Archive for January, 2009

You are currently browsing the archives of Krag vir Vandag .

31 Januarie – Padkos

SATERDAG                   PADKOS

Uit die dagboek PADKOS, uit die Lewende Bybel

 God sê dat iemand wat in Jesus Christus glo nie meer skuldig is nie (Rom.3:22). Christus het nie een enkele sonde gedoen niel Maar God het Hom verantwoordelik gemaak vir al ons sondes asof Hy dit self gedoen het. Nou sê God as ons aan Christus verbind is, is ons skuld wegge­neem, net so goed of ons self nooit sonde ge­doen het nie (2 Kor.5:21). Maar Christus het ons vrygemaak van die vloek wat op ons gerus het deurdat ons die wet nie kon hou nie. Dit is aan God alleen te danke dat julle met Jesus Christus verbind is. Jesus Christus is vir ons die wysheid wat van God kom. Dit is Hy wat ons saak by God reggemaak het, en ons heilig maak en ons red (Gal.3:13). Hy het ons gered, maar dit was nie omdat ons vooraf iets gedoen het wat reg was nie; dit was omdat Hy vir ons jammer was. Hy het ons gered toe Hy ons sondes afgewas en ons ‘n nuwe geboorte gegee het, toe die Heilige Gees ons nuut gemaak het. (1 Kor.1:30).

Posted by Manie on Jan 30th 2009 | Filed in Padkos | Comments Off

Vrydag 30 Januarie – Die Bloedgemerkte Deur

 VRYDAG            DIE BLOEDGEMERKTE DEUR

Lees Eksodus 12:21-23

“As die Here verbykom om die Egiptenaars te tref, sal Hy die bloed aan die bokant en die sykante van die deurkosyn sien en dié deur oorslaan”(23).

Tydens ’n bloedige oorlog het die aanvoerder van ’n regiment troepe sy bloeddronk soldate op ‘n dorp losge­laat, Hulle het straat op en straat af beweeg, mense uit hul huise gesleep en voor die voet, mans, vrouens en kinders doodgemaak. Een van die dorp se inwoners het  weg­gekruip en gesien die soldate gooi van die mense se   bloed teen die deur van die huis wat hulle klaar besoek het. Ander soldate wat dan verbykom, gaan by die ge­merk­te deur verby, wetend daardie huis se mense is reeds doodgemaak. So vinnig as wat hy kon, hardloop hy na ’n groot huis, waar ’n aantal van sy vriende skuil. Uitasem vertel hy wat hy gesien het. In die agterplaas was ’n klein bokkampie. Hulle slag een van die bokke en gooi die bloed teen die deur uit.

Nie lank nie of ’n afdeling soldate storm die straat in, versprei op en af met die straat, en van huis tot huis sleep hulle die inwoners uit en maak hulle dood. By hierdie deur, met die bloedmerke op, hardloop hulle verby sonder om te talm. Hulle makkers was reeds hier, het hulle gedink.

Hierdie menslike verhaal laat ons die gebeure van die Paasnag en die evangelieboodskap duide­liker verstaan. Jesus het ons met sy bloed van die gewisse oordeelsdood vrygekoop. “Ons paaslam is immers geslag: dit is Christus” (1 Kor.5:7). Die nag van die eerste nagmaal, net voor Jesus gekruisig is, toe Hy en sy dissipels die Paasmaaltyd gehou het, het Hy dit duidelik gemaak. Hy neem die plek van die lam wat met Paasfees geslag is in. “Toe neem Hy die beker en…sê vir hulle: ‘Dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie mense vergiet word’” (Markus 14:24).

 “Here, vandag eien ek my die ewige veiligheid toe, wat die bloed van die Here Jesus aan my gee.”

 WEB: www.kragvirvandag.co.za 

Navraag oor ‘n eie webwerf: www.myeiewebwerf.co.za

Posted by Manie on Jan 29th 2009 | Filed in Algemeen | Comments Off

Donderdag 29 Januarie – Die Ander Een

DONDERDAG          DIE ANDER EEN

Lees Lukas 6: 37 – 42             

“Gee, en vir julle sal gegee word: ’n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee” (38).

 ‘n Welgeklede vrou spreek Kosie na die og­­gend­diens direk aan. “Jy is Kosie Marais, nê. Jy is op ons kerklys om Vrydagaand se Kersboom by te woon.” Vol blydskap draai Kosie na haar toe. “En my sussie, Hanna? Sy is siek in die bed, maar sy sal Vrydagaand gesond genoeg wees.” “Ons neem net een kind per huis,” antwoord die vrou kort­af en stap weg. Kosie gaan terug huis toe en loop diep ingedagte met die nou, vuil trap op na die woon­stel­letjie toe waar hy saam met sy ma en sy sussie, Hanna, woon.

Die Vrydagaand woon hy die Kerspartytjie by. Dik geëet en lekker saam met die maats ge­speel, word dit uiteindelik tyd vir geskenke uit­deel. Aan die voet van die versierde boom lê ’n hoop ge­­sken­ke. Lank voor sy beurt kom, weet Kosie reeds wat alles daar lê. Soveel mooi goed! Wat sal ’n seun­tjie, wat niks het nie, tog nie alles kan kies nie! En elkeen kry net een geskenk. Dieselfde tan­nie wat hom na die partytjie toe genooi het, roep hom nader en vra wat hy wil hê. Kosie antwoord. “Graag­ste, Tannie, wil ek die rooi brandweerwa hê, maar as Tannie nie omgee nie, vat ek as­se­blief liewer die pop.” Dit lyk of sy verstaan en sonder ’n woord gee sy vir hom die pop. ’n Gekoggel en gespot breek uit van die ander kinders se kant af. “Kosie, speel pop! Kosie is ’n meisietjie!” Rooi in die gesig neem hy sy pet. Onder gelag gee hy pad huis toe.

’n Rukkie later is Kosie in die donker ka­mertjie waar Hanna lê. “Ek is so bly jy het gekom,” groet Hanna met verlepte ogies. “Was dit lekker? Wat het jy toe gekry.?” Sonder ’n woord sit Kosie die groot pop langs haar neer. Sy gaan penregop op die bed sit en staar met blink oë na die pop. “Is dit vir my?” roep sy. “O Kosie, is dit myne?” skreeu sy behoorlik.  Ou Kosie begin glimlag. Hy het so swaar die brand­weerwa prysgegee en moes toe nog on­der ’n gespot deurloop. Dinge het vir hom regtig swaar geword, maar noudat hy Hanna se blydskap sien, is dit lekker. Dit word sommer so warm in sy hart.

Aan die deur word geklop. Dis weer die tannie van die kerk. “Kosie,” sê sy, “ek kom net sê hoe jammer ek is die kinders het jou so geterg. Toe jy weg is, het ek hulle vertel hoekom jy die pop geneem het. Almal is toe jammer en skaam en hulle het gevra ek moet dit vir jou bring.” Sy sit ’n pakkie op die rakkie langs die deur neer. Voor sy met die trap afgaan sien Kosie hoe sy met haar hand oor haar oë vee. Versigtig maak Kosie die pakkie oop. Hy gee een lang fluit. In sy hande hou hy die rooi brandweerwa.

Kosie het ’n dubbele geskenk ontvang. Die brand­weer­wa wat hy begeer het en die blydskap dat hy eerste aan die ander een, sy sussie, gedink het. “…God het die blymoe­dige gewer lief. En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk…(2 or.9:7,8). 

 “Here, vandag dink ek eerste aan ’n ander.”

Posted by Manie on Jan 29th 2009 | Filed in Algemeen | Comments Off

Woensdag 28 Januarie – Vrede in die Hart

WOENSDAG               VREDE IN DIE HART

Lees Romeine 4: 16 – 25

“Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die beloftes van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het” (20,21).

 Dr. A. B. Simpson skryf oor die geloof van Abra­ham, dat hy in sy hoë ouderdom, sy eie liggaam so goed as dood kon beskou, maar hy was nie daar­deur ontmoedig nie, omdat hy nie op homself nie, maar op die Almagtige vertrou het. God se groot be­loftes aan hom het hom nie laat wankel nie, maar het hom onder die geweldige ge­wig, van die he­mel­se seëninge, on­wrik­baar laat vasstaan; ook het hy nie in die ge­loof verswak nie, maar kragtiger geglo, en sterker uitgegroei, namate daar meer moeilik­hede vir hom opgedaag het. Hy het God in sy Al­ge­noeg­saam­heid altyd meer en meer verheerlik. Die Grieks stel dit: hy was ten volle oortuig dat Hy, wat beloof het, nie bloot net daartoe in staat was nie, maar, soos die letterlike betekenis lui, oorvloedig, ja, mildadig, daartoe in staat was, om dit, uit sy eindelose oorskot van voorraad, alles na te kom. Hy is die God van grenselose voorrade. Die enigste beperking is by ons. Ons vrae, ons denke, ons ge­bede, ons glo nie genoeg nie; ons verwag­tinge skiet ver te kort. Daar is geen perk gestel aan wat ons kan vra en kan verwag van onse Here, God, die Al­mag­tige nie. En vir sy seëninge word hier ‘n en­kel maatstaf genoem, en die maatstaf is: “Volgens die krag wat in ons werk”  (Ef.3:20).

            Iemand het dit so gestel: Klim op na die skat­kamer van seëninge, met die leer wat van God­de­like beloftes gemaak is. Ontsluit met die belofte­sleutel, geloof, die deur van die rykdom, die ge­nade en die guns van God. St. Augustinus het gesê: “Geloof is die aanvaar­ding van wat ons nie sien nie, en die loon van hier­die geloof is: die aanskouing van wat ons ge­glo het.”

“Here, vandag wil ek deur u beloftes verder uitkyk oor u hemelryk se seëninge.”

WEB: www.kragvirvandag.co.za 

Vir ‘n eie webwerf: www.myeiewebwerf.co.za

Posted by Manie on Jan 27th 2009 | Filed in Algemeen | Comments Off

Dinsdag 27 Januarie – Die Krag van `n Beloftes

DINSDAG            DIE KRAG VAN ’N BELOFTE?

Lees 2 Korintiërs 1: 17 – 24

“…Jesus Christus, die Seun van God…is nie ‘ja’ en ‘nee’ tegelyk nie. Hy is die ‘ja’ van God, die ‘ja’ op al die beloftes van God” (18, 19 , 20).”

             Sir William Napier het een aand gaan stap. Hy kom af op ’n dogtertjie wat bitterlik staan en huil. Sy goedige ge­aard­heid reageer dadelik, en hy gaan sit op sy hurke by haar om te hoor wat die moeilikheid is. Stukkie vir stukkie hoor hy die storie. Haar ouers is baie arm. Sy is ge­stuur om te gaan melk koop. Sy het gestruikel en geval en al die melk is op die grond uitgestort. Daar is nie geld vir an­der melk nie. Sir William staan op, streel oor haar koppie en vee haar traantjies met sy eie spierwit, sakdoek af. “Moenie huil nie, Kindjie. Hier gaan koop vir jou ’n ander kannetjie melk.” ’n Blye glimlaggie breek deur. Hy steek sy hand in sy sak om sy beursie uit te haal. Sy ge­sig val. Hy het nie sy beursie by hom nie! Verleë sê hy: “Ag, Kindjie, ek het nie geld by my nie. Maar môre­aand, dieselfde tyd, kry ons twee mekaar hier. Ek bring vir jou geld vir genoeg melk. Sê vir jou mamma en pappa.” Tuis­ge­kom kom sy vrou hom met ’n breë glimlag tegemoet. In haar hand het sy ’n pragtige vergul­de uitnodigingskaar­tjie. Baie lank al wag Sir William vir ’n uitnodiging na só ’n onthaal. Dit sal sy politieke loopbaan ’n stoot gee. Op­ge­wonde neem hy die kaartjie en lees dit vinnig deur. Dit is vir die volgende aand en dit is dieselfde tyd wat hy beloof het om die dogterjie te ontmoet. Tot sy vrou se verbasing skud hy sy kop. “Nee, ek kan nie gaan nie. Ek het reeds ’n afspraak.” Hy vertel haar van die dogtertjie. Sir William het die gul­de geleentheid van die hand gewys, om sy belofte aan ’n klein, arm dogtertjie na te kom.

            Maar sê nou, die dogtertjie het by haarself ge­dink: daardie ryk, belangrike man sal tog nie kom nie, en sy het nie vir die afspraak opgedaag nie? Hoeveel sou sy nie verloor het nie, en watter teleur­stelling sou dit nie vir die belangrike man gewees het nie! Ons hoop sy het die belofte geglo en met haar em­mer­tjie in die hand, vir hom gewag en die geskenk wat hy bedink het, in ont­vangs geneem.

            Omdat God ons liefhet en ons jammer kry, be­doel hy groot gawes vir ons. Hy belowe dit. In Jesus vervul Hy sy beloftes. Beloftes is die kanale waarlangs God sy gawes na ons toe laat vloei. Paulus skryf, “Jesus Christusis die ‘ja’ van God, die ‘ja’ op al die beloftes van God” (2 Kor.1:18,19,20). Onkunde oor God se beloftes in sy woord, en traagheid om Hom te glo, beroof ons van seëninge.

“Here, vandag wil ek u beloftes leer ken en glo.”

WEB: www.kragvirvandag.co.za 

Vir ‘n eie webwerf: www.myeiewebwerf.co.za

Posted by Manie on Jan 26th 2009 | Filed in Algemeen | Comments Off

Maandag 26 Januarie – Hoe Weet `n Mens?

  MAANDAG        HOE WEET ’N MENS?

 Lees Titus 1: 1 – 4

“…dié waarheid wat lei tot die diens van God en wat hoop gee op die ewige lewe. God wat sy woord hou, het die ewige lewe lank gelede aan ons belowe” (2).

             Hoe weet ’n mens jou siel is veilig vir die ewig­heid? Daar is ’n manier.        ’n Skip het in ’n hewige storm naby die kus ge­strand. Vier matrose het die rotsagtige kus bereik. Hulle het teen die rotse begin uitklouter om buite be­reik van die woeste inkomende gety te wees. Tot hulle ontsteltenis besef hulle, hulle het tot op die hoogste van die lae reeks rotse geklim, waar die vinnige, inkomen­de gety hulle tog nog kan be­reik. Dit is donker. Hulle sien nie verder as hulle onmid­del­like staan­plekkie nie. Hulle hoor hoe die see hoër op­kruip na hulle toe. Hulle is op die punt om hulle aan die genade van die branders oor te gee, met die hoop dat hulle miskien iewers hoër uitspoel, toe een van hulle, om sy ewewig op die rots te verstewig, met sy hand op `n plant druk en dit vas­gryp. So nat as wat dit is, weet hy dadelik dit is nie see­gras nie, maar ’n plant met ‘n wortel. Vir ’n oom­blik verlig ’n weerligstraal die omgewing en hy her­ken die plant as seevinkel. Dit is ’n plant wat altyd hoër as die hoogwatermerk groei. Met groot blyd­skap lig hy sy makkers in. Hulle is veilig, die branders sal nie tot by hulle kom nie. Die eenvoudige plant, en die man se kennis van die plant, het vir hulle in hulle donker nood, veiligheid gewaarborg. Hulle het vei­lig op die rots bly staan, ongerieflik, maar veilig, en gehoor hoe die water later teruggaan. Toe dit lig word is hulle gesien en na veiligheid geneem.

            In ons lewe raas en dreig die branders van twy­­fel, versoeking, teleurstelling, mislukking in ons gemoed. Hoe kan ons weet ons siel is veilig vir die ewigheid? Ons het ook ’n waarborg, baie sekerder as die seevinkel. God se beloftes! Die Here se woord is ons sekerheid. Ons is ge­­seënd om dit swart op wit te hê. Het u in Jesus Christus vir die redding van u siel vertrou? Indien só, dan, sê God, het u die ewige lewe. “Maar aan almal wat Hom aan­ge­neem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg ge­gee om kinders van God te word” (Joh.1:12). “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê(Joh.3:16). Die Heilige Gees wek in ons die behoefte na redding, na die ewige le­we; wek in ons die begrip van Jesus se plaas­ver­vang­ende dood aan die kruis; wek in ons die vertroue in Jesus as redder; wek in ons die optrede om Jesus in die gedagte of met woorde, aan te neem as my Verlosser; wek in ons die versekering, nou is ek kind van God, my sonde is vergewe, ek het die ewige lewe. God belowe dit! 

 “Here, vandag glo ek u belofte: ek het die ewige lewe.”

WEB: www.kragvirvandag.co.za 

Vir ‘n eie webwerf: www.myeiewebwerf.co.za

Posted by Manie on Jan 25th 2009 | Filed in Algemeen | Comments Off

SATERDAG 24 Januarie – Padkos

SATERDAG                   PADKOS

Uit die dagboek PADKOS, uit die Lewende Bybel

 Maar U is ‘n God wat sonde vergewe, U is lief­devol en geduldig en baie getrou en daarom het U hulle nie in die steek gelaat nie (Neh.9:17). Onthou, die Here is geduldig met ons omdat Hy ons wil red (2 Pet.3:15). Alles in die Skrif is geskrywe om ons te leer. Dit help ons ook om geduldig te wees en gee ons moed sodat ons vas oortuig kan wees van die wonderlike toekoms wat daar vir ons wag (Rom.15:4). Moenie julle klere skeur nie, maar skeur liewer julle harte as ’n teken van werk­like berou. Kom terug na die Here, julle God toe, want Hy is goed­hartig en vol meegevoel. Hy is baie geduldig en bly ge­trou aan sy beloftes en wil graag weer sy straf terugtrek  (Joël 2:13). Die prys wat vir julle betaal is, was die kos­bare bloed van Christus. Want Hy is die vol­maak­te en foutlose Lam van God wat vir ons ge­offer is (1 Pet.1:18-20). Laat ons dan ingaan na God toe met ’n eerlike hart wat op Hom alleen vertrou,  ons harte is rein gemaak deur die bloed van Je­sus Christus wat daarop gesprinkel is…(Heb.10:22).

WEB: www.kragvirvandag.co.za     -        

NAVRAAG INSTEL VAN EIE WEBWERF: www.myeiewebwerf.co.za

Posted by Manie on Jan 23rd 2009 | Filed in Padkos | Comments Off

Vrydag 23 Januarie – Die Groter Krag

VRYDAG            DIE GROTER KRAG

Lees 1 Korintiërs 15: 1 – 11

”…Christus het vir ons sondes gesterf…en (ek, Paulus) is nie werd om ’n apostel genoem te word nie, omdat ek die kerk van God vervolg het. Maar deur die genade van God is ek wat ek is” (3,9,10).

             Gedurende die Amerikaanse presidentsverkiesing, toe Willliam McKinley kandidaat vir die presidentskap was, het ’n vyandige koerant sy verslaggewer opdrag ge­gee, om op McKinley se spoor te bly en elke moontlike stukkie negatiewe nuus vir publikasie aan te stuur. Die koe­rantman het sy taak van beswaddering met groot doel­­­tref­fend­heid gedoen. Eens het die koerantman in die­self­de trein as McKindley gereis, juis om nie ‘n beweging of  woord wat hy teen McKinley kan gebruik, te mis nie. Mc­Kinley het van die koerantman se taak geweet en alles wat hy al opgedis het geken. Een bittere koue middag het die verslaggewer in die trein op sy sitplek aan die slaap geraak. Daar was nie verwarming in die reiswa nie en die man het van koue opgekrul op sy sitplek gelê en slaap. McKinley het verbygekom en dit gesien. Hy gaan staan en trek sy lekker dik jas uit en gooi dit oor die man. Nadat die verslaggewer ’n ruk lank, lekker onder die dik jas gelê en slaap het, word hy wakker. Hy het sonder versuim ’n telegram aan sy koerant gestuur en sy bedanking ingedien. Dit was vir hom onmoontlik om die man wat aan hom vriendskap bewys het, sleg te maak.

            Dit is hoe die Here Jesus vir Paulus so ’n onver­moeide volgeling van Hom gemaak het. Die gebeurtenis word in Handeling by 9:5, 22,8 en 26:15 vertel. Hatig op pad Damaskus toe, om die mense van die Weg, soos Jesus se volgelinge genoem is, manne sowel as vroue, geboeid na Jerusalem te bring, ontmoet Jesus hom. ’n Lig het hom skielik van die hemel af omstraal en Paulus val op die grond. ’n Stem sê vir hom: “Saul, Saul, waar­om verolg jy My?” en toe hy vra: “Wie is U, Here?” kom die wonderlike antwoord: “Ek is Jesus wat jy vervolg.” Ek haal aan uit die Ou Vertaling: “En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: : Here, wat wil U hê moet ek doen? En die Here antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen.” Jesus antwoord Paulus se haat en venyn met lief­de. En die besef hiervan het Paulus die onvermoei­de dienskneg van die Here gemaak. Dit is hoe ons almal gered word. Ons het sonde gedoen, maar die Here het ons nie verwerp nie, maar ook vir ons ge­sterf en ewige lewe gegee.

            In ons alledaagse lewe is dit ook ’n strategie wat selde misluk: om vyandskap met vriendskap te beantwoord. “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie. Laat ons dan, tewyl ons geleentheid het, aan almal goed doen…” (Gal.6:9,10).

           

  “Here, vandag wil ek ook kwaad met goed vergeld.”

WEB: www.kragvirvandag.co.za

Posted by Manie on Jan 22nd 2009 | Filed in Algemeen | Comments Off

Donderdag 22 Januarie – Soete Wraak

  DONDERDAG               SOETE WRAAK

 Lees 2 Timoteus 2:19-21

“As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy ‘n voorwerp vir besondere gebruik wees … bruikbaar vir enige goeie diens” (21).

      Alice Fisher, ‘n afgetrede onderwy­se­­res, het op ‘n netjiese kleinhoewe gewoon. Op die grens tussen haar en die bure, maar aan haar kant, het ‘n pragtige, groot in­heem­se boom gestaan. ‘n Nu­we buur­man het aange­bied om die boom af te kap en dan deel hulle die vuur­maak­hout. Alice het geweier. Sy was lief vir die boom en die boom was ‘n sie­raad vir die om­ge­­wing. Op ‘n keer was sy vir ‘n paar weke  weg van die huis af. In haar af­we­sigheid het die buurman die boom afge­kap. By haar terugkeer was die hout reeds op­ge­kap en vei­lig in die buurman se pak­ka­mer wegge­pak.

      Alice was woedend en vir ‘n paar dae lank het sy allerlei wraakgedagtes gekoester. Alice was ‘n kind van die Here en die krag van die Heilige Gees in haar, het Christus se liefde, oor haar natuurlike toorn,  laat seëvier. Sy het ‘n koek gebak en die helfte vir die bu­re geneem. Die deur is in haar gesig toe­ge­maak. Weer het daar vir ‘n paar dae ‘n stryd in haar hart gewoed. Weer het Christus se ge­sindheid oorwin. Sy het klein koe­kies ge­bak en vir die bure ‘n bord vol geneem. Hier­die keer is die deur op ‘n skrefie oopgehou en iemand het “nee dankie” gemompel. Twee dae later het sy weer gegaan. Hierdie keer met ‘n bos blomme uit haar eie tuin. Dit is huiwerig aange­neem, maar sy is nie inge­nooi nie. ‘n Week later is die buurman aan ‘n hartaanval dood. Die vrou het haar tot Alice gewend om hulp. Die dae daarop het Alice vir die gesin gesorg en al die reëlings vir die begrafnis en boedelafhandeling ge­tref.

     Hoe dankbaar was Alice nou dat sy die leiding van die Heilige Gees gevolg het, en liefde be­toon het toe haar natuurlike drang na vergelding ge­hunker het. Sy het ‘n wesenlike teenwoordig­heid van die Here ervaar. Jesus se woorde aan die kruis: “Vader, vergewe hulle, hulle weet nie wat hulle doen nie”, was vir haar soet woorde, want sy het geweet sy het in sy voetspore gevolg.

      Alice was nou nader aan die Here as ooit te­vore. Sondige wraak is soet vir die oomblik, maar laat ‘n bitter leegheid in die hart agter. Om kwaad met liefde te antwoord, kos ‘n prys, maar agterna is die hart vol vrede en vreugde.  “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn… oorwin die kwaad deur die goeie (Rom.12:29). In ons sondige natuur is diepgesetelde kwaad. Die Here gebruik omstandighede om ons geestelike lewe te verdiep en vir ons deur sy Gees ‘n oor­win­nings­­le­we te gee. “Ons bid ook dat julle so sal lewe dat alles wat julle doen vir Hom vreugde sal gee. Dan sal julle lewe nuttig wees. Julle sal baie kan doen wat goed is en julle sal God al beter leer ken” (Kol.1:10) LEW.BYBEL.

 .”Here, vandag wil ek uit moeilike omstandighede leer om U beter te ken en beter vir U te leef.”

WEB: www.kragvirvandag.co.za

Posted by Manie on Jan 21st 2009 | Filed in Algemeen | Comments Off

Woensdag 21 Januarie – Vrede in die Hart

WOENSDAG               VREDE IN DIE HART

Lees Romeine 12: 9 – 218

“As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense” (18)

Rondom die werk van die skilder, Leonardo da Vinci, toe hy met sy beroemde skildery, Die Laaste Avondmaal, besig was, word verskillende insi­dente, wat geestelike waarhede vertolk, vertel. In die afgelope twee jaar het ek ‘n paar daarvan ge­bruik (en dit is ‘n versoeking om dit weer te herhaal, want vir myself is dit so mooi), maar hierdie volgende een dink ek is dalk nog onbekend.

Da Vinci was besig om in sy groot werk, Die Laaste Avondmaal, die Persoon van Jesus, en juis sy gelaatstrekke, te skilder toe hy en ‘n vriend van hom ‘n onderonsie gehad het. In sy ergerlikheid het die skilder vir sy vriende ‘n paar baie onvriendelike en lelike dinge gesê. Hy het selfs sy vriend met wraak gedreig. Wat die oorsaak van die rusie was, weet ek ongelukkig nie. Hy het na sy werk, die skil­dery,  toe teruggegaan en wou voortgaan om Jesus se gesig te skilder. Hy kon egter nie vorder nie. Sy innerlike ontstemdheid het dit vir hom net onmoont­lik gemaak om die trekke van teerheid en liefde op Jesus se gesig na vore te bring. Hy het opgestaan en sy vriend gaan soek en hom nederig om vergif­nis gevra. In sy hart het kalmte gekom. Hy het teruggegaan na sy taak toe en nou kon hy die teer en sagte uitdrukking op Jesus se gesig aanbring.

Ons as Christene in hierdie wêreld moet Jesus se Persoon, by wyse van ons daag­likse lewe en woor­de van ons getuienis, na vore laat kom. Deur ons lewe moet ander Hom leer ken, en hiervoor is nodig ‘n binneste, ‘n hart, wat self vrede het. Sy laaste woorde aan sy dissipels was: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor jule kom, en julle sal my getuies wees…” (Hand.1:8). Die Heilige Gees bring die Persoon van Jesus as ons inwo­nende Here in ons hart. As ons hart eg­ter ontstig is deur allerlei dinge – rusies, geskille met ander, nydigheid, kwaai woorde, kwaadpraat – kan Jesus nie deur óns lewe aan ander oorgedra word nie.

 “Here, vandag wil ek met vrede in my eie hart vir U ‘n getuie by ander wees.”

WEB: www.kragvirvandag.co.za

Posted by Manie on Jan 20th 2009 | Filed in Algemeen | Comments Off

Next »