Archive for February, 2011

You are currently browsing the archives of Krag vir Vandag .

Maandag 28 Februarie – Dankie

MAANDAG DANKIE

Lees: Lukas 17: 11 – 19

“Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege dan?” (17)

Die stoomboot, Lady Elgin, met 323 passasiers aan­boord, het een koue September­oggend, digby die hawe van Chicago, in ’n storm begin sink. Die skare op die dokke het die tragedie magteloos staan en aanskou. Twee broers, studente aan die teo­logiese fakulteit van Chicago, en lede van die uni­versiteit se see­red­­dingspan, het tou in die hand, deur die mense gebeur. Nat, die oudste van die twee Spencer broers, was ‘n buitengewone sterk atleet en geoefende swemmer. Hy het die reddingstou om sy breë bors gebind, terwyl sy broer die ander end van die tou vashou. Sonder huiwering het hy in die water geduik. Met behulp van sy broer wat die tou vasgehou het, het hy heen en weer in die ysige water, tussen die sinkende boot en die land ge­­swem en 15 persone gered. Ander weer­ga­wes gee dit aan as 23.

Na hy met die laaste persoon wat hy kon bereik, uitgeswem het, het hy uitgeput en koud langs ’n vuurtjie op die kant neergesak. Juis toe sien hy ’n man wat wanhopig aan ’n stuk dryfhout vasklou. “Ek moet hom gaan help,” roep hy uit en spring op. Sy broer en vriende probeer hom teëhou met: “Jy’s te moeg, man!” Maar met ’n kreet, “Ek gaan probeer!” storm hy weer die ysi­ge water binne. Hy het die man by die land gekry, maar hy­self is bewusteloos hospitaal toe geneem. Sy eer­ste woorde na hy bygekom het, was: “Het ek my bes gedoen?” Almal het hom verseker hy het sy bes gedoen en hom gesê hoeveel mense hy gered het. Maar na ’n rukkie vra hy weer: “Maar het ek heeltemaal my bes gedoen? Daar was so baie!” Heel nag het hy kort­­-kort geprewel: “Ag, as ek net nog een kon red.” Hy het na ’n lang tyd as invalide uit die hos­pi­taal gekom. Die tragiese einde van die verhaal is, dat nie één van die mense wat hy die dag ge­red het, hom bedank het, of hom besoek het, gebel het, of of selfs vir hom geskryf het nie.

Dit was hoe Jesus se hart geklop het. “Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore was” (Luk.19:10). Selfs op pad na Golgota toe, met sy kruis op sy skouers en selfs ook aan die kruis, het hiérdie reddingsverlange Hom drie keer oor redding laat praat. Aan die vroue wat agter die kruis aan gevolg het: “Vroue van Jerusalem, moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders…” (Luk.23:28); Sy gebed aan die kruis: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Luk.23:34). Aan die man wat langs Hom gekruisig is: “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (Luk.23:43). Is Jesus se verlange om ’n mens te red, sy sondes te vergewe en hom ’n toegang tot die hemel te gee, al in ú lewe vervul? Het u Hom al met die oorgawe van u hart dankie gesê vir sy groot redding? Of nog beter, lewe iets van daardie reddingsywer teenoor ander in u hart?

“Here, vandag dank ék U vir u groot redding.”

Posted by Manie on Feb 27th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Saterdag 26 Februarie – Padkos

SATERDAG PADKOS VIR VANDAG

Uit Padkos – die dagbboek uit die Die Lewende Bybel.

Maar ek sal sing van u krag en U elke môre met vreugde prys oor u liefde…U is my krag… U is my getroue God, want U was my vesting en my veilige skuilplek in gevaar (Ps.59:17). Luister na my, Here, en kry my tog jam­mer, help U my, asseblief! (Ps.30:11). Al sou ‘n mens trane stort in die nag, gee die Here die volgende môre weer blydskap (Ps.30:6). Laat jou lewe aan die Here oor, want as jy op Hom ver­trou, sal Hy vir jou sorg (Ps.37:5). Maar die genade van God is groter as die sonde. Daarom het die liefde van een mens, Jesus Christus, ’n wonderlike geskenk vir baie mense gebring, want hulle sondes is vergewe (Rom.5:15). – Want dit is die Heilige Gees wat ons met Christus Jesus verbind en ons die werklike lewe gee. So het die Gees ons dan verlos uit die mag van die sonde wat ons in die dood ingesleep het (Rom.8:2). – Jesus Christus het die oorwinning behaal en nou het God vir ons ook saam met Hom aan die wenkant gesit (1 Kor. 15:57). Nie net ons hande nie, maar ook ons harte moet ons na God toe uitsteek as ons bid… (Klaag.3:41). Wie sal ooit met die Here ons God ver­gelyk kan word? Sy troon is in die hoogte en daarvandaan kyk Hy af op die hemel en die aarde (Ps.113:5,6). Nie net ons hande nie, maar ook ons harte moet ons na God toe uitsteek as ons bid… (Klaag.3:41).

Posted by Manie on Feb 25th 2011 | Filed in Padkos | Comments Off

Vrydag 25 Februarie – Goedkeuring

VRYDAG GOEDKEURING

Lees Filippense 3: 7 – 14

“Ek span my in…sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het… ” (14)

‘n Briljante, jong konsertpianis tree vir die eerste keer in die openbaar op. Sy gehoor luister verruk na die lieflike musiek, wat van sy vaardige, gedissi­plineerde vingers, na hulle toe uitvloei. Terwyl die laaste note wegdraal, breek ‘n geesdriftige ap­plous los, vertel pastor Sargent in sy in­ter­netrubriek ‘n sto­rie, wat Neil Verwey vir ons gestuur het. Staande juig hulle hom toe. Maar hy reageer nie dadelik nie. Sy oë soek deur die ska­re na die een persoon wie se goedkeuring en tevre­denheid saak maak. En toe hy hom raaksien en sien hy klap ook geesdriftig hande, breek die er­ken­­ning vir die skare se applous, stralende deur hom. Ons kan raai na wie hy eers gesoek het. Sy mu­siekmeester! Toe hy sien sy meester is tevrede, voel die jongman gelukkig.

Ons soek, al is dit onbewus, na ander se goed­keu­ring vir ons baie soorte le­wenspogings. Dit is ook reg. Dit spoor ons aan om goed te presteer. Watter goedkeuring moet ons voorkeur wees:”Klink dit nou asof ek die guns van mense soek, of soek ek die guns van God? Probeer ek by mense in die guns kom? As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie” (Gal.1:10). Gelukkig is elkeen wie se lewensdoel­wit is om God se goedkeuring te soek. En as ons so lewe dat God met ons tevrede is, bring dit nie net in ons eie hart vrede nie, maar dit maak ons lewe teenoor ander ook sommer reg. “…ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil” (2 Kor.5:9).

“Here, vandag wil ek U tevrede stel.”

Posted by Manie on Feb 24th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Donderdag 24 Februarie -Hy Het Sy Lewe Gegee

DONDERDAG HY HET SY LEWE GEGEE

1 Johannes 3: 11 – 17

“Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê” (16)

Die Preachers’ Promptuary of Anecdotes vertel dat die dak van die Bridgenorth Church herstel is. Met etenstyd het die werkers hulle werk verlaat. Twee seuns van ’n naburige skool het in die afwesigheid van die werkers op die dak geklouter en heerlik tussen die balke gespeel. Toe dit amper tyd was vir die werkers om terug te keer gee die twee pad, maar hulle hardloop oor ’n swak stuk pla­fon wat onder hulle padgee. Die jongste van die twee was voor. In sy val gryp hy ’n balk stewig vas. Die ouer seun val agter die jonger een aan en gryp dié se voete vas. Daar hang die twee en wens die werkers wil terug kom. Na ’n ruk voel dit vir die ouer seun, wat aan sy maat sy voete vasgegryp het, dat die maat se greep wil gly. “Kan jy nog ’n rukkie hou…as ek jou voete los.” “Ja,” fluister die ander een van bo af. “Sê vir my ma ek was nie stout nie. Ek is lief vir haar. Totsiens!” en daarmee los hy sy maat se voete en val met ’n dowwe plof op die vloer, ver daaronder. Kort daarna keer die werkers terug en kry hulle die seun wat nog aan die balk hang en die ander een wat dood op die vloer lê.

Die ouer seun het geweet hy gaan hom dood val, maar hy wou sy maat se lewe red. Dalk was dit hy wat die spelery op die dak voorgestel het en hy het vir sy maat se lewe verantwoordelik gevoel. Hoe dit ook sy, dit ontroer ons en dwing ons bewondering af, wanneer ‘n persoon sy kosbare lewe prysgee ter wille van iemand anders. Dit is die wonderlike fondament waarop Chris­tus se verlossing staan. Hy het sy lewe prys­gegee, sodat ons kan lewe. Dit is die evangelie. Jesus het self verklaar: “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê” (Joh.13:15). Dit is ’n waarheid wat Paulus verstom het: “’n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie…ja, tog vir ‘n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Rom.5:7,8). Het hierdie groot wonder al vir ú hart oopgegaan en u het met oorgawe Christus se liefde vir u erken en dit aangeneem met geloof in Hom as u Verlosser? “Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring…” (1 Petrus 3:18).

“Here, vandag sê ek dankie: U het u lewe vir my gegee om my te red.”

Posted by Manie on Feb 23rd 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Woensdag 23 Februarie – Die Krag Van Die Seestroom

WOENSDAG DIE KRAG VAN DIE SEESTROOM

Lees Handelinge 16: 6 – 40

“…hulle (het) na Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees… het hulle dit nie toegelaat nie…”(6-11).

Charles Brown skryf in Yale Talks dat hy aan die kus van Labrador ysberge gesien het wat tot negen­tig en hon­derd meter hoog die lug in toring. Hierdie ysberge dryf suid teen ’n geweldige sterk wind in. Die geheim is die rigting van die seestroom. Die groot Labradorsee­stroom beweeg suid. Sewe-agstes van die berg lê diep onder water. Die greep van die stroom op hierdie ys­ber­ge bepaal hulle koers en hulle dryf teen die sterkste wind in. Charles Brown maak ’n geestelike toepassing van hierdie natuurge­beure: “The Christian man has a sense of deep un­derlying agreement with the will of God. His activities lie securely in the will and purpose of the Almighty. He has power which comes from depth. It is the law within which determines the life without.”

Dit is ’n goeie en geseënde Christenlewe as die kind van God só deur die Gees van God gerig en beheer word in die uitlewe van sy lewe vir Christus. So ’n lewe van ge­hoorsaamheid aan die Heilige Gees verloop nie altyd mak­lik en spieëlglad nie, maar dit oefen groot seën en krag vir die Here se koninrkyk uit. Handelinge 16 beskryf ’n sprekende voorbeeld van só ’n Christenlewe. “Hulle (Paulus en Silas) het daarna deur die gebied van Frigië en Galasië gereis, omdat die Heilige Gees hulle ver-hinder het om die woord in die provinsie Asië te verkondig… (Hand.16:6-10).

In ons geringer ervaringe as dié van die apos­tels, is die­selfde beginsel van God se beheer oor ons daaglikse lewe van toepassing. Ons vermy se­kere dinge en ons doen sekere dinge omdat die krag van God in ons hart ons lewe rig: “…julle staan in ’n sterk verhouding met Jesus deur julle geloof en julle tree liefdevol onder mekaar as God se mense op…ek vra God…om deur sy Gees vir julle die kennis te gee wat julle nodig het om in hierdie lewe reg op te tree. Ek vra ook dat julle Hom beter en beter sal leer ken deur alles wat Hy vir julle sal duidelik maak…sodat julle kan besef wat julle van Hom kan verwag…(en) dat julle sal agterkom dat die krag van God wat in ons werk sterker as enigiets anders is” (Efese 1:15-19).

“Here, vandag wil ek in my doen en late deur u Gees gerig word.”

Posted by Manie on Feb 22nd 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Dinsdag 22 Februarie – Skoon

DINSDAG SKOON

Lees 2 Korintiërs 6: 14 – 7: 1

“Laat ons ons dan reinig van alles wat liggaam en gees verontreinig, en ons in gehoorsamheid aan God volkome aan Hom toewy” (7:1)

Sanyo Electric Co. verkoop ‘n drom­tipe was­mas­jien, die Aqua, om klere mee te was, berig die Japan Echo Inc. van 18 Maart 2006. Die merk­waardigste eienskap van hier­die wasmasjien is, was die klere nie met water nie. Dit het ‘n lug­was­funksie wat die krag van oksidasie ge­bruik om bakterieë dood te maak en reuke te ver­wy­der. Hierdie lug­was­funk­sie gebruik osoon, ‘n che­­miese stof, wat effektief is om die vuil­heid te ontbind. Met hierdie lug­was­proses word osoonlug op die items in die masjiendrom ge­sproei. Na omtrent 30 mi­nute is al die items se reu­ke en bakterieë ver­wyder. Die klere is skoon. Om lug te ge­bruik om goed te was, mag vreemd klink, maar Aqua se teg­nologie is doeltreffend om selfs items te reinig wat moeilik met water skoon gekry word, by­voor­beeld die reuke van sigaretrook, sweet en dié van troeteldiere. Delikate items soos pak­ke klere, skool­­­uni­­forms, pantoffels en opge­stop­te speel­goed is geen probleem vir die Aqua­masjien nie, want die waspro­ses vind plaas, son­der dat die drom beweeg. As sul­ke items in ‘n wentelende drom geplaas word, kan dit maklik skeef trek. Die Aquamasjien kom in ‘n tyd, voeg Neil Verwey van die Japansending by, dat ko­pers meer as ooit besorg geraak het oor higiëne, soos gesien kan word in die oormaat produkte op die mark, spuit­stowwe en ander, wat dikwels gekoop word om reuke van klere te verwyder.

Min huise is sonder ‘n klerewasmasjien. Twee faktore dra hiertoe by: ons leef in ‘n wêreld waar ‘n mens se klere daagliks vuil en vuiler word, en twee­­dens, die meeste van ons dra graag skoon kle­re. Ons hou nie van vuil en stink klere nie.

Hierdie twee faktore gaan dieper as ons klere en liggaam. Dit is ook geestelik waar. Ons siel, ons hart raak vuil in die wêreld waarin ons leef. Ons sien, hoor, beleef dinge wat ons innerlik vuil laat voel. As God se Heilige Gees deur sy woord ons van God bewus maak, word ons bewus van vuilheid in ons har­te. Dit is ‘n geseënde toestand as ons van son­devuilheid, on­rein­heid, sondeskuld, bewus raak. Die Heilige Gees wek in ons die behoefte om gees­telik skoon te wees. Oorvloedig skyn God se heilige lig uit sy woord op ons lewe: “Was julle, reinig julle…hou op met kwaad doen…,” en dan kom die wonderlike be­lofte van vergifnis en reiniging, “Kom laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van son­de, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperooi, julle sal wit word soos wol” (Jes.1:16-18). Ons Here, Jesus Chris­tus, het ‘n hoë en duur prys betaal om vir ons hier­die harts­reiniging en sielsvergifnis te bewerk: “Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons ge­meen­skap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun reinig ons van alle sonde” (1 Joh.1:7 ).

“Here, vandag soek ek reiniging van my sondes.”

Posted by Manie on Feb 21st 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Maandag 21 Februarie – Soek Vrede

MAANDAG SOEK VREDE

Lees Eksodus 33: 12 – 17

“Toe het die Here gevra: ‘Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?’ Toe het Moses vir Hom gesê: ‘As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie’” (14,15)

Na ‘n man se aftrede in die 1980’s, het hy en sy vrou, uit vrees vir ‘n kernoorlog, ‘n plek van vrede en sekuriteit en ook gerief gesoek. Nuwe bronne geraad­pleeg en weer gaan kyk. Uiteindelik het hulle DIE PLEK gekry. Hulle het van hulle nuwe veilige tuis­te in die Falklandeilande vir hulle vriende kaar­tjies ge­stuur. Hulle het te gou gepraat. Nie lank na hulle intrek daar nie, het die sg. Falklands War, die oorlog tussen Engeland en Argintinië oor be­heer van die eilande, uitgebreek. Hulle vredesoord het ‘n ge­vegs­­ter­rein geword. Eerw. David A. Sar­gent, wat hierdie storie vertel, merk op: “There is not a place in the world where one may find perfect peace.”

Daar mag lande of streke wees waar daar nie huidiglik oorlog gevoer en ge­veg word nie, maar oral is dreigende spanning en botsings – tussen rassegroepe, in die werk­plek, met die bank, met skuldeisers, met bure, met familielede en ook in ‘n mens se eie hart met jouself. “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê, maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oor­win” (Joh.16:33). David Sargent skryf: “A perfect peace is ours, not because of the absence of trouble, but because of the presence of God! Not the absence of conflict on the outside, but an inner calm within the individual.” Vrede in die midde van die storm. “It is based on trust in a God who cares and provides for His child­ren.” In Lukas 12: 22-32 belowe Jesus beskerming en ver­sorging, wat God soos ‘n Vader, aan sy kinders gee: “Moet julle nie be­kom­mer oor julle lewe, oor wat julle moet eet nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie…julle moenie besorg wees nie… julle het ‘n Vader wat weet dat julle dit nodig het.”

David Sargent voeg by: Jesus Christ died on the cross so that YOU and I might have THAT peace. Through His death, burial, and resurrection, Jesus conquered the number one problem that keeps us from having peace: SIN.

Die geheim van vrede? God se nabyheid. Dit was Moses se wysheid om te weier om ‘n voet te versit tensy hy die versekering van God se naby­heid het. Ons ervaar God se nabyheid deur Jesus se koningskap in die hart. Jesus se koningskap volg as ons nie die Heilige Gees weerstaan nie, maar sy werking in ons soek deur gebed en Bybel­studie en omgang met ander kinders van God.

“Here, vandag begeer ek dat U naby my is.”

Posted by Manie on Feb 20th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Saterdag 19 Februarie – Padkos

SATERDAG PADKOS

Uit die dagboek PADKOS, uit die Lewende Bybel.

Waarop julle in die eerste plek moet konsentreer, is dat God se koningskap erken sal word en dat mense sal doen wat Hy wil hê (Mat.6:33). – Selfs sy eie Seun het Hy nie teruggehou nie, maar Hy het Hom gegee om in ons almal se plek doodgemaak te word. As Hy ons sy Seun gegee het, sal Hy dan nie vir ons alles gee nie? Ja, Hy sal dit beslis doen (Rom.8:32). –Want die Here God is ons son wat vir ons lig gee en ons skild wat ons beskerm…en Hy sal niks wat goed is… terughou nie (Ps.84:12).– Hy kan iemand wat moeg is, krag gee en iemand wat swak is, weer sterk maak … dié wat hulle verwagting op die Here stel kry nuwe krag (Jes.40:29,30). Kyk my lewe deur, Here en toets my, beoor­deel my hart en my motiewe (Ps.26:2). As ons erken dat ons son­­de gedoen het, sal Hy ons sondes ver­gewe… (1 Joh.11:9)

Posted by Manie on Feb 18th 2011 | Filed in Padkos | Comments Off

Vrydag 18 Februarie – Die Doel Van Beproewing

VRYDAG DIE DOEL VAN BEPROEWING

Lees 1 Petrus 5: 5 – 7

“Werp al julle bekommernis op Hom… Hy sorg vir julle.”

Die grofsmid op ’n plattelandse dorp was ’n uit­ge­spro­ke Christen, maar hy het ’n besondere tyd van be­proe­wing en teëspoed beleef. Een van sy kliënte vra hom eendag. “Ek weet jy gaan deur ’n moeilike tyd. Dit is vir my bietjie van ’n pro­bleem. Ek het altyd ge­dink as mens die Here so ernstig dien soos jy, dan seën die Here ’n mens en hou die teë­spoed weg. ’n Mens verwag die Here seën alyd sy kinders.” Die grofsmid het sy hamer, waarmee hy besig was om ’n stuk yster reg te slaan, ’n paar oomblikke stil laat lê. Hy antwoord ernstig: “Dankie dat jy vra, want ek het ook so gedink en my moeilikhede was vir my ’n pro­bleem. Ek het daaroor gebid en ek glo die Here het vir my die antwoord hier in my werkswinkel gegee. Sien jy hierdie stuk yster op die werksbank. Dit is vir die vere van ’n koets. Ek moes dit deeglik temper om die veerkrag reg te kry. Om dit te doen, moes ek die yster rooiwarm maak en dan in die kouwater dompel. Oor en oor, todat die yster die temper aangeneem het. Daarna moes ek dit weer in die vuur sit en rooi­warm maak en met die hamer regslaan. Op soek na die regte yster vir koetsvere het ek etlike stukke ge­kry wat bros was. Ek moes dit op die afvalhoop gooi. Hierdie yster wat ek vir die koetsvere kon gebruik, is nou baie werd.” Die grofsmid bly ’n ruk­kie stil. “God red ons nie net om ’n lekker tyd te hê nie. Ja, sy redding is heerlikheid, maar Hy wil ons in sy diens gebruik. Uit ons eie is ons nie sommer net goed genoeg vir sy hoë doel met ons nie. Hy laat ons deur die oond en onder die hamer van beproe­winge deurgaan om die temper van die Here Jesus in ons te vorm. Na ek dit so ingesien het, bid ek nou: ‘Here, U kan my toets en beproef soos U wil, moet my net nie op die afvalhoop gooi nie.’”

As die Here beproewinge in ons lewe stuur, doen Hy dit met groot liefde. Hy ken ons maaksel. Hy wil ons bruikbaar maak, nie vernietig nie. “Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is…onverganklik is die liefde van die Here vir die wat Hom dien” (Ps.103:13,17).

“Here, vandag vertrou ek my aan U toe.”

Posted by Manie on Feb 17th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Donderdag 17 Februarie – Die Ander Een

DONDERDAG DIE ANDER EEN

Lees Lukas 6: 37 – 42

“Gee, en vir julle sal gegee word: ’n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee” (38).

‘n Welgeklede vrou spreek Kosie na die og­­gend­diens direk aan. “Jy is Kosie Marais, nê. Jy is op ons kerklys om Vrydagaand se Kersboom by te woon.” Vol blydskap draai Kosie na haar toe. “En my sussie, Hanna? Sy is siek in die bed, maar sy sal Vrydagaand gesond genoeg wees.” “Ons neem net een kind per huis,” antwoord die vrou kort­af en stap weg. Kosie gaan terug huis toe en loop diep ingedagte met die nou, vuil trap op na die woon­stel­letjie toe waar hy saam met sy ma en sy sussie, Hanna, woon.

Die Vrydagaand woon hy die Kerspartytjie by. Dik geëet en lekker saam met die maats ge­speel, word dit uiteindelik tyd vir geskenke uit­deel. Aan die voet van die versierde boom lê ’n hoop ge­­sken­ke. Lank voor sy beurt kom, weet Kosie reeds wat alles daar lê. Soveel mooi goed! Wat sal ’n seun­tjie, wat niks het nie, tog nie alles kan kies nie! En elkeen kry net een geskenk. Dieselfde tan­nie wat hom na die partytjie toe genooi het, roep hom nader en vra wat hy wil hê. Kosie antwoord. “Graag­ste, Tannie, wil ek die rooi brandweerwa hê, maar as Tannie nie omgee nie, vat ek as­se­blief liewer die pop.” Dit lyk of sy verstaan en sonder ’n woord gee sy vir hom die pop. ’n Gekoggel en gespot breek uit van die ander kinders se kant af. “Kosie, speel pop! Kosie is ’n meisietjie!” Rooi in die gesig neem hy sy pet. Onder gelag gee hy pad huis toe.

’n Rukkie later is Kosie in die donker ka­mertjie waar Hanna lê. “Ek is so bly jy het gekom,” groet Hanna met verlepte ogies. “Was dit lekker? Wat het jy toe gekry.?” Sonder ’n woord sit Kosie die groot pop langs haar neer. Sy gaan penregop op die bed sit en staar met blink oë na die pop. “Is dit vir my?” roep sy. “O Kosie, is dit myne?” skreeu sy behoorlik. Ou Kosie begin glimlag. Hy het so swaar die brand­weerwa prysgegee en moes toe nog on­der ’n gespot deurloop. Dinge het vir hom regtig swaar geword, maar noudat hy Hanna se blydskap sien, is dit lekker. Dit word sommer so warm in sy hart.

Aan die deur word geklop. Dis weer die tannie van die kerk. “Kosie,” sê sy, “ek kom net sê hoe jammer ek is die kinders het jou so geterg. Toe jy weg is, het ek hulle vertel hoekom jy die pop geneem het. Almal is toe jammer en skaam en hulle het gevra ek moet dit vir jou bring.” Sy sit ’n pakkie op die rakkie langs die deur neer. Voor sy met die trap afgaan sien Kosie hoe sy met haar hand oor haar oë vee. Versigtig maak Kosie die pakkie oop. Hy gee een lang fluit. In sy hande hou hy die rooi brandweerwa.

Kosie het ’n dubbele geskenk ontvang. Die brand­weer­wa en die blydskap dat hy eerste aan die ander een, sy sussie, gedink het. “…God het die blymoe­dige gewer lief. En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk…(2 Kor.9:7,8).

“Here, vandag dink ek eerste aan ’n ander.”

Posted by Manie on Feb 16th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Next »