin afdwaal). Doringagtige en giftige plante groei oral en Pelgrim begin moeg word. Die son ver­dwyn en die lug word don­ker. On­der ’n akkerboom pro­beer hy skuil teen die reën wat begin uitsak. Dit blits en donder in die lug. Naby die plek waar Pelgrim nou lê en slaap is Twyfel­kasteel, met die reus Wanhoop as bewon­er. Hy kom op Pelgrim af en smyt hom in Twyfel­kas­­teel se kelder. Pelgrim, wat nou die naam Christen dra, na hy by die kruis van sy swaar las ontslae geraak het en die nou weg gekies het, probeer sing, maar sy gemoed is so donker en swaar, hy kry nie reg om te sing nie. Reus Wan­hoop slaan en kasty hom son­der ge­nade. Elke dag word Christen swakker. In sy sel lê ’n tou, ’n mes en ’n bottel gif. Alles werktuie vir self­moord. Vir ’n oomblik oorweeg Christen om só ’n einde aan sy  ellende te maak. Maar toe, een nag, na midder­nag, begin hy bid. Ek haal aan uit Bunyan se boek: “…a little before day, good Christian, as one half amazed brake out into this passionate speech: ‘What a fool am I, thus to lie in a stinking dungeon, when I may as well walk at liberty! I have a key in my bosom, called Promise, that will, I am sure, open any lock in Doubting Castle.’ It did. Using the key of God’s promises, Christian escaped, never again to fall into the clutches of Giant Despair of Doubting Castle.”

So kan ons wanhoop in ons Christenlewe ervaar. God voel ver van ons af. Ons voel swak en skul­dig. Al­les is donker. Dan ontsluit God se beloftes vir ons die deure van hierdie wrede gevangenis. “My siel kleef aan die stof; maak my lewend na u woord. My weë het ek vertel, en U het my verhoor; leer my u insettinge!” (Ps.119:25 Ou Vert.). Die Here Jesus het gesê: “Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie” (Joh.6:37).

“Here, vandag glo ek U het my aangeneem en U ken my.”

Posted by Manie on Nov 26th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

SATERDAG 26 NOVEMBER – PADKOS

SATERDAG                      PADKOS

Uit Padkos – die dagboek uit die Lewende Bybel.

 

Maar as dit die Heilige Gees is wat ons lewe oor­heers, bewerk Hy die goeie dinge in ons soos die vrugte wat aan ‘n boomeilige GeesHH

gedra word(Gal.5:22). – Ons kon ons­self nie red nie, maar God gee dit vir ons ver­niet as ons op Jesus Christus vertrou (Ef.2:8).

Posted by Manie on Nov 20th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

VRYDAG 25 NOVEMBER – GENADE ONBESKRYFLIK GROOT

VRYDAG      GENADE ONBESKRYFLIK GROOT

Lees Psalm 40:1-6

“Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder…Hy het my ’n nuwe lied in die mond gelê…(3,4).

 

Dr. Billy Graham vertel van ’n graf in die hoek van die kerkhof van die Olney Parish Church, met die volgende grafskrif: “John Newton, clerk, once an infidel and libertine, a servant of slaves in Africa, was by the rich mercy of our Lord and Saviour Jesus Christ preserved, restored and appointed to preach the faith he had long laboured to destroy”  Newton was die seun van ’n seekaptein wat betrokke was by die handel op die Middellandse See. Sy ma is dood toe hy 6 jaar oud was. Na twee jaar op skool, op die ou­der­dom van 11 jaar, sluit hy by sy pa se bemanning aan. On­sedelikheid, losbandigheid en mislukking word sy le­wenspad. Sy pa verwerp hom. Hy word in die tronk ge­gooi en verneder. Hy word later deel van die beman­ning van ’n slaweskip. Hy haal hom die haat van sy baas se negervrou op die hals en word “’n slaaf van sla­we”. Die lees van die boek Imitation of Christ deur Tho­mas à Kempis bring hom tot besinning. In ’n seestorm waarin hy byna omkom, kom hy tot bekering. Op 39-jarige ouderdom word hy evangeliedienaar. Vir 15 jaar was hy pastor van die Olney Parish Church. Hy het talle lie­dere geskryf en in samewerking met sy vriend, Wil­liam Cowper, het hulle ’n liederebundel uitgegee. Sy be­kendste lied, “Amazing Grace”, vertel sy eie verhaal:

 

Amazing grace! How sweet the sound,

 that saved a wretch like me.

I once was lost but now am found,

 was blind but now I see.

 

Die slegste van die slegtes word deur die Here ge­red. Die Here Jesus het mag om ’n stukkende mens nuut en heel te maak. Wanneer ’n mens tot bekering kom gebruik hy nie sy eie krag om goed te word nie. Hy word met God se krag gered en goed gemaak. Spur­geon sê van bekering: “…every child of God is not manplanted, nor selfplanted, but Godplanted. Every true heir of heaven owns the great Husbandman as his planter.”  En Paulus skryf só oor die Christene in 1 Korintiërs 6:9-11: “En so was party van julle juis ook… maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.”

Twee of drie jaar voor John Newton se dood, sy oë was te swak om self te lees, het ‘n kollega elke oggend saam met hom ontbyt genuttig en dan vir hom die Skrif gelees. Een bepaalde oggend was die Skrifdeel uit 1 Korintiërs 15, en veral vers 10: “Maar deur die genade van God is ek wat ek is…” Vir ‘n paar minute was daar stilte. Toe sê John Newton: “I am not what I ought to be. How imper­fect and deficient I am! I am not what I wish to be, al­though I abhor that which is evil and would cleave to that which is good. I am not what I hope to be. Soon I shall put off mortality, and with it all sin and imperfection. Though I am not what I ought to be, nor what I wish to be, nor yet what I hope to be, I can truly say I am not what I once was, a slave to sin and Satan. I can hartily join with the apostle and say that by die grace of God I am what I am.”

 

“Here, vandag dank ek U vir u werk in my hart.”

Posted by Manie on Nov 20th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

24 NOVEMBER – DIE VADER SE GESIG

DONDERDAG     DIE VADER SE GESIG

Lees Psalm 123 OU VERTALING

“Ek slaan my oë op tot U wat in die hemel troon” (1).

 

Tydens ’n repetisie vir ’n konsert van die kin­ers van ’n gemeente, het ’n dogtertjie van vyf jaar oud op die verhoog gestaan om haar gediggie voor te dra. Sy het dapper begin, maar terwyl haar ogies die saal deursoek, al onrustiger ge­raak, begin stotter en toe in trane uitgebars. Die pa kom van agter ’n pilaar, van waar hy haar dop­ge­hou het, uit en neem haar in sy arms. “Wat ma­keer, my kindjie, pappa dog sy dogtertjie ken haar gediggie so goed uit haar kop.” “Ek ken dit uit my kop,” snik sy. “Laat ek staan waar ek Pappa kan sien, dan is ek nie bang  nie.”

Ons skep moed as ons God se aangesig sien. As pilare van sonde of ongehoorsaamheid of wê­reldsin God vir ons bedek, gee ons moed in en ons word bang. Jesus het vir ons ’n vrymoedige ge­bedstoenadering tot God gegee:“Ons Vader wat in die hemel is…” (Mat.6:9). Selfs Jesus het in oomblikke van groot eise op Hom, opgekyk na sy Vader toe. Met die opwekking van Lasarus uit die dood: “Jesus het opgekyk boontoe en gesê: ‘Vader, Ek dank U dat U my verhoor het…’” (Joh.11:41). Net voor Jesus se kruisiging: “…het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: ‘Vader, die tyd het gekom…”(Joh.17:1). En dít was juis sy droefheid aan die kruis dat Hy moes uitroep: My God, my God, waarom het U my verlaat…” (Mat.27:46). ’n Duidelike uitkyk op die hemel, en ‘n sien van ons Here in geloof, gee ons onder alle omstandighede moed. So het Stefanus dit on­der­vind: ”Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan …terwyl hulle vir Stefanus stenig, het hy geroep: ‘Here Jesus, ontvang my gees!” (Hand.7:56,59).

 

“Here, vandag kyk ek gelowig op om u aangesig te sien.”

Posted by Manie on Nov 20th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

WOENSDAG 23 NOVEMBER – SIMPATIEKE TERREIN

WOENSDAG        SIMPATIEKE TERREIN

Lees Johannes 16: – 33

“Van daardie dag af sal julle in my Naam bid en hoef Ek nie julle voorspraak by die Vader te wees nie, want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefhet… (26,27).

 

In Charles R. Swindoll se boek, Strengthening Your Grip, sê hy vir ons hoe die 17de eeuse Rooms­­katolieke Fransman, Francois Fénelon, sê ons moet bid. Jesus het sy dissipels dikwels aan­ge­moedig om te bid. Hy het sy dissipels geleer om te begin: “Ons Vader”. Omdat God, ons Vader in Christus Jesus, Self ons liefhet, is gebed ‘n simpatieke, vry­moedige terrein. Verder help die Heilige Gees ons ook nog om te bid: “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie…” (Rom.8:26).

Ek haal Francois Fénelon se woorde letterlik aan soos dit in Swindoll se  boek vertaal is:

Tell God all that is in your heart, as one unloads one’s heart, its pleasures and its pains, to a dear friend. Tell Him your troubles, that He may comfort you; tell Him your joys, that He may so­ber them; tell Him your longings, that He may purify them; tell Him your dislikes, that He may help you to conquer them; talk to Him of your temp­­tations that He may shield you from them; show Him the wounds of your heart, that He may heal them; lay bare your indifference to good, your depraved tastes for evil, your in­sta­­bility. Tell Him how self-love makes you un­just to others, how vanity tempts you to be in­sin­cere, how pride disguises you to yourself and others. If you thus pour out all your weaknesses, needs, troubels, there will be no lack of what to say.

God se woord moedig ons gedurig aan om so vrymoedig en openlik oor onsself na die Here toe te kom. “Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en gena­de ontvang en so op die regte tyd gered kan word” (Heb.4:15,16)). En dan nooi Jesus ons Per­soon­lik na Hom toe: “Kom na My toe, almal wat uit­ge­­put en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sag­moedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig” (Mat.11:28-30).

 

“Here, vandag vertel ek U alles oor my lewe.”

Posted by Manie on Nov 20th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

DINSDAG 22 NOVEMBER – `N KLEIN BYDRAE

DINSDAG                ’N KLEIN BYDRAE

Lees Johannes 6: 1 – 15

“Hier is ’n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?” (9).

 

Francois Pretorius, ’n bourekenaar in Pretoria, en ongeveer 1979/80 die leierdiaken toe ek in Richards­baai­ predi­kant was, het vir my die volgende storie gestuur. Hy kry Krag vir Vandag gereeld, druk ’n aantal en deel dit in sy wyk, omgewing en by sy werk uit.

’n Dogtertjie staan by ’n klein kerkie, maar sy word deur die man by die deur weggestuur, omdat daar net eenvoudig nie meer plek in die kerkie is nie. Die pre­di­kant loop toe juis by haar verby. “Ek kan nie Sondag­skool toe gaan nie,” snik sy toe hy vra hoekom sy bui­te staan en huil. Hy sien haar ongekamde hare, slordige en vuil rokkie en besef dadelik hoekom sy eintlik weg­gestuur is. Hy neem haar saam met hom in die kerk in en kry vir haar plek in ’n Sondagskoolklassie. Twee jaar later sterf die dogtertjie in ’n armoedige kamertjie in die stad se agterbuurt. Haar ouers gaan vertel dit vir die goedhartige predikant wat hul dogtertjie se vriend ge­word het en hulle vra hom om haar begrafnis te reël. Toe hulle haar wegneem, val ’n gehawende rooi beur­sie uit haar klere uit. In die beursie is 57c en ’n briefie in  haar kinderlike handskrif: “Dis om te help om die kerk groter te bou.” Twee jaar se spaargeld! Die predikant lees die briefie met betraande oë en hy weet wat hy gaan doen. Daardie Sondag wys hy vir sy gemeente die beursie en lees die briefie. Hy daag die diakens uit om genoeg geld in te vorder om die kerk groter te bou. ’n Koerant hoor daarvan en plaas die storie. ’n Ryk eien­domsagent lees dit en bied die kerk ’n stuk grond aan wat baie duisende werd is. Die kerk kan nie so ’n groot bedrag betaal nie. Hy bied aan om die grond vir 57c aan die kerk te verkoop. Dit ontroer die hele gemeente se hart en binne vyf jaar bereik die dogtertjie se oorspronklike 57c deur ander donasies $250 000.  ‘n Baie groot bedrag vir daardie tyd.

Ek haal die Engelse verhaal nou letterlik aan: When you are in the city of Philadelphia, look up Temple Baptist Chrurch, with a seating capacity of 3 300. And be sure to visit Temple University, where thousands of students are educated. Have a look, too, at the Good Samaritan Hospital and at a Sunday School building which houses hundreds of beautiful children, built so that no child in the area will ever need to be left outside during Sunday shool time. In one of the rooms of this building may be seen the picture of the sweet face of the little girl whose 57c, so sacrificially saved, made such remarkable history. Alongside of it is a portrait of her kind partor, Dr. Russel H. Conwell, author of the book, Acres of Diamonds.”

Die vyf brode en twee vissies het in Jesus se hande genoeg kos geword om die duisende te voed en nog mandjies vol te laat oorbly. Dit wat ons binne ons klein vermoë vir die Here gee of doen of getuig, word in sy hande die oorvloed wat sy koninkryk opbou. Die lewe gerig op die Here Jesus, aan Hom toegewy en bestuur deur die Hei­lige Gees, het in God se hand groot krag, al is die aardse voorkoms klein en onopsigtelik.

 

“Here, vandag is ek en wat ek het tot U beskikking.”

Posted by Manie on Nov 20th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Next »