Archive for February, 2010

You are currently browsing the archives of Krag vir Vandag .

Maandag 1 Maart – Maklike misgissings

MAANDAG – MAKLIKE MISGISSING

Lees Amos 3: 1 – 8 OU VERTALING

“Sal twee met mekaar wandel tensy hulle eers afgespreek het?” (3)

John Ross vertel van die vrou wat van ’n vlieg­tuig afstap nadat dit geland het. Met haar dra­sak oor haar arm gehaak, koop sy by die toonbank van die lughawekafeteria, ’n pakkie lekker koe­kies en ’n koerant. Sy gaan by ’n eenkant tafel sit. Moeg na die lang vlug, wil sy bietjie ontspan voor sy die stadsgewoel aandurf. Da­delik boei die hoof­be­rig in die koerant haar en sy steur haar nie aan die man wat oorkant haar by haar tafel kom sit nie. ’n Geritsel van papier oor­kant haar trek haar aandag. Sy loer oor die koe­rant, en sowaar, dit is die man wat haar pakkie koekies oopmaak en dood­luiters vir hom een neem en dit begin eet. Sy ver­erg haar onmiddellik. Sonder om na die man te kyk strek sy haar hand uit en neem vir haar ook ’n koekie. Na so omtrent twee minute ritsel die pa­pier weer en dit is hy wat vir hom nog ’n koekie neem. Dadelik neem sy vir haar ook weer ’n koe­kie. Sy kyk nog stip in die koe­rant, maar sy lees nie meer nie. Sy is te kwaad. So sit sy en die man die pak­kie koekies en opeet. Sy sien oor die koe­rant dat hy die laaste koe­kie neem, dit in die helfte breek, ’n helfte in sy mond steek en die ander helfte met ’n effense glimlag na haar toe oorstoot. Sy gryp be­hoorlik die halwe koe­kie en stop dit in haar mond. Hy from­mel die pak­kie se omhulsel op, staan op, knik vir haar, stap by ’n rom­mel­houer verby, gooi die papier daar in en verdwyn tus­sen die mense. Sy is mag­te­loos kwaad. Sy tuur hom net a­gterna. Sy staan op, stamp haar stoel ag­ter­uit, rits haar drasak met ’n pluk oop om haar koerant weg te sit – en haar oë peul behoorlik uit. Háár pakkie koekies lê nog onoopgemaak in haar dra­sak! Sy storm tussen die mense in om die man te soek, om verkoning te vra vir háár onbeskofd­heid, maar hy het tussen die mense ver­dwyn.

Sy het haar misgis. Baie van ons het al beproef hoe ’n rusie ont­ke­ten word, deur toevallige insi­den­te, wat verkeerd vertolk word. Die geheim is die atmos­feer in ’n mens se eie hart: is daar vrede in my hart? Wíl ek graag ’n goeie verhouding met ander hê? Is ek gewil­lig om maar bietjie te na gekom te word? ’n Ongeduldige, selfsugtige, suspisieuse ge­sind­heid in die hart skep ’n teelaarde vir ’n misgissing. En, dalk is ék, soos die vrou, die eintlike oorsaak van ’n geskil!

As ons met God vrede het; as Jesus koning in die hart is; as die Heilige Gees beheer het oor ons gesind­he­de, kan ons met geduld ander se dade en woorde ten goede en reg beoordeel. “Sorg dat daar nie ver­bit­te­ring soos ’n wortel uitspruit (en) moeilikheid ver­oor­saak nie…(Heb.12:15). Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het …die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee” (Kol.3:12-15).

“Here, vandag wil ek versigtig in my beoordelinge wees.”

Posted by Manie on Feb 28th 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Vrydag 26 Februarie – Onkunde

VRYDAG – ONKUNDE

Lees Handeling 8: 26 – 40

“’…verstaan u wat u lees?’ Die Etiopiër antwoord: ‘Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie?’ Filippus het …die evangelie oor Jesus aan hom verkondig” (31,35).

Aan die einde van die burgeroorlog tussen die state van Amerika, ry ‘n afdeling van die Federale mag se sol­date langs ‘n eensame pad na Richmond toe, vertel Roy B. Zuck. ‘n Uitgeteerde man in toiïngs kom tussen die bosse uit. Met ‘n hees stem smeek hy hulle om vir hom kos en water te gee. Hy vertel hy leef al weke lank net van bessies en plantwortels wat hy in die veld kry. Hulle vra hoekom hy nie Richmond toe gaan en daar vir hom kos kry nie. Aarselend vertel hy hy is ‘n droster uit die Konfederale leër. Hy kan nie waag om gesien te word en aan die rebelerende Konfederale mag oorge­gee te word nie. Hy kan opgesluit of selfs tereggestel word omdat hy uit die leër gedros het. Hulle staar hom verwonderd aan. “Het jy dan nie die nuus gehoor nie?” vra hulle. “Watse nuus?” vra hy. Hulle vertel hom die Kon­federasie het ontbind. Meer as ‘n week tevore het genl. Lee, bevelvoerder van die Konfederale leër van die Suidelike state, wat nie gehoor wou gee aan die Federale owerheid se eis om al die slawe vry te laat nie, oorge­gee aan genl. Grant, bevelvoerder van die Federale leër. Die man roep uit: “Dan is daar nou vrede! En ek vergaan van honger tussen die bosse om­dat ek dit nie gehoor het nie.”

Dit is ‘n groot persoonlike verlies om onkundig te wees oor die vrede wat die Here Jesus Christus vir ons aan die kruis bewerk het. Hy het vrede gemaak tussen ons en God. “Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke ge­na­de­ van God wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het” (Ef.1:7).

“Here, vandag hoor en glo ek u vergifnis van my sonde.”

Posted by Manie on Feb 25th 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Donderdag 25 Februarie – Klaar Ten Volle Betaal

DONDERDAG – KLAAR TEN VOLLE BETAAL

Lees Efesiërs 1: 3 – 14

“Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe…(7).

Tsaar Nicolas II van Rusland het die gewoonte ge­had om eenvoudig geklee, die militêre buiteposte van sy ryk te besoek, om self, as gewone man, te sien hoe dit daar gaan, so vertel Roy B. Zuck in sy boek The Spea­­kers Quote Book. By een van hierdie buiteposte was ’n jongman, wie se pa hom in die leër laat opneem het om ’n bietjie dissipline in hom ingedril te kry. “How­ever, army life served as fuel that fed the fires of the wild life he lived”, skryf Roy Zuck. Sy grootste swakheid was dobbel. Onge­lukkig was hy ook die boekhouer van sy buitepos se geldsake. Namate sy dobbelskuld ge­groei het, was dit vir hom nodig om van die buitepos se geld te neem om sy groeiende dobbelskuld te betaal. Die verwagte groot wengeluk het nooit gekom nie en hy het voortgegaan om sy skuld uit die buitepos se geld­trommel te betaal. Een aand het hy besluit om te kyk hoeveel hy noual aan die buitepos­re­ke­ning skuld. Toe hy die geweldige bedrag sien, be­sluit hy om sy eie le­we te neem. Hy het sy pistool langs hom op die tafel neer­gelê. Oor die lêerbladsy, met sy berekening op, het hy ge­skryf: “So ’n groot skuld. Wie kan dit betaal?” Hy het sy kop, langs sy pistool, op die tafel laat rus en homself ge­reed­ge­maak om die skoot in sy kop te skiet. Die uit­putting van die situasie het hom egter ingehaal en ter­wyl hy so met sy kop op die tafel gestut sit, raak hy aan die slaap. Tsaar Nicolas, geklee soos ’n sersant, het juis daardie nag daardie buitepos besoek. Hy sien die lig brand in die boekhouer se kamer en gaan in om te sien wat aangaan. Hy sien die jong soldaat sit en slaap met sy kop op die tafel gestut, sy hand op die pistool langs hom. Hy lees wat op die bladsy geskryf staan. Hy begryp dadelik die situasie. ’n Rukkie later word die jongman wakker, sit regop, onthou waarmee hy besig is en lig die pistool op om homself die doodskoot te gee. Sy oë val op sy woorde wat op die blad op die lêer geskryf staan: “So ’n groot skuld. Wie kan dit be­taal?” Toe lees hy die ander woorde, onderaan sy eie woor­de: “Ten volle betaal, Tsaar Nicolas II”.

Dit is wat die evangelie van die Here Jesus Christus onderaan ons sondeskuld skryf: Ten volle betaal! Maar hoe weet ’n mens dit hét in jou lewe gebeur? ’n Man wat vrymoedig oor sy redding getuig het, is een­dag deur iemand gevra: “Wat maak jou so seker dat jy gered is?” Hy antwoord: “Want ek was dáár.” “By Jesus se kruisiging? Dis tog onmoontlik.” “Nee, man, toe ek my hart vir die Here gegee het. Ek weet ek het, be­wus van skuld en vrees vir die oor­deel, eendag tot stilstand gekom en net daar waar ek was, terwyl ek aan Jesus se kruisdood dink, bely ek is ’n verlore sondaar, maar ek glo Jesus het vir my gesterf. Ek het dit so by myself in ’n gebed uit­gespreek: ‘Here Jesus, réd my, asse­blief.’ En ek het aan sy belofte gedink: ‘Ek sal hom wat na my toe kom nooit uit­werp nie.’ En ek het aan Johannes 3 vers 16 gedink: ‘Só lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun ge­gee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê’, ek het dit geglo en gesê: ‘Dan­kie, Here, U het my sonde vergewe en U het my gered.’ Van toe af glo ek dit en dit maak my bly en ek praat daar­­oor, en ek weet Christus is my Here en God is my Vader, en as ek doodgaan, gaan ek hemel toe.”

“Here, vandag neem ek U aan. Dankie dat U my gered het.”

Posted by Manie on Feb 24th 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Woensdag 24 Februarie

WOENSDAG – GOD SE DIEP MEDELYE

Lees Lukas 15: 11 – 24

….toe die verlore Seun nog ver aankom, het sy pa hom… gesien en …innig jammer gekry. (11 en 20).

George W. Truett vertel hierdie ware verhaal oor dr. Buckner, die stigter en bestuurder van die Buckner Orphans Home in Dallas, Amerika.

Die huis van ’n behoeftige gesin in Suid-Texas het afgebrand. Net ‘n dog­tertjie, nege of tien jaar oud, het dit oorleef. Maar sy het le­lik ver­brand, veral haar gesig. Die bure wat die vuur help blus het, het haar na dr. Buck­ner se wees­huis toe te stuur. Dr. Buckner het Mary self op die stasie gaan ontmoet. Met rooi gehuilde oë het sy na dr. Buckner gekyk, vorentoe gekom en haar koppie teen hom gedruk en hartlik aan die huil gegaan. Na ’n rukkie kyk sy met haar ver­mink­te gesiggie op en sê snikkend: “Jy sal nou my pa en my ma moet wees.” Hy het sy hande op haar kop gesit en diep bewoë geant­woord: “Ek sal my bes doen, Mary.” In die wees­huis het sy deel van hon­derde ander kinders ge­word.

George Truett skryf dat hy dikwels in die wees­­huis ’n diens gaan hou het en dan ge­sien het met wat­ter liefde en blydskap die kinders vir dr. Buck­ner terug verwelkom as hy ’n rukkie lank weg was. Truett skryf: “The little tots come down the avenue and vie with one another as they swing around him, each wishing to kiss him first.” Een­dag sien hy hoe Mary met haar vuurge­skon­­de­­ ge­sig­gie saam met hulle kom, maar sy staan een­kant toe, terwyl die ander aandring om hom te soen. Hy kyk na Mary en vra: “Mary, hoe­kom kom groet jy my nie ook nie?” Dit was vir haar te veel. Sy begin hardop snik. Hy vra weer: ”Hoe­kom kom groet jy my nie?” Sy snik dit uit: “Pappa Buckner, ek kan nie vra jy moet my soen nie. Ek is so lelik. Na ek gebrand het, is ek so le­lik, ek kan nie jou kom soen nie. As jy my net lief het soos vir die ander en vir my sê jy is lief vir my, dan is dit nie nodig om my te soen nie.” Dr. Buckner het al die ander kinders weggedruk om by Mary te kom. Hy het haar opgetel, teen hom vasgedruk en die ver­mink­­te wangetjie oor en oor gesoen, terwyl hy herhaal­delik vir haar sê: “Mary, jy is mos vir my net so pragtig soos enigeen van die ander.”

Dit is wat God se Woord ook vir ons oor God se jammerte vir ’n sondeverminkte mens sê: “Kom tog, laat ons die saak met me­kaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skar­la­ken­rooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu” (Jes.1:8). “Toe het ek uitgeroep: ‘Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lip­pe is onrein…’ ‘Nou…is jou oor­tredinge vergewe, jou sonde versoen’” (Jes.6:5,6). “Een van die mis­da­di­gers wat daar gehang het, het Jesus ge­las­ter….Maar die ander een sê: ‘Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.’ Jesus ant­woord hom: ‘Ek verse­ker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees’” (Luk. 23:39-43). “As ons be­weer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons ons­self…maar as ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes…” (1 Joh.1: 9).

“Here, vandag vlug ek na U toe met my lelike sondes

Posted by Manie on Feb 23rd 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Dinsdag 23 Februarie – Die Hoë Eis

DINSDAG – DIE HOË EIS

Lees 2 Korintiërs 8:1-9

“Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word” (9)

In die vroeë dae van die ontdekking van goud, was aan­­boord van ‘n skip ‘n man, wat met har­de werk en deur ontberinge heen, ‘n groot voorraad goud versa­mel het. Hy was op pad huis toe met sy fortuin. ‘n Brand het op die skip uitgebreek en spoedig was dit duidelik dat die skip deur die vlamme verteer sou word voor hulle land be­reik. Die skip was nie ver van die land af nie en elkeen aan boord het eie maatreëls getref om hulself te red. Die man was jonk en sterk. Hy het sy krag geken. Hy het sy goud in bondels in ‘n doek geknoop en vol­gens die gewig, wat hy geweet het hy veilig land toe kon neem, eweredig om sy gespierde lyf gebind. Net voor­dat hy met sy kosbare las in die see kon spring, hardloop ‘n verskrikte klein dogtertjie na hom toe en gryp sy bene vas. “Kan oom swem?” gil sy vol angs. Hy het geweet hy moes kies tussen sy goud en hierdie on­be­kende kindjie. Hy sou nie die krag hê om haar én sy goud land toe te neem nie. “Ja, my kindjie,” roep hy feitlik dadelik uit. Hy knoop die bondels goud om sy lyf vinnig los en laat dit op die dek val. “Ek kan swem. Kom!” Hy gryp die kind en spring in die branders in. Sy klou styf om sy nek vas en hy swem met haar land toe.

Ek wens ek het die einde van hierdie storie geken. Al het sy en haar ouers hom ook hoe bedank en vereer, hulle sou nooit die prys kon verstaan wat hy moes betaal om haar te red nie.

So ‘n menslike verhaal bring die betekenis van Jesus se koms aarde toe en sy sterwe aan die kruis na ons hart toe. Jesus het sy hemelse rykdom en heerlikheid prysgegee. Só prys gegee, dat Hy vir die skrifgeleerde wat Hom wou volg gesê het: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens ‘n rusplek vir sy kop nie” (Mat.8:20). Om ons uit die sinkende wrak van die verlore mensdom te red, het Jesus ‘n duur prys gekos. Sy eie lewe.

“Here, vandag oordink ek die prys wat U vir my betaal het.”

Posted by Manie on Feb 22nd 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Maandag 22 Februarie – Gemaak en Verkoop

MAANDAG – GEMAAK EN GEKOOP

Lees 1 Petrus 1: 17 – 21

“…julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus… (19)

In sy boek, Rebuild Your Life, vertel Dale E. Gal­loway van ‘n seun wat vir hom ’n houtskippie ­­­bou. Met groot moeite en presiesheid, maak hy sy skip­pie net soos die prente in sy boek, dit vir hom wys. Hy neem sy skippie na ’n nabygeleë, groot dam om dit uit te toets. En, regtig, sy skippie seil. Die ligte wind waai in die seile in en sy skip­pie wip oor die rimpelings van die water, soos enige groot skip dit sou doen. Onverwags kom `n wind­vlaag wat die skippie meesleur. Die tou­tjie, waarmee hy sy skippie vashou, breek en die wind voer sy skippie saam. Hy ver­­loor dit uit die oog. Hart­seer gaan hy terug huis toe – sonder sy kosbare besitting.
Eendag loop die seun straataf by ’n speelgoed­win­kel verby. Hy kan sy oë nie glo nie. Sy skippie word in die venster uitgestal met ’n prys by. Hy stap sommer in. Vol blyd­skap sê hy ewe groots vir die winkelier. “Ek het my skip kom haal.” “Jou skip? Wil jy een koop?” “Nee,” sê die seun met ’n laggie. “Ek wil dit nie koop nie. Dis myne. Ek het hom gemaak,” en hy vertel hoe dit die dag wegge­raak het. “Dan weet ek nie,” sê die winkelier. “Ek het dit eendag by iemand wat verby­gekom het, ge­koop. Jy sal dit nou weer by my moet koop.” Teleur­ge­steld en naby trane loop die seun huis toe. Van toe af spaar hy elke sent wat hy kry. Uit­ein­delik het hy genoeg. Hy gaan terug winkel toe. “Ek het my skip kom haal,” sê hy en sit die geld op die toonbank neer. Die winkelier tel die geld, buig na die ven­ster toe en gee vir die seun sy skippie. Die seun gryp letterlik die skippie uit die man se hande en druk dit teen hom vas. Hy roep uit: “Jy is myne én myne. Ek het jou gemaak én ek het jou gekoop. Jy is dubbeld myne!”

Dít is God se besitreg op ons lewe. Hy het ons won­derlik gemaak en Hy het ons duur terug­gekoop.

“Here, vandag behoort ek heeltemal aan U!”

Posted by Manie on Feb 21st 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Vrydag 19 Februarie – Die Krag van `n Ligstraal

VRYDAG – DIE KRAG VAN ‘N LIGSTRAAL

Lees Matteus 5: 13-16

“Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik” (16)

Spencer Compton vertel hoe hy een aand in ’n skip, onderweg na Indië, in sy kajuit gesit het. Hy was erg seesiek. Skielik galm die geroep van die dek af: “Man oorboord!” Hy het opgespring. Wat kan hy doen? Hy is nie bevoeg om in die donker water na die man te gaan soek nie. Op die ingewing van die oomblik, haak hy sy lig van die dakhaak af en hou dit voor die luik van sy kajuit, sodat die lig buite toe kan skyn. Skaars ’n halfminuut later kom die blye krete: “Alles reg! Hy is gered!” Hy haak die lig terug op sy plek en gaan voort met die boek wat hy so naar-naar sit en lees. Die volgende og­gend word hy vertel, dit was sy lig wat die man se redding moontlik gemaak het. Net toe hy sy lamp voor die luik hou, skyn die lig reg op die man af en die matrose kon hom raaksien en uit die water haal.

Ons is nie almal in staat om groot dade te verrig om vir die Here nuttig te wees nie. Dit is die geringe daad, die geringe getuienis, op die regte oomblik, wat so baie kan regkry. Dit is nie ons krag wat ander red nie. Dit is God se krag wat ons klein bydrae gebruik om sy groot dinge mee uit te voer.

“Here, ek wil vandag beskikbaar wees vir U, om my te gebruik

Posted by Manie on Feb 18th 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Donderdag 18 Februarie – Die Hoogste Noot

DONDERDAG – DIE HOOGSTE NOOT

Lees 2 Korintiërs 12:1-10

“…ek (is) bly oor swakhede, ontberings, beledigings… want as ek swak is dan is ek sterk” (10)

Omstreeks 1710 kom George Frederick Händel in Londen aan. Vir die volgende dertig jaar lewer hy sy grootse musiek en oorheers hy die musiek­wêreld. Hy word beroemd, maar dit gaan nie met hom goed nie. Hy is arrogant, geweldig energiek, do­mi­nerend, humeurig, goedhartig, maar opvlieënd. Hy het baie vyande en hulle werk saam om hom te vernietig. In 1737 kom die ineenstorting. Hy word ban­krot verklaar. Op 13 April kry hy ’n beroerte­aanval wat sy regterkant en regterarm verlam. Daar is min hoop vir sy herstel, maar hy kom tog weer op die been. Met oorgawe begin hy weer ope­ras kom­po­neer en dit gaan weer met hom goed. Toe sterf sy getroue beskermingsvorstin, konin­gin Caroline van Hanover, Duitsland. Händel was nou amper sestig jaar oud. Hy was sieklik, af­ge­mat, vol skuld, en teleurgesteld. Hy het van God en mens verlate gevoel. “Hoekom het God my laat leef?” het hy uitgeroep, “net om my weer deur my naaste te laat begrawe!”

Een aand keer hy na sy powere woonplek in Brook Street terug. Op sy tafel lê ’n groot pakket. Haas­tig skeur hy dit oop. Binne-in die pakket is ’n li­bretto (teks van ’n operastuk). Dit is Charles Jen­nens se “Gewyde Oratorium” (Bybelse dramateks). Händel steun. Hy wil nie graag ’n godsdienstige werk hê nie. Hy blaas sy kers dood en gaan lê om te slaap – maar hy bly wakker lê. Hy staan weer op, steek sy kers op en neem die manuskrip op. Woor­de op woorde – dit raak sy hart aan. “He was despised and rejected of men … I know that My Redeemer liveth … Rejoice …” Met bewende hande gaan hy by sy lessenaar sit. Hy wil oopbars van die musiek wat in sy gemoed opwel. Hy neem sy pen en begin skryf. Bladsy op bladsy musieknote vloei uit sy skrywende hand. Met bomenslike krag skryf die kom­ponis dae lank, feitlik sonder kos en slaap. Op die 24ste dag gooi hy sy pen neer, val neer op sy bed en slaap vir elf ure lank. Op sy tafel lê die voltooide komposisie van Die Messias. Op 13 April 1742, die vyfde jaar na sy be­roer­teaanval, speel hy dit in Dublin. Daarna bied hy die uit­voering jaarliks aan. Op 13 April 1759, 22 jaar na sy beroerteaanval, 75 jaar oud en blind, derigeer hy met moei­te Die Messias die laaste keer. By die woorde “the trumpet shall sound” steier hy vooroor en val dood neer op die grond.

Die “Gospel Witness” skryf só oor hierdie werk van Händel: “The Messiah in all its glory, eloquent in faith and glorious hope, lives and will live.” Na meer as twee en ’n half eeue is hierdie woorde steeds waar. Die Here het Händel gebruik om op ’n besondere manier ’n getuienis oor Christus en sy dood en opstanding voort te bring. A. Naismith vestig in sy boek Treasury of Notes, Quotes and Anecdotes ons aandag op ’n merkwaar­dige feit: “The highest note is in the lovely and lofty air, ‘I know that my Redeemer liveth’, and is reached on the word ‘risen’. The composer realised that this one word is the key to the Gospel and to God’s kingdom, and is pro­claimed to all the world in the Gospel …” Die sterk, briljante en gesonde Händel sou nie so ’n geïn­spi­­reerde werk tot eer van die Here kon lewer nie. In sy lewe was nie plek vir die gekruisigde Jesus nie. Die Here moes hom eers afbreek en in homself swak maak en hom met die vernederde, en daarna met die lewende en verheerlikte Christus in aanraking bring om hom te kon gebruik. Omdat Christus vir ons gebreek en ver­brysel is, is daar vir ons ook nuwe krag en bruik­baarheid in sy opstandingslewe.

“Here, ek wil vandag in swakheid en gebrokenheid na u voete toe kom en uit u opstandingslewe krag kry om vir U bruikbaar te wees”

Posted by Manie on Feb 18th 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Woensdag 17 Februarie – Ons Gedagtes

WOENSDAG – ONS GEDAGTES

Lees Filipense 2: 5 – 11

“Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word” (7).

In David McCullough se boek Truman, oor die lewe van die VSA-president Harry Truman, wat net na die Tweede Wêreldoorlog in 1945 president van die VSA geword het, vertel hy dat Truman se groot strewe was om in aanraking met die gewone burgers van die land te bly. So dikwels as wat hy kon het hy tussen die mense beweeg. Hy was lief om alleen te gaan stap en dan met mense te praat. McCullough skryf: “Those were in simpler days when the president could take a walk like everyone else.” So gebeur dit dat Truman een aand besluit, om na die Me­mo­rial Bridge oor die Potomac River te stap. Toe hy by die brug kom, raak hy nuuskierig oor die me­ga­nisme wat die middelgedeelte van die brug oplig en weer laat sak. Hy stap oor die brug en met trap­pies af na die meganiese deel toe. Daar kom hy onverwags af op die brugoppasser, wat uit sy blik­trom­mel­tjie, met sy aandete besig is. Die man lyk glad nie verras om die wêreld se be­kendste en mag­tigste man by hom te sien nie. Hy sluk die mondvol kos af, vee sy mond af, glimlag en merk op. “U weet, Meneer President, ek het juis nou net aan u gesit en dink.” Hieroor skryf McCullough: “It was a greeting Truman adored and never forgot.”

Die Koning, Jesus Christus, het sy troon ver­laat en as mens, tussen gewone mense be­weeg. In die vier evangelies verskyn die naam, Seun van die mens, uit Jesus se mond, 57 keer. Uit die Bybel, uit boe­ke, deur prediking, het ons die Persoon van Jesus leer ken. Watter plek het Hy in ons gedagtewêreld? Af en toe? Kort-kort? Hoe moet dit ons Here nie behaag as ons dik­wels aan Hom dink nie! Wie Hy is; hoe Hy op aarde ge­leef het, hoe Hy vir ons ge­sterf het; sy Koning­skap, waar Hy nou op sy troon in die hemel sit, en tog, hoe Hy deur sy Hei­lige Gees gedurig by ons is; sy liefde vir ons en die plek wat Hy in die Va­der se huis, vir ons, gaan reg­maak het, sodat ons een­dag vir ewig by Hom kan bly. Laat Jesus u ge­dagte vol maak. Ralph Waldo Emerson het eens gesê: A man is what he thinks about all day long. En Marcus Aurelius het gesê: Our life is what our thoughts make it.

“Here, vandag wil ek U in my gedagtewêreld vereer.”

Posted by Manie on Feb 16th 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Dinsdag 16 Februarie – `n Bruikbare Lewe

DINSDAG – ‘N BRUIKBARE LEWE

Lees Psalm 1

“… die mens … wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit … oordink … is soos ‘n boom wat by wa­ter­stro­me geplant is … vrugte dra … hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak” (1,2,3,4).

William Gladstone, drie keer eerste mininster van Bri­tanje van 1868 – 1894, was ’n uitgesproke Chris­ten. John Morley, wat Gladstone se biografie geskryf het, vertel dat Gladstone soms vir ’n dag net verdwyn het – nie­mand het geweet waar hy is nie – dan was hy alleen om deur Bybelstudie en gebed by God raad te soek. Hy het eenkeer gesê: “If I am asked what is the remedy for the deeper sorrows of the human heart … I must point to something which in a well-known hymn is called ‘the Old, Old Story’, told in an old, old book and taught with an old, old teaching, which is the greatest and best gift ever given to mankind …’”. Eenkeer het hy ’n poli­tie­ke kri­sis beleef, skryf George Sweeting in sy boek Love is the Greatest. Gladstone het twee-uur die oggend in sy studeerkamer gesit, om sy toespraak vir die volgende dag se vergadering van die House of Commons voor te berei. Dit was vir hom noodsaaklik om ’n politieke oor­win­ning te behaal. ’n Vrou word na hom toe ingebring. Haar ge­brek­like seun was besig om te sterf en sy wou hê mnr. Gladstone moet hom kom moed inpraat. Son­der om te huiwer het Gladstone dadelik sy werk gestaak en saam met haar gegaan. Die grootste deel van die nag het hy by die seun gebly en die seun ge­help om in sy Verlosser, Christus, te glo. Dagbreek het hy die oë van die seun wat heengegaan het, toe­ge­druk en met vrede en vertroue in sy hart, sy toespraak gaan klaar­maak. Later die oggend sê hy vir ’n vriend, “Ek is vanoggend die gelukkigste man in die wêreld.” George Sweeting voltooi die insident met die volgende woorde: “A few hours later he made the greatest speech of his life in the House of Commons, carrying his cause to a triumphant success.”

“Here, vandag soek ek krag in u woord om vir U bruikbaar te wees.

Posted by Manie on Feb 15th 2010 | Filed in Algemeen | Comments Off

Next »