Archive for December, 2010

You are currently browsing the archives of Krag vir Vandag .

Vrydag 31 Desember – Uit Die Dood Na Die Lewe

VRYDAG – UIT DIE DOOD NA DIE LEWE

Lees Johannes 5: 24 29

“Daar kom ’n tyd, en dit is nou, wan­neer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat…gehoor gee, sal lewe.” (25).

P. W. Philpott skryf in The Way Out, hy loop een vroeë Januarie-aand, as jongman, op ’n straathoek, by ’n groep mense verby­, wat ’n opelugdiens hou. ’n Vrou sing met ’n mooi, helder stem ’n lied. Hy gaan staan om te luister. Vir hom is alles nuut, want gees­telike liedere, kerk of Sondag­skool was ver buite sy belang­stellings­veld. Die vrou sing:

When I survey the wondrous Cross

On which the Prince of Glory died

My richest gain I count but loss

And pour contempt on all my pride.

Na elke vers sing sy ’n refrein:

O Calvary! Dark Calvary!

Speak to some heart from Calvary.

Terwyl sy so sing, haar gesig opgehef na die he­mel, maak die Heilige Gees in hierdie luisterende, man, die kruis van Golgota ’n werklikheid: dit daag in sy hart, Jesus Chris­­tus het in sy plek aan die kruis gesterf. Hy het nie daar ’n raadgewer gehad om vir hom te sê wat besig was om met hom te gebeur nie. Hy skryf: “Later, when I began to read my Bible and found those terms of ‘saved’ and ‘born again’, I felt: ‘Why, they express my experience. I was surely ‘born again’ as I stood before the Cross of Christ. As one of the old hymn writers has expressed it:

My conscience felt and owned its guilt,

And plunged me in despair;

I saw my sins His blood had spilt, And helped to nail Him there.’”

By die huis gekom daardie aand, vertel hy, doen hy iets wat hy nog nooit voorheen ge­doen het nie. Voor hy in die bed klim, kniel hy en hy bid. En tot sy groter verbasing en blydskap, spreek hy God aan as: “…my dear heavenly Father” en voeg by: “For 58 years now, I have been thus addres­sing Him. He has been more than a Father to me.”

Die volgende dag het hy verder hulp gekry. ’n Man wat as ‘n Christen bekend was, het met hom ’n gesprek aangeknoop. Hy lees vir hom stadig Jo­han­nes 5 vers 24: “Dit ver­se­ker Ek julle: Wie luis­ter na wat Ek sê, en in Hom glo wat My ge­stuur het, het die ewige lewe. Hy word nie ver­oor­deel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.” Die man vra hom om dit self te lees. Hy kan die beteke­nis nie mooi snap nie. Die man vra hom om dit weer te lees en toe vra hy vir hom: “Weet jy wie dit sê?” Maar hy weet nie. ”Dit is Jesus self wat hierdie won­derlike woorde vir jou sê.” Die man laat hom die vers weer lees en vra: “Wat sê Hy hét jy nou?” Hier is Philpott se eie woorde: ”’Why, He says I have everlasting life.’ Then the man asked, ’Now, what do you say you have?’ And in 58 years I have never doubted that glorious fact: I have eternal life!”

“Here, vandag glo ek dat ek deur U die ewige lewe het.”

Posted by Manie on Dec 30th 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Donderdag 30 Desember – Net Soos Ek Is

DONDERDAG – NET SOOS EK IS

Lees Johannes 6 : 30 – 40

Elkeen wat die Vader vir my gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie” (37).

Die be­roem­­de Swit­serse evangelis, dr. Caesar M­ilan, het bietjie meer as hon­derd jaar gelede, Londen besoek, vertel Kingdom Evangel. Hy woon ’n onthaal by waar ’n besonder talentevolle jong vrou pragtig op die kla­vier speel. Na haar treffende klavierspel, spreek Dr. Milan, saam met baie ander gaste, sy hartlik waar­dering uit en voeg by: “God het aan jou ’n buiten­ge­wone gawe gegee. Wy dit aan Hom toe.” Sy het geen sin aan godsdiens ge­­had nie en hy kon sien sy ver­staan nie wat hy vir haar probeer sê nie. Toe sê hy reguit vir haar: “Onthou, as jy nie jou hart vir die Here gee nie, is jy ’n ongeredde son­daar.” Net toe loop ’n verflenterde be­delaar by die deur verby. Hy wys na die bedelaar en sê: “Dan is jy net so ver­lore soos daardie arme mens.” Sy vererg haar bloedig vir hom en draai kwaad van hom af weg. Sy kon die onthaal nie ver­der geniet nie. Vroegaand gaan sy huis toe.

Sy wou gaan slaap, maar die slaap was weg. Net die gods­man se ernstige woorde bly in haar gedagte terug­kom. Tweeuur die oggend staan sy op, kniel by haar bed en gee haar hart aan die Here oor.

Charlotte Elliot het geweet, Jesus Christus het in haar lewe inge­kom en vrede het haar wese vervul. Sy staan op en skryf die lied wat ons nou nog sing:

Net soos ek is, geen hulp naby; alleen u bloed gestort vir my;

Getrek tot u deurboorde sy – o Lam van God, ek kom!

Net soos ek is, ek wag nie meer; ek kom, hoe vuil bevlek, o Heer,

En werp my aan u voete neer – o Lam van God, ek kom!

Charlotte Eliot het in haar leeftyd 120 liedere ge­skryf. Hierdie lied is in baie tale vertaal. Een vertaler het geskryf: “Hierdie lied het ’n wonderlike geskie­de­nis gehad. Dit is waarlik soos ’n blaar van die boom van die lewe.”

“Here, vandag kom ek net soos ek is na U toe.”

Posted by Manie on Dec 29th 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Woensdag 29 Desember – Besluit Dadelik

WOENSDAG – BESLUIT DADELIK

Lees 2 Korintiërs 6 : 1 – 7

“Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding” (2)

In Die Spoorwegbode van Oktober 1968, word ’n storie vertel, wat uit lankal se tyd kom. `n Goeie sto­rie, dink ek, vir die oorgang na `n nuwe jaar toe. Die ou jaar se sake moet mens afhandel, die nuwe jaar se belangrike sake, verstandig beplan. As kind het ek dié storie al eendag in ’n preek gehoor.

’n Belangrike sakeman se sake­be­lan­ge, het al sy tyd opgeëis. Godsdiens het nie in sy pro­gram plek gehad nie. Eendag besoek hy sy domi­nee, tot dié se stom­me verbasing, en sê vir hom: “Verlede nag het ek ’n droom gehad wat my ontstel. Ek droom ek is op ’n sakereis en ek kom voor ’n groot huis met ’n yslike ysterhek. Ek weet net ek moet ingaan en ek stap ver­sig­tig in. Toe ek binne is, hoor ek hoe die slot klik en ek weet ek is inge­sluit. In die binneplaas is baie mense wat ek geken het en wat al dood is. Vrees is op almal se ge­sigte. Ek vra iemand om die hek vir my oop te maak. ‘Die hek gaan net oop vir mense wat inkom. Nie­mand gaan ooit weer by die hek uit nie,’ sê hulle vir my. Ek sien ‘n hekwag. Ek val op my knieë en pleit vurig om uit­gelaat te word. Ein­delik gee hy toe. ‘Net vir agt dae,’ sê hy beslis. ‘Na die agtste dag, kom jy weer na hierdie hek toe en dan, word jy permanent toege­sluit.’ Daarmee skrik ek wakker en ek kan nie van die be­dreiging van die droom loskom nie. Wat beteken dit?” Die domi­nee probeer hom gerusstel en sê ’n mens moet gewoon­lik nie te veel waar­de aan ’n droom heg nie. ’n On­rus­tigheid in ’n mens se gees laat jou allerhande dinge droom. “Maar,” voeg hy by, “ek dink tog die droom het as ’n waarsku­wing ge­kom. God waarsku jou dalk langs hierdie weg. Volg die veilige weg. Sorg vir jou siele­heil.”

Daardie eerste dag bly die sa­ke­­man onrustig. Hy het probeer bid en Bybellees, maar ander be­langrike sake vereis gedurig sy aandag. Die tweede dag voel hy nog on­rustig, maar sy er­gste vrees het tot bedaring ge­kom. Na die der­de dag word hy nog rustiger en na die vier­de en vyf­de dag kon hy al begin spot met sy lawwe vrees vir ’n droom wat dalk die gevolg van bietjie slegte spysvertering was. Dit was sy plan om daardie eerste Sondag, ’n week na die droom, kerk toe te gaan, maar soveel dring­ende sake duik op en hy kon dit net nie maak nie.

Die Maandag vertrek hy te perd vir ’n vinnige sa­kebesoek op ’n naburige dorp. Met die inry in die straat, op pad na die afspraakadres toe, kom hy skielik voor ’n groot huis af, met net so ’n ys­terhek as dié waarvan hy ge­droom het. Hy skrik en skop die spore in die perd se sye, om vinnig van die onheils­om­gewing af weg te kom. Hy trek die teuels te styf, die perd steier regop op sy agter­pote en met die afkom, gooi hy die man oor sy kop.

Hy word vinnig na verpleegsorg toe geneem, maar hy herwin nie weer sy bewussyn nie. ’n Ver­bys­terde verpleegster sê later vir die domi­nee: “Hy het net aanmekaar aanhou prewel, van ’n ysterhek wat toe­gaan en nooit weer oopgaan nie.”

Die kosbare genade­­tyd van agt dae het hy on­gebruik tussen sy vingers laat deurglip en dalk ewig lore gegaan. Geen sa­ke-­­afspraak is so belang­rik, as om die saak van ’n mens se sieleheil te beklink nie. “Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie” (Heb.4:7).

“Here, vandag wil ek my sieleheil beklink.”

Posted by Manie on Dec 28th 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Dinsdag 28 Desember – Tog is God Naby

DINSDAG TOG IS GOD NABY

Lees Psalm 56: 4 – 12

“Maar dit is in sulke tye, as ek bang word, dat ek op U vertrou. Ek prys God vir sy Woord en vertrou op Hom sonder om bang te wees…” (4,5 – Lew.Bybel)

Grace Groben vertel hoe ’n ervaring met haar kindjie, ’n kosbare boodskap oor God se nabyheid, na haar eie hart toe gebring het. Vir ons kan dit ook moed vir die nuwe jaar gee. Van die begin af het die kleintjie by haar geslaap. Toe word dit tyd vir haar, die ge­woonte om by haar ma te slaap, af te leer. Sy moes in haar eie bedjie begin slaap. Daardie eer­ste aand lê Grace haar kindjie in haar eie bedjie neer, liefkoos haar ’n rukkie, gee haar ’n laaste nag-soen­tjie en skakel die lig af. Grace bly in die don­ker, naby haar kindjie, sit. Vir ‘n lang tyd huil haar dogtertjie he­wig – eers kwaad, toe verdrietig, toe vol vrees. Sy moes gedink het haar ma het haar alleen in die don­ker gelos. Die werk­likheid was, haar ma het gehun­ker het om haar kind­jie op te tel. Vir die kind se eie beswil het Grace haarself beheer. Hieroor skryf Grace: And so, in times of affliction, our God hears our cry, stays near, feels for us, though for our own good, He may hide His face and seems not to hear.”

As ouers dissiplineer ons ons kinders vir hulle eie beswil, en hou dinge nie terug, omdat ons dit nie wil gee nie. God handel met ons soos ’n kind se eie pa en ma met hom werk – net beter en meer verstandig as wat ons dit ooit kan doen. Hy ken ons behoeftes en ons swakhede: “Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is” (Ps.103:13,14). Al lyk dinge vir ons ook donker, soos vir Grace se kindjie, God is naby aan ons. Hy sal ons nie in die steek laat nie. “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig” (Ps.23:5). Ons voel dit gou met vrees aan as dit lyk of ons finansies ons in die steek laat. Dit is juis ’n ter­rein waar die Here sy groot opvoedingswerk met ons doen. Juis hiervoor gee Hy vir ons besondere beloftes. “…wees tevrede met met wat julle het. God self het gesê: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie” (Heb.13:5).

“Here, vandag gee ek ook aan ander, soos U aan my gee.”

Posted by Manie on Dec 27th 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Maandag 27 Desember – Te Gewoond Aan Seëninge

MAANDAG TE GEWOOND AAN SEËNINGE

Lees Psalm 103: 1 – 11

“Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade gegeet nie…wat…my die goeie in oorvloed laat geniet…” (2,5)

Henry Porter vertel van ‘n denk­beeldige dag, toe die son nie opgekom het nie. Dié oggend word dit al ses­uur, maar dagbreek bly weg. Twaalfuur die middag is dit steeds mid­der­nagdon­ker. Die son kom net nie op nie! Geen voël sing nie. Die ag­­ter­middag breek met donker nagure aan. Groot ont­steltenis be­gin posvat. Kerk­klok­ke begin lui. Mense stroom na die kerke toe. Die aand breek donker aan, soos gewoon­lik. Niemand dink aan slaap nie. Oral huil en bid men­se. Die hele nag deur gaan dit so. Mil­joene traannat gesigte is angstig Oos­waarts ge­keer. Oë tuur angstig na die oosterkim. En toe verskyn die gewone eerste tinte van sonsopkoms en ‘n bietjie later kom die son, soos elke dag, op.

’n Groot gejuig gaan op – uitroepe van vreugde: “Loof die Here, o, my siel!” Hoekom die groot blyd­skap? Dit is dan maar net dieselfde sons­­op­koms, wat hulle almal al honderde kere ge­sien het, maar nooit op gelet het nie. Henry Porter skryf: “The very constancy of God’s blessings some­­times seems to kill our gratitude. Whereas the wonderful thing about the mercies of God is that they are fresh every morning and new every evening – but we don’t notice it and we seldom praise God for it.

Ons maak soos kinders wat in ’n goedver­sorg­de huis opgroei – neem die goeie dinge as van­self­s­pre­kend aan – sonder om selfs dankie te sê. Hoe waardeer ons dit nie as iemand, ver­al ’n kind, kom dan­kie sê vir die normale goeie dinge, wat ons vir hul­le doen nie. God het ook ’n behae in ’n dank­bare hart en positiewe dankseg­ging. “Luister, my volk… ek wil geen jong bul of bokke uit jou krale hê nie…Lof is die offer wat jy aan God moet bring…Die mens wat My eer, is die een wat lof as ’n offer bring…” (Ps.50:7,9,14,23).

Kom ons bedink (Porter sê: take notice of) al die goeie dinge wat God sonder onderbreking ge­du­rig vir ons gee, en ook deur die jaar wat verbygegaan het, ononderbroke vir ons gegee het, en waaraan ons so gewoond geraak het as allerdaags, dat ons dit nie eens meer raak nie. Dan kniel ons en ons dank Hom vir al die goeie dinge. “…dit is ’n genot om die loflied te sing wat Hom toekom.” (Ps.147:1).

“Here, vandag dank ek U vir baie goeie dinge in my lewe.”

Posted by Manie on Dec 27th 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Vrydag 24 Desember – In `n Oosterse Stal

VRYDAG IN ‘N OOSTERSE STAL

Lees Johannes 1: 1 – 14.

“In die begin was die Woord…en die Woord was God…En die Woord het vlees geword…(1,14)

Na die kommuniste se oorname van Sjina in 1949, is die Engelse sendeling in Tibet, Geoffrey T. Bull, deur die kommuniste gevange geneem en met hulle saam­ge­voer. In sy boek, When Iron Gates Yield, beskryf Bull sy veel­eisende tog oor die be­vro­re berge, as ‘n gevan­gene onder hulle wre­de bewa­king. Een aand gaan hulle ’n klein berg­dorpie bin­­ne. Hy kry ’n sol­der­kamer om in te slaap. Die kamer was verrassend skoon en ’n kon­ka met smeulende kole versprei ’n aan­gename hit­te in die kamer. Hy wou hom net aan die weelde van die skoon, warm ka­mer oorgee, toe die wag op hom skreeu om die perde in die stal te gaan voer. Hy klou­­ter stal toe. Daar was dit pikdon­ker en baie koud. Die mis en strooi op die vloer kraak onder sy skoene. ’n Walglike stank van moeë diere maak hom naar. Die per­de staan met hang­­ende sterte en maan­hare steunend aan pale vasgemaak. Hy is doodbang hy word geskop.

Hy skryf: “Cold, weary, lonely and ill, I began to feel sorry for my­self. Then as I con­tinued to grope my way in the darkess it sud­denly flashed into my mind: what’s today? I thought for a mo­ment. Then it came to me: ‘It’s Christ­­mas Eve!’ I stood suddenly still in that Ori­en­tal manger. To think that Jesus came all the way from hea­ven to some wretched eastern stable, and what is more, to think that He came for me. When I re­turn­ed to the warm, clean room I enjoyed, I bowed in thank­fulness and I wor­shipped.”

Die indruk wat die koue, nat, stinkende stal op hom gemaak het, na die ge­ringe weelde van sy ver­warmde solderka­mer­tjie, laat hom vra, of ons die vernedering en on­ge­rief en selfs af­stootlikheid van ’n Oosterse stal en vuil krip, waarheen Chris­tus van sy hemeltroon af gekom het, in ge­dag­te hou as ons óns Kersfees vier?

Ons vreugde met Kersfees moenie gedemp word nie, want die engel se boodskap aan die herders in die Bet­­­lehemsveld bly waar: “…ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap … Vandag is daar vir jul­le…die Verlosser gebore, Christus die Here! En…julle sal ’n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ’n krip lê” (Luk.2:10-12).

“Here, vandag loof ek U vir Kersfees.”

Posted by Manie on Dec 23rd 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Donderdag 23 Desember – Getuienis in die Ruimte

DONDERDAG GETUIENIS IN DIE RUIMTE

Lees Jesaja 43: 10 – 13

“Israel, julle is my getuies, sê die Here, en ook my dienaar wat Ek uitverkies het sodat julle My kan ken en in My kan glo en kan besef dat Ek die Here is…en Ek is God” (10,12)

Frank Borman is op 14 Maart 1925, in Gary, In­dia­na as sy ouers se enigste kind gebore. As kind was hy gepla met sinus, mangel- en ooront­ste­kings. Sy ouers het hierdie enigste en sieklike kind van hulle beskermend grootgemaak. Hulle het eg­ter sekergemaak hy verkry die belangrikste stuk le­wens­toerusting: hulle het hom geleer en gelei om in Christus Jesus as sy Verlosser te vertrou. Op 15-jarige ouderdom het hy vlieglesse begin neem. Na hy sy hoërskoolopleiding voltooi het, het hy by die V.S.A. Militêre Akademie by West Point ingeskryf. Hy het met lof geslaag en is dadelik oorgeplaas na die V.S.A. Lugmag. In 1951 kwalifiseer hy as vlieë­nier en maak vinnig opgang totdat hy die rang van kolonel behaal. Hy het sy getuienis as Christen met ‘n gedissiplineerde lewenstyl uitgeleef. Hy is as een van Appolo 8 se bemanning gekies, om die eerste maanlanding uit te voer. Die ruimtetuig is op 21 De­sember 1968 van Cape Kennedy af gelanseer.

Vroeg daardie Desember het ‘n paar Gideonle­de (dis sakemanne wat Bybels versprei) vir hul ge­reel­de oggendbiduur in Pasadena, Texas, saamgekom. “Ek wens darem ons kan drie Nuwe Testamente vir die drie ruimtemanne in Apolo 8 plaas,” sê een van hulle. Een van die ander, hoof van die tegniese tak van die ruimtevaartsentrum, antwoord: “Ek ken kol. Borman. Hy is bevelvoerder van die ruimtebeman­ning en hy is ‘n uitgesproke Christen. Laat ek sien wat ek kan uitrig.” Die uiteinde was, elkeen van die ruimtemanne het ‘n Nuwe Testament gekry het om op hul geskiedkundige vaart saam te neem. Kol. Born­man het ook sy eie Bybel saamgeneem. Kol. Born­man se plan was nou, om op Kersdag, ‘n boodskap uit die ruimteskip aarde toe te stuur. Die skeppings­verhaal in Genesis 1 is in die vlugplan ingevoer. Met die ruimtetuig se laaste omwenteling, in die pikdonker agter die maan, het die drie ruimtereisigers op Kersdag om die beurt die eerste tien verse van Genesis 1 gelees: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep…dit was donker…toe het God gesê: ‘Laat daar lig wees. En daar was lig…”(Genesis 1:1-3). Oral op die aarde is die getuienis oor God se almag en sy gawe van lig gehoor.

Dit was nie die eerste keer dat God se boodskap oor sy goedheid, krag en liefde uit die ruimte die aarde bereik het nie. Die eerste Kersoggend op aarde het engele die boodskap uitgesing: “Skielik was daar …’n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: ‘Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het” (Luk.2:13,14). Jo­han­nes begin sy evangelie op dieselfde toon: “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God en die Woord was self God…Die ware lig wat elke mense verlig was aan kom na die wêreld toe …die Woord het vlees geword en onder ons kom woon…” (Joh.1:1,9,14). Dit is die inhoud van Kersfees: ’n fees van lig. Elkeen wat Christus bely en van hom getuig, soos kol. Borman, die ruimtemanne, die Gideonlede, die herders, die wyse manne, die apostels, predikante, sendelinge, ander Christelike werkers, Christelike uitsendings en –leesstof en elkeen van ons, is soos ‘n gloeilamp wat ingeskakel is by God se se krag en op die donker aarde sy lig versprei. “Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra” (Fil.2:15).

Here, vandag dra ek u lig uit in `n donker plek.”

Posted by Manie on Dec 22nd 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Woensdag 22 Desember – Hulle Wil Graag Dankie Sê

WOENSDAG HULLE WIL GRAAG DANKIE SÊ

Lees Romine 8: 31 – 39

“Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red” (32)

Die Gospel Herald skryf, ’n Skotse vissers­boot is in die Noordsee, deur ’n Nazibomwerper ge­kel­der. Die bemanning van tien kon in hul red­dings­bootjie wegkom. Veertig uur lank het hul­le om die beurt geroei met die hoop hulle sal deur iemand opgemerk word. Die manne was koud en honger. Een vir een het hulle uitgeput geraak en opgehou roei. In die loop van die oggend van die derde dag, sien hulle ’n vlieg­tuig. Gou identi­fiseer hulle die vlieg­tuig as ’n geal­li­eerde vliegtuig. Gaan die vlieg­tuig húlle op­merk? Die loods van die verkennings­vliegtuig se skerp oë merk hulle gelukkig in die on­stui­mige see op. Teen hierdie tyd was agt van die manne so uitge­put, hulle op die bodem van die bootjie teen mekaar gelê en die ander twee gehelp, om swakkies vir die loods te waai. Die vliegtuig kom laag in en vlieg oor hulle. Wikkel sy vlerke. Hulle juig. Hulle is raakgesien! Die vliegtuig verdwyn in die deinse­rige lug.

Die loods weet van twee myn­veërs, vyftien myl weg van die toneel af. Met sy lig­te sein die vlieënier vir die skepe om hom te volg. Die vissermanne hoor weer die vliegtuig en sien die skepe wat nader kom. Hulle juig en waai met nuwe krag. Die vliegtuig sirkel om die bote totdat al tien manne vei­lig aan boord geneem is. Die mynveërs gee vir die vliegtuig die sein – GERED! Die vliegtuig wik­kel weer sy vlerke en vlieg weg.

Die vliegtuig was skaars twee myl weg of een van die mynveërs gee ’n sein om hom terug te roep. Die vliegtuig keer in lae vlug terug. “Iets ver­keerd?” sein die vliegtuig. Die mynveër se ligte flik­ker die bood­­skap uit: “Hierdie manne wat ons op­ge­laai het, wil net graag sê: DANKIE!” Die Gospel Herald sluit sy storie af met die vraag: “Has this story found its answer with you? Have you ever thanked the Lord Jesus for what He has done? That He came at such great cost for you?”

Ons vier Kersfees. Ons herdenk Jesus se ge­boorte. Hoe? Enigie­mand wat nog nooit Jesus aange­spreek het met ’n hartlike “Dankie Sê” nie, het nog nooit besef hy of sy was verlore nie! So iemand besef nie Jesus het gekom om hom/haar te red nie. Die groot, groot prys wat Jesus moes betaal, om tot by ons dobberende boot­jie te kom, het nog nooit in die hart opgekom nie. “Hy het selfs sy God­de­­like eer prysgegee en ’n slawelewe kom aanvaar toe Hy ’n mens geword het. Hy was werklik ’n mens soos ander mense, maar Hy het Homself nog verder verne­der. Hy was aan God gehoor­saam, selfs al het dit beteken dat Hy soos ‘n misdadiger op ’n kruis doodgemaak is”(Fil.2:6-8–Lew.Byb.). “Ons dank God vir sy onuit­spreeklike gawe” (2 Kor.9:15).

“Here, vandag sê ek dankie U het aarde toe gekom.”

Posted by Manie on Dec 21st 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Dinsdag 21 Desember – `n Seun Gegee

DINSDAG – ’N SEUN GEGEE

Lees Romeine 5: 1 – 11

“Ja tog, vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe…God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (7,8)

Een aand, gedurende die Tweede Wêreld­oor­log, loop ’n man en sy seuntjie stadig af in ’n straat, van ‘n groot Amerikaanse stad. In baie huise se ven­sters hang ’n ster, om te toon ’n seun uit hier­die huis, veg vir sy land. Die seuntjie klap gees­drif­tig hande vir elke ster wat hulle ver­byloop. En as daar meer as een ster in ’n venster ­hang, be­ïn­druk dit hom mateloos. Hulle kom by ’n gaping tussen die huise en voor hulle is die donker gewelf van die verdonkerende aand­lug. Hel­der glinster die aandster teen die swart he­mel­gewelf. “Kyk, Pap­pa!” roep die oudjie opgewonde uit. “Kyk, daar is ’n ster in God se venster. Hy het ook sy Seun gegee!”

Dít is die Kersverhaal: God het uit liefde vir ons sy Seun gegee. Die prediker, D. L. Moody, sê hy het in sy pre­diking die liefde van Christus vir son­daars, baie be­klem­toon. Toe word hy pa van ’n seun­tjie en leer ’n pa se liefde vir sy seun ken. Sy pre­diking het ’n klem­ver­skui­wing ondergaan. Toe be­klemtoon hy God se lief­de vir ons, omdat Hy sy Seun gegee het sodat ons ge­red kan word. “Werk­like liefde is dit:…die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes…En ons het gesien en ons is getuie daar­van dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld ge­stuur het…En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin” (1Joh.4:10,14,16).

“Here, dankie U het u Seun vir óns gegee.”

Posted by Manie on Dec 20th 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Maandag 20 Desember – Die Datum

MAANDAG – DIE DATUM

Lees Openbaring 21:1-8

“Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde” (6)

Dr. Charles S. Robinson het vir ’n voor­­aan­staan­de sakeman gevra: “Wat beteken Christus vir u?” Die man antwoord: “Ek dink nooit oor Hom nie.” Toe voeg hy met ’n skewe glimlaggie by: “Christus Jesus maak nie deel uit van my leefwêreld nie.” “As ek mag vra. In watter jaar is u gebore?” vra dr. Robinson vervolgens. Dadelik verstrek die man die jaartal. “Voor Christus of na Christus?” vra dr. Robinson, ook met ’n skewe glimlaggie. Verleë kyk die man na dr. Robinson. Hy verstaan die vraag. Gedurig gebruik hy die jaartal wat begin met Chris­tus se geboorte en hy het gedink Jesus Christus maak nie deel uit van sy leefwêreld nie.

Dit is vir niemand moontlik om van Christus Je­sus, die Here, af weg te kom nie, want Hy omspan die heelal en die ewigheid. Gelukkig elkeen wat betyds by Hom as Verlosser uitkom: “Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is” (Luk.19:10). “Ek sal hom wat na My toe kom nooit verwerp nie” (Joh.6:37). Dit is jammerlik ongelukkig om eers uiteindelik, as dit te laat is, by Hom as Regter uit te kom: “Toe het ek ’n groot wit troon gesien en die Een wat daarop sit…Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak… Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het… As daar bevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi” (Opb.20:11-15). Het die Here Jesus Christus al as Verlosser in u leefwêreld plek gekry? Moenie uitstel nie. ”Kom! En elkeen…wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Opb.22:17).

Ons herdenk Jesus se koms aarde toe, om ons Verlos­ser te wees, weer hierdie Kersfees. Maak dít die kern van ú Kersfeesviering.

`n Skotse predikant het op die deur van sy kerk `n kennisgewing aangebring:

CHRISTMAS: Jesus Christ the reason, For this season!

`n Vrou van hulle dorp bel hom die volgende og­gend. “Ek het jou kennisgewing op die kerkdeur gesien,” begin sy sommer ergerlik. “Dit is wat ek teen julle pre­dikante het. Oral probeer julle Jesus Christus indruk. Nou wil jy ons vrolikste vakansiedag van die jaar weer demp deur Jesus daar in te druk!”

Wat maak óns Kersdag vir ons gelukkig?

“Here, vandag dank ek U, Here Jesus, dat U ook ter wille van my, aarde toe gekom het.”

Posted by Manie on Dec 19th 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Next »