Archive for June, 2010

You are currently browsing the archives of Krag vir Vandag .

Donderdag 1 Julie – Die Groot Vrug

DONDERDAG – DIE GROOT VRUG

Lees Kolossense 1: 1 – 8

“Die evangelie het julle bereik…soos dit in die hele wêreld vrug voortbring en verder versprei (6).”

Op ’n dag staan die ryk, geleerde, jong Duitse edel­­man, Graaf Nicholaus Ludwig von Zinzendorf, wat in 1700 in ‘n vooraanstaande Europese familie ge­bo­re is en in ’n om­ge­wing van gebed, Bybelstu­die en lof­­sange opgegroei het, in die kunsmuseum van Dussel­dorf na die skildery Ecce Homo en kyk. Die woor­de onderaan die gehawende figuur van Je­­­sus op die skildery, soos Hy gelyk het na Pi­latus se sol­date met Hom klaar was, gryp hom aan: Dit het Ek vir jou gedoen. Wat doen jy vir my? Hy was reeds ’n Chris­ten, maar hy was ’n besadige vol­geling van die Here Jesus. Aangegryp deur die woor­de sê hy vir homself: “Ek het Jesus al vir ’n lang tyd lief, maar wat het ek al vír Hom gedoen? Van nou af gaan ek alles doen wat Hy van my mag vra.” Daardie dag het teruggegaan huis toe en op sy grond, Hernhut, die Morawiese Sending begin.

John Wesley, die trotse jong priester van The Church of Eng­land, wat in Ame­rika sendingwerk gaan doen het, het daar met Mora­wie­se sendelinge in aan­raking kom en uit húlle toegewyde geloofslewe agter­ge­kom, hy is self nie regtig ’n bekeerde man nie. Hy is te­rug­ Engeland toe, om sy eie lewe eers te gaan regkry. Dáár het ’n Morawiese prediker vir Wesley na die Here gelei. Die groot oes het begin inkom. John Wesley en sy broer Char­les het die Metodiste-kerk gestig en saam met George Whitefield die leiers geword in die groot herle­wing, wat van die middel van die 18de tot diep in die 19de eeu, geduur het, en selfs na Suid-Afrika toe uitgebrei het, waarvan die jaarlikse pinksterbidure nog ’n navrug is.

’n Geseënde vrug het voortgevloei uit die nederige, erns­tige vraag, van die arm sigeunermeisie, wie se hart deur die Heilige Gees ontwaak is, toe sy na die Here Je­sus se lyding gekyk het. Ek wens ek kon weet wat van Papita geword het, maar ek wil glo sy het die Here Jesus, aan wie sy haar hart eintlik reeds gegee het, be­ter en beter leer ken. Ek hoop ek sal, saam met u, haar groot loon in die ewigheid kan gadeslaan.

“Here, vandag bid ek vir die uitbreiding van u koninkryk.”

Posted by Manie on Jun 30th 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Woensdag 30 Junie – `n Klein Saadjie

WOENSDAG ‘N KLEIN SAADJIE

Lees Galásiërs 2:17 – 21

“…die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê” (20).

Die beroemde 16de eeuse skilder, Guido Reni, was besig om sy latere, wêreldberoemde skil­de­ry, Ecce Homo – Dít is die Mens – te skilder. Die benaming kom uit Johannes 19:5: “Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: ‘Dít is die mens!’” Hierdie toneel skiler hy. Eendag sien Re­ni ’n jong sigeunerin, baie mooi, met lang swart hare en fonkelende oë, langs die pad sit en mand­jies vleg. Haar ver­­weer­­de rok verraai haar ar­moe­de. Toe sy sien hoe die vreemdeling haar bekyk, spring sy op, klap haar vingers bokant haar kop en dans vir hom, hopende op ’n fooitjie. “Staan net so stil,” roep hy en vinnig maak hy ’n skets van die dan­­sen­de mei­sie. Hy sê vir haar hy wil haar as ’n Spaan­se dan­se­res skilder. Daarna kom sy drie keer ’n week na sy ateljee toe om vir die skil­der­stuk te po­seer. Haar naam was Papita. Ter­wyl Reni haar skil­der, bekyk sy nuus­kierig alles in die atel­jee. Haar oë val op die byna vol­tooi­de skil­der­stuk van Jesus se kruisiging. “Wie is daardie man in die middel?” vra sy. “Dis Jesus,” antwoord Reni kort­af. “Wat maak hulle met hom?” “Hulle kruisig hom.” “Wie is dan al die mense met die lelike ge­sig­te so om hom?” “Kyk hier,” sê Reni ergerlik, “ek kan nie met jou praat as ek jou skilder nie. Stil nou.” Vir die res van die ses­sie kyk sy net, maar sê nie weer ’n woord nie. Met haar volgende po­seer­ses­sie, was sy reg met ’n klomp vrae. “Hoe­kom krui­sig hulle hom? Was hy sleg?” “Nee,” kortaf van Reni af. “Hoekom doen hulle dit dan as hy nie sleg was nie?” “Kyk hier,” skree Reni op haar. “Ek gaan vir jou die hele storie vertel, maar dan bly jy stil dat ek met my werk kan aangaan.” Met groot oë luister Papita na die ver­haal van Jesus se krui­sig­ing – vir haar ’n aan­gry­pende, nu­we verhaal. Die kunste­naar se hart word lankal nie meer deur die verhaal ge­raak nie. Bang vir Reni praat sy nie weer oor Je­sus se kruisiging nie, maar toe haar skildery klaar is en sy haar geld ontvang en omdraai om te loop, kyk sy ’n laaste keer lank na die toneel van Jesus, soos Hy gelyk het na die soldate Hom “ge­gésel, geklap en met dorings gekroon het (Joh.19:1-5).” en Papita sê, met groot gevoel, omdat dit met ver­lange diep uit haar hart kom: “Meneer, jy het Hom seker baie lief, omdat Hy dit alles vir jou ge­doen het.” Die kun­ste­naar het niks geantwoord nie, maar hy kon haar woor­de nie vergeet nie: Hy het dit al­les vir jou ge­doen. Die saadjie was gesaai. Hy het kerk toe gegaan en (as Roomse Katoliek) skuld­be­ly­denis gaan doen. Dit het hom be­­ter laat voel. Tog kon hy nie vrede vir sy hart kry nie. Pa­pi­ta se vraag kom aanhoudend na hom toe terug: Jy moet hom seker baie liefhê. Hy kon nie meer rustig met die skildery van die ly­den­de Jesus voortgaan nie. Een aand gaan luister hy na ’n prostestantse evangelis se preek. Giudo Reni het aandagtig geluis­ter en daar­die nag, in sy kamer, vind hy waarna hy ge­soek het – vrede met God deur Jesus Chris­tus se kruisdood ook vir hom. Na hy die skildery vol­tooi het, het hy onderaan dié woorde geskryf: Dit het Ek vir jou gedoen. Wat doen jy vir my?

Die geringe saadjie wat Papita gesaai het, het deur die Heilige Gees in Giudo Reni se hart ont­kiem. Jesus het gesê: “Die koninkryk van die hemel is soos ’n mosterdsaadjie wat…die kleinste van die soorte saad (is), maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit ’n boom, sodat…voëls in sy takke…nes maak” (Mat.13:31,32). Die evangeliesaadjie wat óns saai, kan ook maar klein wees. God gee deur sy Gees die groei. Die ontsaglike boom wat uit Papita se saadjie voort­gekom het, bekyk ons in môre se oordenking.

“Here, vandag wil ek ook vir U ‘n saadjie plant.”

Posted by Manie on Jun 29th 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Dinsdag 29 Junie – `n Geskrewe Verklaring

DINSDAG – ’N GESKREWE VERKLARING

Lees Efesiërs 1: 15 – 23

“Wanneer ek in my gebede aan julle dink, bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus…deur sy Gees…julle geestesoë so verhelder dat jul­le kan weet…watter rykdom…Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo” (16-19).

In Leslie B. Flynn se boek, 19 Gifts of the Spirit, vertel hy hoe die groot prediker, C. H. Spurgeon, ’n bejaarde vrou besoek, waar sy `n enkele kamer, in ’n so­genaam­de Alms House, ’n tehuis vir armlastiges, be­woon. ’n Geraamde, handgeskrewe dokument, met hand­­­te­ke­ning en al, teen die muur, trek sy aandag. Hy vra daar­na. Sy vertel sy het ’n bejaarde man versorg en net voor sy dood het hy die brief van waardering vir haar gegee. Kort daarna is hy dood. Dit was vir haar kos­baar en sy het dit geraam en teen die kamermuur op­­ge­hang. Na baie oor­re­ding laat sy Spur­geon toe om haar kosbare klein­­nood vir ’n paar dae te leen. Spur­geon neem dit bank toe en dit veroorsaak ’n hele op­skud­ding. Die bankbestuurder kom na hom toe en roep uit: ”Dankie! Ons kon net nie uitvind aan wie die ou heer al sy skatte bemaak het nie!” Die vrou in die armetuiste was skatryk, maar omdat sy haar do­ku­ment nie gelees en verstaan het nie, leef sy in armoede.

Ons het ook ’n geskrewe dokument, wat ons rykdom, aan ons beskryf. Ons is erfgename van ’n groot, ewige er­­fenis, met baie huidige voordele, maar ons leef in die ar­moede van spanning en vrees en neerslagtigheid, om­­dat ons ons dokument nie deeglik bestudeer en van ons voor­dele gebruik maak, en ons in ons komende erf­por­sie verbly nie. Ons dokument word Die Bybel ge­noem. God se gawe aan sondaars in Christus Jesus se verlossing word ryklik daarin beskryf. In die Ou Tes­ta­ment staan dit in beeldende en profetiese taal. In die Nu­we Testament word dit duidelik, op die man af, be­skryf: “…die Skrif kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die ge­loof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God geïn­spi­reer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig…vir elke goeie werk” (2 Tim.3:15,16).

“Here, vandag weet ek u Woord is kosbaar.”

Posted by Manie on Jun 28th 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Maandag 28 Junie – Die Krag van Gedrag

MAANDAG – DIE KRAG VAN GEDRAG

Lees Johannes 15:1 – 7.

“Wie in My bly en Ek in Hom dra baie vrug…my Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is” (5,7).

Kapt. James Haldane was ’n jong, vloekende vloot­offisier, aan boord van die Melville Castle. ’n Jong matroos, onder sy bevel, was ’n Christen. Hierdie jongman, het deur die voorbeeld van sy gedrag en blymoedige houding, en sy openhartige getuienis, sy kaptein vir die Here gewen. Kapt. Haldane het sy loopbaan in die vloot laat vaar en vir byna ’n halfeeu, ’n verkondiger van die evan­ge­lie geword. Hy het die naam van die jong matroos vergeet. Baie mense het onder James Haldane se bediening tot bekering gekom, onder andere sy broer Robert. Die Here het Robert gebruik om Felix Neff, die Switserse protestante leier, vir die Here te wen, sowel as Merle D’Aubigne, die beroemde his­torikus van die Hervorming, en die welsprekende pre­diker, Frederick Monod.

Hierdie vier manne, en mense wat weer deur hul­­le die Here gevind het, sal vir die jong matroos wat sy kaptein na die Here gelei het, en wie se naam op aarde nie bekend is nie, tot ’n blydskap en roem wees op die dag wan­neer die boeke oop­gemaak word en elkeen ont­vang na wat hy vir die Here gedoen het. “Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad” (2 Kor.5:10). Ons ken die lied wat ons waarsku en aan­moedig om tot die Here se diens te wees:

Moet ek gaan met leë hande, moet ek so my Heer ontmoet?
Nie een dag aan Hom gewy nie, niks te offer aan sy voet?

Daar`s g`n vrees vir doodse bande, want my Heiland is getrou;
Maar te gaan met leë hande baar my bittere berou

”Here, vandag wil ek vir U ’n gewillige werktuig wees, en ander vir U bereik”.

Posted by Manie on Jun 28th 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Saterdag 26 Junie – Padkos

SATERDAG – PADKOS

Uit Padkos – die dagboek uit die Lewende Bybel.

Op aarde het Ek aan U die eer gegee, want die werk wat U my gegee het om te doen het Ek klaar­gemaak (Joh.17:4). – Jesus Christus …het sy liggaam gegee om geoffer te word, net een maal. En so is ons rein gemaak van ons sonde…Christus het net een offer gebring en dit was genoeg. Toe het Hy in die hemel gaan sit in die ereplek regs van God…Deur een enkele offer het Hy almal wat Hy aan God toe­gewy het vir altyd volmaak gemaak (Heb.10: 10-14). – Hy het ’n streep getrek deur die rekening van ons skuld, die lys van al die wette wat ons oortree het. Dit het alles teen ons getel, maar God het hierdie rekening tot niet gemaak toe Hy dit teen die kruis vasge­spy­ker het (kol.2:14). – Broers, omdat God vir ons so goed is, wil ek ernstig by julle aandring dat julle julle lewe aan God sal gee sodat julle ’n offer kan wees wat aan Hom gewy is. Moenie agter die mense van die wê­reld aangaan of soos hulle maak nie. Maar laat God julle lewe verander en julle gedagte nuut maak (Rom.12:1,2). – Want as iemand aan Chris­tus behoort, het hy ’n nuwe mens geword. Dan is sy ou lewe ver­by, en ’n nuwe lewe het vir hom begin! (2 Kor.5:17) – In hierdie saak help die Heilige Gees ons ook, want ons is swak. Ons weet nie mooi hoe om met God te praat as ons bid nie, maar die Gees bid vir ons by God op ’n manier wat nie in woorde uitgedruk kan word nie. God ken die harte van mense deur en deur en Hy weet ook wat die Gees bedoel (Rom 8.:26,27).

Posted by Manie on Jun 25th 2010 | Filed in Padkos | Comments Off

Vrydag 25 Junie – `n Veilige Posisie

VRYDAG ’N VEILIGE POSISIE

Lees 2 Korintiërs 12: 1 – 10

“…ek weerhou my daarvan (om te roem) omdat ek nie wil hê dat iemand aan my meer moet toeskryf as wat hy my sien doen of my hoor sê nie…”(6).

In die boek Life of Fletcher, of Madeley, word vertel hoe ’n leraar van die Anglikaanse Kerk Everton, Eerw. Ber­ridge, by ’n kerksamekoms, van die man oorkant hom se houding en ak­sent aflei, hy is ’n uitlander. Hy vra hom van watter land hy is. Die man antwoord: “’n Switser van die Kanton (provinsie) van Bern.” Eerw. Berridge het dadelik meer belang gestel. “Van Bern! Miskien kan jy my dan meer vertel van een van jou land­genote wat in kerk­li­ke kringe nou groot opgang maak, ene John Fletcher. Hy het ’n paar keer saam met John en Charles Wesley op­ge­tree, en hulle praat met groot lof van sy talente, ge­leerdheid en godsvrug. Ken jy hom?” “Ja, Meneer, ek ken hom goed, en het hulle hom geken soos ék hom ken sou hul­le nie so loflik van hom gepraat het nie.” Eerw. Ber­ridge was dadelik ergerlik. “Jy verstom my, Meneer, om so afta­kelend te praat oor ’n landgenoot oor wie ander met lof praat.” “Ek het goeie rede om so van hom te praat, Meneer,” antwoord die man. “U sien, ek is self John Fletcher.”

In die mate wat ons ons oë oophou vir die deug­­de van ander, is dit ’n veilige posisie om ook ons oë oop te hou vir gebreke in onsself. Ons is self ook nog in die vormingsproses om deur die Heilige Gees na Christus se beeld verander te word. Ons weet van gebreke en swakhede in onsself waarvan ander nie weet nie en dit moet ons nederig hou.

“Here, vandag wil ek myself ken soos U my ken en ek wil deur u Gees na u wil gevorm word.”

Posted by Manie on Jun 24th 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Donderdag 24 Junie – Ruimte Vir Ander

DONDERDAG RUIMTE VIR ‘N ANDER

Lees Kolossense 3: 12 – 17

“Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goed­gesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees” (12)

In Die Bode van September 2002 word vertel die prediker, John Hyde, het bekendheid verwerf met sy besondere gebedslewe. Dit het aan hom die bynaam van Praying Hyde besorg. Dit het begin, vertel hy, toe hy hom­self eendag af­ge­son­der het, om spesifiek vir ’n mede­leraar te bid, wat vol­gens sy mening besig was om gees­telik ag­ter­uit te gaan. Hy het min of meer só begin bid: “He­melse Vader, U ken my broer. U weet dat hy…” Hy het skielik stilgebly. Hy wou sê: “koud geword het,” maar iets het hom gekeer om die woor­de te uiter. Dit was asof die Here vir hom sê: “Wie hom aan­raak, raak my oogappel aan!” (Sag.2:8). ’n Groot vrees kom oor hom toe hy besef, die fout lê nie by sy broer nie, maar by homself. Hy moes self met God regmaak. Terwyl hy sy sonde bely en om vergifnis smeek, kom die woor­de van Filip­pense 4:8 by hom op: “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.” Toe begin hy dink watter prys daardie man betaal het om leraar te word. Hoe hy met groot takt en wys­heid ’n moei­like gemeente bestuur het. Een na die ander het die goeie hoedanighede van sy broer na vore gekom en het sy voorbidding vir sy broer veran­der in lof. Die Here het John Hyde se oë geopen vir die hoër be­diening van lofprysing wat uit liefde gebore is.

Later loop John Hyde daardie bepaalde man raak, en tot sy groot vreugde ontdek hy hy het in­tus­sen ’n groot geestelike deurbraak gemaak. Terwyl hy, John Hyde, besig was om God te loof vir sy broer, het God die man geseën. Hierdie ontdekking het die geheim van John Hyde se uit­staan­de gebedslewe geword. Hy het die goeie in God se kinders begin raaksien en met waar­dering sy Vader daarvoor gedank.

Ons moet onthou God se kinders is nie volmaak nie. Hulle is in ’n groeiproses. Die aardse terrein en wêreldse omstandighede is God se werkswinkel waar Hy ons vorm en afrond na sy wil. ’n Kritiese gesindheid kan wees soos wanneer ons by ’n werkswinkel instap en na ’n halfvoltooide stoel kyk en begin sê: “Hierdie kant is nie glad ge­noeg nie en daardie hoek is grof en daardie paneel moet meer lym kry.” Die skrynwerker sal vir jou sê: “Hierdie stoel is mos nog nie klaar nie. Kyk in die vertoonvenster – daar staan ’n voltooide stoel.”

John Hyde se eie lewe is baie gekritiseer en beledig deur ander leraars en Christene, maar hy het homself nooit probeer verontskuldig nie. Die ge­heim van sy krag in die Here en sy invloed op men­se lê opgesluit in Thess.5:17,18: “Bid sonder ophou. Wees in alles dank­baar, dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle…”

“Here, vandag dank ek U vir elkeen wat U dien en u Naam bely en ek bid vir hulle.”

Posted by Manie on Jun 23rd 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Woensdag 23 Junie – Die Krag Van Hoop

WOENSDAG – DIE KRAG VAN HOOP

Lees Romeine 4 : 13 – 23

“Toe daar geen hoop meer was nie, het Abra­ham nog gehoop en geglo, en die vader van baie nasies ge­word volgens die belofte: ‘So sal jou nageslag wees’” (18).

John Maxwell vertel in sy boek Your Attitude van ’n klein dorpie langs die Mainrivier in Duits­land wat geteiken is vir ’n hidro-elektriese in­sta­la­sie. Dit het beteken ’n dam moes oor die rivier ge­bou word. Die dorpie sou mettertyd on­der die dam se water verdwyn. Met die aan­kon­diging van die projek is die dorpsmense ’n aantal maande tyd ge­gee om hulle sake te reël en hulle te hervestig. Ge­durende daardie maan­de het ’n merkwaardige ver­andering in die dor­pie ingetree. Alle verbeteringe in die dorp is ge­staak. Nêrens is meer geverf nie. Geen re­pa­­rasies is aan geboue, paaie of sypaad­jies ge­maak nie. Geen nuwe geboue is begin nie. Tui­ne is nie versorg nie. Dag na dag het die dorp meer en meer in verval ge­raak. Lank voor die water die dorpie bereik het, het die dorpie verlate gelyk, al het die mense nog nie weg­ge­trek nie. John Maxwell eindig sy storie so: “One citizen explained: ‘When there is no faith in the future, there is no power in the present.’ That town was cursed with hopelessness because it had no future.”

Ons het seker rede om te dink ’n groter, be­ter, mooier dorp met nuwe uitdagings en beter moont­likhede sou langs die dam en die nuwe hi­dro-elek­triese instalasie ontstaan. Onge­luk­­kig vertel Max­well nie meer dáárvan nie. Paulus ge­bruik hierdie sterk hoop wat gegrond is op ’n be­ter toekoms­ver­wagting, in sy brief aan die Romei­ne: “Ek is daar­van oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie…Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop…” (Rom.8:18,24). As ons hoop vasgevang is tussen die sig­bare horisonne van die lewe, verloor ons die krag en lus om te lewe, maar as ons hoop in God gevestig is, wat Hy vir ons doen en gee en die ewige heerlikheid wat Hy vir ons berei het, skep ons nuwe moed en ons kry krag om te lewe. Om hierdie weier uitsig van verwagtinge te hê, moet ons, soos Abraham, God se woord en beloftes ken om op te steun. Dit maak die lees van ons Bybel vir ons baie belangrik.

“Here, vandag kyk ek vanuit my lewensposisie na U beloftes en ek hoop op U wat getrou is.”

Posted by Manie on Jun 22nd 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Dinsdag 22 Junie – Getrou Om Te Gee

DINSDAG – GETROU OM TE GEE

Lees Markus 12: 41 – 44

“Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: ‘Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het” (43).

’n Arm weduwee het in ’n vuurtoring aan die suidelike kus van Engeland gewerk. Haar inkomste uit fooitjies was gering. Sy het nietemin besluit om haar inkomste van daardie bepaalde dag vir sendingwerk te gee. Op dáárdie dag kom ’n deftige vrou en haar netjiese dogter die vuurtoring besoek.

Hulle gee vir die vrou ’n kroon (lankal se vyf sjie­lings, 50c) as ’n fooi. Destyds sommer baie geld! Die groot bedrag bewerk dadelik ’n stryd in die vrou se hart. Sy het lus en verskuif haar sendingbydrae se dag ’n dag vorentoe. Sy stry die saak in haar hart uit en gooi die aand ’n halfkroon in haar sendingbussie. Maar sy kry nie geslaap nie. In die middel van die nag staan sy op. Sy haal die halfkroon uit die bussie, gooi die deftige vrou se kroon in die sendingbussie en toe raak sy rustig aan die slaap. (Daar is nie nog so ’n goeie slaapmiddel as ’n goeie gewete nie!) ’n Paar dae later ontvang sy ’n brief, met ’n koninklike stempel op. Dit is van die vrou en haar dogter. Ingesluit was vyf-en-twintig pond (R50). Honderdvoudig die 50c wat sy ingegooi het. Die vrou was die Hertogin van Kent en die dogterjie was die latere koningin Victoria van Engeland.

Soos Jesus gekyk het hoe die arm weduwee haar twee geld-stukkies in die offerkis gooi, kyk Hy steeds hoe ons uit ons geld vir sy konirkryk gee. “Julle gawe is voor God ’n offer met lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig. En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy oorvloedige rykdom in Christus Jesus” (Fil4:18,19)

“Here, vandag gee ek uit my geld van harte vir U u deel.”

Posted by Manie on Jun 21st 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Maandag 21 Junie – Weersin in Bloed

MAANDAG – WEERSIN IN BLOED

Lees Hebreërs 9: 15 – 22

“Byna alles word volgens die wet met bloed gereinig, en sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie”(22)

Dr. George F.Pentecost het eenkeer Boston toe ge­gaan, om ’n reeks evangeliepreke in ’n kerk te le­wer. Die komitee wat die dienste gereël het, het met hom beraadslaag oor die tema van sy pre­di­king. Hy het hulle ingelig, hy het besluit om ’n baie fun­damentele onderwerp, soos redding en ver­los­sing deur die bloed van Christus, te behan­del. Die ko­mitee het hom gevra, om sy bewoording aan te pas by die smaak, van die ontwikkelde en ryk klas men­se, vir wie hy sou preek. “Bloed is ’n weer­sins­wekkende woord,” het hulle aangevoer. “Som­­mige van Boston se mense mag aanstoot neem. Praat liewer van die dood van Christus.” Dr. Pentecost het geantwoord, skryf in Char­les Reitzel sy boek Pauls’ Conversion: “Christus kon op baie ma­niere, sonder bloedvergieting, gesterf het, maar die Bybel leer uitdruklik, vergif­nis en reiniging van sonde, vind slegs deur bloedver­gieting plaas. Ek bly by hierdie onderwerp. Dit is die taal van die By­bel.”

Die Ou Testament en Nuwe Testament se ge­tuie­nis is duidelik en klinkklaar, dat bloed die ver­soen­ingsmiddel is. “Julle weet tog dat julle nie met ver­ganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. Inteen­deel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Chris­tus, die Lam wat vlekloos en sonder lig­gaams­gebrek is” (1 Pet.1:19). Jesus het dit self be­klem­toon: “Toe neem Hy ’n beker…gee dit vir hulle en sê: ‘Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van son­des’” (Mat.26:27,28). En by die troon van God in die hemel sien Johannes ’n menigte wat niemand kon tel nie: “Hulle was uit elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan. Hulle het wit klere aangehad…Hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam” (Openb.7:9,14). Maar hoekom dan juis bloed? Bloed ís ’n weersinswekkende woord. Onthou, die bloed van Chris­tus is die versoenings- en reinigingsmiddel van weer­sins­wekkende sondes. Sonde gaan met bloedvergieting gepaard. Geen mindere middel as bloed, en juis die bloed van die sondelose Seun van God, sou hierdie wêreld se wrede en weersinswekkende sondes kon versoen nie.

“Here, vandag bring ek met my sonde onder u bloed.”

Posted by Manie on Jun 20th 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Next »