Archive for September, 2009

You are currently browsing the archives of Krag vir Vandag .

Dinsdag 29 September – Lewe Uit Die Saad

DINSDAG – LEWE UIT DIE SAAD

SKRIFDEEL : Johannes 12: 20 – 28

“As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ’n groot oes in” (24)

’n Vrou wat in Midde-Afrika sendingwerk ge­doen het, het aan die inboorlinge, wat saam in ’n koringland gewerk het en om haar kom staan het, die betekenis van Jesus se opstanding probeer verduidelik. “Jesus het aan die kruis vir ons almal gesterf. Hy het self die straf vir ons sondes, alles wat ons gedoen het wat verkeerd was, in ons plek gedra. Hulle het, na Hy dood is, sy liggaam van die kruis afgehaal en dit in ’n graf gesit, wat in ’n rots uitgekap was. Op die derde dag na sy dood het Hy weer lewendig geword en uit die graf uitgegaan. Ons wat in Hom glo, sal ook eendag, na ons ’n tyd lank in ons graf was, as Hy weer kom, uit ons graf uitgaan en lewe.”

Hulle het hulle koppe ongelowig geskud. Die leier van die groep het haar geantwoord: “Ek glo dit nie. Iets wat begrawe is, kan nie weer uit die grond uit kom en lewe nie.” “Plant jy koring?” vra sy hom. “Ja, natuurlik,” antwoord hy half ver­ontwaardig. “Jy gooi die koringkorrels in die grond, nie waar nie? Wat gebeur met daardie korringkorrels?” vra sy verder. “Ons maak die koringkorrels toe met grond en hulle lê daar.” “Lank?” “Ja, natuurlik.” “En dan?” “Dan kom die koring natuurlik op.” “Waar kom die koring­plant­jies wat opkom vandaan?” wil sy nou weet. Hy knip sy oë. “Van die koring af wat ons daar geplant het, natuurlik.” “Jy het korringkorrels in die grond begrawe. Hulle het ’n lang tyd daar onder die grond gelê en toe kom die lewendige koringplante van hulle af op, nie waar nie?” Die ou man se houding verander. Sy gesig word vrien­delik en hy sê: “Ek verstaan nie alles nie, maar ek glo nou Jesus het uit die graf gekom en ek sal ook eendag uit die graf uit opstaan.” Hy knik en, voeg met ’n glimlag by: “Dis hoe dit werk, natuurlik.”

“Here, vandag is dit my blye hoop dat ek in u opstanding deel.”

Posted by Manie on Sep 28th 2009 | Filed in Algemeen | Comments Off

Maandag 28 September – 11 111 Koppe Afgekap

MAANDAG – 11 111 KOPPE AFGEKAP

SKRIFDEEL : 1 Korintiërs 15: 35 – 49 Lewende Bybel

“Die ou liggaam wat begrawe word, gaan tot niet… as God ons uit die dood lewendig maak, gee Hy vir ons ‘n nuwe liggaam wat nooit weer vergaan nie” (42).

Walter B. Knight skryf in sy boek Treasury of Illustrations dat dr. E. R. Bull ’n sendeling was op die Ryukyu Eilande, ’n reeks eilande wat voorheen aan Japan behoort het. Op die eiland Amajusa, kom hy af op ’n kolosale graf. ’n Rotsblok dui die plek aan. Op die rotsblok is geskryf: “Hier lê 11,111 koppe van Christene”. Die jaartal word aangegee: 1637. Dit was die jaar toe die Japanese al die Christene wou uit­wis. Slegs die koppe is in daardie graf be­gra­we. Die liggame is elders in ’n ander graf be­­grawe. Dit was vreemd vir dr. Bull. In Na­ga­sa­ki doen hy oor die verskynsel navraag. Hy is toe meegedeel die sendelinge het met groot klem, oor die opstanding van Christus en alle Chris­tene gepreek. Die bevolking se gods­diens­leiers wou seker maak die opstanding van die Christene sal verhoed word. Hulle het dus op die blink idee gekom om die koppe en lig­game van die Christene apart te begrawe, om ’n opstanding van die liggame te verhoed.

Ek het hierdie storie vir Neil Verwey, sende­ling in Japan (en Riekie se broer) per e-pos ge­­­stuur om te hoor of dit waar is en ek dit in ons blad kan gebruik. Sy antwoord: “Ek was ook al by Nagasaki – maar dit is ‘n lang storie en ek het baie verhale van marteling verneem! Jou storie het ek ook al gebruik met opstandingsboodskappe!”

Voordat ek met die storie voortgaan: Neil kom die naweek van 10 en 11 Oktober vir ons kuier. Ons gemeente se drie dominees gee hom die geleentheid om die Kokanjediens op Sondag 11 Oktober om 10.30vm. te hou. Kom luister gerus na hom!

Dáárdie godsdiensleiers van Japan het soos die Sadduseërs in Jesus se tyd, die opstanding nie verstaan nie. Ons verstaan nou ook nog nie hoe die opstanding, van die wat dood is, sal wees nie, want dit lê so ver buite ons ervarings­veld. Die Skrif leer ons dat die opstanding van die dode met Jesus se wederkoms sal geskied. In die woorde van die Die Boodskap-vertaling skryf Paulus in 1 Thessalonisense 4:13-17: “… ons glo mos dat Jesus aan die kruis dood is en dat Hy daarna uit die dood opgestaan het. Wel, net so sal al daardie gelowiges wat voor hulle eie dood in Jesus geglo het, ook saam met Hom terugkeer as Hy weer na ons toe kom… daarna sal al die Christene wat reeds dood is, lewendig word. Ons sal hulle met ons eie oë kan sien. Dan sal ons wat nog lewe, saam met hierdie gelowiges vir Christus in die lug gaan ontmoet. Daarna sal ons almal vir altyd by die Here bly.”

“Here, vandag verheug ek my in die hoop van die opstanding.”

Posted by Manie on Sep 27th 2009 | Filed in Algemeen | Comments Off

Saterdag 26 September – Padkos

SATERDAG – PADKOS

Uit die dagboek PADKOS, uit die Lewende Bybel

…maar die wat hulle verwagting op die Here stel, kry nuwe krag (Jes.40:31) – Want as ek swak is, dan is ek sterk (2 Kor.12:10) – Die genade wat Ek jou gee, is genoeg. Hoe swakker jy is, hoe meer kan my krag deur jou werk (2 Kor.12:9) – Laat jou bekommernis aan die Here oor en Hy sal vir jou sorg… (Ps.55:23) – Die Here is naby my om my te help (Ps.118:7) – Die versoekings wat julle teëkom, is nie anders as die wat ander mense ook ondervind nie. Maar God sal… sorg dat die versoeking nie so sterk word dat julle nie daarvoor kan ‘nee’ sê nie. As die versoeking kom, sal Hy vir julle wys hoe om daarvan los te kom en Hy sal julle krag gee om dit te verdra (1 Kor.10:13).

Posted by Manie on Sep 25th 2009 | Filed in Padkos | Comments Off

Vrydag 25 September – Bid en Verwag

VRYDAG – BID EN VERWAG

SKRIFDEEL: Matteus 7: 7 – 12

“Vra, en vir julle sal gegee word… want elkeen wat vra, ontvang… (7,8).

In The Railway Messenger van Julie 1969, skryf R. Barr hoe hy een oggend in Port Eli­za­beth, in sy hotelkamer, die Here se leiding vra oor ’n kinder­boodskap wat hy die volgende og­gend voor ’n groot groep kinders moet lewer. In die stilte van sy hart weet hy so duidelik, asof dit vir hom gesê word, hy moet oor die appel en die roos met die kinders praat. Dit is een van sy goeie kinderpreke, maar hy het ’n ryp appel en ’n bloeiende roos vir dié de­mon­stra­sie­preek nodig. Weer kom dit in sy hart – hy moet vir die appel sorg, die Here sal sorg vir die roos. Dis goed. Hy het nie veel geld nie, en appels is daardie tyd van die jaar nie so duur soos rose nie. Van die hotel af loop hy met Whites Way na die hoofstraat toe. Op pad koop hy ’n pragtige ryp appel. ’n Gedagte kom in sy hart: moet hy nie vir veiligheid lie­wer die onkoste maak en ’n roos ook koop nie.” Hy weer­staan die versoe­king en sê in sy hart: “Die Here het be­lowe om vir die roos te sorg.” Hy loop terug na sy hotel toe. Weer kom ‘n gedagte in hom op: net om die hoek, voor hy by die hotel kom is daar ’n goeie blom­me­winkel en hulle sal sekerlik rose hê. ’n Waarskuwing flits in sy hart: “Gaan na jou hotelkamer toe tot na een uur, wan­neer al die blommewinkels op ’n Saterdag toemaak.” Hy kon ’n bus haal, maar hy besluit om hotel toe te stap. La­ter het hy gesê: “Het ek tog maar ’n bus gehaal!” Halfpad op met die steil straat, gaan hy ’n oomblik staan om te rus, en daar, net waar hy tot stilstand kom, is ’n blomme­winkel. Hy skryf: “Surely this was guidance! Surely I was meant after all to buy a rose! I had forgotten that there were such things as devil’s coincidences.” Hy stap in. Op die toonbank is pragtige rose uitgestal. Hy koop twee en loop uit. In sy hart is nie vrede nie. Die rose hinder hom. Vertrou hy dan nie die Here nie? Daardie aand spreek hy ’n groot verga­de­ring vir volwassenes toe. Toe hy uit die saal stap, wag ’n paar mense vir hom in die voorportaal. ’n Vrou stel haar­self aan hom voor. Sy en haar vriende het tagtig kilometer ver gekom om die geleentheid by te woon. En hulle bly oor vir Sondagoggend se kinderdiens. Sy sê hul­le weet hy is lief vir blomme en het vir hom ’n mandjie blomme gebring. “Moet tog net nie sê dis rose nie!” roep hy uit. “Ja,” sê sy. “Almal is rose”. Vyftig pragtige, groot rose! Hy sluit sy storie af: In my heart the Voice was painfully clear: ‘O, you of little faith! Did I not tell you that I would see to the roses? Wherefore didst thou doubt? Are not all the gardens of the world mine? What are a few roses to Me?’” Ons behoefte is dat die Heilige Gees in ons ’n ver­trouende hart sal opwek en laat groei.

“Here, vandag vertrou ek U om my behoefte te voorsien.”

Posted by Manie on Sep 24th 2009 | Filed in Algemeen | Comments Off

Donderdag 24 September – Geen Sambrele Nie

DONDERDAG – GEEN SAMBRELE NIE

SKRIFDEEL Lukas 18: 1 – 8

“Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? … Ek sê vir julle dat Hy sal hulle help, en gou ook!” (7,8)

Tydens ‘n langdurige droogte is besluit om ’n dag van gebed vir reën te hou. Baie mense het gekom en die gebede was ernstig en dringend. ’n Klein dogtertjie het met groot oë al­les aanskou en aangeluister. Later fluister sy vir haar pa: “Glo die mense regtig dit gaan reën?” “Natuurlik,” fluister haar pa gesteurd terug, “anders sou hulle mos nie kom bid het nie.” Na ’n paar oomblikke fluister sy weer: “Maar niemand het dan ’n sambreel saamge­bring nie.” Kinderlike ge­loof beteken om soos ’n kind te dink en te glo: God hoor en God gaan antwoord en ’n mens moet vir die gebeds­antwoord voorberei.

Vir gebedsverhoring is ’n skoon hart nodig. Geen be­wuste ongehoorsaamheid, geen bewus­te sonde, geen bewuste twisgevoel teen iemand anders nie. “As ons gewete ons veroordeel – God is groter as ons gewete, en Hy weet alles…as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan; en wat ons vra, kry ons van Hom omdat ons…doen wat Hy goedvind” (1Joh.3:20,21).

Soos ouers soms tot die beswil van ’n kind vir die kind “nee” sê, sê God ook soms vir ons “nee”. Ons hart moet naby genoeg aan God wees om dit te hoor en te verstaan, soos Paulus ver­staan het toe die Here vir hom die “doring in die vlees” nie wou wegneem nie.“Drie maal het ek die He­re ge­bid dat dit…weggeneem moet word. Sy an­t­woord was: ‘My genade is vir jou genoeg” (2 Kor.12:7).

Ons deel ook in die beloftes wat Jesus vir sy dis­sipels gegee het. “Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun ver­heerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen” (Joh.14:13,14).

“Here, vandag kom ek om U aan te roep, U my nood te vertel en te weet U hoor en help my.”

Posted by Manie on Sep 23rd 2009 | Filed in Algemeen | Comments Off

Woensdag 23 September – So Naby

WOENSDAG SO NABY– deur dr. J. C. G. Kotzé

SKRIFDEEL Hebreërs 4: 15 – 16

“Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie …”(15).

Jesus het Homself die Seun van die mens ge­­noem, omdat God in Hom die hele end ge­kom het tot waar ons is, tot in ons diepste nood. So het Hy kom inbreek in ons ge­vange­nis; kom inkruip onder ons sondelas; ons in sy arms kom neem en soos die verlore skaap, ons op sy skouers gesit, om ons terug huis toe te dra. In die mens Jesus het God tot by ons gekom. Hy kan ons verstaan; Hy kan met ons medelye hê. “Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy ’n barm­har­tige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (Heb.2:17,18).

Ons kan aan sy boesem leun; ons kan gryp aan sy sterk arm; ons kan opkyk in sy oë; ons kan lag, roem, snik en ween aan sy voete. Hy ver­staan. Wanneer almal die hoof skud, dan nog fluister Hy ons in: “Staan op, jy kan nog oorwin. Ek ken dieselfde stryd. Ek sal jou leer om te oorwin.” Dit is hoe naby Jesus nou aan ons is.

“Here, vandag kom ek na U toe. U het so naby aan my gekom.”

Posted by Manie on Sep 22nd 2009 | Filed in Algemeen | Comments Off

Dinsdag 22 September – Die Lewe wat Tel

DINSDAG – DIE LEWE WAT TEL

SKRIFDEEL Psalm 40.

“Hy het my ’n nuwe lied in die mond gelê, ’n loflied van ons God” (4).

Prof. dr. J. C. G. Kotzé, ook bekend as oom Ko­lie, was in die veertiger jare van die vorige eeu die N.G.Kerk se spesiale prediker en later Sekretaris van Evangelisasie. Op uitnodiging het hy gemeen­tes besoek en dan vir 10 dae ’n diensreeks gehou. Baie mense het onder sy prediking tot bekering gekom. Hy het later teo­logiese professor aan die Uni­versiteit van Stel­len­bosch geword. Hy was van nature ’n begaafde en uitnemende mens. As stu­dent was hy elke dag voorbereid vir enige vorm van ek­sa­men. Elke dag van sy lewe was hy op da­tum! Dit was egter die genadewerk van die Here in sy lewe wat hom so ’n krag in die Here se diens en ’n seën in baie mense se lewens gemaak het.

Hyself vertel dit soos volg: “Gebore en opge­voed in ’n Christelike huis, het ek van kindsbeen af ’n Christelike rigting ingeslaan. Verseker van my ver­­los­sing was ek egter nie. En toe op 13 Mei, as stu­dent op Stellenbosch, tienuur die aand na kerk, het die oomblik van opstanding uit die dode vir my siel gekom. Dit was of ek in ’n malende meul van son­debesef was. Ek het my­self ontdek as ’n af­grys­like, sondige monster. In daardie smart het ek vir die eerste keer in my lewe ontdek, ek is ’n verlore sondaar. Voorheen was ek doodgerus oor die ewigheid, want ek was, na my mening, te goed en godsdienstig om verlore te wees. Wel was daar baie sondes in my, maar wie doen nie sonde nie? En ek was darem tog ook taamlik godsdienstig met baie goeie dinge in my. Maar daardie aand het my godsdiens my in die teenwoordigheid van ‘n heilige God begewe. Ja, ek het onder die pynli­ke ont­nugtering gekom dat ek verlore was, so verlore, dat ek my van God verlate gevoel het. In daardie dood­se angs het my siel soos dié van Dawid na God geroep asof uit ’n kuil van slymerige modder.

“In my verlatenheid het ek Hóm ontmoet, onse Here Jesus Christus, wat van God verlate was, sodat ek nimmermeer van God verlaat sou word nie. Vir die eerste maal het die lig van die ewigheid waarlik in my siel ge­skyn. Salig was die rus waarin my siel daar­die nag weggesink het. Alles het anders ge­word.” Hy het my getrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op ’n rots laat staan en my op vaste grond laat loop.(Ps.40: 2,3).

“Here, vandag glo ek dat U my ook liefhet en my ook uit die dood optrek en die ewige lewe gee.”

Posted by Manie on Sep 21st 2009 | Filed in Algemeen | Comments Off

Maandag 21 September – Die Lewensterminus

MAANDAG – DIE LEWENSTERMINUS

SKRIFDEEL: 2 Petrus 3: 1 – 13 Ou Vertaling

“…waardeur die toenmalige wêreld met water oor­stroom is en vergaan het…die teenswoordige… aar­de…word vir die vuur bewaar teen die dag van die verderf van die goddelose mense (6,7).

“Hoe lyk die aarde, van `n 10 000 me­ter hoog­te af?” Dit is net een van die vrae, wat die veteraan vlieënier, Mitsuo Ya­ma­da vra, wanneer hy dwarsoor Japan sy “Gaan na die lugruim”-lesings aan­bied, om kinders te leer oor om­ge­wings­kwessies wat ons aard­bol be­dreig. “Ek werk vir ʼn lugredery en die lugruim is my werkplek,” sê hy. “Dit is my plig om men­se te vertel hoe die om­ge­wing be­skadig word!” Vir die afgelope 35 jaar vlieg hy JAL-vliegtuie. Die afgelope 7 of 8 jaar neem hy verande­ringe waar op die oppervlakte van die aar­de. Hy sien hoe ʼn grys waas die lugruim van Sjina bedek, ʼn rooi gety oor die Suid-Sji­nese see versprei en stroke van die In­do­nesiese reënwoud ver­dwyn. Hy noem dit waarskuwings­te­kens vir ons aarde. (Yomiuri Nuus- G. Yonei, 2008-08-31)

Neil Verwey van Japansending stuur vir ons hierdie storie en voeg by: God se standpunt oor die toekoms van die aarde is duidelik beskryf in die Bybel: “Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en te­same in barensnood is tot nou toe” (Rom.8:22). Die aarde sal sonder twyfel vernietig word, maar slegs volgens God se plan. “Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ‘n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense (2 Petrus 3:7).

God is gereed om oordeel oor die wêreld uit te spreek! In die tussentyd is ons Chris­tus­ge­we taak, om die verlorenes, wie andersins sal omkom saam met die aarde, te wen vir Christus. “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? Julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en ver­smelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ʼn nuwe aarde waar­in geregtigheid woon” (2 Petrus 3:11-13).

Wanneer die heelal verbrand en die aarde soos ons dit ken verdwyn, sal die toekoms van die oorblyfsels van die mensdom wat in God glo, so helder soos die beloftes van God se onfeil­bare Woord skyn. Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ‘n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie (Jes. 65:17). Ons weet nie wanneer God al hierdie dinge sal laat geskied nie, so laat ons gereed wees vir daardie wonderlike dag!

Nie hierdie aarde en hierdie wêreld moet ons lewensterminus wees nie, maar God se nuwe aarde en hemel wat die Here Jesus vir ons met sy bloed gekoop het.

“Here, vandag wil ek gereed wees vir u koms.”

Posted by Manie on Sep 20th 2009 | Filed in Algemeen | Comments Off

Saterdag 19 September – Padkos

SATERDAG – PADKOS

Uit die dagboek PADKOS, uit die Lewende Bybel

Waar iemand se lewe gebroke is soos ’n riet wat geknak is, sal Hy dit nie verbreek nie, en waar dit swak is soos ’n lamppit wat rook, sal Hy dit nie beskadig nie (Mat.12:20). Die offerande wat U wil hê, is berou; o God, U sal nooit ’n mens verwerp wat opreg berou het en nederig is nie (Ps.51:19). Hy maak gebroke harte weer heel en verbind hulle wonde (Ps.147:3). My naam is Die Heilige God. Ek woon in ’n hoë, heilige plek, maar Ek woon ook by mense wat hulle sonde erken en nederig is, want Ek gee sulke mense weer nuwe krag (Jes.57:15,16). Die verdwaaldes sal Ek opsoek en die wat orals versprei was, sal Ek terugbring. Die wat seer gekry het, sal Ek verbind en die wat siek is, sal Ek weer gesond maak. Ek sal die wat sterk en gesond is ook oppas soos dit hoort (Es.34:16). Hou moed, moenie bang wees nie, want julle God kom… julle…red (Jes.35:4).

Posted by Manie on Sep 18th 2009 | Filed in Padkos | Comments Off

Vrydag 18 September – `n Klein Bydrae

VRYDAG – ’N KLEIN BYDRAE

SKRIFDEEL: Johannes 6: 1 – 15

“Hier is ’n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?” (9).

Francois Pretorius, ongeveer 1979 leier­dia­ken toe ek in Richards­baai­ predi­kant was, het vir my so twee jaar gelede die volgende storie gestuur. Ek plaas dit graag weer, want dit is `n móói storie. Francois kry Krag vir Vandag gereeld, druk ’n aantal en deel dit in sy wyk, omgewing en by sy werk uit.

’n Dogtertjie staan by ’n klein kerkie, maar sy word deur die man by die deur weggestuur. Daar is net nie meer plek in die kerkie nie. Die pre­di­kant loop toe juis by haar verby. “Ek kan nie Sondag­skool toe gaan nie,” snik sy toe hy vra hoekom sy bui­te staan en huil. Hy sien haar ongekamde hare, slordige en vuil rokkie en be­sef dadelik hoekom sy eintlik weg­gestuur is. Hy neem haar saam met hom in die kerk in en kry vir haar plek in ’n Sondagskoolklassie. Twee jaar later sterf die dogtertjie, in ’n armoedige kamer­tjie, in die stad se agterbuurt. Haar ouers gaan vertel dit vir die goedhartige predikant wat hul dog­ter­tjie se vriend ge­word het. Hulle vra hom om haar begrafnis te reël. Toe hulle haar weg­neem, val ’n gehawende rooi beur­sie uit haar kle­re uit. In die beursie is 57c en ’n briefie in haar kin­der­like handskrif: “Dis om te help om die kerk groter te bou.” Twee jaar se spaargeld! Die predikant lees die briefie met betraande oë en hy weet wat hy gaan doen. Daardie Sondag wys hy vir sy ge­meente die beursie en lees die briefie. Hy daag die diakens uit om genoeg geld in te vorder om die kerk groter te bou. ’n Koerant hoor daarvan en plaas die storie. ’n Ryk eien­domsagent lees dit en bied die kerk ’n stuk grond aan, wat baie dui­sende werd is. Die kerk kan nie so ’n groot bedrag betaal nie. Hy bied aan om die grond vir 57c aan die kerk te ver­koop. Dit ontroer die hele gemeente se hart en bin­ne vyf jaar bereik die dogtertjie se oorspronk­like 57c deur ander do­na­sies $250 000. ‘n Groot bedrag vir daardie tyd!

Ek haal die Engelse verhaal nou letterlik aan: When you are in the city of Philadelphia, look up Temple Baptist Church, with a seating capacity of 3 300. And be sure to visit Temple University, where thousands of students are educated. Have a look, too, at the Good Samaritan Hos­pi­tal and at a Sunday School building which houses hundreds of beautiful children, built so that no child in the area, will ever need to be left outside during Sunday school time. In one of the rooms of this building may be seen the picture of the sweet face of the little girl whose 57c, so sa­cri­ficially saved, made such remarkable history. Alongside of it is a portrait of her kind pastor, Dr. Russel H. Conwell, author of the book, Acres of Diamonds.”

Die vyf brode en twee vissies het in Jesus se hande genoeg kos geword om die duisende te voed en nog mandjies vol te laat oorbly. Dit wat ons binne ons klein vermoë vir die Here gee of doen of getuig, word in sy hande die oorvloed wat sy koninkryk opbou. Die lewe gerig op die Here Jesus, aan Hom toegewy en bestuur deur die Hei­lige Gees, het in God se hand groot krag, al is die aardse voorkoms klein en onopsigtelik.

“Here, vandag is ek en wat ek het tot U beskikking.”

Posted by Manie on Sep 17th 2009 | Filed in Algemeen | Comments Off

Next »