Archive for February, 2010

You are currently browsing the archives of Krag vir Vandag .

Maandag 15 Februarie – Altyd Betyds

MAANDAG – ALTYD BETYDS

Lees Jesaja 65: 21 – 25

“Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor” (24)

Sophia Ironside se man, John, het sy kort lewe grootliks aan evangelieverkondiging gewy: op straat, in parke, in sale, in teaters, net waar hy ge­leent­heid ge­kry het. Op 28-jarige ouderdom is hy aan maagkoors dood. Hy het Sophia en sy twee seuntjies sonder enige inkomste van pensioen of ’n belegging agter­ge­laat. So­phia het met naaldwerk die pot aan die kook ge­­hou. Die een seunjie, Harry, wat later die beroemde dr. Harry Ironside, pastor van die Moody Memorial Church en vrugbare skry­er sou word, het haar stip dopgehou. Eendag sou hulle kui­ermense vir ete kry. Sy het omtrent alles wat hulle ge­had het, saamgeskraap en ’n ete voor­berei. Na die be­soekers vertrek het, kry sy onder een van hulle leë borde ‘n $10-noot – in daardie dae baie geld. Met be­traande oë het sy dadelik, met ’n arm om elke seuntjie, God daarvoor gedank.

Toe kom die dag dat die koskas regtig heel­te­maal leeg was. Sy roep haar twee kinders om by ’n leë tafel ontbyt te kom eet. Hulle het net water om te drink. Weer slaan sy haar arms om die twee: “My seuns, ons gaan dankie sê vir die wa­ter.” Hulle maak oë toe en sy bid: “Vader, U beloof in u Woord (sy haal Je­sa­ja 33:16 aan): “’So ’n mens se kos sal hy kry en sy water sal nie opraak nie’. Ons het die wa­ter en ons dank U. Maar nou vertrou ons U vir ons kos.” Net toe word aan die deur geklop. ’n Man staan voor die deur. Hy sê vir haar: “Ek voel eintlik baie skaam. Ons skuld jou al vir maande lank geld vir ’n rok wat jy vir my vrou gemaak het, maar ons het regtig nie geld gehad om te betaal nie. Ons is nou besig met die aartap­pel­oes. Sal jy asseblief solank ’n sakkie of twee aar­tap­pels neem, totdat ons jou kan betaal?” “Verse­ker!” roep Sophia uit. “Baie dankie.” Binne minute begin die vars aar­tap­pels in die braaipan sis en die seuns ge­niet `n beantwoorde gebed se kos vir ontbyt.

As ons verhouding met die Here reg is, on­der­vind ons hierdie betydse hulp in ’n verleë si­tu­asie. In een van Spurgeon se boeke staan:

Never say: from whence will God relieve my care,
For omnipotence has his servants everywhere.
His methods are sublime,
his heart profoundly kind;
God never is before his time, And never is behind.

Posted by Manie on Feb 14th 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Saterdag 13 Februarie – Padkos

SATERDAG PADKOS

Uit Padkos – die dagboek uit die Lewende Bybel.

Julle moet bid met die krag wat die Heilige Gees jul­le gee (Judas 20). God is Gees, en ’n mens wat Hom wil aanbid, moet gelei word deur die Hei­lige Gees en met ’n eerlike hart bid (Joh.4:20). In hierdie saak help die Hei­lige Gees ons ook, want ons is swak. Ons weet nie mooi hoe om met God te praat of te bid nie. Maar die Gees bid vir ons by God op ’n manier wat nie in woorde uitgedruk kan word nie. God ken die harte van men­se deur en deur en Hy weet ook wat die Gees bedoel. Want wat die Gees vir ons by God bid is ook wat God wil (Rom.8:26,27). Wanneer die Gees, wat self die waarheid is, kom, sal Hy julle in die waarheid inlei (Joh.16:13). Julle moet altyd en onder alle omstandighede bid, onder leiding van die Heilige Gees. Moenie verslap nie maar bly altyd gereed (Ef.6:18). Waar iemand se lewe gebroke is soos ’n riet wat geknak is, sal Hy dit nie verbreek nie, en waar dit swak is soos ’n lamppit wat rook, sal Hy dit nie uitdoof nie…(Jes.42:3). Hy gee my nuwe krag en lei my op die regte pad, ter wille van sy eer (Ps.23:3).

Posted by Manie on Feb 13th 2010 | Filed in Padkos | Comments Off

Vrydag 12 Februarie – Geloofsgroei

VRYDAG – GELOOFSGROEI – Deur C.H.Spurgeon

Lees Hebreërs 5:11-6:3

“Laat ons nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap (6:1)

Wanneer geloof in die siel begin, is dit klein soos ’n mosterdsaadjie, waarvan Christus gesê het dat dit die kleinste van alle soorte saad is. Maar die Heilige Gees be­dou dit met sy genade en dit ontkiem en groei en word soos ’n groot boom. Só groei ons geestelike lewe:

In die begin kan geloof net na Jesus KYK. Selfs dan is daar so baie wolke van twyfel en dofheid van oë, dat ons die Heilige Gees nodig het om sy lig op die kruis te skyn, voordat ons dit kan sien. Dan kry geloof krag om na Jesus te KOM.

Na ’n mens na Jesus gekom het, vorder geloof ’n bietjie verder en KLEM aan Christus vas. Geloof begin Christus aansien in sy voortreflikheid en aanvaar Hom en neem Hom aan en beskou Hom as ’n ware Verlosser en is oortuig van sy volkome vermoë om te red.

Nou gaan geloof nog verder en dit LEUN op Christus. Die laste van sorge, droefheid en kwelling word op sy geseënde skouers gelê.

Geloof kan nou nederig, maar vasbeslote, alles wat Christus is en alles wat Hy bewerk het, TOEËIEN.

En dan eindelik, terwyl dit slegs vertrou in Christus en sy verlossingswerk, styg geloof op tot ’n volle SEKERHEID. Dit is ’n geseënde toestand van die geloofslewe.

“Deur Christus het julle … die evangelie van julle verlossing gehoor en tot geloof gekom … In Christus het die Heilige Gees … julle as die eiendom van God beseël” (Ef.1:13). “Laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid …Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het” (Heb.10:22). “… verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei …”(1Pet.2:2 Ou Vertaling).

“Here, vandag verlang ek na die werking van die Heilige Gees in my hart om my te laat groei tot die volle sekerheid van geloof.”

Posted by Manie on Feb 11th 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Donderdag 11 Februarie – Die Vraag

DONDERDAG – DIE VRAAG

Lees Matteus 16:13-20

“Wie, sê die mense, is die Seun van die mens? …maar julle…wie, sê julle, is Ek?” (14)

’n Bekende geneesheer en mediese navorser, dr. Howard Kelly, het teen sy baadjiekraag ’n knoop gedra wat almal kon raaksien. Op die knoop was ’n vraagteken. Hy het honderde van hierdie vraag­teken­knope versprei. Dit was ’n wegspring­lek vir ’n geselsie. Byna sonder uitsondering het vreem­­­de­linge, met wie hy in aanraking gekom het, gevra wat die vraagteken beteken. Dan, vertel Chris­tian Herald, het dr. Kelly gevra: “Wat is die heel belangrikste saak in die wêreld?” Meeste men­se het geweet hulle praat met ’n dokter en ge­ant­­woord: “Gesondheid.” ’n Ander gereelde ant­woord was: “Vordering van die mediese weten­skap.” Party het met ’n veelseggende glimlaggie, aangesien dit tot ’n dokter gerig was, gesê: “Geld.” Dr. Kelly het dan sy saak, wat naaste aan sy hart lê, gestel: “Ek dink die belangrikste vraag vir die mense van ons wê­reld is: Wat dink julle van Christus?” Hy het dan voort­gegaan om ’n paar woorde vir sy Here, Jesus Chris­tus, die wêreld se grootste geneesheer, te praat.” Te midde van sy bedrywigheid as praktise­rende ge­nees­heer en wetenskaplike navors­er, was hy nooit te besig om vir Christus te getuig nie.

’n Saak naby aan ’n mens se hart vind ’n manier om uit te kom. Wat die hart van vol is, loop die mond van oor. ’n Jongman, Leonard Messenger, het sy van, Messenger, gebruik om ’n geselsie oor Christus aan te knoop. As hy homself bekendgestel het aan iemand het hy bygevoeg: “And a messenger for the King of heaven.” Vroeg in sy twintigerjare is hy in die groot treinongeluk, jare gelede, by Soutrivierstasie dood. In sy kort leeftyd het hy by baie mense se harte uitgekom met die evangeliebood­kap. Hou die evangelie naby en warm in die hart, dan kom die lippe gou agterna om van Hom te getuig. “Moe­nie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie. In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ’n ant­woord te gee aan elkeen wat van julle ’n verdui­de­liking eis oor die hoop wat in julle lewe…met beskei­denheid en met eerbied vir God”(1 Pet.3:14-16).

Here, vandag wil ek met u krag iemand help om by U uit te kom

Posted by Manie on Feb 10th 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Woensdag 10 Februarie – Gebreke

WOENSDAG GEBREKE

Lees Romeine 15: 1 – 7 (Die Boodskap-vertaling)

“Dié van ons wie se geloof sterk is, het ’n plig teenoor ander Christene wie se geloof nog nie so sterk is nie Ons moet hulle aanvaar en hulle bystaan. Geloof gaan tog nie net oor onsself nie. Ons kan nie net daardie dinge doen wat onsself gelukkig maak sonder om te vra hoe ander gelowiges daaroor voel nie” (1,2).

Eenjaar, met die gemeente se jaarlikse Kin­der­by­belskool, vertel Robert Morgan in sy Sto­ries, Illustrations and Quotes, is daar een van die og­gende, net voor die klas sou verdaag, ’n seun inge­bring wat net een arm het. Die leraars­vrou, wat die klas lei, skrik vir die oomblik, want sy is bang een van die kinders maak ’n opmer­king oor die seun se gebrek. Sy besluit om die klas af te sluit en dan met die seun te gesels en te hoor wat met hom gebeur het, sodat sy dit met die volgende dag se klas vir die ander kinders kan vertel. “Goed kinders,” sê sy, uit gewoonte, “ons bou nou ons kerk. Hier is die toring en hier is die deure wat oop staan.” Hulle gewoonte was om by die klas se af­slui­ting, elkeen, hulle twee hande se vingers styf te maak en dan die vingerpunte teen mekaar te druk en so die kerk se skuins dak te vorm. Die mid­del­vingers maak die toring, die twee duime teen mekaar is die deure. Hulle vou die duime binne toe om die oop deure van die kerk te demonstreer. Sy druk haar twee hande se vinger­punte teen me­kaar. Op dáárdie oomblik besef sy, sy stel nou die nuwe seun, met net die een arm, juis in die verleentheid wat sy wou vermy. Maar dit is nou te laat om die situasie te red. Sy het egter verniet geskrik. Een van die dogters, wat langs die seun, aan sy afarmkant sit, sit haar reg­ter­arm om sy lyf, hou haar linker, styfgemaakte hand op na hom toe en sê: “Kom, ons twee maak saam die kerk.” Hy begryp dit en lig sy gesonde regterhand op, maak sy vingers styf en druk die punte teen haar linkerhand se vingerpunte en so vorm hulle toe saam die kerk. En dít, het die vrou later vertel, was vir haar ’n demonstrasie van ware kerkbou. Die sterke, wat instaan vir die swakke.

“Here, vandag wil ek oplet waar ek iemand kan help.”

Posted by Manie on Feb 9th 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Dinsdag 9 Februarie – Die Krag van Vergifnis

DINSDAG – DIE KRAG VAN VERGIFNIS

Lees Kolossense 3: 5 – 17

“Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe” (13).

Victor Guaminga, ’n ywerige, belyden­de Christen in Ecuador, was projek-koördineerder van World Vision se werk in sy land. In die World Vision-kwartaalblad van Maart 1986, word onder die opskrif: Forgiveness Un­clogs a Pipeline, vertel hoe Victor Guaminga sy tuis­dorp, Laime Chico, van skoon water wou voorsien om die kwale wat deur vuil water oorgedra word, teë te werk. Maar die waterbron was ’n redelike afstand van Laime Chico af geleë, en die pyplyn sou deur ’n naburi­ge dorp, wat vyandig teen Laime Chico was, gelê moes word. Toe dáárdie dorp van die pyplyn hoor, het hulle ook dadelik gedreig om enige poging om die pyplyn te lê te beveg en enige pype wat aangelê word, da­delik te beskadig. In Laime Chico was ’n sterk, lewende kerk. In die ander dorp was nie ’n kerk nie. Daar was dus geen Christelike basis waarop die probleem benader kon word nie. Laime Chico se kerk besluit toe om in die an­der dorp ’n evangeliese veldtog te hou, met die hoop dat daar ook ’n kerk kan ontstaan en ontwikkel. Dit was ’n moeilike en ook ’n gevaarlike poging. Die belangstel­ling was gering. Uiteindelik het vier van die dorp se men­­se hul harte vir Christus oopgemaak. Hierdie vier persone se geestelike lewe het stadig ontwikkel en deur hulle getuienis het nog ’n paar mense by die klein ge­meen­te aangesluit. Die kerk het stadig gegroei. Toe kom die man wat die pyplynplan die heftigste beveg het tot be­ke­ring. Hy het sy verkeerde houding in­ge­sien, sy buurdorp se vergifnis gevra en sy on­der­steuning vir die pyplyn beloof. Vyf jaar na die aan­vang van die varswaterplan het die eerste skoon, drink­bare water deur die nuwe pyplyn na Laime Chico toe gevloei. Maar nie net na Victor se dorp toe nie, maar toe ook na die eens vyan­di­ge dorp toe. ’n Rukkie later is die water ook na twee ander dorpe in die omgewing toe aangelê. In die vier dorpe is daar nie nou net skoon drink­water nie, maar in elkeen van die dorpe is daar ook groeiende kerke. Nie net gewone water nie, maar ook die water van die lewe het na dorstige mense toe ’n weg gevind, toe die prop van haat uit hulle harte verwyder is.

Mense se lewens is die pyplyn waarmee God sy water van die lewe na verlore mense toe lei. Nyd en haat en toorn kan van die ergste ver­stop­pings wees wat die Here se werk belemmer. Paulus en Barnabas het eenkeer vir mekaar kwaad geword en hulle kon nie langer met mekaar saam werk nie. “Hieroor het hulle so skerp verskil dat hulle van mekaar geskei het…” (Hand.15:39). Die Heilige Gees word deur onmin tus­sen Christene bedroef en die vloei van geestelike seën droog op.

“Here, vandag ondersoek ek my hart en ek bely enige nydgevoel teen ’n ander aan U.”

Posted by Manie on Feb 8th 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Maandag 8 Februarie – Borduurwerk van Genade

MAANDAG – BORDUURWERK VAN GENADE
Lees Romeine 10: 5 – 17
“As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons en ons word gered “ (9,10).

Mitsuo Fuchida was in bevel van die 860 vliegtuie, van die Japanese Lugmag, wat op 7 Desember 1941 Pearl Harbour aangeval het, vertel Robert J. Morgan in sy boek From This Verse. Jacob DeShazer, van die Amerikaanse lugmag, het op 18 April 1942 , as deel van ’n gewaagde wraakaanval, met sy B-25 bomwerper, met die naam Bat Out of Hell, sy bomme op Nagoya gegooi, en in ’n digte mis probeer wegkom. Hy het in die mis koers verloor en sy brandstof het opgeraak. Hy het oor Japanese gebied uitgespring. Hy is gevange geneem, gemartel en met ’n spoedige teregstelling gedreig. Vir amper twee jaar moes DeShazer honger, koue en voortdurende buikloop verduur. In Mei 1944 het sy bewaarder met ’n Bybel sy sel binnegekom. “Jy kan dit vir drie weke hou,” het hy bars gesê. DeShazer het die Bybel gegryp, teen hom vasgedruk en dadelik by Genesis begin lees. Hy het feitlik dag en nag gelees en die Bybel ‘n paar keer deurgelees. Sleutelgedeeltes het hy uit die kop geleer, met die gedagte, as die Bybel teruggeneem word, sal hy die tekse wat hy uit sy kop geleer het, behou. Op 8 Junie lees hy Romeine 10:9. Hy lees dit weer. En daar in sy sel kniel hy en bid en neem Jesus Christus as Verlosser aan. Nou het Matteus 5:44 vir hom ’n probleem geword: “Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg…” Hy besluit hy gaan by sy Japanese bewaarders begin. Sy vyandigheid teen hulle verander in vriendelikheid. Elke oggend groet hy hulle hartlik. Hy begin vir hulle bid en getuig teenoor hulle van Jesus Christus. Toe begin hulle houding teenoor hom ook verander. Elke nou en dan bring hulle vir hom beter kos en ander benodighede. Na die oorlog het DeShazer na Japan teruggekeer – nou as sendeling. Hy het in Nagoya, die stad wat hy gebombardeer het, ’n kerk gestig.
Sy getuienis, in traktaatjievorm, I Was a Prisoner of the Japanese, is wyd en syd in Japan versprei en baie wou die man ontmoet wat sy vyande kon vergewe. Een man veral was baie gretig om hom te ontmoet. DeShazer se getuienis het hom diep getref en Glen Wagner van die Pocket Testament League het dié man na Christus toe gelei. Dit was Mitsuo Fuchida, dieselfde man wat die aanval op Pearl Harbor gelei het! Hy het DeShazer by sy huis gaan besoek en hulle twee het vriende geword. Fuchida het ’n evangelis geword en dwarsoor Japan en ook in die buiteland gepreek en die verhaal van God se groter krag in Christus, om die duiwel se vernietigingswerk deur sonde, in redding te omskep, verkondig.
“Here, vandag soek ek in u krag my redding.”

Posted by Manie on Feb 7th 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Vrydag 5 Februarie – Nie Tyd Om Die Bybel Te Lees Nie

VRYDAG – NIE TYD OM DIE BYBEL TE LEES NIE
Lees Hebreërs 5:11-6:3
“Laat ons nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap (6:1)

Die bekende skrywer, Wilbur M. Smith, skryf in Profitable Bible Study dat die meeste boeke van die Bybel in minder as 20 minute deurgelees kan word. Die hele Ou en Nuwe Testamente, sê hy, kan hardop, stadig en met gevoel in 72 uur deurgelees word. Dan beweer hy: It will astonish many to know that one single, normal issue of The Saterday Evening Post contains as much reading matter as the entire New Testament.” Baie duisende lees so ’n koerant maklik in minder as ’n week deur, skryf hy en voeg by “The number of Christians who read the New Testament through every week, or even one whole book of the New Testament every week, are so few that we need not talk about it.” In die Ou Testament is daar 13 boeke en in die Nuwe Testament 17 boeke wat uit minder as 10 hoofstukke bestaan. Die hele Ou Testament het 930 hoofstukke en die hele Nuwe Testament 261 hoofstukke. Saam is dit 1 191. Gedeel deur die 365 dae van die jaar hoef ‘n mens minder as 3½ hoofstukke per dag te lees om die Bybel in ’n jaar deur te lees. Ons geestelike lewe en geestelike groei is afhanklik van die lees van God se Woord. “Verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei (1 Pet.2:2 Ou Vertaling).

“Here, vandag lees ek met sielehonger u Woord.”

Posted by Manie on Feb 4th 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Donderdag 4 Februarie – Klein en Groot Dinge

DONDERDAG – KLEIN EN GROOT DINGE

Lees Matteus 16:13-20

“Wie, sê die mense, is die Seun van die mens? …maar julle…wie, sê julle, is Ek?” (14)

William L. Stidger vertel in sy boek There are Ser­mons in Stories van die meisie Sadie Smithson wat eintlike arm grootgeword het in Johnsons Falls, Wes Virgiania het. Haar pa was in beheer van ’n perdestal en sy­self het met naaldwerk ’n in­komste probeer maak. Hulle het net bo die armlas­ti­ge vlak geleef. Sy wou graag met die hoër klas van die dorp meng. Haar plan om dit reg te kry, was om lid te word van die Laurel Literary Society, ’n organisasie wat die sosiale glans van haar dorp weerspieël het. Na sy klaar was met hoërskool het sy aansoek gedoen vir lidmaatskap. Haar aansoek is afgekeur. Wel, het sy gedink, miskien sal hulle meer van haar dink as sy deur Europa gereis het. Sy het geld gespaar en gedroom hoe die sagte handskoenhande sal klap as sy haar lesing van My Toer deur Europa gelewer het. Na jare se spaar­saamheid het sy haar droom verwesenlik en saam met ‘n professor en sy vrou die toer aangepak. Juis toe het Wêreldoorlog uitgebreek. Sadie was met die openingskote van die oorlog in België, maar sy het reggekry om ’n rit Parys toe te kry. Die bestuur­der het egter sy koers kwytgeraak en skielik het hul­le oor ’n slagveld gery. Sadie het afgekyk op’n gewonde soldaat wat reg langs hulle voertuig lê. “Water!” skreeu hy. “In hemelsnaam, water!” Sadie het uit die bussie gespring en met ’n beker na ’n nabygeleë fontein gehardloop en vir hom water ge­bring. Toe roep nogeen vir water. Weer hardloop sy fon­tein toe. Die bussie vertrek sonder haar. Heel nag het sy heen en weer tussen die fontein en gewonde sol­date gehardloop. Sy het haar rok repe geskeur en hulle wonde probeer toebind. Sy het sterwende manne se boodskappe aan hulle dierbares neergeskryf. By elke man het sy gebid. Dit was ’n nag van skrik, en donkerte, en gekerm van gewonde soldate. ’n Ambulans met ’n dokter en verpleërs het aan­ge­kom. Hy was verstom om die arm jongvrou van West Virginia tussen die bloed en verwoesting van die oorlog te vind. In William Stidger se woorde roep die dokter uit: “Who are you? What in thunder are you doing here?” “I’m, she said, “and I’ve beenholding hell back all night.” “Well miss Sadie Smithson,” said the young doctor, “I’m glad you held some of it back, for everybody else in the world was letting it loose last night.” Terug huis toe, op die skip, vertel sy haar storie vir ’n medepassasier. “Ek het self nie kinders gehad nie, maar daardie nag was al daardie manne my kinders. Ek daardie nag my le­we vir hulle kon gee,” voeg sy by. Die passasier antwoord: “Wel, ek dink die Laurel Literary Society sal nou bly wees om jou hulle lid te maak. Sadie antwoord, in Stidger se woorde: “No, I’ve nbeen face to face with war and death and helle and God. Now little things like the Laurel Literary Soceity don”t matter te me any more.” “What does matter,” asked the friend. “Nothing,” Sadie said. “Nothing but God and love – and doing what I can do for those He sends me to.”

Iets van die Here Jesus se gesindheid het daardie nag in Sadie se hart wakker geword, sodat klein wê­reld­se weeldes en eer vir haar niksseggende waarde gekry het. Die Here Jesus heet in die donker van die nag na ’n sterwende mensdoem toe gekom. Hy het ons liefgehad en Homself vir ons gegee. As Hy in ons hart kom woon, verander ons perspektief van die lewe.

“Here, vandag vra ek dat U my hart na u vlak ophef.”

Posted by Manie on Feb 3rd 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Woensdag 3 Februarie – Die Veilige Plek

WOENSDAG – DIE VEILIGE PLEK

Lees Johannes 10: 1 – 13

“Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape (14).

’n Sakeman, Allen Emery, was in die wol­be­dryf. Eenkeer het hy ‘n nag saam met ’n herder en sy skape op die Texasprêrie deurgebring, skryf Robert J. Morgan in From This Verse. Skielik, in die middel van die nag, het die lang ge­huil van die prêriewolwe opgeklink. Die skape wat gelê en slaap het, het verskrik met ’n jam­mer­like geblêr op die been gekom. Die herder het vinnig opgestaan en meer hout op die vuur gegooi. Die vuur het vinnig opgevlam. In die gloed van die vuur het Allen om hom rondgekyk. In die donker het duisende liggies gevonkel. Hy het besef dit is die weerkaatsing van die vuurlig in die skape se oë. Hier is Allen se eie opmer­king hieroor: “In the midst of danger the sheep were not looking out into the darkness, where the coyotes were wailing, but were keeping their eyes set in the direction of their safety, look­ing toward the shepherd.”

Ons ken ook vrees – al wys ons dit nie altyd nie. Allerhande wolwe huil daar buite en bedreig ons. Jesus se vergelyking van ons met ’n herder se kudde is baie vertroostend. Ons is deel van sy kudde as ons in Hom as ons Verlosser vertrou. En Hy is ’n getroue en betroubare Herder. Hoe geluk­kig is ons nie! Ons het ’n getroue en almagtige Her­der wat ons bewaak. Ons is swak, maar ons

skuil by Hom. Hou die oë vertrouend op Jesus: “…die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins. En Hy sit nou aan die regterkant van troon van God. Hou Hom voor oë…dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie” (Heb.12:2,3).

“Here, vandag kyk ek na U en ek skuil by U.”

Posted by Manie on Feb 3rd 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

« Prev - Next »