Archive for February, 2011

You are currently browsing the archives of Krag vir Vandag .

Woensdag 15 Februarie – Vrede in die Hart

WOENSDAG VREDE IN DIE HART

Lees Romeine 4: 16 – 25

“Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die beloftes van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het” (20,21).

Dr. A. B. Simpson skryf oor die geloof van Abra­ham, hy kon op sy hoë ouderdom, sy eie liggaam, so goed as dood beskou, maar hy was nie daar­deur ontmoedig nie, omdat hy nie op homself nie, maar op die Almagtige vertrou het. God se groot be­loftes aan hom het hom nie laat wankel nie, maar het hom onder die geweldige ge­wig, van die he­mel­se seë­ninge, on­wrik­baar laat vasstaan; ook het hy nie in die ge­loof verswak nie, maar kragtiger geglo, en sterker uitgegroei, namate daar meer moeilik­hede vir hom opgedaag het. Hy het God in sy Al­ge­noeg­saam­heid altyd meer en meer verheerlik. Die Grieks stel dit: hy was ten volle oortuig dat Hy, wat beloof het, nie bloot net daartoe in staat was nie, maar, soos die let­terlike betekenis lui, oorvloedig, ja, mildadig, daartoe in staat was, om dit, uit sy eindelose oorskot van voorraad, alles na te kom. Hy is die God van grens­lose voorrade. Die enigste beperking is by ons. Ons vrae, ons denke, ons ge­bede, ons glo nie genoeg nie; ons verwag­tinge skiet ver te kort. Daar is geen perk gestel aan wat ons kan vra en kan verwag van onse Here, God, die Al­mag­tige nie. En vir sy seëninge word hier ‘n en­kel maatstaf genoem: “Volgens die krag wat in ons werk” (Ef.3:20).

Iemand het dit so gestel: Klim op na die skat­kamer van seëninge, met die leer wat van God­de­li­ke beloftes gemaak is. Ontsluit met die belofte­sleu­tel, geloof, die deur van die rykdom, die ge­nade en die guns van God. St. Augustinus het gesê: “Geloof is die aanvaar­ding van wat ons nie sien nie, en die loon van hier­die geloof is: die aanskouing van wat ons ge­glo het.”

“Here, vandag wil ek deur u beloftes verder uitkyk oor u hemelryk se seëninge.”

Posted by Manie on Feb 15th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Dinsdag 15 Februarie – Die Krag van `n Belofte

DINSDAG DIE KRAG VAN ’N BELOFTE?

Lees 2 Korintiërs 1: 17 – 24

“…Jesus Christus, die Seun van God…is nie ‘ja’ en ‘nee’ tegelyk nie. Hy is die ‘ja’ van God, die ‘ja’ op al die beloftes van God” (18, 19 , 20).”

Sir William Napier gaan een aand stap. Hy kom af op ’n dogtertjie wat bitterlik staan en huil. Sy goedige ge­aard­heid reageer dadelik, en hy gaan sit op sy hurke by haar, om te hoor wat die moeilikheid is. Stukkie vir stukkie hoor hy die storie. Haar ouers is baie arm. Sy is ge­stuur om te gaan melk koop. Sy het gestruikel en geval en al die melk is op die grond uit­gestort. Daar is nie geld vir an­der melk nie. Sir Wil­liam staan op, streel oor haar koppie en vee haar traantjies met sy eie spierwit sakdoek af. “Moenie huil nie, Kindjie. Hier gaan koop vir jou ’n ander kannetjie melk.” ’n Blye glimlaggie breek deur. Hy steek sy hand in sy sak om sy beursie uit te haal. Sy ge­sig val. Hy het nie sy beursie by hom nie! Verleë sê hy: “Ag, Kindjie, ek het nie geld by my nie. Maar môre­aand, dieselfde tyd, kry ons twee mekaar hier. Ek bring vir jou geld vir genoeg melk. Sê vir jou mamma en pap­pa.” Tuis­ge­kom, kom sy vrou hom met ’n breë glimlag tegemoet. In haar hand het sy ’n pragtige vergul­de uitnodigingskaar­tjie. Baie lank al wag Sir William vir ’n uitnodiging na só ’n onthaal. Dit sal sy politieke loop­baan ’n stoot gee. Op­ge­wonde neem hy die kaartjie en lees dit vinnig deur. Dit is vir die volgende aand en dit is dieselfde tyd wat hy beloof het om die dogterjie te ontmoet. Tot sy vrou se verbasing skud hy sy kop. “Nee, ek kan nie gaan nie. Ek het reeds ’n afspraak.” Hy vertel haar van die dogtertjie. Sir William het die gul­de geleentheid van die hand gewys, om sy belofte aan ’n klein, arm dogtertjie na te kom.

Maar sê nou, die dogtertjie het by haarself ge­dink: daardie ryk, belangrike man sal tog nie kom nie, en sy het nie vir die afspraak opgedaag nie? Hoeveel sou sy nie verloor het nie, en watter teleur­stelling sou dit nie vir die belangrike man gewees het nie! Ons hoop sy het die belofte geglo en met haar em­mer­tjie in die hand, vir hom gewag en die geskenk wat hy bedink het, in ont­vangs geneem.

Omdat God ons liefhet en ons jammer kry, be­doel hy groot gawes vir ons. Hy belowe dit. In Jesus ver­vul Hy sy beloftes. Beloftes is die hristus …is die ‘ja’ van God, die ‘ja’ op al die beloftes van God” (2 Kor.1:18,19,20). Onkunde oor God se beloftes in sy woord, en traagheid om Hom te glo, beroof ons van seëninge.

“Here, vandag wil ek u beloftes leer ken en glo.”

Posted by Manie on Feb 14th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Maandag 14 Februarie – Hoe Weet `n Mens?

MAANDAG HOE WEET ’N MENS?

Lees Titus 1: 1 – 4

“…dié waarheid wat lei tot die diens van God en wat hoop gee op die ewige lewe. God wat sy woord hou, het die ewige lewe lank gelede aan ons belowe” (2).

Hoe weet ’n mens jou siel is veilig vir die ewig­heid? Daar is ’n manier. ’n Skip ­strand in ’n hewige storm naby die kus. Vier matrose bereik die rotsag­tige kus. Hulle klouter teen die rotse uit om bui­te be­reik van die woeste inkomende gety te wees. Tot hulle ontsteltenis besef hulle, hulle het tot op die hoogste van die lae reeks rotse geklim, waar die vinnige, inkomen­de gety hulle tog nog kan be­reik. Dit is donker. Hulle sien nie verder as hulle onmid­del­like staan­plekkie nie. Hulle hoor hoe die see hoër op­kruip na hulle toe. Hulle is op die punt om hulle aan die genade van die branders oor te gee, met die hoop dat hulle miskien iewers hoër sal uitspoel, toe een van hulle, om sy ewewig op die rots te verstewig, met sy hand op `n plant druk en dit vas­gryp. So nat as wat dit is, weet hy dadelik dit is nie seegras nie, maar ’n plant met ‘n wortel. Vir ’n oom­blik verlig ’n weerligstraal die omgewing en hy her­­ken die plant as seevinkel. Dit is ’n plant wat altyd hoër as die hoogwatermerk groei. Met groot blyd­skap lig hy sy makkers in. Hulle is veilig, die branders sal nie tot by hulle kom nie. Die een­voudige plant, en die man se kennis van die plant, waarborg vir hulle, in hulle donker nood, vei­ligheid. Hulle staan vei­lig op die rots, ongerieflik, maar veilig, en hoor die water later teruggaan. Toe dit lig word, is hulle gesien en na veiligheid geneem.

In ons lewe raas en dreig die branders van twy­­fel, versoeking, teleurstelling, mislukking in ons ge­moed. Hoe kan ons weet ons siel is veilig vir die ewigheid? Ons het ook ’n waarborg, baie sekerder as die seevinkel. God se beloftes! Die Here se woord is ons sekerheid. Ons is ge­­seënd om dit swart op wit te hê. Het u in Jesus Christus vir die redding van u siel vertrou? Indien só, dan, sê God, het u die ewige lewe. “Maar aan almal wat Hom aan­ge­neem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg ge­gee om kinders van God te word” (Joh.1:12). “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Joh.3:16). Die Heilige Gees wek in ons die behoefte na redding, na die ewige le­we; wek in ons die begrip van Jesus se plaas­ver­vang­ende dood aan die kruis; wek in ons die vertroue in Jesus as redder; wek in ons die optrede om Jesus in die gedagte of met woorde, aan te neem as my Verlosser; wek in ons die versekering, nou is ek kind van God, my sonde is vergewe, ek het die ewige lewe. God belowe dit!

“Here, vandag glo ek u belofte: ek het die ewige lewe.”

Posted by Manie on Feb 13th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Saterdag 12 Februarie – Padkos

SATERDAG PADKOS VIR VANDAG

Uit Padkos – die dagboek uit die Die Lewende Bybel.

My kind, moenie ontevrede wees as die Here jou be­straf nie. Moenie moedeloos word as Hy jou op jou foute wys nie. Want dit is die een wat Hy liefhet vir wie die Here bestraf, en Hy slaan die kinders wat Hy aan­neem (Heb.12:5,6).. – Dit is Hy wat wonde slaan en … dan self weer verbind (Job 5:18). – Buig laag onder God se sterk hand, dan sal Hy self vir julle die eer gee op die oomblik wat Hy daarvoor bepaal het(1 Pet. 5: 6 ) . – Hy be­handel ons nie volgens die sonde wat ons ge­doen het nie en betaal ons nie terug vir ons mis­dade nie. Sy getroue liefde vir die wat Hom vereer is net so oneindig as die afstand tussen die hemel en die aarde. Ons sondes het Hy so ver weggevat as wat die ooste van die weste af is. Die Here is begaan oor dié wat Hom vereer, soos ’n vader oor sy kinders. Hy weet baie goed hoe ons saamgestel is, dat ons van grond gemaak is (Ps.103:10). Want julle Vader weet presies wat julle nodig het, en Hy weet dit nog voordat julle iets vra (Mat.6:8).

Posted by Manie on Feb 11th 2011 | Filed in Padkos | Comments Off

Vrydag 11 Februarie – Kwytgeskeld

VRYDAG – KWYTGESKELD

Lees Romeine 5: 1 – 11

“Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word” (9).

Na die dood van ’n Skotse dokter, wat be­kend was vir sy bekwaamheid en vroom­­­­­heid, vertel Dawn, is in sy re­ke­ningeboek bevind dat verskeie bladsye met ’n rooi pen deurgehaal is, met die byskrif: Kwytgeskeld – te arm om te betaal. Sy vrou het ’n ander houding gehad. “Hierdie mense moet betaal wat hulle skuld.” Sy het hulle dus vir hulle skuld gedagvaar. Die regter het vir haar gevra: “Is dit jou man se handskrif en handtekening?” Sy het be­ves­­ti­gend geantwoord. Toe sê die regter: “Daar is geen reg­bank in die land wat die geld kan afdwing waar jou man geskryf en geteken het: kwytgeskeld nie.” Die skrywer van die insident sluit sy storie af met die woorde: So, likewise, when Jesus writes the word FORGIVEN across your account in the ledger of heaven, we are re­leased from our spiritual indebtedness, and no power can bring us into condemnation before the throne of God.

God vergewe ons en neem ons aan as sy kin­ders, op grond van die Here Jesus Christus se dood aan die kruis. “God is vir ons…Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red…Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry…Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God. Hy pleit vir ons” (Rom.8:31-34).

“Here, vandag glo ek ek het u vergifnis ontvang.”

Posted by Manie on Feb 10th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Donderdag 10 Februarie – Die Prys van Vriendskap

DONDERDAG – DIE PRYS VAN VRIENDSKAP

Lees Johannes 15:9-17

“Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel” (14)

‘n Baie ryk vrygesel het weens sy rykdom baie vriende ge­had. Hy het laat deurskemer sy beste vriende sal goed erf wanneer hy te sterwe kom. Dit het die vriend­skappe nog hartliker gemaak. Na vele jare het hy toe ook gesterf. Dit was in die hartjie van die winter. Hy het bepaal dat hy vieruur in die oggend begrawe moes word. Dit het toe ook in die donker voordagure, in ‘n ysige wind, met die tem­peratuur ver onder vriespunt gebeur. Net drie mans en een vrou het vir sy begrafnis opgedaag. Met die lees van sy testament was daar egter ‘n hartlike belang­stelling. Die testament het gelui dat die groot nala­tenskap eweredig verdeel moet word tussen almal wat sy begrafnis bygewoon het.

Dit is die vriendskap wat onder ongunstige omstandig­hede voort­duur wat eg is. Jesus kies vriend­skap om die verhouding tussen Hom en mense te be­skryf. Jesus word genoem: “…‘n vriend van tollenaars en sondaars” (Luk.7:34). Wanneer die lewe inkalwe en sleg word, bly Jesus by ons. Wanneer vriend­skap met sondaars vir Hom gevaarlik word en die smartlike dood aan ‘n kruis kos, dan bly Hy steeds by ons. “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê” (Joh.15:13). Sy vriend­skap is op sy liefde vir ons gebou. Maar ons is ook sy vriende. In son­skyn van seëninge en veiligheid is dit heerlik om Jesus se vriende te wees. Bly ons sy vriend as die weg nou en steil word? Kan ons vir Hom opofferings maak? Sal ons skade ly vir Hom? Sal ons sy belange bevorder al wen ons niks daarby nie? ‘n Mens kan nie uit eie deug of krag só ‘n vriend van Jesus wees nie. Slegs die volheid van die Heilige Gees se inwoning in ons hart kan ons só ‘n vriend van Jesus maak. Voor Pinkster het Petrus se vriend­skap met Jesus geknak toe hy deur Jesus se vy­an­de uitgedaag is, en hy het Je­sus verloën. Nadat Pe­trus met die Heilige Gees ver­vul is, lees ons in Han­de­linge 5:41 van hom en Jo­hannes: “Die apostels het van die Raad af weg­gegaan, bly dat hulle bevoorreg was om ter wille van die Naam van Je­sus vernedering te ly…en hulle het nie opgehou om…elke dag…die evan­gelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie.” Die Heilige Gees maak Jesus koning in ons har­te en uit liefde vir Hom bly ons aan Hom getrou.

“Here, vandag wil ék ook deur u Gees u vriend wees.”

Posted by Manie on Feb 9th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Woensdag 9 Februarie – Die Koperslang

WOENSDAG – DIE KOPERSLANG

Lees Numeri 21: 4 – 9

“Moses het toe ‘n koperslang gemaak en dit op ‘n paal gesit. As iemand wat deur ‘n slang gepik is, na die koperslang opkyk, het hy bly leef” (9).

D. L. Moody, die bekende prediker, ver­tel hoe hy een nag, tydens die Amerikaanse Burger­oor­­log, na die hospi­taaltent toe geroep is. ‘n Ge­wonde man het hom nodig gehad. Hy sê vir Moo­dy: “Ek het u laat roep om my te help sterf.” Moody antwoord: “As ek jou in my arms die koninkryk van God kon indra het ek dit dadelik gedoen. Maar ek kan nie. Jy moet in jou hart in Christus as jou Ver­losser ver­trou. Hy sal jou in sy arms in God se ko­ninkryk in­dra.” Die man het sy kop geskud. “Hy kan my nie red nie. Ek het te veel gesondig.” Moody noem een na die ander van die belof­tes van redding in die Bybel vir hom, maar hy bly net pas­sief lê. Toe sê Moody vir hom: “Ek gaan nou vir jou ‘n gesprek lees, wat Jesus met ‘n man, wat ook ang­­stig oor die ewige lewe was, gehad het.” Moody lees vir hom in Johannes 3 Jesus se ge­sprek met Nikodemus. Terwyl Moody lees maak die man sy oë oop en vestig dit strak op Moody. Toe Moody by die woorde in vers 14 kom: “Moses het die slang in die woestyn hoog op ‘n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê,” val die man hom in die rede. “Staan dit net so daar?” “Ja,” bevestig Moody dit. “Ek het nie geweet dis in die Bybel nie. Lees dit weer, asseblief.” Hy lig hom in die bed effens op en stut hom op sy elmboë, sy hande styf in mekaar geklem. Na Moo­dy die woorde weer gelees het, sê die man: “Dis goed. Lees dit nog ‘n keer.” Na Moody die woorde ‘n derde keer gelees het, lê die man te­rug, maar die strak uitdrukking op sy gesig het nou plek ge­maak vir ‘n uitdrukking van ont­span­ne vre­de. Die man se lippe beweeg. Moody leun voor­oor om te hoor wat hy sê. Hy prewel: “Soos Moses die slang in die woestyn opgehef het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Hy maak sy oë oop. “Dis genoeg; u hoef dit nie weer te lees nie.” Die volgende oggend het Moody gaan kyk hoe dit met die man gaan. Hy was reeds dood en sy bed was leeg. Die verpleër op diens sê vir Moody: “Na u weg is, was hy baie kalm. Hy het net kort-kort herhaal: ‘Wie in Hom glo sal nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe hê.’” (Die Bode Okt.1997)

Christus het vir ons sonde geword toe Hy aan die kruis gehang het. Al ons sonde het Hy daar gedra, sodat ons vergifnis kan ontvang en deel kan kry in die ewige le­we. “Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons” (Rom.8.34). Ons kan met vry­moe­dig­­heid ons toevlug tot Hom neem.

Here, vandag vertrou ek in U vir my redding.”

Posted by Manie on Feb 9th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Dinsdag 8 Februarie – Oorwinning deur die Woord

DINSDAG – OORWINNING DEUR DIE WOORD

Lees Psalm 91

“Omdat jy die Here as skuilplek geneem het, die Allerhoogste as jou beskermer, sal geen onheil jou tref en geen plaag naby jou woonplek kom nie” (9,10)

In Update Magazine word vertel hoe Delisa Boyd­ston, ‘n 24-jarige musiekstudent, na ’n les na haar motor, in die parkeer­area, toe loop. Sy sluit die deur oop en toe sy buk om in die motor te klim, merk sy ’n man op wat direk agter haar staan. Dit lyk of hy vir haar ’n blaadjie wil gee. Sy dank dit af. Hy neem haar arm stewig in sy een hand en met die ander hand bring hy ’n mes te voorskyn. “Klim in,” beveel hy kortaf. Verward roep sy uit haar hart: “Here, beskerm my!” Sy probeer losruk, maar die vreem­deling dwing haar in die motor in en druk haar tot op die pas­sasiersitplek. Sy probeer die deur oop­maak, maar die deur is gesluit. Met die sleutel wat hy uit haar hand gegryp het, skakel die man die motor aan en trek vinnig weg. “Ek sal jou nie seermaak nie. By die volgende hoek laai ek jou af,” beloof hy. Hy ry eg­ter by straat­hoek na straathoek verby. Sy besef hul­le is op pad na die snelweg toe. Teen die deur gedruk, met die mes teen haar, kom ’n mag­te­lo­se wanhoop in Delisa op. Geen mens kan haar help nie – net God! Delisa was omtrent twee jaar ’n Christen. Haar Bybel lê op die agterste sit­plek. Die Bybel het haar al deur talle krisisse gedra. Dit gaan weer haar toevlugs­oord wees. Sy word kalm. “Neem die mes weg, asse­blief,” sê sy beleefd vir die man. “Teen hierdie spoed kan ek nie uitspring nie.” Vreemd genoeg bemerk sy in die man se oë ook verskrikte paniek. Hy is bang, besef sy. Hy trek die mes terug, en dit lyk of hy ook kalmer word. “Mag ek my Bybel hardop sit en lees?” vra sy. “Dit help my altyd as ek bang is.” Hy knik. Sy neem haar Bybel op die agterste sitplek en maak dit by Psalm 23 oop. Sy begin hardop lees – vir haar eie ontwil, eer­der as syne. “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig” (Ps.23:4). Toe sy die hele Psalm gelees het, kyk die man na haar kant toe. “Jy weet, ek het nog nooit die Bybel en sulke dinge verstaan nie. Ek het nodig dat ie­mand dit vir my verduidelik.” Delisa is nou kalm. In haar hart het hoop opgekom. Sy verduidelik vir die man dit soos sy die Psalm verstaan. En sy gaan voort en vertel vir haar kaper dat God hom liefhet en wat nou ge­beur, kan God se manier wees om hom te bereik. Hy gee ’n diep sug, bring die motor tot stilstand, maak ’n u-draai. “Ek neem jou terug,” sê hy kortaf. Sy vra hom om na haar kerk toe te ry. Daar ge­kom, klim hy ook gewillig uit. Saam met haar gaan hy na die kerk se dominee toe, wat die evangelie verder vir hom verduidelik. Deur trane sien Delisa hoe die man kniel en die Here vir ge­na­de en red­ding bid. Sy dink nie eers daaraan om die man nou by die polisie aan te kla nie. As God hom vergewe het, wie is sy om hom te vervolg? Die vol­gende Sondag sit die kaper en sy gyselaar saam in die­selfde kerk om die Here te dien. (Die Bode Aug.1999)

In ’n noodsituasie kan ons die Here aanroep om ons uit te red. “Op die dag van gevaar sal die Here my weg­steek in sy huis, my veilig laat skuil in sy woon­plek…” (Ps.27:5). “Die Engel van die Here slaan sy laer op rondom dié wat die Here dien, en red hulle” (Ps.34:8). “In jul­le nood het julle geroep en Ek het julle gered” (Ps.81:8)

“Here, vandag soek ek veiligheid by U.”

Posted by Manie on Feb 8th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Maandag 7 Februarie – Kosbare Bybel

MAANDAG – KOSBARE BYBEL

Lees 1 Timoteus 4:6 – 16

“…sal jy ‘n goeie dienaar van Christus Jesus wees wat jouself voed met die woorde van die geloof en die goeie leer waarvan jy ‘n aanhanger geword het” (6).

In The Living Power of God’s Word vertel Dennis M. Mulder, wat geestelike werk onder die Sjinese doen, dat hy in ‘n kerk in Shangai langs ‘n vrou, in haar middesestiger jare, sit. Die aandagtige wy­se waarop sy na die preek luister en die eerbiedige ma­nier waarop sy die sangbundel hanteer, tref hom. Wat hom aangryp is haar verminkte hande. Dit lyk of haar vingers, teen mekaar gestrengel, ver­steen het. Na die diens spreek hy haar aan: “Het jy ‘n Bybel?” Verras dat hy haar in haar eie taal aanspreek, met ‘n gretigheid in haar houding, antwoord sy nederig: “Nee, ek het nie ‘n Bybel nie.” Hy is nie verbaas oor haar antwoord nie, want hy weet dat daar in die hele kerk net omtrent tien By­bels beskikbaar is. “Ek vetrek more,” gaan Den­nis verder, “en ek het twee Bybels in my hotelkamer. Kan ek dit vir jou en een van jou vriende gee?” Sy is dadelik gewillig. Saam stap hulle na sy hotel toe. Hy vra haar na haar hande.

“Gedurende die kulturele rewoluse hier in ons land,” vertel sy, “het die Rooi Wagte my huis binne ge­kom en deursoek vir Bybels. Ek het my Bybel in die koue as van my stoof wegge­steek, maar hulle het dit daar gekry. Een van die wagte het dit in sy han­de gehou, maar ek het dit uit sy hande gegryp en teen my vasgedruk. ‘Gee vir ons daardie boek vol mites!’ het hulle geskreeu, maar ek het dit vasge­klou. ‘Ek kan dit nie vir julle gee nie,’ het ek terug geskreeu. ‘Dis al wat ek het om my van Jesus, my Here, te vertel!’ Hulle het kwaad geword en my buite toe gesleep en my klere van my afge­stroop. Hulle het die omstanders beveel om my te be­le­dig en op my te spuug. Na ure in die warm son het hulle weer geskreeu: ‘Gee daardie boek!” Ek het weer geantwoord: ‘Ek kan dit nie prysgee nie. Dis al wat ek van Je­sus, my Here en Verlosser, weet.” Hulle het my op die sy­paad­jie platgegooi. Een van hulle het sy voet op my nek gesit en die ander drie het met loodpype oor my han­de begin slaan. Hulle het aangehou totdat daar geen ge­voel meer in my hande was nie. Die Bybel het uit my hande, in die stof op die sypaadjie, gegly. Die skare het ge­juig. Dit was die laaste keer dat ek ‘n Bybel in my hande gehou het.”

Dennis sê dit het hom net minute geneem om na sy ho­­telkamer toe te gaan en die twee Sjinese Bybels te bring. Toe hy seker is niemand kyk nie, het hy die Bybels in haar verminkte hande gesit. Sy kon nie praat nie. Sy het net met groot, traangevulde oë na hom gekyk. Sy het om­­ge­draai en in die stroom van verbygangers verdwyn. Hy het haar nooit weer gesien nie, maar hy skryf: “That day in Shangai I saw how precious the Word of God can be to someone.”

Ons is maklike besitters van Bybels. Hoe kosbaar is die Woord vir ons? The Baptist Challenge skryf dat ‘n op­na­me aan die lig gebring het dat 23% van mense wat ‘n Bybel het dit nie lees nie. Net 18% van belydende Chris­te­ne het gesê hulle lees die Bybel elke dag. 18% het gesê hulle lees dit van drie tot ses keer per week. Bybelle­sers het gesê hulle be­stee gemiddeld 22 minute per dag aan die lees van hul­le Bybel. (Die Bode Aug.1997)

Die Bybel is die voedingsbron van ons geestelike lewe. Pe­trus noem God se woord die “onvervalste melk van die woord” (1 Pet.2:2). Christus het gesê: “Daar is geskrywe: ‘n Mense leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom” (Mat.4:4). Vir ‘n gesonde, groei­ende geestelike lewe, het ons nodig om God se woord gereeld, daagliks te lees.

“Here, vandag en elke dag wil ek u Woord lees.”

Posted by Manie on Feb 8th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

« Prev