Archive for January, 2011

You are currently browsing the archives of Krag vir Vandag .

Vrydag 21 Januarie – Dieselfde Maar Anders

VRYDAG DIESELFDE MAAR ANDERS

Lees: Lukas 6: 12 – 15

“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Je­r­u­salem…tot in die uithoeke van die wêreld.” (8).

Charles G. Finney, word geken as die prediker met die flammende krag van die Heilige Gees in sy pre­diking. Die skrywer Vance Havner, skryf in The Wind and the Spirit oor die verskillende manier waarop die Heilige Gees met verskillende mense werk. Hy noem Knox, Luther, Wesly, Moody, almal magtige werktuie in God se hand, maar met elkeen het die Here anders ge­werk. Die vrug, meerdere of mindere vrug, was die­selfde: bekering van mense. Finney skryf oor sy eie ervaring, soos in die Elim Evangel aangehaal, van ’n magtige vervulling met die Heilige Gees: “As I turned and was to take a seat by die fire, I received the mighty Baptism of the Holy Spi­rit. The Holy Ghost descended upon me in a manner that seem­ed to go through me, body and soul. I could feel the impressions like a wave of electricity going through and through me.” Oral het sy prediking ook gepaard gegaan met kragtige bekerings.

Ons soek nie die opwinding van ’n vervulling met die Heilige Gees nie, maar sy seën en krag in ons hart om reg vir God te lewe. Die inwoning van die Heilige Gees maak ons lewende en getroue getuies vir Christus, wat die belange van sy konink­ryk op die hart dra. Ons wil versigtig leef dat ons gedrag nie sy Naam en sy eer skade doen nie. “En be­droef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing” (Ef.4:30).

“Here, vandag vra ek vir die volheid van u Gees.”

Posted by Manie on Jan 20th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Donderdag 20 Januarie -Krag van `n Eie Besluit

DONDERDAG – KRAG VAN `N EIE BESLUIT

Lees Job 22: 21 – 30

“Besluit jy iets, kom dit tot stand” (v28 Ou Vert.)

In die April 2009 se uitgawe van Daelikse Woord, Lig, word die storie vertel van groep jongmans wat by Jesus aankom, waar hy `n skare toespreek. Een van die mans hou iets in sy hand vas. Hulle het van Jesus se groot wysheid gehoor en nou gaan hulle Jesus se wysheid toets en probeer om Hom voor die mense te verneder. In sy hand hou die man `n klein voëltjie vas. Hy gaan vir Jesus vra: “Meester, wat hou ek in my hand vas?” As Jesus sou antwoord dit is `n voël­tjie, gaan hy Hom vra: “Meester, is hy dood of lewe hy?” Antwoord Jesus die voëltjie is dood, gaan hy sy hand oopmaak en die voëltjie laat wegvlieg. Ant­woord Jesus egter, die voëltjie lewe, gaan hy die nek­kie afdruk en die dooie voëltjie vir Hom wys.

Selfversekerd stap die jongman en sy maats na Jesus toe en die man spreek hom aan: “Meester, ons het van u wysheid gehoor. As U dan so slim is, wat het ek in my hand.” Jesus antwoord: “’n Klein voël­tjie.” Effens ontnugterd deur Jesus se onmid­delike antwoord, druk die jongman deur met sy plan. “Mees­ter, sê dan vir ons: Is hy dood of lewe hy?” Sonder om te aarsel antwoord Jesus met `n sagte stem: “Jongman, die besluit is in jou hande.”

In baie van ons se hande rus die verantwoorde­likheid, hoe `n saak sy verloop gaan hê. Die groot­ste verant­woor­delikheid is die ewige bestemming van ons siel. Ons neem Jesus se redding aan of ons verwerp Jesus se redding. Ek het so pas weer Jesus se kruisigingsverhaal gelees. Aan elke kant van Hom hang `n misdadiger aan `n kruis. Een ver­werp Hom en gaan verlore, die ander een neem Hom aan en word ewig gered.

“Here, vandag dank ek U ek kan oor my ewige bestemming `n keuse maak. Ek kies U as my Verlosser.”

Posted by Manie on Jan 19th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Woensdag 19 Januarie – Testamentsopening

WOENSDAG – TESTAMENTSOPENING

Lees 1 Korintiërs 11: 23 – 26

“Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is…die beker geneem en gesê: ‘Hierdie beker is die nuwe verbond (testament) wat deur my bloed beseël is.’”

Die bekende natuurkundige en filosoof, Sir Isaac Newton het eenkeer gesê: “Ons moet die evangelie nie só lees soos ‘n boedelberedderaar ‘n testament sou lees nie, maar só, soos ‘n regmatige erfge­naam dit sou lees!” Sieg Engelbrecht het hierdie belangrike onderskeiding vir ons beskryf.

“n Boedelberedderaar lees ‘n testament wat oopgemaak word, begryplikerwyse binne ‘n juridie­se saak­verband, met toetsende oë, maar sonder hart. Die boedelberedderaar neem elke sin, elke uitdruk­king onder die loep en probeer vasstel of die be­paling(s) onberispelik en of hulle dalk aanvegbaar is. Hy moet die testament krities lees en homself af­vra, hoe die testamentopsteller dit bedoel het en hoe die testament voltrek moet word. Dit is hoe baie mense hulle Bybel lees, koud en krities, en hulle soek na moontlike weersprekinge en onge­rymdhede. So bly hulle onbetrokke en vind hulle geen wins daarin nie.

Hoe anders lees die regmatige erfgenaam ‘n tes­tament nie! By elke sin sê hy vir homself met blydskap en opwinding: “Dit is vir my nagelaat! Dis alles vir my! Watter geskenk!” God deel ons sy (laaste) wil in die Bybel mee. Die twee Testamente, die Oue en die Nuwe is geldig vir ons. Jesus het sy laaste wil ewe eens in woorde ingeklee en vir ons nagelaat: “Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het omdat U My al voor die skep­ping van die wêreld liefgehad het.” (Joh. 17: 24)

Jesus se laaste wil bedoel óns. Ons is die be­voorregte erfgename van sy liefde en sy lewens­werk aan die kruis en van sy opstanding. Met vreugde en dankbaarheid kan ons weet: “Dit het Hy alles vir ons nagelaat. Watter groot geskenk!” As God se kinders, lees ons die Testament van ons Vader heeltemal anders. Want “… omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus” (Rom.8:17).

“Here, vandag dank ek U vir so `n ryk nalatenskap.”

Posted by Manie on Jan 18th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Dindag 18 Januarie – Belangrikste

DINSDAG BELANGRIKSTE

Lees Josua 24: 14 – 18

“…kies dan vandag wie julle wil dien…wat my en my familie betref, ons sal die Here dien” (15)

As dinge vir ons te veel word en ‘n dag se 24 ure is te min om alles te doen wat nodig is, moet ons die storie van die mayonnaise-bottel en die twee koppies koffie onthou, sê Dick Krüger vir ons. Dan vertel hy van die professor wat voor sy fi­losofieklas staan en ‘n groot mayonnaise-bottel in sy hande hou. Woorde­loos begin hy die bottel vol golfballetjies pak. Hy vra vir die klas of hulle saam­stem dat die bot­tel nou vol is. Ja, hulle stem saam. Hy neem ‘n dosie vol albasters en gooi dit in die bottle, en dit rol in die holtes in. “Is die bottel nóú vol?” wil die pro­fesor voorts weet. “Ja,” stem die studente saam, “nou is hy vol.” Die professor tel ‘n doos vol sand op en gooi die sand tot bo in die bottel. “Is die bottel nóú vol.” Die studente stem een­parig saam, nou ís die bottel vol. Van onder die tafel bring die pro­fessor twee koppies koffie te voorskyn. Hy gooi altwee koppies koffie in die bottel, en dit sypel in die sand en tussen al die hol­tes in. Die studente lag. “Goed,” sê die pro­fes­sor, toe die gelag bedaar, “ek wil hê julle moet elk­een die bottel as ‘n beeld van sy lewe beskou. Die golfballe is die belangrike dinge in die lewe: jou ge­sin, jou gesondheid, jou vriende, jou voorlief­des. As alle ander dinge vergaan en hierdie dinge bly, sal jou lewe steeds sinvol wees. Die albasters is die ander dinge wat ook saakmaak: jou beroep, jou huis, jou motor. Die sand is al die ander dinge, klein goedjies wat die lewe kan vol maak. As jy die sand eerste ingegooi het, sou daar nie plek ge­wees het vir die albasters, en nog minder vir die golfballe, nie. Gee aandag aan die dinge wat reg­tig belangrik is vir jou geluk. Bring tyd deur by jou kin­ders, by jou ouers, besoek jou grootouers, maak tyd vir roetine, mediese ondersoeke. Daar sal altyd nog tyd wees om die huis aankant te maak, die vullis te verwyder, tuinwerk te doen, koerant te lees, TV te kyk. Sorg vir die golfballe, die dinge wat reg­tig saakmaak. Besluit wat voorrang in jou lewe moet kry. Die ander dinge is die sand. Dit sal wel insypel.” Een van die studente steek sy hand op. “En die koffie?” Die professor glimlag. “Ek is bly jy vra. Die koffie wys dat hoe besig ‘n mens se dag ook mag wees, daar is altyd nog tyd vir ‘n koppie koffie saam met ‘n vriend.”

Dit is ‘n waardevolle storie, dink ek. Ons ervaar ‘n mens se dag kan so vol raak met algemene dinge, dat belangrike dinge uit­bly. Ek is net spyt die professor het nie eerste ‘n tennisbal ingesit en toe golf­bal­le, albasters en sand nie. En dan vir die student gesê, belang­rikste bo alle ander dinge is ons om­gang met God. As ons nie doelbewus tyd maak vir ons gebeds­le­we en die lees van God se woord nie, kry ons nie daarvoor tyd nie. Hoeveel keer sê iemand nie: “Ek het vandag reg­tig nie tyd gekry om te bid of my Bybel te lees nie.” Dit is onuitspreeklik voordelig vir ‘n mens om die dag op die knieë en by die oop Bybel te begin. “Versadig ons in die môre met u goedertierenheid, sodat ons kan jubel en bly wees in al ons dae” (Ps.90:14 Ou Vert.).

“Here, vandag wil ek U eerste stel in my program.”

Posted by Manie on Jan 18th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Maandag 17 Januarie – Die Keuse

MAANDAG DIE KEUSE

Lees 1 Johannes 5: 6 – 12

“Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het nie die lewe nie” (12).

‘n Ryk man en sy seun was versamelaars van be­­son­der kunswerke – werke van Picasso tot Ra­hael, lui Pastor Bill se internetstorie wat Neil Ver­wey, van die Japansen­ding, vir my gestuur het. Met die uit­breek van die Viëtnamoorlog, is die seun vir mili­tê­rediens opgeroep. Hy het probeer om ‘n gewonde sol­­daat uit die gevaargebied te dra en is deur ‘n koeël getref. Die gewonde soldaat is gered, maar die ryk man se seun is gedood.

Sy pa het innig oor sy gesneuwelde seun getreur. Op ‘n dag is daar ‘n klop aan sy deur. ‘n Jong­man, met ‘n groot pakket in sy hande, staan voor die deur. “Me­neer, u ken my nie,” sê hy, “maar ek is die man wat deur u seun in die geveg gered is. Hy het baie oor u en u liefde vir die kunste gepraat.” Hy hou die pakket uit na die ryk man toe. “Ek is nie ‘n wafferse skilder nie, maar ek dink u seun sou graag wou hê dat u hierdie poging van my besit.” Die man maak die pakket oop. Dit is ‘n prent van sy seun. Met be­wondering staar hy na die ma­nier waarop die jongman sy seun se persoonlikheid en gelaats­trek­ke op doek vasgelê het. Hy kyk sy seun in die oë en sy eie oë word dof van die trane.

Na ‘n paar maande is die ryk man dood. Sy skat van kunswerke word opgeveil. Baie invloed­ry­ke per­sone, self kunsversamelaars, woon die veiling by. In die middel van die ander skilde­rye, pryk die skildery van die ryk man se seun. Die afslaer slaan met sy hamer op die tafel. “Ons be­gin met die prent van die seun. Wie gee my ‘n bod?” Stilte. ‘n Stem roep van agter af. “Ons wil die beroemde kuns­werke sien! Laat daardie een eers weg.” Die afslaer dring aan op ‘n bod vir die prent van die seun. “Wie gee my ‘n bod? $100, $200?” ’n Ander stem roep ergerlik. “Ons het nie na hierdie prent kom kyk nie. Ons wil die Van Gogh’s en die Rembrandts sien!” Die afslaer volhard eg­ter. “Die seun! Die seun! Wie gee my ’n bod vir die seun?” Weer roep en stem uit die heel agterste ry. “$10!” Dit was die ryk man en sy seun se tuinier. Dit is al wat hy kan bekostig. “Ons het $10. Wie sê $20?” Die skare word ongeduldig. “Gee dit vir hom vir $10. Ons wil die mees­ters sien!” Die afslaer slaan met sy hamer. “Gaan, eerste keer, tweede keer, verkoop!” ’n Man in die gehoor roep. “Goed dan, laat ons aangaan met die regte veiling!” Die afslaer lê sy hamer neer. “Jammer, die veiling is ver­by.” “Wat van die groot stukke?” “Jammer, nog ’n keer, maar toe ek aangesê is om die veilig te hou, is ’n stipulasie in die testament onder my aandag gebring: Net die seun se prent word verkoop. Wie die seun koop, erf die hele landgoed, met huis, meubels, kunswerke – ALLES!”

In Pastor Bill se eie woorde: “God gave His son 2,000 years ago to die on a cruel cross. Much like the auctioneer, God’s message today is, ‘The son, the son, who’ll take the son?’ Because, you see, whoever takes the Son gets EVERYTHING.” God se hele rykdom, sy ewige rykdom, is vir ons in sy Seun gegee. “Wie die Seun het, het die lewe…” Die groot prediker, C. H. Spurgeon, het oor die teks, Galate 2:20 (woorde van die Ou Vertaling) ge­preek: “…die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.” Hy het probeer beskryf hoe ‘n groot rykdom in Jesus vir ons op­ge­sluit is: “…He gave his crown, his throne, and his joys in heaven for us, but that was not all – He gave Himself. He gave his life on earth, and renounced all the comforts of existence, and bore all its woes; He gave his body, Hy gave his agony, He gave his heart’s blood: but the summary of it is, He gave Himself for me.”

“Here, vandag neem ek U in my lewe aan.”

Posted by Manie on Jan 16th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Saterdag 15 Januarie – Padkos

SATERDAG PADKOS VIR VANDAG

Uit Padkos – die dagboek uit die Lewende Bybel

Mense wat ’n brandende begeerte het om te doen wat God wil hê, kan bly wees want God sal daardie begeerte be­vredig! (Mat.5:6) – Waarom gee julle geld uit vir kos wat ’n mens nie kan versadig nie? As julle mooi luister wat Ek sê, sal julle die beste kos hê en julle diepste begeerte sal bevredig word (Jes.55;2). – Ek is die brood wat vir die mense die lewe gee. ’n Mens wat na My toe kom, sal nooit weer honger word nie, en ’n mens wat in my glo, sal nooit weer dors word nie (Joh.6:35). Elke keer wat ek ge­dink het ek val, het U my met U getroue liefde vas­gehou (Ps.94:18). – `n Mens wat na My toe kom, sal Ek nooit wegjaag nie (Joh.6:3)

Posted by Manie on Jan 14th 2011 | Filed in Padkos | Comments Off

Vrydag 14 Januarie – Groot Werk Min Tyd

VRYDAG – GROOT WERK IN KORT TYD

Lees 2 Korintiërs 8: 8, 9

“…ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word” (9).

Jong dr. Tomas A. Dooley, briljante en enigste seun van sy gegoede ouers in die VSA, is opgeroep vir mi­li­tê­re diens in Viët­nam, skryf Izak de Villiers in Die Kort Tyd Tussen die Krip en die Kruis. Gewoond aan sy vooraanstaande huis, kry hy skie­lik te doen met siekte, rampe, honger­nood en tragedie. Na sy twee jaar diensplig besluit hy om vry­­willig aan te bly, om die derduisende sie­kes en nood­ly­den­des te help. Hy begin aan hoof­pyn ly. Dit word al erger. Die militêre hospitaal neem pla­te van sy brein en besluit ‘n brein­operasie is no­dig. Hier­voor word hy per vliegtuig terug ge­stuur VSA toe. Daar word bevind ‘n gewas op sy brein is kwaad­­aardig. “Tom Dooley was aan die sterf, jonk, soos Je­sus,” beskryf Izak de Villiers dit.

Ter­wyl hy bykom na die operasie sien hy deur die waas van die verdowing ‘n visioen. Hy droom hy sien ‘n berg afbrand. Die Viëtnamese het ‘n ri­tu­eel van bergafbrand. Die Oosterse landbouers glo, die as van die berg wat afgebrand word, is vrug­­­baar vir die grond. Jaarliks, voor die moe­sonreëns, word die berge afgebrand, voordat die land­erye teen die berghange gesaai word. In Tom Dooley se hart kom ‘n be­sef en ‘n besluit. Izak de Villiers skryf dit so: “Ek moet soos as in die kaal­ge­brande aarde van my eie lydensweg val. Ek moet soos saad wees. Ek moet in die grond val en sterf. Ek moet myself gaan uitsaai in die barre kluite van die geteisterde Asië, anders is daar in my lewe en sterwe niks, totaal niks sinvols nie…”

Na sy ontslag uit die hospitaal is die jong dok­ter terug Viëtnam toe, wetend sy tyd is kort en hy moet gou maak. Hy het letterlik 20 uur per dag gewerk, totdat hy ná ‘n bietjie meer as ‘n jaar, in sy spreekkamer ineen­gestort het. Op 18 Januarie 1967 sterf Tom Dooley, ‘n dag ná sy 34ste verjaarsdag.

Hierdie mens­like verhaal, laat ons Jesus se hou­ding in sy haas om die wêreld te red, beter ver­staan. Hy het gesê het: “As die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug” (Joh.12:24). Jesus was 33 jaar oud toe Hy gekruisig is. In sy kort bediening, met daardie verskriklike dood en sy triomfantlike op­standing, het Jesus sy roeping en taak as Verlosser van die wêreld, na die letter vervul!

“Here, vandag gee ek myself vir U om te gebruik.”

Posted by Manie on Jan 13th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Donderdag 13 Januarie – Die Tyd Is Min

DONDERDAG – DIE TYD IS MIN

Lees: 1 Kointiërs 7: 25 – 31

“Ek bedoel dít, broers: die tyd is min.” (29).

In die sewentiger jare het Izak de Vil­liers die SAUK-pogram, Tien voor Ses, behartig. Mor­­kel van Ton­der, van die SAUK, het vir hom ge­sê: “Moenie preek nie. Vertel net ’n storie met ’n evan­geliese waar­heid aan die hand daar­van.” Izak gee later 40 van dié Tien voor Ses-sto­ries in boek­vorm uit: Daar’s Nog Altyd ’n God. Wyle Celia Mulder het haar eksemplaar vir my geleen. Hier is sy sto­rie: Die Kort Tyd Tussen die Krip en die Kruis. Ek verkort, haal aan en voeg Campbell Morgan se kommentaar oor die Markus-evangelie by.

Die herdenking van die geboorte van Jesus, Kers­­­fees, en sy ly­ding en opstanding, Paasfees, is baie naby aan me­­kaar. Eintlik hoort dit so: dit was Jesus nie baie lank beskore om as mens onder mense te ver­keer nie, net 33 jaar. Sheila Cus­sons beklemtoon dit in ’n merk­waar­dige gedig. “Hy, die Haastige,” noem sy Jesus, “met slegs drie jaar …om ’n wêreld te reinig.” Wat Jesus gekom het om te doen, moes Hy gou doen. In sy kort, aardse lewe sou Hy die gan­­­se geskiedenis van die mensdom herskryf. Selfs die daaglikse kalender, sou getel word in ter­me van voor Christus en na Christus. Sy eerste adres op aarde is ’n agterplaas­-adres, ’n stal. Sy laas­­te adres, die plek van skande, Golgota. In sy kort lewenstyd het Hy vir óns ewige redding gebring.

In Campbell Morgan se kommentaar oor die Markus-evan­gelie, haal hy uit Bernard’s 1864-Bamp­ton Lectures aan: “It is the Gospel of action, rapid, vigorous, vivid. Entering at once on the Lord’s official and public career, it bears us on from one mighty deed to another with a peculiar swift­ness of movement, and yet with the life of pic­ture­­sque detail. Power over the visible and invisible worlds… ‘God anointed Jesus of Nazareth with the Holy Ghost and with power, who went about doing good and healing…’”

Uit Jesus se kort, maar smartvolle lewe (Jesaja 53) kom ons groot verlossing. Reeds aan sy kruis sê Jesus vir die gekruisigde moordenaar: “Vandag, sal jy saam met My, in die Paradys wees.”

“Here, vandag dink ek aan die krag van u kort lewe.”

Posted by Manie on Jan 12th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Woensdag 12 Januarie – `n Goeie Woord

WOENSDAG – ’N GOEIE WOORD

Lees 3 Johannes v.1,2

“…Gaius, my vriend…Ek was baie bly toe hier mede­gelowiges kom en van jou trou vertel…”

‘n Onderwyseres gee eendag vir haar leer­linge, elkeen, ‘n skoon vel papier, met die opdrag, om die name van hulle klasmaats op die papier te skryf, met ‘n spasie tussen die name. Dan moet hulle onder el­ke naam, die mooiste ding waar­aan hulle oor dié leer­ling kan dink, neer­skryf. Dit was stil in die klas, terwyl elkeen bietjie rondkyk, dink en skryf. Na die klasperiode neem sy al die velle papier op. Daar­die Saterdag skryf sy op aparte velle papier, vir el­k­een, wat die ander van hulle geskryf het. Maandagoggend gee sy vir die klas elkeen hulle lys, met hulle maats se kommentaar oor hulle, op. Sy skryf oor hulle reaksie: Before long, the entire class was smiling. “Really?” she heard whispered. “I never knew that I meant anything to anyone!” and, “I didn’t know others liked me so much,” were most of the comments. No one ever mentioned those papers in class again. She never knew if they discussed them after class or with their parents. The exercise had accom­plished its purpose. The students were happy with themselves and one another.

‘n Paar jaar later sneuwel Mark, een van die leer­­­­linge, in ‘n geveg in Vietnam. Die onderwys­eres woon sy be­grafnis by. Die kerk is ge­­pak met sy vriende, meeste in uniform. Een vir een loop hulle by die kis verby om van hom afskeid te neem. Die on­derwys­eres loop laaste ver­by. Een van die soldate wat as draer opge­tree het, kom na haar toe. “Was u sy on­der­wys­eres?”, vra hy. Sy knik: “ja”. “Hy het baie van u ge­praat,” sê die soldaat. Na die begrafnis kom mees­te van die begrafnisgangers saam vir ‘n ete. Mark se pa en ma is ook daar. Hulle wag om met haar te praat. “Ons wil jou iets wys,” sê die pa, terwyl hy sy beur­sie uit sy sak haal. “Hulle het dit by hom gekry na hy gesneuwel het. Ons het ge­dink u sal dit dalk herken.” Hy gee vir haar ‘n vel papier wat dui­delik oor en oor oopgemaak en toe­gevou is. Onmid­del­lik herken sy dit as Mark se lys, oor wat sy maats van hom geskryf het. Sy ma sê: “Baie dan­kie dat u dit ge­doen het. U kan sien dit was vir hom kosbaar.” Die an­der medeskoliere van Mark begin ook nader­staan. Char­les glimlag skaam: “Ek het ook nog my lys.” Chuck se vrou sê: “Chuck het gevra ek moet sy lys in ons huwe­liks­album plak.” Vicki maak haar handsak oop en haal haar gehawende lys uit. “Ek dra myne oral saam waar ek gaan. Ek dink meeste van ons het nog ons lys­te.” Die onderwyseres gaan sit en begin huil. Sy huil oor Mark wat dood is en oor al sy maats, wat krag ge­put het, uit die goeie dinge wat hulle maats oor hulle geskryf het. Die skrywer van die storie sluit af: “The density of people in society is so thick that we forget that life will end one day. And we don’t know when that one day will be. So please, tell the people you love and care for, that they are special and important. Tell them, before it is too late.”

Die goeie wat ons van ‘n ander weet en van hulle dink, en veral as húlle dit weet, maak ‘n belangrike deel van ‘n goeie samelewing uit. Dit is ‘n belangrike ele­ment van die Christenlewe wat Christus by sy volge­linge soek: “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet me­kaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook lief­hê” (Joh.13:34). “Lewe in liefde soos Christus ons ook liefgehad het…” (Ef.5:2). “Bo dit alles moet julle me­kaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte een­heid saambind” (Kol.314). In sy sendb­riewe vermeld Pau­lus dikwels iemand anders se deug. Die goeie wat hy van ander ge­weet het, het hy bekend gemaak.

“Here, vandag dink en praat ek goed van ’n ander.”

Posted by Manie on Jan 11th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Dinsdag 11 Januarie – `n Krokodil in die Straat

DINSDAG – ‘N KROKODIL IN DIE STRAAT

Lees Psalm 121

Die Here sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal hy bewaar” (7).

‘n Inwoner van die stad Mizuho, Japan, bel die po­­lisie en vertel op­ge­wonde van ‘n krokodil wat straataf loop, berig die Yomiuri-nuus. Baie vinnig ar­­ri­veer ‘n polisiemotor op die to­neel. ‘n Kro­ko­dil loop werklik met sy eienaardige lyfswaai be­wegings in die straat af. Die krokodil maak hom blitsig uit die voete. Hy storm ‘n rysland langs die straat bin­ne. Dit neem die polisie darem net 10 minute om die on­ge­dierte in die hande te kry. Die polisie stel vas, die vyf kilo­gram, een meter lange krokodil, is ‘n troe­tel­dier, wat vroeër die dag van sy eie­naar ontsnap het en pad gevat het.

Hieroor maak Neil Verwey, sendeling in Ja­pan, wat vir ons die storie gestuur het, die op­merk­ing: “Soos ons deur die strate van die lewe wandel, weet ons nooit watter verrassings daar op ons mag wag nie. Ons moet elke dag, die dag saam met God in­gaan. ‘Beroem jou nie op die dag van môre nie, want jy weet nie wat die dag sal bring nie’” (Spreuke 27:1).

Dit is ‘n vertroostende verwagting dat die al­mag­tige God, aan wie ons deur die Here Jesus Christus behoort, ons voetstap vir voetstap be­skerm: “Hy kan jou voet nie laat wankel nie; jou Bewaarder kan nie sluimer nie…die Here is jou Be­­waarder, die Here is jou skaduwee aan jou regterhand” (Ps.121:3,5). Soms word ons geloof op die proef gestel. Dit is tot God se eer as ons bly vertrou, al lyk dit of sake nie wil regkom nie. Daniël is gedreig, lees ons in Daniël 6, en is werklik in die leeukuil gegooi, maar hy getuig na sy redding: “My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus toegesluit, sodat hulle my geen leed aangedoen het nie… (Dan.6:23). Deur ons te beproef, maak Hy ons ge­loof sterker en beter.

“Here, vandag stel ek my vertroue in U.”

Posted by Manie on Jan 10th 2011 | Filed in Algemeen | Comments Off

Next »